LitNet Akademies-resensie-essay: Die poëtika van intieme ruimtes – Andries Bezuidenhout se Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle

  • 1

Titel: Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle
Outeur: Andries Bezuidenhout
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485300724

Koop Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle by Kalahari.com
 

1. Inleiding/Raam

In hierdie artikel wil ek Bezuidenhout (2014) se tweede digbundel lees deur die raam van argumente in en opmerkings uit Gaston Bachelard se bekende The poetics of intimate space (1994).

Van die raam sê Derrida dat dit beide deel is van dit wat geraam word (deurdat dit die spesifieke “teks” skei van die teks in die algemeen – hier die poëtiese diskoers in die algemeen) én nie deel is van die teks nie (aangesien dit buite die spesifieke teks staan juis as “raam”) (Derrida 1987:61). Die raam (of parergon) is nooit eenvoudig buite of binne die geraamde teks nie. Dit beklee ’n liminale of tussenin ruimte: “A parergon comes against, beside, and in addition to the ergon, the work done [fait], the fact [le fait], the work, but it does not fall to one side, it touches and cooperates within the operation, from a certain outside” (Derrida 1987:54). Die raam is die materiaal wat deur die Verstand uitgesonder en “ingesamel” word vanuit die teks in die algemeen, met die doel om dit – as supplement – op die “geraamde” teks van toepassing te maak om sodoende tot ’n verantwoordbare Begrip van die werk of geraamde teks te kom: “The relation to the understanding […] thus furnishes the frame” (Derrida 1987:71).

Die resonansie tussen Bachelard se boek en Bezuidenhout se Veelvuldige gebruike ontstaan reeds in die materiaal in en rondom die titels. Op die buiteblad van eersgenoemde en direk onder die titel van die werk staan daar: “the classic look at how we experience intimate places”. En die woord “huishoudelike” in Bezuidenhout se titel aktiveer insgelyks die idee van intieme of private plek, mees prominent die ruimte van die privaatwoning of die huis. En die eerste twee hoofstukke van Bachelard se boek fokus op die poëtika van die woning-as-ruimte. Deur op Bachelard te steun is die uiteindelike argument van hierdie resensie-essay dat Bezuidenhout se bundel in die teken staan van, en gelees wil word as, ’n ars poëtika van intieme ruimte, ’n poëtika, boonop, waarin ’n filosofie van intimiteit en die innerlike bedink en uitgedruk word. Uit die aard van die saak kan daar in hierdie essay slegs op die hooftemas in die bundel gefokus word en kan slegs gedigte wat, as ’n effek van die gekose raam, uitstaan, bespreek word.

 

2. Bachelard, die huis en die droom

In die voorwoord tot die 1994-uitgawe van The poetics of space (waarna alle bladsynommers in die volgende paar paragrawe verwys, tensy anders vermeld) skryf Stilgoe dat Bachelard die huis beskou as ’n metafoor vir menslikheid (vii). Bachelard self skryf dat die huis een van die magtigste middels daarstel vir die integrasie van die gedagtes, herinneringe en drome van die mensdom (6). Hy erken dat die huis in die eerste plek ’n geometriese ruimte – ’n versameling van lyne, hoeke en vorme – is en dat ’n geometriese vorm van so ’n aard metafore teenstaan wat die menslike liggaam en siel verwelkom (48). Maar sodra die huis beskou word as ’n ruimte vir bemoediging en intimiteit, vind verplasing na die menslike dimensie van die huis plaas. Hierdie verplasing word bewerkstellig deur die ervaring van bewoning. Bewoning van ’n huis maak daarvan iets meer as bloot ’n geometriese ruimte: “A house that has been experienced is not an inert box. Inhabited space transcends geometrical space” (47). Stilgoe dui aan dat hierdie bewoning van die huis gelyktydig in teenoorgestelde rigtings werk: “[Bachelard] probes the impact of human habitation on geometrical form, and the impact of the form upon human habitants” (vii).

