Greg Allman – Low Country Blues
Greg Allman was nog altyd iemand wat my gefassineer het. Ek meen, hoe kan mens anders voel oor iemand wat vier jaar lank met Cher getroud was, in die dae toe sy nog grotendeels haar eie lyf en gesig gehad het. ’n Dapper man, ’n reus onder reuse.
En om dinge nog meer interessant te maak, is daar die redes wat aangevoer word vir die mislukking van hul huwelik. Greg sê dis omdat hy sat was van Los Angeles en sy vrou se celebrity-lewenstyl. Cher sê weer dat Greg die meeste van die tyd só onder die invloed van dwelms was dat sy kaal by die kamer kon instap en hy sou aan die slaap raak.
Greg het baie om voor te antwoord. Benewens met Cher, was hy al vyf ander kere getroud en het hy pas in Mei vanjaar verloof geraak aan ’n 24-jarige chanteuse genaamd Shannon Williams.
Sy musiek is ’n ander storie. Met die Allman Brothers Band was hy aanvanklik net sanger en orrelis, maar het mettertyd ook die kitaar nadergesleep. Met die Greg Allman Band en later Greg Allman & Friends het hy dieselfde rolle vervul, hoewel sy werke buite die ABB ’n sterk nuk in die rigting van soul-musiek het. Is sy stem, dis hoekom. Maak nie saak hoeveel drank en dwelms hy deur die jare gebruik het nie, sy stem het hom nooit in die steek gelaat nie.
Low Country Blues bevat veertien snitte, waarvan net een, “Just another rider”, deur Allman self gekomponeer is. Die res is almal ou blues-skatte, deur die groot blues-manne soos Sleepy John Estes, Muddy Waters, BB King, Otis Rush en Amos Milburn.
Die produksieleier was T-Bone Burnett. Burnett is van die skool wat glo die blues hoef nie oordonder te word deur ’n elektriese kitaar nie. Die album het by tye ’n amper akoestiese gevoel, nes Burnett met Robert Plant se solo-albums gemaak het, maar dan breek dit uit met klaviere en koperblasers en in die klank-bed kan kitaarspeler Doyle Bramhall dan sy beste blues licks laat plekkie skop.
Dr John sorg deurentyd vir die klavierspel, en dit is ’n deurlopende klankteenwoordigheid. Allman self dra akoestiese kitaar en sy bekende Hammond-orrel by.
Low Country Blues sou beskryf kon word as Greg Allman & Friends de Luxe, maar die materiaal maak daarvan iets unieks in sy loopbaan. Hy is nou 65 en al 15 jaar nugter, en nou hoop mens op ’n tweede dosis van hierdie groot plesier.
Etta James – The Dreamer
Etta James is in Januarie vanjaar oorlede. Ná haar dood het haar seun bekend gemaak dat sy in 2008 met Alzheimer se siekte gediagnoseer is en dat baie van die buitensporige dinge wat sy oor Beyoncé kwytgeraak het, te wyte was aan medikasie. James het haar loopbaan lank gesukkel met heroïen-verslawing. Dit is ’n wonderwerk dat sy The Dreamer nog opgeneem gekry het – en dis nóg n groter wonderwerk dat die album só uitstekend is. Mens kan dink watse moeilike proses die opnames moes gewees het met iemand wat nie die lirieke kon onthou nie. Dat sy dit regkry om dan nog te sing asof sy intens glo in elke woord wat sy sing – en dat sy hulle van binne uit voel ook – dit wil gedoen wees. Wanneer sy die klank nie daar diep in haar gaan haal nie, hoor mens dat sy nie baie gesond is nie. Gelukkig gaan haal sy dit wel gereeld daar diep binne. Soos iemand eens gesê het, ’n stem like a voice. Die titelsnit verklap hoekom hierdie album Amazon se lys van top blues-albums van 2011 gehaal het. James het een van die beste blues-stemme van ons tyd gehad, en met die regte begeleiding, soos hier, kom mens diep onder die indruk van haar statuur. Van die ander snitte is ignoreerbaar, maar nie die titelsnit nie. Ek’s ook gek oor “Misty Blue”.
The Kenny Wayne Shepherd Band – How I Go
Ek’s nog nie heeltemal so mal oor hierdie ou se musiek nie, maar daar is iets wat mens laat vassteek. Ofskoon hierdie album deur Amazon as een van die tien beste blues-albums van 2011 beskou word, is Shepherd nie volledig ’n blues-musikus nie. Hy maak eerder ’n soort opgeklitste rock-musiek, luid en grinterig, maar wanneer hy ’n kitaarsolo aanmekaarslaan, dan weet jy hy is ’n kind van die blues. Wees maar versigtig, nie alles is so netjies soos die musiek op die videogreep hier onder nie.
Alabama Shakes – Boys & Girls
Hierdie groep sou onder enige omstandighede redelik seker kon wees dat hulle suksesvol sou wees. Lekker kitaarspeler (Heath Fogg) en ’n baie kreatiewe baskitaarspeler (Zac Cockrell). Hulle musiek is tight, by gebrek aan ’n Afrikaanse woord wat presies verduidelik hoe ingenestel hulle kan klink, maar dis nie die fokuspunt nie. Dié is ’n vrou genaamd Brittany Howard, wie se stem só groot is dat mens selfs in die rumoerigste oomblikke eerste van die stem bewus bly. Boys & Girls is hul debuut. Die videogrepe hierby sal help verklaar hoekom ’n mens die gevoel kry dat Boys & Girls die begin van iets groots is.
Dream Theatre – Metropolis Part 2: Scenes from A Memory
Dit gee my so ’n perverse genot om so elke dan en wan weer na iets te luister wat só uit die mode is dat mens half lekker voel daaroor. Hierdie album is onlangs deur Rolling Stone aangewys as die beste konsep-plaat ooit – progressiewe rock-musiek, gemaak deur musici wat mekaar leer ken het terwyl hulle geswot het by die befaamde Berklee College of Music in Massachusetts. Volgens my naslaanbronne is Images and Words (1992) die groep se beste album, en ek gaan dit seer sekerlik aanskaf. Metropolis 2: Scenes from A Memory is ’n briljante plaat, al is dit so passé soos hardlooprugby by die Stormers. Ek veronderstel dit sou ook gehelp het as mens die groep die werk sien uitvoer het – dis verdeel in tonele, en moontlik was daar heelwat bykomstige spelers. Hoe ook, die musiek is bitter goed en gekompliseerd, en dis lekker om weer ’n slag te hoor hoe ’n groep klink waarvan al die lede ’n aanwins vir Yes of Genesis van ouds sou gewees het.

