Die politieke eskatologie van Groen van Prinsterer en die impak daarvan op Christelike Konserwatisme in die VSA

  • 0

Die politieke eskatologie van Groen van Prinsterer en die impak daarvan op Christelike Konserwatisme in die VSA

J.A. Schlebusch, onafhanklike navorser

LitNet Akademies Jaargang 16(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Binne die korpus bestaande literatuur oor Guillaume Groen van Prinsterer (1801–1876), word klem gelê op sy historiese rol as staatsman en historikus. Alhoewel ’n verskeidenheid aspekte van sy politieke teorie, geskiedsfilosofie en die teologiese onderbou daarvan ruim aandag geniet, word daar byna geen aandag aan sy eskatologie geskenk nie. Dit is verbasend in die lig van die feit dat eskatologiese temas ’n deurslaggewende rol in sy historiese en politieke geskrifte speel. Via die Amerikaanse geskiedsfilosoof David Carr se narratiewe benadering tot die historiografie word die (tot nou toe onderwaardeerde) rol van eskatologie in Groen se historiografiese en politieke werke ondersoek en belig. Hierdie polities-gelaaide eskatologiese tema het vir Groen ’n wesenlike retoriese funksie vervul in terme van die optimistiese oproep tot volhardende aksie wat hy aan sy antirevolusionêre gehoor gerig het. Dit sou ’n retoriese oproep wees wat by sy 20ste-eeuse Neo-Calvinistiese opvolgers – veral in die VSA – beide aanklank en weerklank vind. Hierdie retoriese oproep tot sosiopolitieke aksie wat eskatologies begrond is, sou sy mees uitdruklike beslag vind by leidende figure van die na-oorlogse Christelike Konserwatisme in die VSA, o.a. R.J. Rushdoony. Aldus sou deurslaggewende narratiewe en retoriese strategieë wat die grondslag gevorm het vir die bekragtiging van ’n militante politieke konserwatisme in die VSA, herlei kon word na Nederland, en met name na Groen van Prinsterer.

Trefwoorde: David Carr; eskatologie; Groen van Prinsterer; konserwatisme; narratief; Neo-Calvinisme; postmillennialisme; R.J. Rushdoony

 

Abstract

The political eschatology of Groen van Prinsterer and its impact on Christian conservatism in the USA

Guillaume Groen van Prinsterer (1801–1876), Dutch anti-revolutionary statesman and historian, has enjoyed continued appreciation among Reformed scholars both in his homeland and internationally for well over a century. He is famous for his active 19th-century opposition to the liberalisation of Dutch society as a leader of the Dutch wing of the Réveil, a conservative pan-European Christian revivalist movement (Kuiper 2012:50). Along with the emphasis on personal religious experience and piety, the movement also emphasised the socio-political impact of the Christian faith – the Kingdom of God was to be manifested in every sphere of human life (Janse 2012:169). His anti-revolutionary position was shaped through his contact with Réveil figures such as the Swiss preacher and church historian Jean-Henri Merle d’Aubigne (Kuiper 2012:13, 35). Groen came to see the Christian faith as fundamentally opposed to the “revolutionary”, i.e. liberal Enlightenment-inspired, worldview (Groen van Prinsterer 1873:265).

From a distinctly Christian historiographical perspective Groen argues for the Christian State based on God’s revelation in both Scripture and Dutch history as a manifestation of God’s providence (Bijl 2011:127). His history-writing and narration were, like those of his more famous contemporaries, Marx and Hegel, a typical 19th-century example of what the American philosopher of history David Carr describes as

a kind of discourse more appropriately compared with the political-rhetorical kind of story-telling … to [be] read … as [a] narrative whose role is neither cognitive nor aesthetic, but practical … not [merely] describing the history of mankind, but urging that it move in a certain direction. (Carr 2013:129–30)

Carr views history-writing as inherently rhetorical in nature, advocating a retentional understanding of history, where narrative is retained consciously or subconsciously as a framework in which one’s actions in the present make coherent sense in light of a given past and envisaged future (ibid. 67–8). Past, present and future are therefore closely interlinked.

Three main themes characterise the existing body of literature on Groen. These are his contributions as political theorist, his work as historian and his significance as statesman. In light of the literature’s emphasis on Groen’s continued relevance as statesman it is surprising that little to nothing has been written about his eschatology, since this theological aspect of his thinking played a significant role in shaping his worldview as an anti-revolutionary. Eschatological themes are integral to both his historical and his political writings. Authors who touch on Groen’s eschatology do so only briefly, without an in-depth investigation. The obvious reason for this oversight is the fact that Groen never systematically develops his eschatology and does not often explicitly write on the subject. Furthermore, there has been very little appreciation for the rhetorical narrative strategies in his history-writing. Nonetheless, with Groen there is no hard distinction between past, present and future, and these interplay in his worldview as reflected in his writings.

For Groen, all of history is the battleground between Christ and evil. The key to understanding history lies in Genesis 3:15, which he understood to be a promise and prophecy of Christ’s ultimate and eventual victory (Van Vliet 2008:85; Klink 2012:278–9). This eschatological victory, however, was generally understood in a premillennial fashion within the context of the Dutch Réveil. With the exception of Groen, all the leading figures in the movement were committed premillennialists. Premillennialism was typical for evangelical movements at the time. Nonetheless, Groen sees his own Dutch nation as instrumental in what he understands to be the inevitable spread of the gospel all over the world (Groen van Prinsterer 1925:566). His orthodox preterist exegesis of Matthew 24 (Groen van Prinsterer 1991:49) sets the stage for his postmillennial eschatological narrative. He understands history to be the narrative plot through and in which the climax – the gospel conquering the world – comes to fruition. Because this eschatological victory is assured, he rhetorically invites his anti-revolutionary comrades to actively engage in present political battles, knowing that all setbacks are merely temporary. This was a striking line of thought for the leader of a minor political movement in the Netherlands at the time – one which indeed suffered numerous setbacks.

Although Groen’s eschatological sentiments never garnered much sympathy in Dutch (or South African) Reformed churches, the theological and historiographical ideas underpinning his postmillennialism were perpetuated in the USA by his Dutch-American Neo-Calvinist successors, Cornelius Van Til and Geerhardus Vos. Van Til thought about history in distinctly Groenian terms, i.e. as the realisation of the cosmic and redemptive purposes of God (Van Til 1980:xiii). Vos viewed eschatology as “pre-eminently historical”, and like Groen, contrasted it with rationalism, where eschatological sentiments are “devoid of historic sense and … tradition” (Vos 1979:ii). Vos also identifies with postmillennialism (1979:226).

Groen’s paradigm of the Christian worldview as historically rooted is also employed by the Christian Reconstructionist followers of Van Til and Vos, like R.J. Rushdoony, Greg Bahnsen and Gary North. Rushdoony in particular had an immense influence on the theological and political development of the Christian Right in the USA (McVicar 2015:5-6). Rushdoony explicitly systematised the intrinsic connection between postmillennialism and theonomy – the idea that Biblical Law should be the foundation of all politics and legislation (Rushdoony 1977:6). For Rushdoony, like Groen before him, the gospel conquering the world meant that every facet of human existence was to be brought under the dominion of Christ. For Rushdoony, history and eschatology are inseparable (Rushdoony 1999:1). His call to exercise dominion for Christ on a socio-political level is therefore rooted in a Christian worldview that is both historically and eschatologically driven.

