Die "ou Afrikaners"

  • 1

Beste Leser

Na afleiding van al die onlangse gesprekke en kommentaar rondom die onderwerp van "Afrikanerskap" het die tyd seker aangebreek om ‘n definisie te formuleer vir diegene wat hulle op besondere neerhalende wyse uitgespreek het teenoor "nuwe Afrikaners", en nie met lg geassosieer wil word nie. Eersgenoemde groep verdien dan die etiket, "ou Afrikaners", en verteenwoordig seker die ouderdomsgroep 60-jaar en meer, tensy hulle daarin geslaag het om ook hulle kinders en kleinkinders só te indoktrineer met al die komplekse en bagasie van die verlede wat weer op sy beurt sal sorg dat die lewe vir hulle nasate baie moeilik gaan wees in die Suid-Afrika van veranderde omstandighede.

Die stoffasie van die "ou Afrikaners" se geestesgoed is gegrond in die verhale van die Groot Trek, Slagtersnek, Die Anglo-Boere Oorlog, die konsentrasiekampe, haat vir die Engelse, minagting vir anderkleuriges en andersoortiges , Calvinisme, en ‘n versteende mentaliteit gegiet in graniet wat eenvoudig verseg om weg te beweeg van die verlede met die verbygaan van tyd. Volgens hierdie groep verteenwoordig hulle, en hulle alleen, alles wat eg en outentiek is in die Afrikanernasie en sy tradisie, en hulle alleen het die reg op daardie titlel: Afrikaner. Die ironie van die saak is dat die meerderheid van hierdie geslag, gebore gedurende die 40-jare, nooit direkte slagoffers was van die Anglo-Boere-Oorlog, die konsentrasiekampe, Milner se beleid van Anglisering, of die armoede veroorsaak deur die depressie nie. Ten spyte van hierdie relatiewe gunstige posisie het Afrikaner-politici van daardie tyd al die negatiewe aspekte van die geskiedenis misbruik om die vlam van Afrikaner-nasionalisme aan te blaas juis in ‘n tyd toe die res van die wêreld met skok gestaar het aan die resultaat van nasionalisme in die puinhope van hulle stede en lande met die afloop van die Tweede Wêreld Oorlog.

Ongelukkig het ons tydens ons gesprek geen inset ontvang van die jonger geslag (onder 40- jaar) nie (blykbaar lees hulle nie SêNet nie), en dus is hierdie definisie van "ou Afrikaners" slegs betrekking tot bejaarde mans van 65 jaar en meer. Trouens sal dit my glad nie verbaas nie om te hoor dat die "ou Afrikaners" tog daarin geslaag het om al hulle komplekse en misnoeë oor die verlede oor te plant op die gedagtes van hulle kinders en kleinkinders want dit is nou eenmaal in hulle geaardheid en bloed, en die appel val nie vêr van die boom nie. Die venyn wat hulle vandag koester teenoor die "nuwe Afrikaners" is die gevoel dat hierdie mense realisties en pragmaties is, en hulle oordeel nie befoeter word deur die bagasie van die verlede, of deur onrealistiese ideologiese pypdrome wat nooit bewaarheid sal word nie. Hulle probeer aanpas by die nuwe bestel, en berei ook so die grond vir hulle kinders voor sodat lg ‘n kans sal staan om ‘n sukses van hulle lewens te maak in ‘n veelrassige land.

Mens kan konstitueer dat "ou Afrikaners" dan die sekulêre ekwivalent is van Kobus de Klerk se totalitêre kontrolementaliteit, nl hulle verketter almal wat nie soos hulle dink en voel nie, wil ander Afrikaners onteien (exkommunikeer) van Afrikanerskap, en wil net nie verstaan nie dat Afrikaners altyd ‘n heterogene groep van mense was en sal bly nie.

Dit sal interessant wees om in die toekoms te kan kyk en sien wie of wat ‘n Afrikaner sal wees oor so twee honderd jaar.

Beste groete,

Pieter Redelinghuys

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Beste Pieter

    Ou Afrikaners het nie noodwendig ’n versteende mentaliteit nie. Hulle huldig nie noodwendig geïndoktrineerde standpunte nie. Hulle lei nie noodwendig aan komplekse soos bv minagting vir nie-wittes nie. Hulle sin vir die geskiedenis hoef nie bagasie te wees wat om negatiewe redes misbruik word nie.

    Die ouer geslag het ’n land geken waarvan groot dele in baie opsigte aan ordentlike, beskaafde, Westerse standaarde voldoen het. Hierdie ou Afrikaners weet hoe aangenaam, suksesvol en leefbaar hierdie land kan wees. Binne menseheugenis was dit moontlik om in veiligheid na feitlik enige plek in die land op enige tyd van die dag of nag te gaan. Mense het normaalweg met oop deure en vensters geslaap. Diefwering en alarms was feitlik onbekend. Daar was meubels op die stoepe en in die tuin. Omheining was nie nodig nie. Motors is nie gesluit wanneer mense gery of geparkeer het nie. Motorhuise was ’n luukse. Fietse het ongesluit by huise en besighede rondgestaan. 

    Staatsgeld is tot voordeel van die inwoners bestee. Korrupsie was hoogs uitsonderlik. Ongekwalifiseerde ouditverslae was die reël. Skelms is nie net ontslaan nie, maar swaar gestraf en nie heraangestel nie. Politici in die sentrale, provinsiale en plaaslike regering was almal geletterd. Bekwame mense is in poste in die owerheids- en private sektor aangestel. Paaie is nie versper nie. Teen enigeen wat ekonomiese sabotasie gepleeg het, is opgetree. Wet en orde het geseevier. Daar was bekwame mense op die regbank en sake is spoedig verhoor. Hospitale en skole het gefunksioneer.  

    Wat die ou Afrikaners nie aanvaar nie, is dat hierdie pragtige land met so baie potensiaal na meer as drie eeue binne twee dekades onherroeplik ’n tipiese Afrikaland geword het tot nadeel van die meerderheid inwoners en mettertyd waarskynlik tot nadeel van al die inwoners, dus ook van diegene wat nou op roofbou floreer.

    Johannes Comestor    

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top