Die Pelgrim
Met ’n breërandhoed en beskermde vel
Begin sy soektog waarvan almal vertel
’n Pelgrim op sy geldsoekreise
met ’n kruis op ’n kaart as rigtingwyser
In ’n lugverkoelde kantoorgebou
met ’n uitsig oor die stad se grou
Sit ’n snyerspak voor hom uit en staar
en maak planne om miljoene op te gaar
REFREIN:
Dis ’n skattejag na verlore wense
in ’n doolhof vol verdwaalde mense
’n Idilliese, beloofde beloning
van ’n lewe soortgelyk aan ’n koning
Vir dae blootgestel aan die elemente
begin hy dink hy’s tevrede met sente
Sy ontnugtering is egter gou verby
want die kaart het hom reguit na die goud gelei
Met bloedbelope oë voor ’n skerm
word hy blootgestel aan sy gunsteling dwelm
Hy vergeet ’n oomblik van sy eensaamheid
want sy beleggings het in die groen gesluit
REFREIN
Meneer Kommersïeel
wou sy rykdom met niemand deel
Nou, in sy terminale uur
moet hy familie en vriende huur
REFREIN
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


