
“Die pienk vel” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Die pienk vel
Met sy wysvinger en duim vroetel hy aan die voorste handsak se leer. Dis sag, nes ’n vrou se lyf. Stadig gly sy hand oor die geronde vorm, asof hy oor die kurwe van ’n heup of skouer streel. Sy oë is toe, fragmente herinneringe dryf na bo en hy glimlag skrams.
Hoeveel vroue-leerhandsakke is daar al in die kas in die motorhuis? Drie swartes, een roomkleurige en die donker bloue. Elkeen vertel iets oor sy eienares. Die sneeuwit een was nie ’n goeie keuse nie; dis te sensitief, dit wys merke. Volgende keer sal hy doodseker maak dis meer prakties.
Dis Saterdagoggend, net ná die maandeinde. Hy sal vir háár sê hy gaan die braaihout vir die maand koop. Ingeval hy nie betyds terug is vir middagete nie. Oor sy soektog na nog ’n geskikte handsak praat hy nie. Sy sal nie verstaan nie, veral nie van sy skuldgevoel nie.
In die oop veld langs Hendrik Potgieterstraat staan Piet Smous met sy sleepwa vol hout. Hy trek af en hou stil. Piet het vandag ’n spesiale prys en laai die Honda se agterstewe vol kameeldoringhout. Hy hou toesig, want sy kraakskoon, geruite, blou en grys hemp met die bypassende donkerblou langbroek vou knus om sy leninge lyf.
Vandag maak hy weer ’n treurvuur in sy braaiplek. Nie weer so ’n hellevuur wat die sement laat kraak nie, nee, hierdie keer sal hy versigtiger wees. ’n Mens moenie vraatsugtig oor enige iets in jou lewe wees nie. Ook nie met handsakke nie. Miskien was hy tog ... suinig met haar?
By die vervlegte kruising in Commissionerstraat hou hy stil by die rooi robot. Hy twyfel: Is dit hierdie straat of die volgende? Sy oë soek bakens. Nie hierdie een nie; dis die straat waar die wolwinkel is. Voor sy motor steek drie vrouens juis die straat oor, reguit op pad soontoe. Sy kop pendulum van oos na wes en sy analitiese oë laser op hulle handsakke. Nee, nie egte leer nie. Breivrouens het seker nie die geld vir sagte, sensuele leerhandsakke nie.
Die robot word groen en hy draai regs, en dan weer regs. Hy bespied die parkeerterrein en stop voor die beteuterde Memosa-winkelsentrumpie. Die staalpaal met die naambordjie op is geknak en staan hand in die sy. Roes van die tyd of dalk eerder die roes van ’n laatnag se gefuif. Verfskilfers ontbloot die kleurskakerings van baie gisters. Die Hospieswinkeltjie reg voor hom staan nog stewig, maar ook al afgesloof van sukkel- en afsterftye. Afgerem nes die verskaffers op hul laaste hoop.
’n Luukse BMW sluit tjoep-tjoep en gooi geel flitse op die teerstraat. Twee mans in kakieklere gee ’n skouerkyk na die motor terwyl hulle bokse balanseer. Die man van die winkel met spataar-, gepofte bene sit hand by en help hulle die winkel in. Sy rug boggel, gewillige arms pap hangvelle het jaarringe by elke elmboog, maar hy steun voort. Die nood vir wins stoot sy bene vorentoe. Of, miskien is dit sy begerige oë wat die voortou vat.
Na sowat tien minute sien hy die driemanskap kom uitgestap met leë arms. Hy gly af op sy sitplek en loer sku onder die kromming van die stuurwiel deur. Wat sou hulle storie wees? Sy oog volg die vertrekkende motor in sy truspieël tot hulle buite sig is.
Omkyk-omkyk stap hy die winkel binne. Sy blik vang die bokse. “Môre, wat is in daai bokse?”
Die man van die winkel knikgroet en trek sy skouers op. “Weetie, maar dis ryk mense se goeters. Ordentlik.”
“Wie nogal?” Sy oë gooi anker op die bokse.
“Besigheidsman ... vier garages. Sy kleinseuns het gebring.”
“Oukei. Kan ek maar kyk?” Sonder om op ’n antwoord te wag vou hy die flappe oop. “Dis vroumensgoed.” ’n Sweempie parfuum dartel uit die boks. Ken hy die geur? ’n Glimlag huiwer maar sy oë flikker onbeheersd. “Kan ek dit maar uitskud of moet ek grawe?”
“Wag eers, ons moet nog prys maak.” Die man van die winkel tree agteruit, draai sy kop skeef en roep skril: “Nellaaaa ... kom maak prys op die oorle Roux-vrou se goeters!”
Nella is vol in die lyf. Uitgedy en sleg gestop. Sy waggel nader. Haar wysvinger druk ’n pleister gelapte dik swartraambril teen haar neus. Sy kyk hom skuins aan en vat oor. “Sweetie, hang eers aan. Kom oor ’n halfuur ... dan is dit geprys.”