En hierdie impak bestaan juis omdat die huis ’n versameling van beelde of indrukke vir sy bewoner daarstel – beelde en indrukke wat nou verband hou met ’n idee van stabiliteit: “A house constitutes a body of images that give mankind proofs or illusions of stability. We are constantly re-imagining its reality: to distinguish all these images would be to describe the soul of the house; it would be a veritable psychology of the house” (17). Bachelard noem sy ondersoek na die poëtika van intieme ruimtes “topoanalise” (“the systematic psychological study of the sites of our intimate lives” (8)) en identifiseer die huis as ’n primêre element van sodanige analise: “The house, even more than the landscape, is a “psychic state,” and even when reproduced as it appears from the outside, it bespeaks intimacy” (72).

Deur hierdie ondersoek bou Bachelard ’n argument dat ’n ruimte poëties kan wees en dat die huis ’n plek vir drome en ’n toevlugsoord vir die verbeelding is. Die huis is ’n mens se plek in die wêreld: “As has often been said it is our first universe, a real cosmos in every sense of the word. If we look at it intimately, the humblest dwelling has beauty” (4). Hy argumenteer egter dat filosofie die huis onderwaardeer: daar is ’n ooraanbod van wysgerigheid wat die heelal wil ken voordat dit die huis geken het, en vir Bachelard bestaan die werklike begin van die ver-beelde (en die beeld- en indrukvorming) waarop alle filosofiese kontemplasie aangewese is, eerstens in die bewoonde ruimte, in die “non-I that protects the I” (5).

In teenstelling met hierdie ooraanbod van filosofie wat die wêreld wil bewoon voordat dit die huis bewoon het, is dit in en deur poësie, eerder as blote filosofiese herinnering en nadenke, dat ons toegang verkry tot “the ultimate poetic depth of the space of the house” (6). Laasgenoemde is die geval, reken Bachelard, omdat die huis ’n ruimte bied vir dagdromery: “the house protects the dreamer, the house allows one to dream in peace” (6).

 

3. Bezuidenhout, die huis en die droom

As ’n bundel wat grotendeels afspeel in (en om) die huis, is dit, teen bogenoemde agtergrond, nie verbasend nie dat drome en dagdromery sterk aan bod kom in Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle. Die gedigte in die gelyknamige (en sentrale) drieluik (Bezuidenhout 2014:17–22) begin met ’n aanhaling uit Walter Benjamin se droombeeldige interpretasie van die Klee-skildery Angelus Novus, waarin Benjamin die Engel van die Geskiedenis en die proses van vooruitgang sien. Die gedigte in die siklus open telkens met ’n verwysing na die “droom wat ek droom” en in die eerste gedig handel die droom juis nié oor dit wat in die wêreld daarbuite is of gebeur nie.

In plaas van laasgenoemde begin die droom in die huis self, en spesifiek in die kombuis “waar ek hebbelikheid en kookboek eenkant los/ om strydige elemente deur ’n worsmasjien te wurg” (Bezuidenhout 2014:17) (bladsynommers hierna verwys na Bezuidenhout 2014 tensy anders vermeld). In hierdie gedig werk die digter met teenstrydighede, konflik, struweling en die verlies aan beheer. Die kombuis waarin bestanddele verkeerd om geklop en gekarring word en waarin die stoof “maalkolk” en “rondomtalie”, word ’n metafoor vir die binneruimte van die gedagtegang waarin innerlike stryd en worsteling gedy en waarin dit soms voel asof alles daarbuite, teen ons bedoeling in, ’n eie, baldadige lewe aanneem waaroor ons min beheer het. In die droomruimte kan ons ten minste, te midde van alles wat té vinnig gebeur, tot nadenke kom en miskien selfs insig verkry, maar die digter waarsku ook dat te veel kontemplasie, te veel wroeging, kan lei tot die situasie waarin die “lens skeur en ek vryval, ingewurg” (18), met ander woorde wéér tot besef kom van my onvermoë om dit wat met my gebeur, volledig te kies, te beplan of te beheer. In hierdie gedig kan ons duidelik sien hoe die digter van die huis en huishoudelike toestelle gebruik maak om ’n metaforiek van die intieme en die innerlike voort te bring.

