“Die pan” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Die pan
Mariette skud die swaar ysterpan terselfdertyd op en af en vorentoe en agtertoe in daardie vloeiende bewegings wat die TV-sjefs altyd so maklik laat lyk. Die pan tip te ver en stukke groente vlieg uit. ’n Reep wortel plak vir ’n oomblik aan die teëls teen die kombuismuur en gly dan stadig af in ’n oliespoor.
“Eina!” swets sy as haar pols half meegee en sy die pan net stadig genoeg op die stoof laat neerkletter om nie te brand nie.
Sy vryf haar pols en neem ’n besluit. Sy gaan haar klein pannetjie soek. Sy het genoeg verloor en dis tyd om iets terug te kry. Dis ’n mal idee, en dis ver, maar dis wat sy gaan doen.
Buitekant Porterville stop sy by ’n padstal op ’n plaas. Twee bont, gekolde worshonde kom aangehardloop en kom groet haar asof hulle net vir haar gewag het. Sy bestel koffie en ’n worsrol en koop makataanstukke voordat sy verder ry in die rigting van Namakwaland.
In Vanrhynsdorp lag die slagter toe sy net twee tjops koop.
“Regtig net twee?” wil hy vriendelik weet. “Vir ’n braai?”
“Ja, dis net ek. Môre kom kry ek weer, vir môreaand.”
Toe sy genoeg hout, water en ’n pak skuinskoek het, ry sy die dorp uit. Sy gaan die plek soek waar hulle gekamp het en waar haar pannetjie moontlik agtergebly het.
Die son begin water trek agter Maskham en sy verwonder haar aan die landskap wat nou heel anders lyk as in die blomtyd, toe sy laas daar was. Dis laatsomer, of is dit vroegherfs, wonder sy. ’n Plaasbakkie kom van voor aangejaag met ’n spoed wat digte stofwolke van die grondpad laat opwalm. Toe hy verby is en die stof weer gaan lê, sien sy die bloekombos wat die beste landmerk is wat sy het en vanwaar sy moontlik haar pad kan vind. Net soos nou, was dit laatmiddag toe hulle kampeerplek gesoek het en besluit het hulle wou tussen die blomme kamp eerder as in ’n karavaanpark met gruisklippe op die grond en tente en karavane wat teenmekaar ingeryg staan.
By ’n vurk in die pad twyfel sy net vir ’n oomblik voordat sy links gaan. Sy onthou en nou weet sy presies waarheen om te gaan. Dis nie meer ver nie. ’n Paar honderd meter verder sien sy die inham in die pad en die grondpad wat regs uitdraai en deur ’n hek gaan. Presies soos laas keer dink sy weer dat dit ’n baie goeie plek is om te kamp as jy dan nou wil wild kamp. Dis van die pad af, maar nie ver nie; daar is ’n paar bome en ’n asemrowende uitsig oor ’n laagte voordat die berg agter dit opdoem.
Maar wat sy nou sien, is nie wat sy verwag het nie.
Feitlik presies waar sy laas haar kar geparkeer het, staan nou ’n Fortuner. Hier, in die middel van nêrens, maar juis hier waar sý nou wil wees, op hierdie een spesifieke plek in ’n veld sonder einde. Daar waar sy self die klippe in ’n sirkel gepak het om vuur te maak, buk ’n man by ’n hopie hout wat staan en rook. Naby die vuurmaakplek staan ’n tent opgeslaan en links daarvan ’n opslaantafeltjie, ’n stoel en ’n koelboks. Die man kom moeisaam orent toe hy die kar hoor en draai om.
Nou wat nou, wonder sy. Sy het al die pad van Kaapstad af gekom en gedink sy sal weer hier kan kamp. Dis besig om skemer te word en hoe kry sy nou ’n ander plek?
Die man kom aangestap. Hy is nie jonk nie, moontlik in sy middel-sewentigs, met ’n netjiese, korterige baard, tweekleurige hemp en khaki kortbroek. ’n Uitrusting wat haar moed in haar skoene laat sak. Hy kom staan langs die kar en sy maak die venster oop. Nie een weet regtig wat om te sê nie.
“Middag.”
Sy knik. “Middag. Of naand, eintlik.” Soos ’n kamera op ’n driepoot gooi sy haar oog van links na regs oor die hele gebied. Hy sien hoe sy na die plek kyk.
“Mooi, nè?”
Sy knik. “Dis baie mooi hier.”
“Oortree ek dalk op jou grond?”