“Ek het nie baie tyd nie; ek is oor ’n kwartier terug. Kyk of daar ’n sagte leer handsak is. Dis al wat ek soek.”
Haar gesig flikflooi in sy rigting. Hy onderdruk ’n snorkgeluid. Laat haar maar wonder, dit bly sý saak. Sweetie? Is be ... Hy stop sy tong betyds, maar sy gedagtes vloek voort.
Oorkant die straat, by die viswinkel, gaan sit hy op ’n verbleikte groen plastiekstoel by ’n groen plastiektafel met ’n dik deurskynende stuk plastiek daaroor. Plastiekmense dié.
’n Man, sy hare te goed geolie, rek sy nek agter die toonbank en skreeu: “Daai is vir customers!”
“Bring maar ’n groen gaskoeldrank. Moenie die strooitjie vergeet nie.” Hiér drink jy wragtig nie uit ’n koppie of glas nie. Net direk uit die blikkie met ’n verseëlde strooitjie.
’n Jong meisie met ’n ewigheid se bene en die ritme van ’n kameelperd kom herkouend nader. Platformskoene toets haar balans op die onpaar stene. Haar verlengde swart vingernaels klou die plastiek skinkbord vas. Die koeldrank, strooitjie en glas staan vas op ’n plastiekdoilie.
Hy knik ’n dankie en staar ’n oomblik in die swart omlynde oë. Wie dink sy is sy? Cleopatra? Daarby dra sy ook ’n uitstalling van silwer oorringe in haar oorskulp. Sy vrou sou die piepstuipe kry. “Less is more of more or less, so iets.” Praat sy vrou steeds naby sy oordrom. “Uhmm,” sê hy en dink hy verstaan nou wat sy altyd bedoel het.
Die Cleopatra-kelnerin se lyf lyk verveeld met haar een hand op haar heup. Is dit haar gryp-my-oudste-houding? Sy herkou oopmond aan haar kougom. Haar tong is dun en maneuver die gom speels in haar mond. Die woord stol op sy lippe se prewel: “Gomga ...” Sy flip-flop haar regterhand se palm na bo en hou dit uit na hom. Begrypend stoot hy die hopie silwerkleurige munte na die punt van die tafel. “Hou die kleingeld.” Sonder ’n dankie draai sy om en haar bene kry weer hulle ritme. Sy kyk oor haar skouer en haar tong blaas ’n kougomborrel. Beslis nie ’n leerhandsak-vrou nie.
Die koeldrankblikkie voel lou, maar hy trek die sleutelprop oop. Opgepropte gas borrel koeldrank oor die rand. Hy is dors en druk die gestroopte strooitjie daarin. Suig-suig, sluk, so gaan hy voort totdat die strooitjie onbeskof onderin die blikkie raas. Sy horlosie wys 20 minute later en hy stap terug na die Hospieswinkel. Op die toonbank pronk ’n rooi geblomde laphandsak, maar dis die pienk leerhandsak wat sy oog vang. Hy tel dit op, bekyk die ouderdom se skaafplekke en bevoel die leer. Dis salig sag.
“Zip ma’ oop.” Nella se dubbelken kry hoogte toe sy opkyk.
Hy maak die handsak oop. Sy asem trek hy diep in. Definitief, hy kan sweer dis Chanel nommer vyf. Nie een van die ander handsakke het hierdie geur nie. Hy maak sy oë halfmas en sug tevrede. “Net reg.”
“Ek het dit met ou koerante opgestop. Lyk mooi. Genuine leather.” Nella glimlag en die steentjie in haar voortand flits. “Moet ek die koerante uithaal?”
“Hè? Nee, asseblief nie, ek wil dit vir vuurmaak gebruik. Koop nie koerante nie. Te veel slegte nuus.”
“Dis R200 en jou vrou sal dit like.”
Hy gee haar ’n wat-weet-jy-kyk en sit die geld op die toonbank.
“Naam?” vra die Nella-vrou met nog ’n sprankeltandglimlag.
“Waarom?”
“Ons hou maar rekord. Telefoon, ook ’seblief.”
“Botha ... sonder ’n selfoon.” Sy kyk hom vreemd aan. “My foon is gesteel,” lieg hy by. Not ’n dêm sal hy sy telefoon vir haar gee.
“Sorry, dis bad, nè. Dankie en blessings vir die dag.”
Sy nuwe toevoeging sit soos ’n bedorwe troetelbrakkie langs hom op die voorste sitplek. Terwyl hy ry, is die handsak sy geselskap. “Moet jou nie bekommer nie, ek gaan jou met lanolien insmeer en dan gaan jy ook sprankel. Nes die ander is jy nog pragtig, en beslis bruikbaar. Ek vat jou nou huis toe ... Ons moet net eers by die ounooi verbykom, sy mag nie van jou weet nie. Eers later. Verrassing vir haar.”