Ook die ander twee gedigte in hierdie siklus handel met die idee van ontsetting ingegee deur die besef dat ons uitgelewer is aan prosesse wat groter is as ons self. Die derde gedig maak die punt dat ons ’n sekere kalmte, vertroosting of verlossing van hierdie wanhopige gevoel van buite beheer wees kan vind in die alledaagse, intieme aktiwiteite waaroor ons wel beheer het. Aan die einde van die gedig word die digter wakker en “verplaas klere van wasmasjien na tuimeldroër/ vee uit, was skottelgoed, sit aandete voor” (22) Die gedig maak terselfdertyd Bachelard se punt dat die huis ons veilige hawe is in die onophoudelike en voortslepende proses van Vooruitgang – ’n plek waarin ons (tydelik) rustig kan word en wees met ons bestaan “stil in die tornado-oog” (18).

In die gedig “Dagdroom” (61–2) kom ’n ander dimensie van die verhouding tussen huis en droom na vore. Die digter dagdroom oor ’n “hartseer tune/ verkieslik een met die aurora borealis/ want hier sal die hemel nooit so uitspattig kraak nie”. Die gedig is ’n verbeeldingsvlug waarin “digters en skilders” “dobber in kafees/ op die lou promenades van eilande/ profane gesprekke voer/ vas oortuig dat ’n verkeerde woord/ die wêreld in oorlog kan dompel”. Dat hierdie dagdroom in die huis plaasvind, word op subtiele wyse oorgedra wanneer die droom aan die einde van die gedig onderbreek word met ’n “goed skat ek sal melk gaan koop”. Dit gaan dus hier nie soseer oor dit waaroor daar gedroom word nie, maar eerder oor die feit dat die huis die veilige ruimte bied of skep vir die aktiwiteit van dagdromery van welke aard ook al. Hetsy dit gaan oor “spioene van gemaskerde lande/ wat artieste en aktiviste dophou” of oor “bieg en soen in antieke klipkapelletjies” (62), die huis is die plek waarin die verbeelding gekoester word en dus vry genoeg is om aan sigself vrye teuels te gee. Die huis is dus nie bloot standvastigheid, beskerming en beskutting teen die meedoënlose prosesse van die buitewêreld nie. Dit is ook ’n ruimte waarin vryheid (bowenal verbeeldingsvryheid) uitgeoefen en dus beleef kan word.

’n Verdere dimensie van die verhouding tussen huis en droom wat in Bachelard belig word en in Veelvuldige gebruike gedig word, hou verband met die huise van ons verlede, en spesifiek hoe die huise wat ons in die vormingsjare van ons psige bewoon het, in ons drome vergestalt word:

If we go […] to images that insist and force us to remember farther back into our past, we shall have to take lessons from poets. For how forcefully they prove to us that the houses that were lost forever continue to live on in us; that they insist in us in order to live again, as though they expected us to give them a supplement of living. (Bachelard 1994:56)

In “Draalgedig vir ’n derde kind” (Bezuidenhout 2014:44) bevind die digter hom as kind met sy gesin in sy ouerhuis. Pa is “iewers, elders” en die aangesprokene is ’n suster van wie die digter vra: “[O]nthou ons dieselfde huis?” Weens die afwesigheid van die vader heers daar ’n ongelukkigheid, ’n droefgeestigheid, in die huis. Rankrose vrek “by die voordeur soos meeste plante, kórt ná ons intrek”. Die moeder huil baie en ’n buurman vra: “Waar’s jou pa as hy eers soggens tuiskom?” In hierdie gedig gebruik Bezuidenhout die huis as ruimte, en gebeure in en om die huis, om ’n reeks beelde te skep wat as “objective correlative” dien om die emosie van verlatenheid, psigiese spanning, hartseer en meerdere fasette van (liefdes)teleurstelling oor te dra. Soos Eliot lank gelede geskryf het:

The only way of expressing emotion in the form of art is by finding an “objective correlative”; in other words, a set of objects, a situation, a chain of events which shall be the formula of that particular emotion; such that when the external facts, which must terminate in sensory experience, are given, the emotion is immediately evoked. (Eliot 1921)

Trouens, die huis (ook spesifiek die kombuis) en huishoudelike toestelle staan as ’n komplekse “objective correlative” in hierdie bundel – ’n intieme ruimte waardeur meerdere emosionele registers deur die fokus op verskillende gebeure en objekte oorgedra word. (Sien in hierdie verband ook die gedigte oor die wasmasjien, waarin ’n soort emosionele gasvryheid (selfs vergifnis en kwytskelding), asook erotiek en liefde, by wyse van wasmasjienbeelde verwoord word (Bezuidenhout 2014:57-60).)

