Die plek van Engels in Afrikaans
Die ontwikkeling van riglyne vir Afrikaans, veral as joernalistieke taal, het ’n lang geskiedenis in die groep Media24; veral by Die Burger as die oudste Afrikaanse dagblad. In die vorige eeu het mense soos LW Hiemstra en RE King as taaladviseurs hierin ’n groot rol gespeel. In die jare sewentig het laasgenoemde hierdie riglyne aan kommunikasiekunde-studente beskikbaar gestel. Ek het ’n eksemplaar van Die Burger skryf Afrikaans (99p), waarin daar ’n bylae met taallesse versamel deur Pieter Fourie is. Hierdie lesse was bedoel om die Afrikaans van aspirantjoernaliste op peil te bring. Fourie was toe ’n redaksielid van Rapport. Mettertyd het hy hoogleraar in kommunikasiekunde aan Unisa geword.
Die voortsetting van hierdie arbeid het later vergestalting in Dalene Müller se Skryf Afrikaans van A tot Z (Kaapstad: Pharos, 2003, 718p) gevind. As ’n mens hierdie gesaghebbende naslaanwerk byderhand het, besef jy gou dat selfs jou beste pogings om met agting die taal te benut steeds hoogs onvolmaak kan wees. Die progressiewe verbetering van jou taalvermoë, eerder as volmaaktheid, is ’n realistiese ideaal.
Hier gaan ek nie die boek in sy geheel bespreek nie. [’n Uitgebreide, tweede uitgawe het in 2011 verskyn, maar ek het net die eerste uitgawe.] Ek beperk die aandag tot afdeling 23.8 oor die gebruik van Engelse woorde in Afrikaans (p 652-653), wat deur Louise Voigt geskryf is:
"Die algemene riglyn is om die minimum Engelse woorde in Afrikaanse skryfwerk te gebruik ... Engelse woorde is toelaatbaar as daar regtig geen geskikte Afrikaanse woord daarvoor is nie ... Die redes waarom Engelse woorde van ’n spreker net so in skryfwerk behou word, is om ’n bepaalde indruk te wek of atmosfeer te skep. As byvoorbeeld ’n vooraanstaande kampvegter vir Afrikaans Engelse woorde gebruik, sê jy iets deur dié woorde te herhaal ... Dit bly steeds nie wenslik om alle Engelse of ’opgemiekste’ woorde wat iemand gebruik, te behou nie; twee of drie is dikwels genoeg om die gewenste indruk te wek. Die gebruik daarvan is meer geregverdig sou jy ’n spreker aanhaal wat in Kaaps laat waai of as jy die lewe in Distrik Ses beskryf ... As jy oor aktuele onderwerpe, niefiksie-boeke of opvoerings skryf, gebruik so te sê geen Engels nie. Moet nooit Engelse woorde gebruik net omdat dit vir jou makliker is om iets in Engels te sê nie. Wys liewer hoe raak ’n mens enigiets in Afrikaans kan sê ... ’n enkele sin of twee wat jy nie in Afrikaans presies so kan sê nie [kan] in Engels behou ... word ... Die taalgebruik in aanhalings uit [literêre] werke mag natuurlik nie verander word nie."
Die laaste sin verduidelik waarom daar so baie Engelse aanhalings in sommige van my briewe is: Ek gee die betrokke outeurs die geleentheid om self hulle saak te stel. Maar buiten die aanhalings probeer ek al die moontlike doen om korrekte Afrikaans sonder onnodige Engelse woorde of anglisistiese uitdrukkings te skryf. In die goeie ou dae, dus tydens die "ou regime", was die gebruik van Standaardafrikaans die onbetwiste ideaal van alle regte Afrikaners. Sedertdien het dit mode geword, ook by Afrikaners van weleer, om taaltrots te versaak in soverre dit met Afrikaans te make het. Almal probeer steeds om korrekte Engels te besig. In Engels is daar geen noemenswaardige plek vir Afrikaans nie. In Afrikaans word daar egter toenemend plek vir Engels gemaak.
In die nuwe Suid-Afrika word die wittes, die etniese groep onder wie se leiding die land ontwikkel is, verguis. Dit geld in groter mate die Afrikaans- as die Engelssprekendes. Taal onderskei eersgenoemdes. Die Afrikaner se taal word geteiken vir bespotting. Deur sy taal met onnodige Engelse woorde te besoedel, sy taal openlik te minag, word gepoog om die Afrikaner te verneder. Hierdie veldtog sou minder doeltreffend wees as Afrikaners in groter mate Standaardafrikaans handhaaf. Die fatalistiese gees wat uitgestraal word, is dat daar eintlik niks gedoen kan word om hierdie verrotting te keer nie.
In werklikheid kan die situasie omgekeer word as alle Afrikaners hulle plig doen, as hulle almal besluit dat die huidige situasie onwelvoeglik is, dat dit glad nie aanvaarbaar is om met Afrikaans te mors nie, dat Afrikaners die voorbeeld moet stel en dat verwag word dat nie-Afrikaners hierdie voorbeeld moet navolg. Die gebruik van goeie Afrikaans is goeie maniere. Die gebruik van slordige Afrikaans is slegte maniere en as dit opsetlik gedoen word, is dit aanstootlik.
Dit is vir my dikwels aanstootlik om na radio- en televisie-uitsendings te luister. Byvoorbeeld, waarom word Koo in ’n radio-advertensie "Koe" en FNB (wat eens ENB was) Engels uitgespreek? Waarom word die voorletters van bv rugbyspelers Engels uitgespreek? Skrum word"skram", mega word "mêga" en multi word "malti"uitgespreek. Afrikaanse koerant- en tydskrifteks neig ook al hoe meer om "loslit" te wees deur onnodige Engelse woorde toe te laat. Voigt se algemene riglyn waarvolgens die minimum Engelse woorde in Afrikaans gebruik moet word, was in 2003 en in die vorige eeu sinvol en is steeds geldig.
Afrikaners is die kerngroep wat tot Standaardafrikaans herbekeer moet word. Ons kan gerus oral en sover moontlik altyd goeie Afrikaans praat en skryf. Waarom het feitlik geen sakeonderneming meer ’n Afrikaanse naam nie? Waarom is daar so ’n klein persentasie Afrikaanse inskrywings in die Geelbladsye? Dan is daar die hele terrein van Kaaps wat nog vir sendingwerk oor Standaardafrikaans braak lê. In die ubuntu-sektor, wat oorbevolk is met diegene wat dit saliger vind om eerder te ontvang as te gee, is daar voorheen geredelik Afrikaans gepraat omdat dit toe nodig en in die mode was. Deesdae verkies baie van hulle, soos hulle bewindhebbers, die nuwe mode, die koloniale taal.
In die nuwe Suid-Afrika ken mense nie meer hulle plek nie. Hulle dink hulle hoort oral. Insgelyk ken Engels ook nie meer sy plek nie. Daar word gedink dit is reg as Engels oral is. Maar wittes en veral Afrikaners mag nie wees waar hulle wil wees (bv in ’n eie woongebied of tuisland) nie. Op ’n soortgelyke manier word Afrikaans nie ’n eie plek (bv eie skole en universiteite) gegun nie.
"Hy het hom doodgebaklei vir verlore sake." Dit sal nie op my doodsertifikaat staan nie. Ek is nie ’n dissipel van sint Judas, die beskermheilige van verlore sake, nie. Ek is wel ’n trotse vegter vir my moedertaal, want ek wil nie ankerloos ronddobber in ’n kulturele woesteny nie.
Johannes Comestor

