
Foto: Canva
Die Onderbroek-rebellie
Dit het stadig begin en dit het amper ’n leeftyd gevat.
Die bewussyn dat dit sou kom was altyd daar, maar dit het merendeels gehuiwer, tussen die bewuste en die onbewuste.
By geboorte was dit volledig onbewus – die begeerte na vryheid. Daar was iets, maar dit was meer instinktief as ’n wete. Die gelatenheid van loslaat, as ’n baba, was dikwels iets komies in die oë van die volwassenes, veral as daai straaltjie soos ’n boog uitgekom het en iemand op die klere gevang het. Of nog meer van ’n grap, as die straaltjie jou in die gesig getref het. Jy was soos a raging elephant bull in musth, maar jy was te jonk om van testosteroon te verstaan, so toe gaan dit maar oor die pee.
Die grap het egter nie gehou nie, want toe moes die straaltjie liefs gekeer word. Toe wikkel hulle jou toe in doeke.
Tydens die badritueel was daar weer ’n gevoel van verligting. Die lou-warm water wat oor jou gespoel het, het al meer van ’n bewustheid geskep – ’n bewustheid van plesier en vryheid. Die vryheid het verdere loslaat ontlok en soms was dit snaaks en komies as die fonteintjie gespuit het oor die bad.
Die doeke het nie toé mooi sin gemaak nie, want jou en hulle redenasie het nie mooi saamgewerk nie. Hulle moes in elk geval die doeke losmaak en weer skoonmaak – vir meer as daai straaltjie. Dan het die vryheid weer gekom.
Die perverse volhou van toedraai-oopmaak-toedraai was moeilik om te verstaan, maar mettertyd was daar ’n gelatenheid rondom dié ritueel. Stelselmatig het jy saamgegaan daarmee en die behoefte aan vryheid het verdof, soos dit ingesink het in die onbewuste – soos modder in ’n poel water.
Toe jy nog ouer word, toe jy kon praat, het hulle jou altyd laat verstaan dat die vryheid nie goed was nie. Toe jy in die tuin en op die plaas kon rondhardloop, net voor jou bad, het jy gou die kans gebruik om kaal buite rond te hardloop en rond te spring. Dan het dit wat vroeër komies was, omgedraai in dreigemente. Dan mag jy nie “simpel” wees, of “balhorig” nie. Min het jy geweet wat dit beteken – die “bal-horigheid”.
Daai dag toe die doeke afkom en jy geprys word vir hoe mooi groot jy word, het die aanprysing die behoefte aan vryheid verder onderdruk. Jy moes kies tussen die vryheid en ’n roomys. Jou sug vir die een het die ander oorrompel en jy het mooi geleer dat dit nie oor vryheid gegaan het vir hulle nie, maar dat dit oor die mooi mik gegaan het. Nee, nie op die grond nie. Nie langs die wit porseleinbak nie. In hom in.
Toe jy dit ’n paar keer reggekry het, het die doeke verdwyn en is hulle vervang deur ’n lapbroekie.
Jy word mooi geleer: Jy kan ’n broek aantrek, kort of lank, maar altyd onder dit – die lapbroekie. Gou leer jy dis ’n onder-die-broek-broek.
Die wit onderhempie kon jy nog verstaan in die winter, want dit was snoesig teen jou lyf en het die koue wind gekeer. Die broek het dieselfde gedoen, maar wat was die rede vir die onder-die-broek-broek? So, jy het daarteen geskop.
En toe tref dit jou. Daai dag toe julle kerk toe is, na vriende toe is, shopping mall toe is. Die dag dat julle buite en ver van die fasiliteite was en die glips gebeur het. Vir jou was dit hulle skuld, want jy het van die begin af geskop daarteen, maar jy moes altyd daai onderbroek aantrek. As dit nie daarvoor was nie, kon jy net laat gaan en die water kon onder jou kortbroek uitglip. Maar omdat jy in die kerk of by mense was, moes jy ordentlik wees en ’n langbroek aantrek. Jou hande was nog nie so vlytig nie en jou brein was elders besig, so toe dit kom, was dit te laat.