 

4. Die kombuis

Die kombuis is ’n plek van handeling, aktiwiteit en optrede – ’n plek waar dinge gebeur. En Bezuidenhout gebruik hierdie eienskappe van die kombuisruimte om ’n metaforiek vir die aktiwiteit van denke en insiggewing in die lewe te roep. Die digter spreek Bachelard se idee dat die wysbegeerte gans te min aandag skenk aan intieme ruimte en die alledaagse wanneer dit kom by ’n bestaansbegrip, aan in die siklus “Wat in die kombuis gebeur” (25), waarin “[g]ewigtige gaste” aan tafel kom sit “met ’n uitsig oor die heelal” en met “kennis en program” “verreken, voorspel, verklaar”, terwyl die digter “dienaar en kok” is wat in die kombuis al die lense vind wat nodig is om wese en bestaan te verklaar of om tot Verligting te kom. In die tweede gedig in die siklus sit ’n geleerde professor die wêreld en betrag deur die “oog” van Das Kapital en ’n ekonoom blaai bewend deur The Wealth of Nations, “te besig om aandag te skenk aan kommoditeite/ wat in my kombuisfabriek se potte brou” (27).

"Painting of kitchen" deur Rich Daskas

Deur bogenoemde posisie vis-à-vis kennis en begrip in te neem, dui die digter ’n filosofiese posisie aan, naamlik dat alvorens ons sin maak van ons onmiddellike en alledaagse milieu, ons nie ’n kans staan om tot ’n beter begrip van die menslike toestand te kom nie. Sonder die standvastigheid wat die huis en die bekende verleen, kan ons die wêreld nie invaar en oorwin nie, maar met sodanige stabiliteit ferm neergelê en vasgestel, het ons ’n veel beter kans om dit wat daar buite, in die res van die heelal, plaasvind, te verwerk. Die boodskap is eenvoudig dat die Eie, die persoonlike, eers geken, besit en verstaan moet word voordat die Self in betekenisvolle verhouding tot die Ander kan staan. Dit is inderdaad ’n idealistiese posisie, maar moet gelees word teen die agtergrond van die digter se protes teen ’n sekere wetenskaplike voortvarendheid. Die gedigte beklemtoon bloot die kritieke belang van wat Foucault (1988) na verwys het as “the care of the Self”, met ander woorde, dit lê klem op die etiese belang van die Self vir die Ander in die altyd onopgeloste dialektiek tussen Self en Ander.

Bachelard meen dat almal ’n gunstelingplek in die huis het, ’n plek waarin hulle die gemaklikste en die mees geborge en terselfdertyd die vryste voel. In die laaste gedig in die siklus verklaar die digter sy voorkeurplek in die huis, wat ook sy voorkeurplek is vir die versamel van insig en begrip: “You will always find me in the kitchen at parties” (Bezuidenhout 2014:27). In hierdie gedig word onomwonde verklaar dat die geskiedenis in kombuise “opgekook” word, waarmee die digter wil aandui dat Waarheid en die werklike gebeure (dit wat saak maak) in en deur die alledaagse en die persoonlike ontdek word. Die digter aktiveer hier natuurlik ook die feministiese spreuk dat die persoonlike die politieke is en andersom. Die idee hier bou voort op die vorige gedig se argument dat ons te geneig is om waarheid en betekenis (of sin) elders te gaan soek (byvoorbeeld in wysgerige boeke of lesingsale), terwyl die onmiddellik persoonlike of intieme ruimte, en dit waardeur daardie ruimte beslaan word, ons reeds kan toerus met aspekte van die waarheid, betekenis en sin waarna ons daarbuite so naarstiglik op soek is. Vanweë hierdie oortuiging dat die “abstrakte” in die konkrete onmiddellikheid van ons daaglikse handel en wandel te vinde is, vra die digter reeds in die openingsgedig, “Kombuiskomplot” (9) retories: “[K]an tentakels wat toestelle konnekteer/ dalk iets in die lug bespeur, ’n ramp/ armageddon, die atmosfeer wat verdamp?”