Rushdoony’s justification of a Christian theocracy would have a lasting impact on the Christian Right in the USA. Recent studies even show that an increasing number of conservative USA evangelicals identify with postmillennialism (Smietana 2016:7). Nonetheless, this post-Enlightenment political-eschatological paradigm characteristic of the Christian Right has its origin with Groen van Prinsterer, who was the pioneer in terms of developing an optimistic Christian political eschatology in the 19th century.

Keywords: conservatism; David Carr; eschatology; Groen van Prinsterer; narrative; Neo-Calvinism; postmillennialism; R.J. Rushdoony

 

1. Inleiding

Guillaume Groen van Prinsterer (1801–1876), die antirevolusionêre staatsman en historikus, geniet al vir meer as ’n eeu baie aandag binne Nederlandse en internasionale Gereformeerde akademiese kringe. Groen1 het bekendheid verwerf vir sy toewyding aan konserwatiewe uitgangspunte as staatsman en as politieke aktivis binne die konteks van ’n Nederlandse samelewing wat in die 19de eeu deur toenemende liberalisering gekenmerk is. Teen die gety polemiseer hy vanuit ’n Gereformeerde grondslag teen die idees van veral die Verligting in Frankryk, wat volgens hom in sy eie tyd ’n negatiewe impak op Nederland gehad het. Reeds gedurende die 1830’s tree hy op ’n jong ouderdom na vore as die leidende figuur binne die Nederlandse Réveil (Kuiper 2012:50). Die Réveil was sowel ’n Metodisties- as Calvinisties-geïnspireerde herlewingsbeweging met takke regoor Europa. Binne hierdie beweging is daar eerstens klem gelê op die persoonlike ervaring van die mens se eie wedergeboorte en wandel met God in die daaglikse lewe (Gäbler 1990:10–1). Gepaardgaande hiermee was egter ’n tweede kenmerk van die beweging: die beklemtoning dat godsdienstige beginsels noodwendig ’n publieke en sosiopolitieke impak het. Kenmerkend van die Réveil was dus die integrasie van godsdiens en sosiopolitieke aksie – die koninkryk van God moes beslag vind in elke faset van die samelewing (Janse 2012:169).

Kort nadat hy aan die Universiteit van Leiden klaar gestudeer en gegradueer het met doktorsgrade in beide die Regs- en Geesteswetenskappe-fakulteite, het hy na Brussel verhuis (Kuiper 2001:25). Dit was tydens Groen se verblyf in Brussel (1827–33), waar hy as sekretaris van koning Willem I se kabinet gewerk het, dat hy in kontak gekom het met die Réveil. Dit het gebeur via die koninklike hof se Switserse kapelaan, Jean-Henri Merle d’ Aubigne (Kuiper 2012:13, 35). Dit is hier waar Groen, wat uit ’n liberale milieu gekom het, as antirevolusionêre denker gevorm is (Groen van Prinsterer 1925:139, 141). Die antirevolusionêre beskouing was vir hom die “teengif” teen die heersende tydsgees – die liberalisme van die Franse Verligting soos dit in Nederland beslag gevind het (Groen van Prinsterer 1873:265). Vir Groen was die Franse Revolusie slegs die politieke manifestasie van ’n voorafgaande epistemologiese revolusie. In die idees agter die bekende slagspreuk “Vryheid, Gelykheid en Broederskap” het hy die saad van vernietiging gesien van ’n historiese sosiale orde wat deur God verordineer is (Groen van Prinsterer 1847:28, 36, 118). Hy het die revolusionêre idee van vryheid bekritiseer as iets wat net binne die konteks van absolute onderdanigheid aan die algemene wil kon bestaan soos dit deur die regering geïnterpreteer en beliggaam word. Hy maak dit af as ’n skynvryheid wat neerkom op onvoorwaardelike onderdanigheid aan ander se wil. Hierteenoor argumenteer hy dat net ’n erkenning van die transendente gesag van God die mens kan bevry van die arbitrêre gesag van ander (1847:199).

Sy idee van die Christelike staat as gebaseer op die beginsels van die Bybel, asook die historiese ontwikkeling van die Nederlandse volk, was gegrond in ’n bepaalde historiografiese perspektief (Bijl 2011:127). Sy geskiedskrywing was, soos dié van sy bekende tydgenote Hegel en Marx, ’n tipiese 19de-eeuse voorbeeld van wat die hedendaagse Amerikaanse geskiedsfilosoof David Carr beskryf as

a kind of discourse more appropriately compared with the political-rhetorical kind of story-telling … to [be] read … as [a] narrative whose role is neither cognitive nor aesthetic, but practical … not [merely] describing the history of mankind, but urging that it move in a certain direction. (Carr 2013:129–30)

Carr beklemtoon hier die retories-narratiewe aard tipies van 19de-eeuse geskiedskrywing wat met implisiete sosiopolitieke motiewe gepaard gaan. Groen as historikus was geen uitsondering op hierdie reël nie. Carr (2013:2) se benadering van ’n retensionele (“retentional”) beskouing van die geskiedenis kan verklaar word aan die hand van die opbou van ’n punt in tennis. Die speler se posisie op die baan op enige gegewe stadium is bepaal deur al die voorafgaande houe deur beide die speler en die opponent – en hierdie “geskiedenis” word behou in die kop van die speler as agtergrond vir die onmiddellike strategie in die hede, om homself sodoende die beste kans te gee om uiteindelik die punt te wen.

Groen se historiografie, politieke teorie en voorbeeld as Christelike staatsman vorm die fokus van die indrukwekkende bestaande korpus literatuur oor hom. In ’n poging om hom as historiese voorganger te waardeer, fokus hierdie bestaande literatuur hoofsaaklik op sy relevansie vir voortgesette politieke betrokkenheid en aksie en sy bydrae tot die historiografie. In die lig hiervan is dit verbasend hoe weinig daar geskryf is oor sy eskatologie, aangesien, soos hierdie artikel sal wys, hierdie teologiese tema ’n integrale en deurslaggewende rol in sy antirevolusionêre wêreldbeskouing speel. Eskatologiese elemente dien ook ’n bepaalde retoriese rol in sy politieke en historiografiese geskrifte. In die lig van die eskatologiese klem binne die kring van die 19de-eeuse Réveil-beweging in Nederland is dit ook verder verbasend dat juis dit een van die mees verwaarlooste aspekte van die teologie van die beweging se leidende openbare figuur is. In die bestaande literatuur verwys slegs ’n paar skrywers kortliks, en dan slegs oppervlakkig, daarna. Onder hulle bestaan daar verder ook teenstrydige interpretasies.

Die vroegste uitdruklike verwysing na Groen se eskatologie in die literatuur dateer uit die 1970’s. Die regshistorikus Hendrik Mulder argumenteer dat Groen ’n onafwendbare nederlaag van die Christendom in die toekoms sien, maar egter steeds die Christen oproep om intussen te arbei vir ’n herkerstening van die samelewing (Mulder 1973:76–7). William Dennison van Covenant College in Georgia in die VSA het ’n ander perspektief. Hy noem wel vlugtig dat Groen se politieke antirevolusionêre oproep tot sosiopolitieke aksie ’n eskatologiese dimensie gehad het, maar kwalifiseer dit dadelik met die volgende bewering: “Groen does not map out the particular characteristics of the final kingdom” (Dennison 1999:275). Meer onlangs het W.E.G. van Vliet in sy doktorale proefskrif oor Groen se historiese benadering tot die politiek geargumenteer dat sy verwerping van ’n empiriese benadering tot die historiografie in noue verband met ’n positiewe eskatologiese verwagting gestaan het. Volgens Van Vliet was dit vir Groen die eskatologiese oorwinning van Christus wat hom in staat gestel het om sin te maak van die geskiedenis (Van Vliet 2008:67). Harry Van Dyke het in ’n 2012-artikel oor Groen se invloed op sy geestelike erfgename, Herman Bavinck en Abraham Kuyper, die standpunt van Mulder weerspreek deur te sê dat Groen ’n oorwinning van die goeie oor die bose binne die konteks van die wêreldgeskiedenis voorsien het (Van Dyke 2012:95). In sy 2017- doktorale proefskrif oor 19de-eeuse eskatologie, behandel R.H. Kielman die verskille tussen die Haagse Réveil en die Amsterdamse Réveil in terme van eskatologiese uitgangspunte. Waar figure soos Koenen, Le Clercq en Da Costa in Amsterdam aktief ’n vurige chiliasme en ’n imminente wederkoms gepropageer het, het Groen hom teen hierdie eskatologie verset. Kielman kom egter verkeerdelik tot die gevolgtrekking dat “een al te diep duiken in de geheimen van het Profetisch Woord was aan Groen van Prinsterer niet besteed” (Kielman 2017:427–30). Soos in die res van die bestaande literatuur, word Groen se eie eskatologiese verwagtinge grotendeels oor die hoof gesien.