Hy druk die afstandbeheerder en die motorhuisdeur lig krakerig in paaiemente op. Sy vrou se motor is weg, maar dit het hy verwag. Hy dra die sakke vol hout uit en bêre dit onder ’n seil in die agterplaas. Niemand hoef te weet wat hy alles koop nie. Dis mannegoed. Buitendien vrouens sal nie verstaan nie.
Hy tel die handsak op en geniet die rilling wat deur hom trek. Skud dan die bondels koerantpapier op die kombuistafel uit. Met sy handpalms probeer hy die kreukels uitstryk. Die hopie papiere moet netjies plat in sy braaimandjie lê.
’n Foto van ’n mooi en goedversorgde bejaarde vrou vang sy oog.
Hy lees vlugtig: “Mevrou Mary Roux, eggenote van die bekende sakeman ... is na twee dae in die hospitaal oorlede ... bloeding op die brein ... na ’n tref-en-trap-ongeluk ... fliek saam met ’n vriendin in gietende reën by Hendrik Potgieterstraat ... polisie stel ondersoek in.”
Hy soek verwoed na die datum. Dit verskyn nie in die berig nie, maar die datum op die koerant is ongeveer vier weke gelede. Wanneer was die ongeluk? Hy probeer tel, maar raak verward. Sonder om klaar te lees stap hy na die hangkas met die bal-en-kloupote. Voel-voel gaan hy deur sy grys reënjas se sakke, haal ’n gevoude fliekkaartjie uit en bekyk die datum. Met hande wat effens bewe, gaan hy deur die inhoud van die pienk handsak. Die binnekant is verweer, soos hy ook soms voel. Onder ’n flappie is ’n versteekte ritssluiter en hy trek dit oop: Twee fliekkaartjies met die tyd en die datum daarop. Hulle was wragtig daardie dag saam in die fliek.
Kan dit dieselfde vrou wees wat skielik, en sonder om te kyk, met haar oop sambreel in die misreën oor die straat gedrafstap het? Wat amper moedswillig teen sy motordeur gestamp het en toe net eenvoudig teruggetree en verdwyn het? Die verkeer het in die mis begin beweeg en hy moes saambeweeg. Sy plek in die ry moes hy behou. By die huis het hy sy Honda noukeurig geïnspekteer. Gelukkig was daar geen nuwe duik of skraapmerke op die bakwerk nie. Hy sug verlig.
Hy skink sy merlot in sy geliefde kristalwynglas wat hy by Roodepoort se Hospieswinkel gekoop het. Pak dan versigtig ’n torinkie van fynhout en sy pas gekoopte kameeldoringstompies bo-op die paraffienteesakkies en stukke koerantpapier. Na ’n paar vuurhoutjies se probeerslag steek hy dit aan die brand. Vanuit sy seilstoel met die deurleefde klonte kussing, kyk hy hoe die vlamme in sy glas rinkink en die geel weerkaatsings aan die amberrooi wyn lek asof dit daaraan wil proe.
Hy kyk vir oulaas na die berig. Lees ’n kritiese gedeelte hardop: “... ‘agteroorgeval, haar agterkop het die randsteen getref,’ vertel ’n ooggetuie.”
Hy weet nie eintlik hoe om te voel nie. Want hy het regtig nie bedoel om haar seer te maak nie. Selfs nie eens van haar mooi handsak geweet nie.
Al die fliekkaartjies word by die koerantberig gesit, opgefrommel en in die vuur gegooi. Hy tuur na die gulsige vlamme wat elke kriesel verbintenis verorber tot as.
So ja. Die verlede is as.
Versigtig vat hy die pienk handsak, smeer dit met lanolien en ruik die egte leer. Glimlaggend sit hy die skuurmasjientjie daarin. Nee, dit voel net nie reg nie. Hy het belowe, dié een is hare. Dan stap hy na die boekrak en haal ’n klein langwerpige boksie uit en sit dit veilig in die handsak. Sy sal van die sagte leer hou. Dis soos haar vel. En definitief ook die parfuumreuk troetel. Miskien sal die geur na haar assies sypel. Hy trek die handsak se ritssluiter toe en so sal dit bly. Sy verlange agter ’n versteekte ritssluiter.
Bewerig skryf hy op ’n briefie. “Sorry, Dol, ek was te laat om vir jou ’n ordentlike leerhandsak te koop.” Versigtig sit hy sy vrou se nuwe pienk vel op haar slaapkussing. Hy gaan lê langs haar, sy hand streel oor die sagte pienk vel. Hy ruik haar parfuum, selfs deur die asrook van sy klere. Dan maak hy sy oë toe. “Nag, Dol ... vanaand gaan ons weer lekker lepellê.”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie


Kommentaar
Sensitief, mooi taalgebruik.