Dit is dan ook nie verbasend nie dat ook die liefde deur verwysings na huishoudelike toestelle in hierdie bundel aan bod kom. Die kombuistoestel waardeur die liefde en die afwesigheid van die geliefde aangespreek word, is ’n koelkas. Die digter gebruik die koelkas om te mediteer oor “termodinamika” wat konstateer dat koue niks anders as die afwesigheid van hitte is nie “en ek wat op die klipvloer bewe/ vandat jy nie meer hier is nie” (42). Interessante verbande kan gelees word tussen hierdie gedig en “Skottelgoed skilder” (50) waarin die yskas “dreun/ en sidder tot stilte” en die spreker se “verset verdrein tot ’n grys pappery”. Wanneer die yskas tot stilstand kom en ophou verkoel, bly hitte nie meer uit nie en, saamgelees met wat vroeër oor termodinamika en die koelkas gesê word, kan ons in hierdie gedig ’n moontlike terugkeer van of versoening met die geliefde lees. Hierdie interpretasie word versterk deur die aangrypende liefdesgedig “Soos jy lyk” (65).

 

5. Die pad (vorentoe)

“Because we must also give an exterior destiny to the interior being […] And what a dynamic, handsome object is a path! How precise the familiar hill paths remain for our muscular consciousness” (Bachelard 1994:11). Op die ou einde maak die huis se deure en vensters oop na die wêreld daarbuite en kan ons nie anders nie as om die veiligheid van die huis te verlaat om weer ons reis in die wêreld te hervat en met die res van ons bestaan-met-ander om te gaan nie. Dit wat in die huis gebeur en beleef word, staan uiteindelik nie los van dit wat ons in die buiteruimte ondervind en ondergaan nie. Soos Bachelard skryf: “Through the poet”s window the house converses about immensity with the world” (1994:69).

Bezuidenhout is van bogenoemde insig terdeë bewus. Daar is heelwat gedigte in hierdie bundel oor paaie, besoeke, reise en ander plekke as die huis (alhoewel ’n mens se motor weliswaar soms as ten minste ’n tydelike “huis” verstaan kan word). Die insluiting van hierdie gedigte in ’n bundel waarin die huis en huishoudelikheid voorop staan, is nie toevallig nie. Bezuidenhout verwoord deur hierdie gedigte juis die belang van die huis as anker, as voorwaarde vir suksesvolle en lonende reisondervindings, as ’n veilige plek waarna teruggekeer kan word wanneer die reisiger uitgeput word deur sy woekery in die wêreld.

Ek het hierdie bundel terdeë geniet. Lank lewe kombuiskomplotte, lank lewe skottelgoed, lank lewe wasmasjiene en viva die kok!

 

 

Bibliografie

Bachelard, G. 1994. The poetics of space. Beacon Press: Boston.

Bezuidenhout, A. 2014. Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle.Protea: Pretoria.

Derrida, J. 1987. The truth in painting. University of Chicago Press: Chicago.

Eliot, G. 1921. Hamlet and his problems. http://www.bartleby.com/200/sw9.html (15 April 2014 geraadpleeg).

Foucault, M. 1988. The care of the Self: Volume 3 of The history of sexuality. Random House:New York.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Marianne de Jong

    Hierdie po-etika van die kombuis sal sekerlik ook van toepassing wees op fiksie en 'n verdere interpretasie van heelwat Afrikaanse prosa in die lig daarvan behoort baie interessant te wees - bv. Louoond van Jeanne Goosen uit die vroeë negentigs.   Dit eindig met die bekende apokaliptiese of profetiese "k*ktoneel" waarin omgewing  as indringer in die huis, kombuis en die integriteit van die "lou-oond" figureer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top