Sy skud haar kop. “Ek het ’n paar maande gelede hier gekamp, in blommetyd. Ek het ’n ysterpannetjie gehad, so kleintjie.” Sy maak ’n sirkel met haar hande om te beduie. “Een wat vir my spesiaal is oor ... wel, ag, nevermind. In elk geval, ek het dit verloor, iewers waar ons gekamp het. Dit kan hier wees, of by een van die ander plekke waar ons ook geslaap het, maar ek dink nie so nie. Ek het hom hier gebruik en ek onthou nie dat ek dit op ’n ander plek weer gebruik het nie. Jy het nie dalk so ’n pan hier gesien nie?”
Sy bly skielik stil, want sy verwag nie dat hy sal verstaan nie. Wie kom soek ’n pan in ’n veld? Maar hy lag nie en lyk ook nie verbaas nie.
“Ek het nog nie so-iets gesien nie, maar ek het nog nie juis hier rondgekyk nie. Ek het so halfuur gelede hier aangekom en my tent opgeslaan en my kamp ingerig. As jy wil, kan ek jou help soek.”
Sy knik en hy maak die deur vir haar oop.
“Dankie.”
“Waar begin ons?”
Sy kyk besluiteloos rond. “Seker maar by die vuur, waar ek shakshuka gemaak het in die einste pan. Dis ék wat daardie klippe so gepak het.”
“Wraggies? Soos jy sien, sukkel ek bietjie. Ek wou juis afstap na die bos toe vir fyn hout, want my firelighters is op.”
“Moenie dat ek jou ophou nie. Dit raak donker, so ek gaan net gou bietjie rondsoek hier en dan maar ry.”
“Jy wou hier gekamp het.”
Dis nie ’n vraag nie, so sy antwoord nie.
“Wel, hier is baie plek ...” Hy wys met ’n arm oor die veld. “Kies vir jou ’n spot.”
Die gesprek wat sy met haarself voer oor veiligheid en haar opsies duur net ’n paar sekondes.
“Ek het fyn hout. Firelighters ook. Ek is Mariette van der Walt.”
“Frans Fourie. En ek het bier. Wil jy een hê?”
Met oop bottels bier loop hulle om die vuur rond en later wyer om die kamp en soek die pan. Sy lig klippe en takke op en hy skop hier en daar die deklaag van blare en takkies oop waar dit lyk of ’n pan daar sou kon lê, maar hulle kry niks.
“Dit was ’n long shot en ek het dit geweet,” sê sy uiteindelik.
“Moet nog nie moed verloor nie. Ons kan môre verder soek, in die daglig.”
Toe haar tent ook staan, ’n ent van syne af, sien sy hy het reeds nog ’n stoel opgeslaan en sy gaan hurk by die vuur. Minute later druk sy ’n vuuraansteker tussen die hout in en die vlamme wriemel om die houtstompe. Hy lyk beïndruk.
“Ek het twee kleinerige steaks en buns. Die ou by die slaghuis kon nie glo iemand koop so min steak vir ’n braai nie.”
Sy lag. “Dit was seker dieselfde slagter wat nie kon glo iemand koop net twee tjops nie. Ek het slaai ook.”
Sy haal haar foon uit en google Frans Fourie terwyl sy die foon so probeer hou dat hy nie die skerm sien nie. Sy wil darem weet saam met wie sy haar in die middel van niks in Namakwaland bevind. Van wat sy kan agterkom, is hy ’n afgetrede professor en sy kry gelukkig nie so in die eerste soekresultate tekens daarvan dat hy een of ander krimineel is nie.
Vir die eerste ruk gaan hulle gesprek oor gewone dinge. Haar werk as TikTok- en Instagram-kok.
“Julle jongmense het interessante werke.”
Sy krap met ’n nael aan die bierbottel se etiket.
“Ek is nie so jonk nie.”
“In vergelyking met my is jy. Jy kon my dogter gewees het.”
Sy glimlag skeef, maar antwoord nie daarop nie.
“Jy is seker afgetree? Wat het jy vir ’n lewe gedoen?” maak sy asof sy nie weet nie.
“Ek het klasgegee by Stellenbosch se universiteit. Dierkunde.”
“Wat bring jou hierheen?”
“Sssjjj ... Hoor die naguiltjie. Caprimulgus rufigena rufigena, of rooiwangnaguil in Afrikaans. Hy is naby ...” fluister hy en vir ’n ruk sit hulle in stilte en luister net na die nag. Toe die voël later van verder weg roep, praat Frans weer.
“My vrou is dood, ’n paar weke, of nou al amper twee maande gelede. Skielik. Hierdie tipe kampering was iets wat ons maar altyd saam gedoen het.” Sy stem breek en sy kom agter dat hy huil. “En nou ... nou is dit net ek. Jislaaik, hierdie ding slaan vir my hard. Ons het nog soveel planne gehad. Wou nog soveel plekke sien. Sy het al die voëls geken, beter as ek. En sy was die braaier in die huis. Ek verbrand alles.”
