Die problematiek rondom die FAK se standbeeld-inisiatief

  • 2

Die FAK se inisiatief om “Afrikaner-geskiedenis” opnuut met monumente te huldig, is die jongste nasionalistiese opflikkering in die oorblyfsels van die 20ste-eeuse politieke projek van die Afrikaners. Wat gedurende die 2000’s veral die vorm van nostalgie oor Afrikaner-magsverlies aangeneem het, begin nou al meer te ruik en te lyk na Afrikaner-nasionalisme, maar met ’n paar aanpassings om dit die nodige hedendaagse trillings te gee.

Christi van der Westhuizen
Foto: Naomi Bruwer, US Woordfees 2019

Elders [https://hts.org.za/index.php/hts/article/view/3351/7803] het ek hierdie volksheroplewing as ’n soort nieunasionalisme beskryf: Afrikaner-enklawe-nasionalisme. Noodwendig is dit nie op dieselfde objek van begeerte as Afrikaner-nasionalisme, naamlik ’n nasiestaat vir Afrikaners met spesifieke geografiese grense, gemik nie. Die val van die Afrikanerprojek van apartheid het daardie gewelddadige wensdenkery in die 1990’s tot ’n bloedige einde gebring.

Soos die regerende ANC se visie van versoening en demokratiese nasiebou weens voortgesette sosiaal-ekonomiese ongelykheid en korrupsie skipbreuk ly, maak subnasionale strominge hul verskyning – ’n verskynsel wat globaal gesien kan word. Die fokus van dié spesifieke nieunasionalisme is om werklike en virtuele ruimtes Afrikaans en wit te hou. Dus om enklawes te skep vanaf voorstede, waar op middelklasstatus en eiendomsreg gesteun word, tot instellings soos kerke en skole, tot die vakbond Solidariteit se georganiseerde Afrikaner-netwerk waarvan die FAK deel is, tot kunstefeeste en media wat insluit musiek, film, boeke, koerante en internetplatforms. Hier en daar word die tent vergroot om ook swart en bruin mense in te sluit, maar uiteindelik gaan dit oor die verskansing van die voordele wat apartheid Afrikaners in die sak gebring het.

FAK-hoof Danie Langner gooi sy organisasie se nuwe inisiatief oor ’n byderwetse boeg. By die aankondiging daarvan op die FAK-webwerf neem hy standpunt in teen ’n “ongenuanseerde, eensydige meesterverhaal”. Daarmee plaas hy ’n vinger op die wond wat Afrikaners se aanmatiging van eienaarskap van die land, insluitend die interpretasie van hoe Suid-Afrika tot stand gekom het, ons landgenote toegedien het.

’n Mens stem met hom saam oor die probleem van meesterverhale, en ook met sy uitlating dat geskiedenis binne konteks en met verskillende perspektiewe verstaan moet word, om só begrip vir die verskeidenheid van stories te skep. Maar die FAK se keuse van figure om te huldig dui daarop dat die organisasie, ten spyte van die selfrefleksie, steeds op daardie selfde meesterverhaal voortborduur, ongelukkig. Met die erkenning van ’n veelheid van stories word ’n groot ossewadraai gegooi wat eintlik ten doel het om ’n klem op “die Afrikaner-storie” te regverdig.

Die FAK het aangekondig dat drie beelde solank onthul word as deel van die projek. Die eerste is reeds bekendgestel: ’n borsbeeld van NJ van der Merwe, stigter van die FAK en ook van die jeugbeweging die Voortrekkers. Die ander twee wat beplan word, is ’n uitbeelding van ’n kampsuster met die naam “Sorg” wat in die Irene-konsentrasiekamp opgerig sal word, en ’n monument met die naam “Penkop”, die kategorie vir laerskoolseuns in die Voortrekkers.

Die borsbeeld van NJ van der Merwe

Hierdie figure beskou die FAK as toekomsgerigte koerswysers, soos per Langner se beskrywing. Hy meen die beelde het nie met die verlede nie, maar met die toekoms te make. Tog, al drie is histories gelade – óf as geskiedkundige figuur (Van der Merwe), óf as simbole. Om presies te wees, die keuse van die figure herinner aan die gewone nasionalistiese oprakeling en mitologisering van figure en stories uit die verlede wat in nasionalismes altyd “met die oog op die toekoms” aangebied word. Maar al word die toekoms eerder as die verlede in dié diskoers beklemtoon, is die eintlike doel die skep van identiteitsvoorskrifte vir die hede.

Hoe lyk hierdie identiteit dan wat die FAK in die hier en nou wil bevorder? Langner het volgens berigte gesê die doel is om ook vir Afrikaners ’n “normale” geskiedenis te skep, soos enige ander kultuurgemeenskap blykbaar sou hê. Wat word dus hier genormaliseer? Weer eens, figure wat nou met Afrikaner-nasionalisme verbind word, word afgestof en opnuut as rigtingwysers aangebied. Dus word ’n baie spesifieke weergawe van die geskiedenis genormaliseer.