Die voor die hand liggende rede vir hierdie oorsig in die bestaande literatuur is die feit dat Groen nooit sy eie eskatologie sistematies uiteengesit het nie. Verder het die retoriese strategieë agter sy geskiedskrywing ook nog weinig aandag verdien, waardeur die eskatologiese dimensie natuurlik misgekyk is. In werklikheid speel eskatologiese temas ’n wesenlike retoriese en teologiese rol in beide sy politieke en sy historiografiese geskrifte. By Groen is daar geen skeiding van die verlede, hede en toekoms te vinde nie. Hy beskou dit in geheel as deel van die doelgerigte bestiering van die wêreldgeskiedenis deur die hand van God. As daar vanuit die Christelike perspektief oor die toekoms nagedink word, vertoon die denke weens die aard van die teologie normaal gesproke ’n eskatologiese karakter.

Aan die hand van Carr se benadering tot die historiografie as retories en toekomsgerig van aard, is die kernvraag van hierdie artikel dus: Watter eskatologiese paradigmas is daar teenwoordig in die werke van Groen en watter rol speel dit in sy Christelik-politieke en Christelik-historiografiese werke?

 

2. Groen en die geskiedenis

In Groen se antirevolusionêre Skrifbeskouing was die wêreldgeskiedenis teleologies gewortel in wat hy verstaan het as Genesis 3:15 se belofte van ’n messiaanse oorwinning van die saad van die vrou (Christus) oor die saad van die slang (die duiwel). Om hierdie rede vorm Christus se verlossingswerk, met name die oorwinning met sy opstanding, die spil waarom die geskiedenis draai (Van Vliet 2008:85; Klink 2012:278-9). In hierdie opsig staan Groen in die Christelik-historiografiese tradisie van die kerkvader Augustinus en die Middeleeuse biskop Otto von Freising (1114–1158). Beide het die geskiedenis gesien as die slagveld tussen Christus aan die een kant en die duiwel, sonde en boosheid aan die ander – ’n stryd wat uiteindelik sou uitloop op die verheerliking van Christus en sy oorwinning oor alle kwaad (Paul 2004:72). Die paradigma van sondeval en verlossing, asook die implikasies daarvan – met name die menslike verdorwenheid en geneigdheid tot sonde – was kern tot sy antropologie en skeppingsteleologie (Paul 2004:73; Van Dyke 2012:74). Hierdie paradigma het die narratiewe fondament van sy historiografie gevorm.

Binne sy historiese konteks het Groen se historiografie ook duidelik beslag gevind binne die konteks van die Duitse Romantiek, met name die 19de-eeuse Historiese Skool. Hierdie skool is gekenmerk deur die oortuiging van die waarde en gesag van ’n histories-ontwikkelde gemenereg (Van Vliet 2008:32). Dit was in wese ’n reaksie vanuit die Romantiek teen wat gesien is as die Verligting se minagting van die pedagogiese waarde van die geskiedenis. Van Vliet identifiseer dan ook bepaalde trekke van Groen se geskiedskrywing wat duidelik afkomstig is van hierdie skool:

  1. ’n kategoriese verwerping van idealisme en van die strewe na ’n volmaakte samelewing
  2. klem op die unieke karakter van elke volk
  3. die idee van ’n organiese harmonie wat bestaan tussen ’n betrokke volk se karakter en daardie volk se wette en politieke strukture
  4. die noodsaaklikheid van versigtigheid as dit kom by enige wesenlike maatskaplike veranderings of hervormings
  5. die idee dat alle politieke hervormings in historiese ontwikkeling begrond moet word
  6. verwerping van die idee dat grondwette opgestel kan word op grond van die nuwe rasionele insigte van ’n enkele generasie. (Van Vliet 2008:32–3).

In hierdie skool het Groen ’n bondgenoot in die stryd teen die rasionalistiese verstaan van die natuurreg gesien. Hy het groot waardering gehad vir die skool se respek vir die wysheid van die eeue soos dit in histories-ontwikkelde politieke verhoudings en strukture weerspieël word.

Van Vliet merk tereg op dat Groen se historiografie gevorm is deur ’n kombinasie van die Historiese Skool se benadering en ’n “religieuze interpretatie van de geschiedenis” (2008:82). Hierdie artikel betoog dat hierdie godsdienstige inslag tot die geskiedenis nie bloot in sy verstaan van die skeppingsteleologie en die voorsienigheid beslag vind nie, maar ook veral in die eskatologiese aspek van sy historiese narratief.

 

3. Die eskatologie van die Réveil

Binne die Christelike teologie word daar oor die algemeen tussen drie verskillende eskatologiese paradigmas onderskei aan die hand van teenstrydige interpretasies oor die duisendjarige vrederyk waarna verwys word in Openbaring 20:1–6. Om die belangrikheid van Groen se eskatologie binne sy historiese konteks te verstaan, is dit noodsaaklik om vlugtig na die drie paradigmas te verwys. Die standpunte staan algemeen bekend as amillennialisme, premillennialisme en postmillennialisme.

Amillennialisme is die oortuiging dat die vrederyk ingelui is met die oorwinning van Christus met sy opstanding. Die 1 000 jaar is dus simbolies van aard en verwys na die hele tydperk tussen die opstanding en die wederkoms, buiten ’n tyd van vervolging wat laasgenoemde sal voorafgaan. Premillennialiste glo in ’n vrederyk wat letterlik 1 000 jaar lank is, en eers ingelui word met die wederkoms self. Postmillennialiste glo soos premillennialiste in ’n toekomstige vrederyk, maar soos amillennialiste in een wat duskant die wederkoms plaasvind en nie noodwendig letterlik 1 000 jaar lank is nie (Saunders 2017:4–5). Waar amillennialisme en premillennialisme tipies gekenmerk word deur ’n pessimistiese beskouing van die toekoms van die kerk met ’n vervolging in die eindtye, sien postmillennialiste juis die tyd voor Christus se wederkoms as ’n glorieryke tydperk vir die Christendom.