Sy sê eers niks, staar net na die vlamme van die vuur. Sy sien ook in die flikkerlig hoe die trane oor sy wange loop, in sy grys baard in. Sy staan op en gaan hurk by die vuur om kole uit te krap eenkant toe.
“En kinders?”
Hy snuif liggies en haal dan ’n sakdoek uit sy broeksak. Hy antwoord eers na hy sy neus gesnuit het.
“’n Dogter, maar sy praat al vir jare nie met my nie. Ek het voorheen soms boodskappe gestuur, maar sy het nie geantwoord nie.”
“Dis flippen sad. Waarom is dit so?”
Hy staar in die kole.
“Want ek het aangejaag. Ek het haar weggedryf. Sy is ... Hoe kan ek sê? Konserwatief. Fundamentalisties. My eerste vrou, haar ma, het haar so grootgemaak. Ek kon nie daarmee saamleef nie, so, ek ...” Hy soek na woorde. “Ek het hulle gelos. Ek het ’n verhouding aangeknoop met my tweede vrou, die een wat nou ...”
Hy hou in die middel van sy sin op praat en sy lyf skud soos hy huil.
Mariette gaan staan langs hom, druk sy kop teen haar heup en laat hom huil.
Uiteindelik haal hy weer die sakdoek uit. Sy vryf oor sy skouer en laat hom gaan.
“Ek het nie vir jou antwoorde of raad nie, maar vanaand kan ek vir jou braai.”
Hy vee die trane met die sakdoek af. “Nog ’n bier?”
“Nee, dankie. Ek gaan tee maak.”
“Goeie plan. En jy? Waarom is die pan so belangrik?”
Sy skuif die klippe met ’n stuk hout in plek en sit die rooster bo-oor.
“Ek was werkloos ’n paar jaar gelede. Ek het alles probeer, maar kon nie werk kry nie en ook nie kop bo water hou nie. Ek het alles verloor. My partner het my ook gelos, want haar familie het gesê ek is nie goed genoeg nie, want ek het nie geld nie. Toe kry ek so bouvallige huisie op ’n plot te huur vir byna niks, want die eienaar wou eintlik maar net iemand op die eiendom hê. Een dag, seker een van my laagste dae, toe ek regtig gedink het vandag gaan ek dit nie maak nie, want die pyn en die magteloosheid en moedeloosheid is net te veel, toe loop ek in die veld rond soos iemand wat hondsdol is. En daar lê die pan. Rooi-verroes en verrinneweer. Vir een of ander rede raak dit toe vreeslik belangrik om die pannetjie weer reg te kry. Ek het vir ure gesit en die roes afgeskuur. Eers met growwe skuurpapier en toe al fyner ...”
Sy kyk op en sien hy luister aandagtig na haar, so sy gaan aan.
“Toe moes ek skrop om al die rooi, roeserige poeier af te kry. Ek het hom vol hoendervet gesmeer en in ’n vuur laat brand. Dan vee jy mos die vet af en smeer hom, brand hom weer en weer, tot hy ingebrand is. Toe begin ek my video’s maak, op my vuur voor daardie opgefokte huisie met my pan wat ek gered het. Nou bly ek lankal nie meer daar nie en ek maak ’n orraait lewe. Ek kan seker ’n nuwe pan koop, maar dit sal net nie dieselfde wees nie.”
Sy sug diep. “Nou moet ek seker maar aanvaar die pan is weg.”
Dis sy beurt om stil te wees. Sy draai die stukke vleis op die rooster een-een om.
“Jy en daardie pan is een en dieselfde.”
Sy knik, verbaas dat hy dit raaksien, en terselfdertyd bly dat iemand háár raaksien.
Hy skuif sy stoel nader aan die vuur. “Dalk moet ons bid dat jy dit terugkry.”
Sy kyk om na hom.
“Bid? As ek dit kry, sal dit wees omdat ek onthou het waar dit kan wees en hiernatoe gekom het om dit te kom haal, en omdat dit as gevolg van een of ander vloekskoot nog hier is. Omdat dit in ’n veld lê waar niemand kom wat dit kon ontdek en wegdra nie.”
“Óns is hier ...”
Sy gooi sout oor die vleis. “Ja, maar ons verteenwoordig nie juis die breër samelewing nie.”
“Hoe kry jy antwoorde as jy nie bid nie?”
“Hoe kry jy antwoorde ás jy bid?”
“Ek glo die Here gee vir mens die antwoorde.”
“Vra jy Hom ook oor die dinge waarvan jy doodseker is? Of net wanneer jy twyfel, of nie weet nie? Want as jy nie al twee doen nie, hoe weet jy wanneer is dit Sy antwoord en nie joune nie? Het jy byvoorbeeld gevra voor jy hier kom kamp het? En voor jy gesê het ek kan bly? Want dis potensieel albei groot besluite. Of dalk het jy soos ek gemaak en maar net self besluit. Gee Hy vir jou enige antwoorde oor jou pyn en jou hartseer? Oor jou vrou?”
