Die onvolkome kennis van die wetenskap én die geloof

  • 3

Op Franskraal is daar 'n strook water, die Blousloep, tussen die kus en 'n eilandjie met skulpies en tobieneste. Met springgety se laagwater kan selfs 'n kind deur die Blousloep loop; die water kom nie eers tot by sy knieë nie.

Maar as dit dan hoogwater word, is die Blousloep twintig meter breed en twee meter diep, met malende strome en onsigbare rotse. 'n Ervare swemmer kan deurkom, maar gewone mense moet dit nie probeer nie.

Dis baie belangrik, as jy wil gaan skulpe optel op die eiland, om te weet hoeveel tyd jy het as jy nie vasgekeer wil word nie.

Jy kyk dus vroegoggend in 'n getytabel (daar is een op die koerant se weerbladsy). As dit tussen 09:00 en 10:00 laagwater gaan wees, weet jy dit is springgety, en jy sorg dat jy voor laagwater deurgaan. 'n Uur later sal die terugtog nog veilig genoeg wees.

Vir die berekening van laagwater en springgety is dit goed genoeg om aan die maan en son te dink as massapunte: hulle het posisie en massa, en ons ignoreer alle ander dinge in verband met hulle. Om te ignoreer dat die son enorme hoeveelhede warmte en lig uitstraal, sou party mense dink, is om die hele wese van die son te misken, maar vir die berekening van getye hoef ons dit nie in ag te neem nie.

Hierdie manier van dink, om vir 'n spesifieke doel net die eienskappe in ag te neem wat jy nodig het, word 'n model genoem.

'n Model is soos 'n piepiepoppie wat kan drink en doeke natmaak, net dit. 'n Mens kry huilpoppe ook. Sekere mammas meen vir sekere pappas is 'n regte baba maar net iets wat kan drink, piepie en skree. Vir daardie pappas is 'n pop so naby aan verstaan van 'n baba as wat hulle ooit gaan kom.

Baie van die modelle wat ons gebruik, is wiskundige modelle. Dit beteken dat ons nie 'n fisiese ding hoef te maak wat op die gewenste manier werk nie, maar net 'n klompie simbole en vergelykings kan neerskryf wat ons met algebra en rekenaars kan manipuleer.

Die groot deug van 'n wiskundige model is dat elke stap in die manipulasie daarvan logies gekontroleer kan word. As die model dan op die ou end tot 'n vreemde, onverwagte gevolgtrekking lei, moet 'n mens tussen slegs twee moontlikhede kies:

a. Die werklike verskynsel het daardie eienskap, al is dit nog nie waargeneem nie; ons moet net aanhou soek.

b. Die werklike verskynsel het nie daardie eienskap nie, en die model is (sover dit daardie eienskap aangaan) nie 'n afdoende beskrywing van die werklikheid nie.

Die tweede moontlikheid beteken nie die model is nutteloos nie. Dit is wel ten opsigte van daardie eienskap gebrekkig, maar kan vir ander doeleindes nog goed deug. Die beste modelle is dié wat net vir een doel gemaak is, en vir daardie doel perfek werk.

Ons besef dit nie aldag nie, maar ons hele manier van bestaan is deurspek met modelle.

Die mens woon op die aarde. 'n Mens is dus minder as die aarde, en ook minder ingewikkeld as die aarde self. Maar nogtans matig die mens hom aan om die aarde te bestudeer. Tot 'n groot mate maak die mens selfs daarop aanspraak dat hy nie alleen die aarde nie, maar ook die sonnestelsel, die Melkweg en die heelal self verstaan.

Hoe kan iets 'n groter geheel waarin dit self bevat is, verstaan? Daardie iets kan dan homself nie eers behoorlik verstaan nie!

Die antwoord is: ons verstaan nie regtig die aarde, die sonnestelsel of die heelal nie, ons verstaan net modelle daarvan.

So is dit ook met ons godsdiens. Ons verstaan nie regtig vir God nie; inteendeel, elke Sondag word in tradisionele NG Kerk-gemeentes gesing "ewig onbegryplik' wese". Wat ons verstaan, is modelle van God. Die meeste Christene gebruik byvoorbeeld 'n model wat God as drie persone voorstel, terwyl Jode en Moesliems nie so 'n onderverdeling maak nie. Al drie daardie groepe maak egter daarop aanspraak dat hulle die God van Abraham aanbid, en verklaar dat daar net een God is. Met ander woorde, hulle aanbid dieselfde God; net hulle modelle verskil.

Maar laat die Tien Gebooie ons regtig toe om modelle van God te maak? Word ons nie uitdruklik verbied om enige gelykenis van God te maak, te aanbid en te dien nie?

Of laat die Tien Gebooie ons enigsins toe om die vreemde, onverwagte gevolge van ons eie model tot attribute van God te verklaar? Is dit nie 'n ydellike gebruik van die Naam van God nie?

Christene is lief om 'n spesiale vraag vir ateïste gereed te hou: "Wat presies is dit waarin jy nie glo nie?" Dan, so hoop hulle, kom daar die een of ander strooipop-antwoord wat maklik is om uitmekaar te pluk.

Ek het daardie vraag al 'n paar keer probeer, en die antwoorde was taamlik eenders. Dis nie soseer God waarin ateïste nie glo nie, maar die bestaan van mense wat God kan verstaan. Hulle self, meen hulle, is die enigstes wat eerlik genoeg is om dit te erken.

Daardie ateïste is seker maar die mak soort, eintlik agnostici. Want om kategories te verklaar dat iets in beginsel onmoontlik is, is gevaarlik. Selfs lord Kelvin het sy rieme styfgeloop deur vlieg met voorwerpe wat swaarder as lug is, onmoontlik te verklaar.

Maar om toe te gee dat ons kennis onvolkome is, dat ons maar net modelle verstaan, nie die verskynsels self nie, is die houding van 'n ware wetenskaplike. Dis ook dié van 'n ware gelowige: die mees selfversekerde teoloog van die Nuwe Testament het toegegee dat ons net ten dele ken, net in 'n spieël kyk, en net raaisels sien.

Modelle help ons. Danksy ons model van God gaan ons deur die vlak water, vermy ons die malende strome. Maar ons model ís nie Gód nie. Ons mag dit nie aanbid nie, in die naam daarvan praat nie. Die bron van alle Warmte en Lig, alle genade en kennis, bly onbegryplik.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 3

Kommentaar

  • ben van bruggen

    Is dit gepas om iets te aanbid wat onkenbaar is. Daar is 'n verskil tussen verwonderd wees en aanbid.

  • Inderdaad. Verwondering is "Hoe groot is U" en baie van ons kan dit ervaar sonder om te spesifiseer wie of wat is "U". Aanbid is "Spreek Here, U dienskneg luister". Dit verg meer.

  • CorneliusHenn

    Dankie Dirk, ek bêre hierdie wysheid in my hoogste argief... veral die leer dat almal die God van Abraham aanbid - elkeen op grond van hul eie model ... sou jy daarop ingaan dan lees jy dat die God van Abraham ook die God van Melgisedek is - en die hele Ooste tot die Weste se hart daarin saam raak duidelik! ... Hindoe-, Moslem-, Joodse, Boeddhistiese, katolieke, Boere en Afrikaliefde, Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top