Binne die 19de-eeuse Réveil in Nederland het die chiliasme as die oortuiging dat daar ’n goue tydperk op aarde voor die finale oordeel en koms van die nuwe hemel gaan wees, besondere aanhang geniet. Chiliasme kan egter beide ’n pre- en postmillennialistiese vorm aanneem. ’n Premillennialistiese eskatologiese beskouing was tipies van evangelikale bewegings gedurende die vroeë 19de eeu. Soos in die geval van Darby en die Plymouth Brethren was dit ook die algemeen aanvaarde perspektief (hoewel minder sterk beklemtoon) in die Nederlandse Réveil. Buiten Groen se voorganger, Willem Bilderdijk, was een van die leidende figure van die Nederlandse Réveil gedurende die 1820’s Isaac Da Costa – ’n Jood wat tot die Christendom bekeer het – ook ’n aanhanger van premillennialisme. Dit was via Da Costa dat Groen tot die oortuiging sou kom dat die Nederlanders as volk ’n besondere uitverkore rol in die konteks van die wêreldgeskiedenis speel. Die Nederlandse volk sou ’n belangrike instrument in die uitbreiding van die evangelie oor die wêreld wees (Groen van Prinsterer 1925:566). Nietemin, Groen sou ten spyte hiervan op eskatologiese vlak sterk verskil met Da Costa se siening dat Christus se koms ’n duisendjarige vrederyk sou inlui (Groen van Prinsterer 1872:25; Da Costa 1866:523).

 

4. Die eskatologie in Groen se Werke

In sy Korte overzigt der algemeene geschiedenis (1842) bespreek Groen onder andere kortliks Jesus se profesieë van ’n groot verdrukking, soos uiteengesit in Matteus 24. Volgens Groen was hierdie profesieë reeds vervul in die vernietiging van Jerusalem

veertig jaar nadat zij, door de Zone Gods te kruisigen, de mate der vaderen vervuld had … Honderdduizenden kwamen om door hongersnood of pest, in de vlammen of door het zwaard. De overigen worden tot slaven gemaakt. Nog heden ten dage getuigt de triomfboog van de veldheer Titus te Rome dat de Heer getrouw ook aan Zijne bedreigingen is. (Groen van Prinsterer 1991:49)

Met sy uitdruklike verwysing ter stawing van bogenoemde stelling na Matteus 24 waar die groot verdrukking bespreek word, kies hy dus ’n ortodoks-preteristiese interpretasie van hierdie teks. Hierdie preteristiese interpretasie behels dat baie van die profesieë in die Nuwe Testament aangaande die koms van die antichris, die groot vervolging en oordeel van Christus reeds in die eerste eeu na Christus vervul is. So ’n interpretasie staan lynreg teenoor amillennialistiese en premillennialistiese interpretasies van hierdie gebeure.

Via Merle d’Aubigne, ’n vooraanstaande kerkhistorikus uit eie reg, is Groen blootgestel aan Auguste Neander, die Duitse Lutherse historikus, wat, soos ons sal sien, ’n deurslaggewende impak op die eskatologiese aspek van Groen se werke as historikus sou hê. D’Aubigne se polemiese inslag teen die Verligting wat kenmerkend was van sy werk as kerkhistorikus, kan herlei word na die invloed van Neander. Neander het ’n doelbewuste poging aangewend om die geskiedenis as wetenskap te bevry uit wat hy beskou het as die bande van die Verligting (Van Schelven 1949:78–9). Neander het sy monumentale werk, Allgemeine Geschichte der Christliche Religion und Kirche, soos volg ingelei:

Dit sal ons doel wees om die groei van die magtige boom [d.i. die Christendom], soos dié van ’n klein mosterdsaad, oor die afgelope eeue te ontdek. Dit is voorbestem om die wêreld te oorskadu, en onder haar takke vind al die volke ’n veilige blyplek. (Neander 1826:1; my eie vertaling uit die oorspronklike Duits)

Hierdie eskatologiese sentiment van Neander, uitgedruk in die konteks van ’n kerkhistoriese werk, was ’n vorm van postmillennialisme. Die verwagting word uitgespreek van ’n goue tydperk vir ’n florerende Christendom wat binne die konteks van die wêreldgeskiedenis voor die wederkoms gaan oprys. Implisiet in die aanhaling is ook die politieke sentiment van die heiliging van die verskillende volke deur die evangelie. Dit herinner en sinspeel op die Ou-Testamentiese Sion-eskatologie waar die volke ingebring word na die heilige berg onder die heerskappy van ’n politieke messias (sien byvoorbeeld Psalm 67 en Jesaja 60–63).

Dieselfde eskatologiese verwagting is te vinde in die kerkhistoriese werk van D’Aubigne. Hierdie eskatologiese klem hou ook direk verband met die polemieke en anti-Verligtingskarakter van die betrokke werke. Die Verligtingsfilosowe van die 18de eeu het begin om ’n meer optimistiese siening oor die menslike toestand te verkondig as wat die Christelike leer gekenmerk het. Hierdie optimisme het uitdrukking gevind in die idee dat ’n ideale samelewing hier op aarde gevestig kon word deur ’n radikale revolusie van wat hul gesien het as morele inperkings. Die doel sou dan wees om ’n aardse utopie te bou op grond van die beginsels van vryheid en gelykheid. Immanuel Kant byvoorbeeld se beskouing was dat die Koninkryk van God deur die etiese en sosiopolitieke verbetering van die mensdom bewerkstellig word. Vir hom was dit egter nie ’n Christosentriese of Messiaanse koninkryk gebaseer op geloof in verlossingswerk nie, maar ’n antroposentriese koninkryk gebaseer op die juridiese en morele ontwikkeling van die menslike rede (Kant 1793:88–9, 92). So ook was Rousseau se teorie van die sosiale kontrak vir hom die enigste basis vir die ontwikkeling van ware vryheid en verlossing van alle bindinge op die mens (Rousseau 1762:178).

Hierdie sentimente is deur Kontra-Verligtingsdenkers (soos die historici Neander en d’Aubigne) gesien as in skerp kontras met wat die Christelike leer histories propageer het as die herstel van die staat van die nie-meer-gevalle-mens ná die wederkoms van Christus. Vir hulle het die ideale van die Verligting neergekom op valse utopiese drome, verwyder van die werklikheid (Dennison 1999:271).

In ’n brief aan ’n voormalige studieleier skryf Groen in 1834 dat hy groot waardering het vir die geskiedkundige werk van Neander, en veel minder vir dié van sy voorganger as Réveil-leier, Willem Bilderdijk, wat, terloops, ’n premillennialis was (Groen van Prinsterer 1834:42).

Groen verduidelik in sy epistemologiese werk Proeve over de middelen waardoor de waarheidt wordt gekend en gestaafd (1834) dat hy die wêreldgeskiedenis sien as “de omhulsel der evangelische ontwikkeling … zij is, uit een hooger dan het aardsche standpunt beschouwd, als ’t ware de halm waarin het zaad tot rijpheid is gestoofd …” Met ander woorde, vir hom was die wêreldgeskiedenis die verhaallyn wat opbou na die uiteindelike klimaks: die evangelie se oorwinning oor die wêreld.