Hy is weer vir ’n ruk stil voor hy opstaan en vir haar ’n kampkastrol aangee.
“Dalk weet ons maar net niks nie. Sit sommer die vleis hierin.”
Sy haal die vleis van die rooster af en sit dit in die pot wat hy na haar uithou. “Nee, ek dink dis mode om te sê ons weet niks nie, maar ek stem nie daarmee saam nie. Ons weet baie. Ons verwerp net so baie van wat ons weet, omdat ons dit nie wíl glo nie, maar dit bly waar, of mens dit glo of nie. Ek verwonder my aan die dinge wat mense, as ’n spesie, kan vermag. Dis net jammer ons oerbreine vat so lank om op te vang. Dink net hoe kon ons vooruitgaan as ons ons gierigheid kon laat gaan, of kon ophou om mekaar seer te maak, of wreed te wees. Ons het ver om te gaan, maar miskien gee ons onsself nie genoeg krediet vir hoe ver ons gekom het nie. Vir die goed wat ons wel weet en vir die goeie besluite wat ons neem nie.”
“Soos hierdie steak en tjops,” verander hy die onderwerp. “Dit was nou goeie besluite as ek al ooit goeie besluite gesien het.”
Sy haal twee bakkies slaai uit en bied vir hom aan. “Ek weet nie of ek antwoorde het nie, maar ek het kos. Kry vir jou. Dis ’n swartboontjie-slaai, met mielies en ander goed, en gepiekelde rooiuie. En aartappelslaai met tamatiepesto-mayo en chilli. Ek het dit by die huis gemaak en saamgebring.”
Hy skep klein skeppies vol in, maar ná hy versigtig geproe het, skep hy nog in. “Dis anders as my vrou se slaaie, maar baie lekker. Veral lekker dat ’n vrou vir my braai.”
Dis die vriendelike tjippetjie-tjie-tjie van die kelkiewyns wat haar die oggend douvoordag wakker maak. Sy is uitgerus maar nog half deur die slaap. Nadat sy ’n draai gaan loop het en haar krat met kookgerei en goed gaan haal het, kom sit sy by die klippe waar hulle vuur die vorige aand was. Sy gebruik ’n klein handbyltjie en krap die kole van die vuur op ’n hoop. Die as lê dik, maar daar is nog warm kole wat dalk die hout aan die brand kan kry. Sy druk die byl dieper in en skraap van die as en kole na haar toe. Die byl haak vas aan iets en sy gee dit ’n pluk. Sy hoor ’n geluid wat klink na metaal wat teen metaal kap en die byl lig iets uit die as, stof en sand. Sy kyk verbaas na hoe die voorwerp vorm aanneem. ’n Ronde, onderstebo ystervorm, ’n kort steel wat in die grond vassteek. Sy haal die pan versigtig uit die as met ’n vadoek om haar hand. Vee dit skoon soveel as wat sy kan sonder om te brand.
Toe hoor sy die ritssluiter van Frans se tent wat oopgaan. Hy beduie na die kelkiewyns ’n ent verder, op die grond onder ’n boom.
“Pterocles namaqua. Sandgrouse, of kelkiewyn in Afrikaans.”
Hy kruip handeviervoet uit sy tent, staan op en steek dan vas. Hulle kyk woordeloos na die vuil pan.
Ná ’n ontbyt van koffie en skuinskoek pak sy haar tent en kampgoed op. Hy kom staan by die kar onder die boom om te groet.
“Ek het toe vergeet om te bid oor jou pan.”
Sy glimlag fyn.
“Ek het dit toe maar self gevind. Kom kuier as jy terug is in die Kaap. Jy kan my op Facebook kry.”
Hy kyk net na haar.
“Ek weet nie. Dalk. Jy het my getroos gisteraand en ek voel ’n band met jou.”
“Maar?”
“Ek sukkel met die ongeloof-ding. Ek kan my nie daarmee versoen nie.”
Sy knik net stadig, verbasend hartseer oor die man wat sy vir minder as ’n dag ken, wat nou nie haar vriend wil wees nie.
“Oukei. Dis reg so.”
Sy klim in die kar en hy maak die deur hoflik vir haar toe. Sy ry agteruit en begin die kar draai, maar stop dan en wink hom nader.
“Frans ...” Hy lyk hartseer. “Bel jou dogter. Mense kan connect sonder om oor alles saam te stem. Bel haar.”
In haar truspieël sien sy hoe hy die kar agternakyk. Daar is trane in sy baard wat hy met sy vingers afvee.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie