Die oorsprong en implikasies van die ''Driekamergrondwet'' (1983)

  • 0
  • Lees ’n kort oorsig van Suid-Afrika se grondwetlike geskiedenis in die LitNet Akademies (Regte)-artikel, “Konstitusionalisme in Suid-Afrika” (Francois Venter, 2014)

Die “Driekamergrondwet” (Wet 110 van 1983) was nie ’n logiese verlengstuk van enige van die voorafgaande grondwetlike tradisies – parlementêr of presidensieel – in Suid-Afrika nie. Dit laat die vrae ontstaan oor wat die  inspirasies vir die 1983-bedeling was, wie daarvoor verantwoordelik was en waarom die leeftyd daarvan slegs omtrent ’n dekade geduur het. Kon dit anders verloop het?

Die maklike antwoord op al hierdie vrae is dat segregasie, apartheid en afsonderlike ontwikkeling (die “tuislande”-beleid) nie voldoende politieke deelname aan alle Suid-Afrikaanse minderhede en (swart) meerderhede in ’n gepaste demokrasie gebied het nie.

Dit het daartoe gelei dat ’n middeweg tussen ’n meerderheidsregering en tuislandpartisie gesoek moes word. So ’n middeweg was die “konsosiasie-model” wat in ander veelvolkige samelewings met redelike sukses toegepas is, soos in Oostenryk, België, Nederland, Switserland, Maleisië en Suriname. Dié bedelings was almal inklusief vir alle groepe. Daar was egter ook onsuksesvolle gevalle, soos Libanon en Siprus, waar burgeroorloë nogtans uitgebreek het. Sukses was dus nie gewaarborg nie.

Arend Lijphart, ’n professor van Kalifornië, het dié eienskappe van sulke magsdelingstelsels in segmentele samelewings bestudeer en dit konsosiasies genoem. Die beste voorbeelde was België en Nederland. Dit berus op vier beginsels: ’n “grootkoalisie” tussen die groepsélites; groepsoutonomie wat gebied, taal en kultuur betref; proporsionalisme wat groepsdeelname aan openbare instellings betref; en vetoregte oor ooreengekome sensitiewe aangeleenthede.

Nog voordat Lijphart op die Suid-Afrikaanse toneel verskyn het, was daar egter alreeds inisiatiewe wat soortgelyke (konsosiatiewe) oogmerke gehad het, naamlik Sprocas van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in 1969; die Nasionale Party (NP) se grondwetlike voorstelle onder die leiding van PW Botha in 1977 (beïnvloed deur die Erika Theron- en Schlebush-kommissies); die Progressiewe Federale Party (PFP) se grondwetlike voorstelle van 1978, die Buthelezi-kommissie van 1982 se voorstelle vir Natal en KwaZulu; die grondwetlike komitee van die Presidentsraad se aanbevelings van Mei 1982 onder die voorsitterskap van Denis Worrall (wat uitdruklik na ’n konsosiasiemodel verwys het) en die NP-regering se reaksies daarop in 30 Julie 1982; die publisering van die Ontwerpsgrondwet op 5 Mei 1983; en die referendum op 2 November 1983 wat die “Driekamergrondwet” bekragtig het.

So het die Grondwet van die RSA as Wet 110 van 1983 tot stand gekom. Dit was sterk deur die Belgiese en Nederlandse modelle beïnvloed. In die aanloop hiertoe het die regering, heel ironies, die Sprocas-, PFP- en Buthelezi-kommissie-voorstelle verwerp, maar nog steeds met hul eie voortgegaan.

Terugskouend het dit begin met die Erika Theron-kommissie se bevindings oor veral die uitsluiting van die bruin mense (1975); die PW Botha-Kabinetskomitee (1977), die Alwyn Schlebusch Gekose Komitee (1979) en die Denis Worrall-aanbevelings van die Presidentsraad se Grondwetkomitee (1982). Die Schlebusch-voorstelle (1979) is wel gepubliseer maar daar het niks van gekom nie. Dieselfde het gebeur met die Worrall-komitee se eerste verslag. Die tweede verslag (1982) is bestudeer en verfyn.

Die 1982-aanbevelings het spesifiek na die werk van Arend Lijphart verwys. Sy bekendste publikasie was The politics of accommodation: pluralism and democracy in the Netherlands (1968) en “Consociational democracy” in World Politics, 21(2) (1969) en “Federal, confederal and consociational options for the South African plural society” in Rotberg and Barratt (reds) (1980).