Hierdie narratiewe perspektief op die verlede, hede en toekoms het dan ook ’n bepaalde polities-retoriese inslag wat tiperend van postmillennialisme is. Vir Groen was die sentraliteit van die metafisiese stryd tussen goed en kwaad ’n dryfveer vir politieke aksie in die hede. Sodanige politieke aksie was vir hom gegrond in die oortuiging dat ’n almagtige God aktief heerskappy oor die verloop van die geskiedenis uitoefen. Aangesien hierdie God se oorwinning ’n sekerheid is, kon Groen sy antirevolusionêre gehoor aanmoedig om aan te gaan ten spyte van terugslae, wat immers altyd dan net as tydelik van aard beskou kon word. Die retoriese waarde van hierdie optimistiese eskatologie blyk ook duidelik uit die afsluiting van sy politieke magnum opus, Ongeloof en revolutie:

[H]et christelijk-historische beginsel leidt ook … rechtstreeks naar politieke winst. De waarheid van een beginsel blijkt ook in een brede toepassing … door de ervaring en het eeuwig blijvende woord van de openbaring geleerd en geleid, beweer ik de onveranderlijkheid van waarheden. De verzaking daarvan leidt tot dwaalbegrippen. Hiervan valt het onvermogen en de verderfelijkheid dagelijks meer in het oog … Onderwerping aan de waarheid is de enige ware praktijk … Er ligt ook nu in de vrijmoedige belijdenis van uw overtuiging een vermogen waarvan de werking alleen bekend is aan Hem die de groei geeft … Laat ons bij de zeer geringe opofferingen waartoe wij vooralsnog geroepen worden tot plichtsbetrachting en zelfverloochening in het oog houden dat de heerschappij van de waarheid veld wint door getuigen … Het geloof overwint de wereld. Om de wereld te overwinnen is het nodig vooraf in ons eigen geweten de overwegingen te onttronen en elke hoogte die zich verheft tegen de kennis van God neer te halen en alle gedachten als gevangenen te leiden tot de gehoorzaamheid aan Christus. (Groen van Prinsterer 1847:385–7, 389)

Hierdie slot van Ongeloof en revolutie was ’n verklaring van ’n eskatologiese oorwinning wat retories aangewend is om die antirevolusionêre deel van die Nederlandse volk te bemoedig in hul stryd. Wat hierdie slot, binne sy historiese konteks, so noemenswaardig maak, is die feit dat die antirevolusionêres juis nie alleen ’n klein minderheid was nie, maar boonop ook een wat harde teenstand van die meerderheid van die bevolking verduur het. Teen die tyd dat hy sy lesings oor ongeloof en revolusie in 1846–7 gehou het, het sy party geen noemenswaardige suksesse gehad nie. Gedurende die 1830’s, na die afstigting van België gedurende die revolusie, het hy tevergeefs die hereniging van Vlaandere en Nederland voorgestaan. Alhoewel hy die noodsaak van grondwetlike hervormings besef het, was hy sterk gekant teen die grondwetshersiening wat uiteindelik in 1840 in Nederland aanvaar sou word (Drentje 2004:194). Groen se weerstand was gegrond op wat hy beskou het as die liberale gees van die hersiening.

Die politieke historikus Koos van den Berg beskryf die kern van Groen se argument soos volg:

Voor alles is handhaving en herstel van de Nederlandse beginselen nodig … Godsdienst, gezag en vrijheid zijn in dat verband kernbegrippen voor Groen … De erkenning van het protestantse karakter van de natie is voor Groen cruciaal. (Van den Berg 1998:62)

Vir Groen was die erkenning van God se gesag oor elke faset van die lewe (wat in hierdie grondwetshersiening ontbreek het) die beginsel van goeie politiek. Solank as wat die soewereiniteit van die mens as uitgangspunt aanvaar is, sou elke hersiening van die grondwet vrugteloos bly.

Gedurende die jare direk na die hersiening van die grondwet sou hy ook betrokke raak by die debat rondom godsdiens in skole. In 1842 is ’n koninklike bevel uitgevaardig wat vir een uur se godsdiensklasse in skole voorsiening gemaak het, mits dit vir die meerderheid skoliere en ouers aanvaarbaar sou wees. In die praktyk het dit egter gebeur dat slegs ’n paar besware nodig was om so ’n periode af te weer (Van Vliet 2008:214–5). Groen het hom hewig hierteen verset, maar sonder veel ondersteuning of sukses.

Ook op kerklike terrein was daar teleurstellings. In 1842 het Groen ’n beswaarskrif opgestel en na die sinode van die Nederlands Hervormde Kerk gestuur waarin hy ’n beroep op die sinode gedoen het om die liberale teologie van die Groningse Skool2 te verwerp, maar dit was onsuksesvol (Kuiper 2001:119).

Bogenoemde teleurstellings beklemtoon die besondere betekenis van die retoriese appèl tot volharding aan die einde van sy laaste lesing in Ongeloof en revolutie binne sy bepaalde historiese konteks. Dit was immers teen die agtergrond van herhaalde teleurstellings en weinig impak op die politieke rigting wat die land op daardie stadium ingeslaan het dat Groen, steeds vol vertroue in die oorwinningskrag van sy eie politieke posisie, hierdie appèl rig.

Die motivering vir hierdie retoriese strategie kan teruggevind word in Groen se strategiese verskuiwing van die fokus vanaf die immanente na die transendente. Vir hom het die hart van die stryd op ’n hoër, eskatologiese vlak gewoed. Die Kerk van Christus sou uiteindelik, ook in die geskiedenis self, die nodige oorwinnings behaal om die Christendom na ongekende hoogtes te neem. Daarvoor hoef die gelowige dus ook nie passief te wag tot die wederkoms nie. As deel van Christus se Kerk op aarde kan gelowiges aktief deel hê aan die behaling van hierdie oorwinning. Hiermee het Groen dus die idee oorgedra dat die huidige teleurstellings bloot tydelik van aard is en dat, alhoewel veldslae nou verloor word, die uiteindelike oorwinning seker is. Aangesien hierdie verwagting van oorwinning egter nie bloot transendent van aard is nie, was sy oproep immers vir aktiewe deelname in die sosiopolitieke en kerklike strydpunte van sy eie tyd en konteks. Deur die oproep tot aktiewe sosiopolitieke deelname binne hul eie konteks sou antirevolusionêres hulself moes sien as vegters in ’n deurlopende stryd – en uiteindelike oorwinning – wat die geskiedenis van die wêreld omvat. So kon hulle hul goddelike roeping op eerbare wyse uitleef en die tydlose beginsels van waarheid en geregtigheid dien.

Die kernbeginsel van die antirevolusionêre posisie was die teologiese konsep van goddelike verordeninge, waardeur die Here die werklikheid vorm, asook God se onvermydelike heerskappy, wat die geskiedenis (as menslike ervaring) kenmerk. Vir Groen was dit ’n waarborg vir die noodwendige mislukking van “revolusionêre”, menslike projekte wat gekenmerk word deur hul strewe na die verheffing van die gesag van die mens bo dié van God. Hierdie narratief het ’n vorm van verbondsmatige historiese denke verteenwoordig waarin die digotomie van ongeloof en geloof, d.i. “revolusie” en “antirevolusie”, die sleutel was tot enige verstaan van die geskiedenis.

Ongelukkig is hierdie inherente verbintenis tussen die Ou-Testamentiese verbondsmatige vloek-en-seën-paradigma en die vergestalting van goddelike verordeninge in die geskiedenis, onderwaardeer in die bestaande literatuur oor Groen. Vir Groen het die werklikheid die onvermydelikheid van hierdie verbondsmatige paradigma bewys. Opstand en weerstand teen die verordineerde sosiale orde sou noodwendig negatiewe gevolge hê, terwyl positiewe sosiale uitkomste oor die algemeen bereik sou word deur gehoorsaamheid aan God se verordeninge. Op sy beurt was dit die grondslag van sy optimisme in sy welbekende retoriese appèl aan die einde van Ongeloof en revolutie. Hy was oortuig dat die evangelie bestem is om die wêreld te oorwin. Nietemin, sy histories-eskatologiese opvatting van Christus se oorwinning oor die bose het nie alleen ’n suprahistoriese karakter vertoon in die sin dat dit gelykgestel is met die wederkoms as einde van die geskiedenis nie. Vir hom was dit eerder kenmerkend van die loop van die geskiedenis self. Daarom is sy aanhaling uit 2 Korintiërs 10:53 in hierdie betrokke appèl noemenswaardig. Hy wend hierdie teks retories aan om Christene aan te moedig om met vertroue aan sosiale en politieke aksies deel te neem met die doel om sosiopolitieke uitkomste wat in ooreenstemming met hul geloof is, te bereik.