Die feit dat vroulike en jeugdige figure gekies is, is moontlik die enigste aspekte wat met werklike omstandighede in die hede te make het. Die FAK, kan ’n mens aflei, is beïnvloed deur huidige tendense om te besef dat vroue en jongmense tog ’n kopknik nodig het as jy jou projek wil populariseer. Dit is natuurlik veelseggend dat albei die figure nie uitbeeldings van werklike historiese figure is nie, anders as die borsbeeld van NJ van der Merwe.

Weer eens word ’n man by name in klip verewig, maar die vrou sal naamloos bly. In die nasionalistiese gewoonte van vrou-as-simbool sal sy slegs as “Sorg” bekend staan: die vrou in haar stereotipiese rol as dienende versorger. Vroue in Afrikaner-nasionalisme word al lank tot simbole gereduseer, maar nou is dit ook seuns se beurt. In dié geval is dit die naamlose seun as ywerige deelnemer in ’n organisasie waarvan die doelwitte kollektief, eerder as individueel, is. Die konformisme wat apartheid so lank in stand gehou het, word heropgeroep: die derde beginsel van die Voortrekkers is tog die aanvaarding van gesag wat oor jou geplaas is.

’n Seun is gekies omdat die manlike hier as “die neutrale” benader word: die seun verteenwoordig kinders en jongmense, ongeag geslag. ’n Simboliese beeld is slegs vroulik as dit ’n spesifieke boodskap vir vroue bevat oor wat hulle mag en nie mag doen nie.

Die keuses van die drie figure saam beskou is dus die ou-ou storie van die identifiseerbare en baie belangrike man wat as historiese agent verandering teweeggebring het – in dié geval, NJ van der Merwe as stigter van beduidende organisasies wat mense gemobiliseer het as “Afrikaners”. En dan die ondersteunende figure wat hul “spesiale” plekkies in die Afrikaner-hiërargie moet erken en uitleef.

Dit is een ding om te argumenteer dat die FAK ander weergawes van die geskiedenis erken, maar die reg het om as Afrikaner-drukgroep ’n Afrikaner-invalshoek tot die geskiedenis aan te bied. Dit is egter opmerklik dat die keuses inwaarts gekeer is, ter uitsluiting van ander Suid-Afrikaners se rolle, bydraes en ook effek op Afrikaners.

Afrikaners was nie op ’n eiland nie. Hulle het keuses gemaak en besluite geneem in verhouding tot die ander mense in die land. Kom ons onthou byvoorbeeld dat die Voortrekkers by die Britse Boy Scouts en Girl Guides afgekyk is, as een voorbeeld van die Afrikaners se aspirerende verhouding tot Britse witheid. Langner beklemtoon Van der Merwe se rol as opbouer van Afrikaans as taal. Maar hierdie organisasies van hom is geskep met die spesifieke doel om bruin en swart mense uit te sluit, al sou hulle Afrikaanssprekend wees. Hoe onthou ons dit?

En vanuit die inwaartse oriëntering, is dit moontlik om “die vrou” as meer as ’n simbool aan te bied? En wat van daardie werklike historiese Afrikaner-figure – manlik én vroulik – wat destyds nie net die gesag aanvaar het wat mense soos Van der Merwe oor hulle probeer plaas het nie? Mense wat die ongeregtigheid inherent aan die Afrikaner-nasionalistiese projek teengestaan het, al was hulle self Afrikaners? Ja, wat van daardie mense wat vandag as modelle kan dien om te wys hoe lewe mens in ’n demokrasie, hoe omhels mens verskeidenheid, hoe werk ’n mens oplossings uit wat vir álmal kan werk?

 

  • Christi van der Westhuizen is verbonde aan die Sentrum vir die Bevordering van Nierassigheid en Demokrasie (CANRAD), Nelson Mandela-Universiteit.

 

Lees ook

Nuwe beelde vir Afrikanergeskiedenis

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johnnes Comestor

    Ongeregtigheid is glo inherent aan Afrikanernasionalisme. As dit so is, geld dit nie ook swart nasionalisme nie? Van der Westhuizen hamer op wat blankes, veral Afrikaners, en mans na bewering verkeerd gedoen het. Behoort sy ewewigtigheids- en billikheidshalwe nie met dieselfde oortuiging teen swartes en vroue te velde te trek nie?

  • Avatar
    Theodorus du Plessis

    Die outeur mag dalk 'n bietjie ontlugting ervaar deur minder isolasties te dink en 'n slag vergelykende internasionale minderheidsperspektiewe by te bring. 'n Kontrasterende perspektief met die BFLF-fenomeen kan dalk ook verheldering en 'n verbreding in perspektief meebring. Trouens, 'n mens sou wou dink dat hierdie maters dalk 'n groter gevaar inhou vir sogenaamde 'nierassigheid' as die betrokke FAK-inisiatief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top