Lijphart was ook lid van die Buthelezi-kommissie (1982). Benewens Lijphart moet die rol van Fanie Cloete ook genoem word. Hulle is kabels in hierdie ketting. Ná sy werk as sekretaris van die Erika Theron-kommissie voltooi Cloete in 1981 ’n doktorale proefskrif onder Ben Vosloo van Stellenbosch getiteld “Etnisiteit en groepsverteenwoordiging in die staatskunde” waarin die konsosiasiemodel ’n belangrike rol speel.

In dieselfde jaar word Cloete ook gewerf om in minister Chris Heunis se Departement Staatkundige Ontwikkeling en Beplanning vir Ig Rautenbach en Rassie Malherbe by te staan met die finalisering van die 1983-grondwet. Die Worrall-aanbevelings van die Presidentsraad was reeds in Mei 1982 aan die regering (Heunis se departement) voorgelê vir “verfyning”. In werklikheid was dit egter nie ’n blote verfyning nie, maar ’n grootskaalse oorskrywing van die Presidentsraadvoorstelle. Die finale outeurs is/was Rautenbach, Malherbe en Cloete met insette (soos ek dit onthou) van professor Marinus Wiechers, Fanie van der Merwe en Joggie Fölscher. Die verantwoordelike minister was Chris Heunis.

Die skryfwerk aan die Driekamergrondwet wat nou einde se kant toe staan moes gelykloop met die konfederale planne vir onafhanklike en selfregerende nasionale state wat saam met stedelike swartes in ontkoppelde strukture tussen stad en tuisland sou bly funksioneer. Die idee van geassosieerde state binne ’n konfederale verband is ook ondersoek. Die politieke haakplek was egter dat dit stedelike swart mense sou ontkoppel van die tuislande. ’n Vierde kamer sou hierin ’n rol kon gespeel het, maar dit was nooit NP-beleid nie. Dit was die werk van die Spesiale Kabinetskomitee (SKK) waarvan ek die eerste sekretaris was. Maar soos die Driekamergrondwet en partisieplanne vir tuislande (selfregerende en onafhanklike state) in die niet van protes en opstand verdwyn het, het onderhandelings vir ’n postdriekamerbedeling alles oordonder en niks het daarvan gekom nie. Gedurende hierdie periode was Fanie Cloete en Rassie Malherbe ook op ’n amptelike studiebesoek aan België wat tot verdere “verfyning” van die regering se 1983-konsep gelei het. Tegnies was dit ’n puik dokument.

Intussen het akademici wat oor die vooruitsigte van konsosiasie in Suid-Afrika geskryf het, vinnig toegeneem. Persone soos Gerrit Olivier, Albert Venter, Laurence Boulle, George Devenish, Heribert Adam, Deon Geldenhuys en Roger Southall het sinvolle kommentare geskryf, positief sowel as negatief.

Arend Lijphart se eie siening was dat die nuwe grondwet van 1983 nié ’n goeie voorbeeld van konsosiasie was nie, juis omdat dit die meerderheid mense – die swart mense – uitgesluit het, en dat die president, eerder as ’n “grootkoalisie”, veels te veel magte het. Van Zyl Slabbert veroordeel ook die 1983-Driekamergrondwet as “sham reform” (1983). Die grondwetlike leeftyd het ook nie lank geduur nie, want in 1993 is Wet 110 van 1983 ná Nelson Mandela se vrylating in 1990 deur ’n nuwe onderhandelde oorgangsgrondwet (Wet 209 van 1993) vervang. Dit het plek gemaak vir ’n grondwet wat nie op parlementêre soewereiniteit (soos vóór 1983) of presidensiële oppermag (soos tydens 1983–1993) gevestig is nie, maar op die beginsel van ’n “regstaat” waarin die grondwet soewerein is (met ’n handves van menseregte, ’n konstitusionele hof en die sg artikel 9-instellings).

Dit bly ’n tergende vraag: Sou Suid-Afrika vandag ’n beter plek gewees het met ’n vierkamergrondwet en ’n grootkoalisie in die uitvoerende gesag as die nuwe bedeling sedert 1993? Die eerlike antwoord is natuurlik: ons weet nie.