 

5. Antirevolusionêre eskatologie en neo-Calvinisme in die VSA

5.1 Die Nederlands-Amerikaanse neo-Calviniste: Van Til en Vos

Groen se eskatologiese denke het nooit werklik posgevat in enige van die Nederlandse Gereformeerde (of Suid-Afrikaanse) kerkverbande nie, waar amillennialisme en premillennialisme deurlopend die toonaangewende paradigmas gebly het. Nietemin, vanuit Nederland is die histories-teleologiese denke onderliggend aan Groen se politieke eskatologie uitgevoer na die VSA in die persone van Cornelius Van Til en, veral, Geerhardus Vos. Via Kuyper en Bavinck, Groen se geestelike nasate, het Van Til ’n Groeniaanse geskiedsfilosofie oorgeneem (O’Donnell 2011a:72; Dennison 2015:98). Waar Kuyper direk voortgebou het op die werk van Groen, was dit Van Til wat met sy apologetiek van die Christendom die antirevolusionêre of neo-Calvinistiese4 sisteem nog verder uitgebou het (O’Donnell 2011b:29). Van Til dink op eg Groeniaanse wyse oor die geskiedenis in die lig van die Christelike wêreldbeskouing:

As Christians we have a very definite philosophy of history. For us history is the realization of the purposes and plans of the all-sufficient God revealed through Christ in Scripture. And if this is the case, we are naturally persuaded that in history lies the best proof of our philosophy of human life. (Van Til 1980:xiii)

Alhoewel hy self nie ’n ’n sterk eskatologiese posisie ontwikkel het nie, speel polities-gelaaide eskatologiese sentimente wel by hom ’n teologiese rol.

Geerhardus Vos was waarskynlik die mees invloedryke geestelike nasaat van Kuyper en Bavinck in die VSA. By Vos, as neo-Calvinis, is die integrasie van die geskiedenis en die eskatologie nog meer uitdruklik. Hy skryf selfs “eschatology is pre-eminently historical” in teenstelling met enige rasionalistiese eskatologiese opvattings wat “devoid of historic sense … [and] tradition” sou wees (Vos 1979:ii).

Vos identifiseer self dan ook meer uitdruklik as Groen met die postmillennialistiese eskatologiese siening (Vos 1979:226). Nietemin, buiten die uitdruklike identifikasie met hierdie bepaalde eskatologiese paradigma, is Groen en Vos se gedagtegang met betrekking tot die geskiedenis en eskatologie feitlik identies. Dit is noemenswaardig om daarop te let dat Vos se polemiek teen die rasionalisme se afwysing van die pedagogiese waarde van die geskiedenis en van tradisie verreikende eskatologiese implikasies het. Dit herinner sterk aan Groen se retoriese strategie om juis in die stryd teen rasionalisme vanuit die verlede hoop en moed te put vir die hede en veral die toekoms. By beide is die idee teenwoordig van ’n narratiewe verbondenheid tussen die geskiedenis as openbaring van God se voorsienigheid en die eskatologie as vervulling van die goddelike doel met die geskiedenis.

5.2 “Christian Reconstructionism” en die “Religious Right”

Vanuit dieselfde paradigma as Groen, naamlik dat die Christelike politieke en wêreldbeskouing histories gegrond behoort te wees, speel Van Til en Vos die leidende rol in die vestiging van ’n tipe politieke eskatologie in die VSA. Hierdie eskatologiese paradigma sou sy mees uitdruklike beslag vind in Van Til en Vos se grootste geestelike nasate, R.J. Rushdoony, Greg Bahnsen en Gary North, wat op hul beurt weer in die politieke Christian Reconstructionism-beweging5 in die VSA die leiding sou neem. Veral Rushdoony sou ’n groot invloed op die Christen-regse politieke beweging in die VSA uitoefen. ’n Professor in godsdiens aan Florida State University, Michael McVicar (2015:5–6) wys daarop dat Rushdoony wyd beskou word as nie bloot ’n kerninvloed nie, maar ook ’n patriarg van die “religious right” in die VSA. In so ’n mate dat sy politieke denkskrum, die Chalcedon Foundation, onder andere deur Newsweek in 1981 uitgewys is as die invloedrykste in hierdie beweging.

Die Amerikaans-Nederlandse Gereformeerde teoloog Louis Berkhof (1933:145) beskryf die politieke dimensie van postmillennialisme as volg:

The theonomic form [of postmillennialism] states that the business of the Church is to work to see a theocracy restored upon the earth by emphasizing the continuity of Old Testament Law … with the New Testament. Once established, this victorious Church would be the divine vehicle from which the ever-advancing kingdom of God would bind Satan and subdue evil in the world. The emphasis of theonomic postmillennialism is that it is God who exercises dominion through his redeemed saints establishing his law-word as the standard for all of life.

Waar Van Til veral bekend was vir sy werk in die apologetiek, waarin hy argumenteer dat alle kennis noodwendig uit bepaalde voorveronderstellings voortvloei, ontwikkel Rushdoony sy benadering tot die apologetiek tot ’n volwaardige politieke en eskatologiese teologie.

Lamport (2016:505) verduidelik:

Rushdoony carried Van Til’s ideas to their logical end: if human reason is explicitly religious, then all knowledge claims to have political implications. Thinking is a matter of sovereignty, rebellion and warfare … In linking the legal mechanism of the covenant with the political implications of knowledge production, Rushdoony sought to foster a Christian vision of political reform that started with the legal reform of the United States.

Hier vind ons binne die konteks van die 20ste eeu in die VSA presies dieselfde gedagtegoed as in Groen van Prinsterer se antineutraliteitsidee – en dit by ’n denker (Rushdoony) wie se idees histories in direkte verband staan met die antirevolusionêre politieke teorieë van Groen. Wanneer Groen argumenteer vir die Christelike staat in Ongeloof en Revolutie, begin hy met die noodsaaklikheid van die erkenning van voorveronderstellings. Hy is van mening dat vir die Christen, in terme van moraliteit, wetgewing en die staat, daar geen wysheid bestaan buite die openbaring van God in die Skrif en die hand van sy voorsienigheid in die geskiedenis (geïdentifiseer in die lig van die Skrif) nie (Groen van Prinsterer 1847:243). Hierdie argument vorm dan ook ’n kernonderdeel van Ongeloof en Revolutie as sy antirevolusionêre manifes waarin hy ’n unieke Christelik-historiese narratief as retoriese (her)beskrywing van die werklikheid voorstel – ’n retoriese strategie gemik op die motivering van sy gehoor tot sosiopolitieke aksie. In Rushdoony vind ons dieselfde strategie, maar met ’n meer uitdruklike eskatologiese element.

Lamport (2016:505) vervolg:

The logical outcome of Rushdoony’s concept of theonomy6 is a theocratic order governed by Biblical Law. Through the application of biblical law on all spheres of human life, Reconstructionism advocates for the establishment of God’s Kingdom on earth through the progressive, gradual development of an imperial Christian dominion. Rushdoony contrasted this theocratic triumphalism with the premillennial dispensationalism advocated by the vast majority of contemporary evangelicals and fundamentalists.

