Die parawetenskappe

  • 0

Die parawetenskappe is sekerlik nie ’n nuutjie nie. Mense soos Charles Fort het al in die twintigerjare destyds dié fenomene bestudeer deur die verhale wat daaromtrent vertel is, en voor hom, was daar ook Max Dessoir uit die laat negentiende eeu met sy parapsigologie. Fort het tóé al gepraat van teleportasie. Menige van ons oumas en oupas het, byvoorbeeld, verhale vertel van, wat hulle genoem het, goëlery. Die berugte voodoo se aanhangers van Afrika en veral Haïti en die Wes-Indiese eilande, maak ekstensief gebruik van die sogenaamde goëlery om teëstanders en ander “ongewenstes” mee te vervloek en teister. In die konteks van die antieke tye was daar gebruik gemaak van “vloeke” en selfs die Woord maak dit nie af nie (Psalm 109:6-18) en Spreuke 26:2 verduidelik die oneffektiwiteit van vloeke teen die mens wie in Geregtigheid lewe … Vandag is daar inderdaad ’n akademiese Parapsigologiese Vereniging.

Ja, ek meen dat Jan Maarschalk se verwysing daarna gefundeerd is, en ek sou ook meen dat dié fenomene nie soseer meer net para-wetenskap is nie, maar eerder tot die volwaardig tot die geesteswetenskappe hoort. In ’n ander brief van my aan Wouter (as ek reg onthou), het ek juis vermeld van die uitgebreide geesteswetenskappe.

Wat Jan se kritiek teen my brief oor die verenging van die breë konsep van wetenskap aanbetref, is hy heeltemal reg en skep ek ’n verkeerde indruk dat ek meen die wetenskap bestaan net uit die natuurlike wetenskap, alhoewel dit glad nie my bedoeling was nie. Ek moes spesifiek verwys het na die “natuurlike wetenskappe” in daardie brief, want dit is spesifiek dáárna wat ek verwys het en Jan is skerp genoeg om dit in te sien.

Maar nee, Jan, soos jy kan agterkom, beskou ek die para-wetenskappe, soos jy dit noem, nie as onwetenskaplik nie. Ek beskou dit as behorende tot die geesteswetenskappe. En wat die spirituele dimensie aanbetref, is dit vir my ’n baie wye begrip wat alles insluit wat ontasbaar en vir die mens onsienlik is, insluitende die fenomene van die para-wetenskappe. Ongelukkig is die agnostici en veral die ateïste, om redes wat ek al elders bespreek het, diegene wat geheel onbewus is van dié wetenskappe, hoewel dit ook húlle lewens daagliks beïnvloed. Die agnostici in al hul skakerings sal baat vind omtrent wat jy daaroor sê en dit sou waardevol wees as jy bietjie meer wou uitbrei oor jou kennis daaromtrent.

Ongelukkig is die agnostici nie gewillig om hulle kennisbasis uit te brei nie. Sommige van hulle, soos Thomas, skel vir my (gelowiges) uit as intellektueel oneerlik en verskeie ander beledigings, bloot omdat hulle eie intellektuele oneerlikheid rakende sake spiritueel, soms vir hulle wurg wanneer hulle met soveel feite en gewaarwordinge uit die spirituele dimensie, gekonfronteer word, en hulle nie weet hoe om daarmee te deel nie.

En nee, Thomas, dit is nie ’n kwessie dat gelowiges “weet” dat die hiernamaals, die kennis waarvan in die spirituele dimensie te vinde is, ’n godsdienstige konstruk is wat so vêr van die werklikheid verwyder is as wat die ooste van die weste verwyderd is nie – dit is maar julle geringe paar ateïste wat nié weet van die hiernamaals nie en dít weet ons almal. Die res van die mensdom het nie daardie probleem nie. Terloops, Thomas, het jy geweet die ooste en die weste kom by die kern van die kompas bymekaar? Doen moeite en vind gerus jou rigting daarheen … en onderweg moet jy jou ook vergewis van geesteswetenskaplike studies wat bevestig dat kindertjies besonder spiritueel is, sodat ook jý dit kan besef.

Groete,

Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top