Die onvergelykbare Sinéad O'Connor

  • 0

Sinéad O'Connor by “The music in my head” (2008) in Den Haag. Foto: Leah Pritchard (gebruik onder ’n Creative Commons-lisensie)

Een van die grootste moederbome in die woud het gister geval.

Die wêreld was van die begin af honger vir haar rouheid, haar opstaan vir vrouwees, haar rebellie, en veral haar onstuitbare eerlikheid en integriteit. Die wêreld het egter geen idee gehad hoe om haar te verteer nie.

Toe sy op TV die pous se foto opskeur, het sy een van die eerste mense geword om gecancel te word. Sy was reg oor die walglike pedofielpriesters, maar nóg haar loopbaan nóg haar lewe was ooit weer dieselfde. Sy is uitgekryt as weird of mal.

Dae later het sy gewys waarvan sy gemaak is toe sy onder die verdowende uitjouery van duisende in Madison Square Garden “War” van Bob Marley a cappella uitgebrul het.

Sinéad het met grenspersoonlikheidsversteuring (“borderline personality disorder”, of BPD) saamgeleef. Dit is geen grap nie en vir baie ’n fatale kondisie. As jy iemand met BPD in jou lewe het, bly in Godsnaam vir hulle lief, al is hulle hoe moeilik.

Sinéad, ek eer jou. Bob Marley se woorde is op min so van toepassing as op jou: “How long shall they kill our prophets while we stand around and look?”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top