Hierdie eskatologiese paradigma kan nie losgemaak word van ’n bepaalde narratiewe en retoriese blik op die verlede en hede nie. In hierdie sin is dit ’n logiese uitvloeisel. Hierdie eskatologiese paradigma is ook ’n bepaalde teokratiese politieke strewe verbonde. Rushdoony, wat ’n groot rol daarin gespeel het om postmillennialisme as ’n hoofstroom- eskatologiese paradigma binne die breër Evangelikale of Fundamentalistiese Protestantse geloofsgemeenskap in die VSA te vestig, beskryf die verwantskap tussen sy eskatologiese en politieke posisionering soos volg:

Both amillennialism and premillennialism are in varying degrees antinomian. They by-pass the law entirely, or reduce it to merely spiritual morality. They fail to see the relevance of God’s Law as the way of sanctification and as the law of men and nations. They do not recognize God’s law as God’s plan for dominion, for godly authority and rule in every area of life. This anti-law attitude guarantees impotence and defeat to all churches who hold to it. They may prosper as convents or retreats from the world, but never as a conquering army of God. (Rushdoony 1977:6)

Vir Rushdoony was hierdie roeping tot die verowering van die wêreld vir Christus op sosiopolitieke vlak begrond in ’n bepaalde teologiese wêreldbeskouing wat tegelyk histories en eskatologies gedryf is. In ’n lesing getiteld “Why history is Important” beskryf Rushdoony geskiedenis en eskatologie as onafskeidbaar verbonde – dieselfde gedagte as wat te vinde is by sy voorgangers Vos, Van Til en Groen van Prinsterer. Volgens hom het ’n bepaalde geskiedbeskouing nie bloot betrekking op die verlede nie, maar bepaal dit verwagtinge vir die hede en toekoms. Die geskiedenis vind sy betekenis in God se doel vir die wêreld wat uiteindelik in die eschaton vervul word. God se wet regeer die gang van die geskiedenis asook die toekoms, wat beteken dat as die mens sou weier om daaraan gehoorsaam te wees, veroordeling en mislukking die noodwendige gevolge is. Soos Groen, beroep ook Rushdoony hom op Genesis 3:15 as rigtinggewend vir die wêreldgeskiedenis. God se uiteindelike doel met die bestiering van die geskiedenis is Christus se oorwinning oor die bose, en die gang van die hele geskiedenis word met hierdie doel voor oë deur God bepaal (Rushdoony 1999:1). Die politieke agenda van ’n Christelike teokrasie word dus by Rushdoony uitdruklik vanuit ’n eskatologiese perspektief gedryf en ook grotendeels daardeur regverdig. Hierdie regverdiging sou ’n groot invloed op die teologiese ontwikkeling van die sogenaamde Christian Right in die VSA uitoefen. Die invloed is blywend, en die jongste studies dui selfs daarop dat ’n toenemende getal konserwatiewe Evangelikale Christene in die VSA hulle met ’n postmillennialistiese eskatologiese paradigma vereenselwig (Smietana 2016:7). Dit is egter ’n benadering wat binne die post-Verligtingstradisie van die Christelike Konserwatiewe politieke denke in die Weste sy oorsprong by Groen van Prinsterer vind.

 

6. Gevolgtrekking

Groen van Prinsterer was ’n baanbreker in terme van die ontwikkeling van ’n optimistiese Christelike politieke eskatologie in die 19de eeu. Waar premillennialisme kenmerkend van evangelikale bewegings gedurende die 18de en 19de eeu was, is ’n postmillennialistiese eskatologiese paradigma teenwoordig in Groen se werke. Hy breek hiermee weg van sy Rèveil-voorgangers ten opsigte van eskatologie. Op tipies 19de-eeuse wyse word sy geskiedskrywing gekenmerk deur ’n narratiewe herbeskrywing van die werklikheid in terme van sy eie wêreldbeskouing, met die retoriese doel om die hede en toekoms in ’n bepaalde rigting te stuur. Geskiedskrywing is dus vir Groen by uitstek ’n politieke aksie met ’n politieke agenda. Aan die hand van David Carr se fenomenologies-narratiewe benadering kan Groen se geskiedskrywing gesien word as ’n narratief wat die verlede, hede en toekoms saambind en op mekaar lig werp. Deur ’n strategiese historiese narratief werp Groen ook lig op die toekoms en gee sodoende ’n bepaalde invulling van sy eskatologie. In sy geval wil hy sy gehoor hoop gee vir die toekoms deur te wys op die onafwendbaarheid van die uiteindelike sukses van sy antirevolusionêre posisie, wat vir hom sinoniem is met die ware Christelike posisie. Groen se antirevolusionêre retoriese narratief is oorgeneem deur Bavinck en Kuyper, die leiers van die Neo-Calvinistiese beweging in Nederland in die vroeë 20ste eeu. Nederlandse Neo-Calviniste wat na die VSA emigreer het, soos Geerhardus Vos en Cornelius Van Til, het aan die hand van Groen se historiese en eskatologiese paradigmas die grondleggingswerk gedoen vir van die mees invloedryke strominge binne die sogenaamde Christian Right in die VSA. Veral by R.J. Rushdoony, een van die mees invloedryke teoloë binne die Christian Right in die VSA, sou hierdie eskatologie sy mees volledige uitdrukking kry.

Ten spyte daarvan dat hierdie politieke eskatologie nie werklik posgevat het in die Nederlandse Gereformeerde kerke nie, het Groen van Prinsterer en sy opvolgers ’n deurslaggewende rol in die vestiging daarvan aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan gespeel. Die blywende rol van die antirevolusionêre of Neo-Calvinistiese denke onder die Christian Right in die VSA, blyk onder andere uit president Donald Trump se aanstelling van Betsy Devos as sy sekretaris van onderwys. Devos is ’n aanhanger van Kuyperiaanse Neo-Calvinisme (Otten 2017:1).

Die postmillennialisme wat kenmerkend is van ’n groot deel van die Christian Right in die VSA vind dus ’n historiese, teologiese en narratiewe oorsprong in Nederland, en by uitstek by Guillaume Groen van Prinsterer.

 

Bibliografie

Primêre bronne

Da Costa, I. 1866. Bijbellezingen II: Job – Maleachi. Amsterdam: H. Höveker.

Gerretson, C., A. Goslinga, H.J. Smit, J.L. Van Essen en J. Zwaan (reds.). 1925. Groen van Prinsterers Schriftelijke nalatenschap: briefwisseling 1808–1876. Den Haag: Marthinus Nijhoff.

Groen van Prinsterer, G. 1872. Brieven van mr. Isaac da Costa – I (1830–1849). Amsterdam: Höveker & Zoon.

—. 1847. Ongeloof en Revolutie. Hersiene uitgawe, 2008. Barneveld: Nederlands Dagblad.

—. 1873. Nederlandsche Gedachten: tweede serie – V. Amsterdam: Höveker & Zoon.

—. 1925. Schrijftelijke nalatenschap: briefwisseling 1808–1876. In Gerretson e.a. (reds.) 1925.

—. 1991. Schriftelijke nalatenschap: Bescheiden deel I en II 1821–1876. In Zwaan (red.). 1991.

Kant, I. 1793. Die Religion innerhalb der Grenzen der blossen Vernuft. Köningsberg: Nicolovius.

Neander, A. 1856 (1826). Allgemeine Geschichte der Christliche Religion und Kirche (Vol. I). 3de uitgawe. Gotha: F.A. Perthes.

Rousseau, J.J. 1920 (1762). The social contract & discourses. Vertaal deur George Cole. Londen: Dent & Sons.

Rushdoony, R.J. 1977. God’s plan for victory: the meaning of Postmillennialism. Vallecito, CA: Chalcedon Foundation.