Opsomming: die “wie” en “wanneer”

Uit bostaande is dit duidelik dat die konsosiasiemodel (1983–1993) nie vanself in Suid-Afrika opgeduik het nie. Dis deur invloedryke skryfwerk in Suid-Afrika ingedra nadat die Erika Theron-kommissie sekere probleme, soos die politieke lugleegte rondom die bruin mense, uitgelig het: Die “wie” is reeds op gewys. Die kronologie hiervan kan aan vyf akademiese pioniers toegeskryf word, naamlik:

1. Arend Lijphart (1968, 1980 en 1982). Dit begin by sy werk van 1968 oor konsosiasie in Nederland. Twee terme wat Nederlanders hiervoor gebruik, is “verbroederliking” (vir ’n “grootkoalisie”) en “verzuiling” vir groepspolitiek. In sy 1980-hoofstuk oor Suid-Afrika in ’n boek van Nic Rhoodie, vestig hy aandag op pluralisme in Suid-Afrika wat toe reeds die Erika Theron- en Schlebusch-kommissies opgelewer het. (PW Botha, wat spesifiek simpatie met die bruin mense gehad het, neem in 1978 by John Vorster as NP-leier oor).

In 1982 is Lijphart ook lid van die Buthelezi-kommissie oor die samevoeging van die KwaZulu-tuisland en die provinsie van Natal. Maar die Botharegering verwerp ook hierdie verslag en bou voort op die NP se 1979-voorstelle.

2. Ben Vosloo (1979). Hy skryf in Politikon spesifiek oor konsosiasie en die regering se 1977 grondwetlike voorstelle. Vosloo was ’n invloedryke en verligte Afrikaner-akademikus;

3. Albert Venter (1980). Hy voltooi ’n MA-verhandeling oor konsosiasie in Suid-Afrika onder Dan Kriek van Unisa (’n oud-Verenigde Party-man en bekende ondersteuner van die Nuwe Republiek Party).

4. Fanie Cloete (1981). Hy voltooi ’n doktorale proefskrif oor etnisiteit en groepsverteenwoordiging onder Ben Vosloo van Stellenbosch. As staatkundige beplanner is hy ook deel van die span wat die 1983-grondwet afrond.

5. Denis Worrall (1982). In die eerste verslag van die Grondwetkomitee van die Presidentsraad word spesifiek na die konsosiasiemodel van Lijphart verwys. Hy is egter nie naastenby so invloedryk as minister Chris Heunis nie. Dis hoekom die departement se “verfyning” geseëvier het oor die Presidentsraad se insette.

Die Grondwet van 1983 (afgerond deur Heunis se departement ) bevat enkele konsosiatiewe elemente, maar wyk in belangrike opsigte op minstens vier gronde van die tipiese Lijphart-model af: die grondwet sluit die meerderheid Suid-Afrikaners – alle swart mense – heeltemal uit. Daar word byvoorbeeld nie vir ’n “vierde kamer” vir swart mense in die driekamerparlement voorsiening gemaak nie; die uitvoerende gesag is nie ’n grootkoalisie van groepsleiers nie maar sentreer in ’n enkele president en regerende party met wye uitvoerende bevoegdhede; die bruin en Indiërminderhede wat wel ingesluit word, het egter geen vetoregte nie, want hulle is proporsioneel te swak verteenwoordig in die ratio van 4:2:1 (die 4 vir wit mense is meer as 2+1 = 3 vir bruin mense en Indiërs tesame); en laastens is die kernbeginsel in die Grondwet van 1983 sekerlik die onderskeid tussen “eie” en “algemene” sake (miskien ’n toegewing aan Andries Treurnicht se Konserwatiewe Party wat in 1982 gestig is) wat glad nie in byvoorbeeld die Belgiese of Nederlandse stelsels voorgekom wat grondliggend aan Arend Lijphart se denke was nie (ook elders in die Suider-Afrikaanse streek was konsosiasie voorgestel). Marinus Wiechers wys daarop dat die konsepgrondwet van die Turnhalle-beraad in Windhoek (Namibië) in 1977 feitlik ’n volledige konsosiasiemodel verteenwoordig het. Dié planne is egter opgeskort toe die Verenigde Nasies die Namibiese proses begin dryf het wat in 1990 op ’n meerderheidsregering en ’n proporsionele kiesstelsel uitgeloop het.

Willie Breytenbach
Emeritus professor, US

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top