—. 1999. Why history is important. Rushdoony Radio. https://rushdoonyradio.org/2018/08/06/why-history-is-important-i (15 September 2019 geraadpleeg).

Van Til, C. 1980. A survey of Christian epistemology (In defense of Biblical Christianity). 2e uitgawe. Phillipsburg, NJ: Presbyterian and Reformed Publishing.

Vos, G. 1979 (1930). The Pauline eschatology. Grand Rapids, MI: Baker.

Zwaan, J. (red.). 1991. Groen van Prinsterers Schriftelijke nalatenschap: Bescheiden deel I en II 1821–1876. Den Haag: Instituut voor Nederlandse Geschiedenis.

Literatuur

Baudet, T. en M. Visser (reds.). 2012. Revolutionair verval en conservatieve vooruitgang in de achttiende en negentiende eeuw. Amsterdam: Bert Bakker.

Berkhof, L. 1933. Manual of Christian doctrine. Grand Rapids, MI: Eerdmans.

Bijl, J.P. 2011. Een Europese antirevolutionair: het europabeeld van Groen van Prinsterer in tekst en context. Amsterdam: VU University Press.

Dennison, W.D. 1999. Dutch Neo-Calvinism and the roots for transformation: an introductory essay. Journal of the Evangelical Theological Society, 42(2):271–91.

—. 2015. In defense of the eschaton: essays in Reformed Apologetics. Eugene, OR: Wipf and Stock.

Drentje, J. 2004. Thorbecke: Een filosoof in de politiek. Amsterdam: Boom.

Eglinton, J. en G. Harinck (reds.). 2014. Neo-Calvinism and the French Revolution. Londen: Bloomsbury.

Gäbler, U. 1990. Enkele kenmerken van het Europese en Amerikaanse Réveil. Dokumentatieblad voor de Nederlandsche Kerkgeschiedenis na 1800, 33:1–16.

Harinck, G. 2014. Herman Bavinck and the Neo-Calvinist concept of the French Revolution. In Eglinton en Harinck (reds.) 2014.

Janse, M. 2012. “Vereeniging en verlangen om verenigd te werken” – Réveil and civil society. In Van Lieburg (red.) 2012.

Johnson, W.G. (red.). 2017. End of days: an encyclopedia of the apocalypse in world religions. Santa Barbara, CA: ABC-CLIO.

Kielman, R.H. 2017. In het laatste der dagen. Eindtijdverwachting in Nederland op de drempel van de moderne tijd (1790–1880). Utrecht: Eburon.

Klink, H. 2012. Guillaume Groen van Prinsterer (1801–1876). In Baudet en Visser (reds.) 2012.

Kuiper, D. 2012. Kerngroepvorming, met name binnen het Amsterdamse Réveil – over sociale lagen en familierelaties in de lange negentiende eeuw (1815–1914). In Van Lieburg (red.) 2012.

Kuiper, R. 2001. “Tot een voorbeeld zult gij blijven” – Mr. G Groen van Prinsterer (1801–1876). Amsterdam: Buijten & Schipperheijn.

Kurian, G.T. en M.A. Lamport (reds.). 2016. Encyclopedia of Christianity in the United States. Lanham, MD: Rowan & Littlefield.

Lamport, M.A. 2016. Christian Reconstructionism. In Kurian en Lamport (reds.) 2016.

McVicar, M.J. 2015. Christian Reconstruction: R.J. Rushdoony and American religious conservatism. Chapel Hill, NC: University of North Carolina Press.

Mulder, H.W.J. 1973. Groen van Prinsterer: Staatsman en profeet. Franeker: ’t Wever.

O’Donnell, L. 2011a. Neither “Copernican” nor “Van Tilian”: Re-reading Cornelius Van Til’s Reformed Apologetics in light of Herman Bavinck’s Reformed Dogmatics. Bavinck Review, 2:71–95.

—. 2011b. Kees Van Til als Nederlandse-Amerikaanse, Neo-Calvinistisch-Presbyteriaan apologeticus: An analysis of Cornelius Van Til’s presupposition of Reformed Dogmatics with special reference to Herman Bavinck’s Gereformeerde Dogmatiek. MTh-verhandeling, Calvin Theological Seminary.

Otten, W. 2017. The hidden roots of Betsy Devos’s educational policies. The Martin Marty Center – University of Chicago Divinity School. https://divinity.uchicago.edu/sightings/hidden-roots-betsy-devoss-educational-policies (18 September geraadpleeg).

Paul, H. 2004. Groen van Prinsterer: a critical reappraisal. Fides et Historia, 36(2):67–82.

Saunders, N. 2017. Amillennialism. In Johnson (red.) 2017.

Smietana, B. 2016. Pastor views on the end times: survey of Protestant pastors. Lifeway Research. http://lifewayresearch.com/wp-content/uploads/2016/04/Pastor-Views-on-the-End-Times-January-2016.pdf (15 September 2019 geraadpleeg).

Suttorp, L.C., Z.W. Sneller en J. Veldkamp (reds.). 1949. Groen’s “Ongeloof en Revolutie” – een bundel studiën. Wageningen: Zomer & Keuning.

Van den Berg, J.T. 1998. Groen van Prinsterer en de Grondwet. In Van Dijk en Massinck (reds.) 1998.

Van Dijk, D.H. en H.F. Massinck (reds.). 1998. Groen en de grondwet – de betekenis van Groen van Prinsterers visie op de Grondwet van 1848. Heerenveen: J.J. Groen en Zoon.

Van Dyke, H. 1989. Groen van Prinsterer’s lectures on unbelief and revolution. Jordan Station, Ontario: Wedge.

—. 2012. Groen van Prinsterer: godfather of Bavinck and Kuyper. Calvin Theological Journal, 17(1):72-97.

Van Lieburg, F. (red.). 2012. Opwekking van de natie: Het protestantse Réveil in Nederland. Hilversum: Verloren.

Van Schelven, A.A. 1949. Groen’s denkbeelden over de reformatie. In Suttorp e.a. (reds.). 1949.

Van Vliet, W.G.F. 2008. Groen van Prinsterers historische benadering van die politiek. Hilversum: Verloren.

 

Eindnotas

1 Dit is algemene praktyk binne die corpus literatuur oor Guillaume Groen van Prinsterer om bloot na hom as “Groen” te verwys.

2 Die Groningse Skool was ’n teologies liberale stroming binne die Nederlands Hervormde Kerk wat die gesag van die Gereformeerde belydenisskrifte verwerp het (Van Dyke 1989:18–9).

3 II Kor. 10:5 lees: “... terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (1933/53-vertaling).

4 Neo-Calvinisme verwys na Abraham Kuyper se sterk praktiese inslag wat aan die antirevolusionêre beweging in Nederland ’n meer sosiale en dinamiese karakter gegee het. Waar Groen meer gefokus het op die teoretiese en politieke weerstand teen die revolusie, het Kuyper leiding geneem met die ontwikkeling van ’n organiese Calvinistiese samelewing binne Nederland met eie skole, universiteite, klubs en media (Harinck 2014:15–8).

5 Christian Reconstructionism verwys na die idee dat die samelewing volgens die beginsels van ’n teonomie (sien eindnota 6) ingerig behoort te word.

6 Die term theonomy (teonomie) verwys na die oortuiging dat die Ou-Testamentiese wette bindend behoort te wees op alle samelewings in so mate dat dit die basis vir alle wetgewing behoort te wees. Die woord is saamgestel uit die Griekse woorde Theos (God) en nomos (wet).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top