Baie gou het wat eers oulik was, omgedraai in ongeduld en selfs aanval. As jy probeer verduidelik het, is jy stilgemaak. So, jy het geleer om saam met die treitering te leef en hoe om bewus te wees van die drukking wat kom, vóór dit kom, sodat jy betyds kon wees.
Dankie Vader vir die plaasdam. Jy kon duidelik sien hoe die vryheid jou nefies ook geroep het, want die klere het gewaai en julle kon weer loslaat. En die komiese het weer teruggekom as een of ander nefie weer teruggegaan het na sy babajare en laat gaan het in die water. Dit was wonderlik en die lê in die son en bak was geluksalig.
Toe wil die niggies ook kom swem. Skielik moet jy nou ’n costume of ’n kortbroek dra, maar as jy uitklim en dinge hang uit, laat weet die ouer mense jou jy moet maar weer daai onder-die-broek-broek aantrek.
Natuurlik was dit compulsory toe jy skool toe gegaan het. Op hoërskool het jy besef die broekie is nodig, want hy het mooi weggesteek wat jy wou wegsteek toe daai baie mooi meisies in die swemkampioenskappe deelgeneem het. Toe moes jy daai raging elephant in musth sterk onderdruk.
Daarna was jy so gekondisioneer dat dit outomaties gekom het en jy het nooit weer daaroor gedink nie. So, aantrek het jy aangetrek, want jou vrou het dit later sommer namens jou gekoop. Jy het ook geweet watter battles om te fight en watter om te los – veral toe sy eendag vir jou aangedui het jou Speedo lyk ridiculous op jou ouderdom, met jou boep wat begin oorhang. Selfs toe Faf de Klerk die landsvlaggie vertoon het tydens die Rugby World Cup, het jy waaragtig self een gaan koop, want dit was cool. Min wetende dat dit jou net verder en verder weggevat het van die vryheid.
En toe begin almal jou oom noem, en word dit onbetaamlik om selfs ’n kortbroek te dra – never mind om nie iets onder daai broek te dra nie.
Later in jou lewe toe sien jy die herdenking van Bloedrivier, daar waar dit gebeur het. Die mense loop in tradisionele klere rond. Die vrouens kaal bolyf, die mans kaal onderlyf – die vryheid weggesteek agter ’n velletjie van een of ander dier, maar steeds duidelik sigbaar as jy van die kant af kyk, of as hulle rondspring. En hulle knip nie ’n oog nie. Something began to stir that day. Dit kon nie die kaal vroue wees nie, want jy was goed opgebring. Dit was nie die mans wat gewys het en jy het jaloers begin voel nie. But it certainly stirred.
Die laaste knak was toe jy Braveheart weer kort daarna sien. Daai beeld van die Skotte wat hulle kilts oplig vir die Engelse – en jy weet daar is niks onder dit nie.
Net daar besluit jy: Te hel met alles. Jy wil vry wees, soos daai Zoeloes en daai Skotte. En jy bel jou pelle om jou te join.
En daar begin die Onderbroek-rebellie.
Soos baie ander rebellies was dié een ook van korte duur.
Die een het vinnig, maar stil geëindig.
Daai dag toe jy klaar afskud, toe drup jy nog. Jou vrou is nie heel gelukkig nie, maar selfs sy dink dit was net ’n ongeluk. Maar toe hou dit aan, gereeld, en jy besef jy’t hulp nodig. En toe kom die uroloog met die nuus: “Jy sal maar doeke moet dra, want jou kontrole is nie meer so goed nie, en die medikasie sal help – maar nie heeltemal nie.”
That was the day that the rogue elephant bull died and the rebellion dripped to a slow death.


Kommentaar
Oi, die ouderdom ...
https://youtube.com/shorts/RHG0dDMCYNA?si=K-UzMfgHdUzJb4U8
Been there, done that.
Ten-minutes-jy-het-hom-nie-in-die-zip-vasgevang-types, dié rebellie!
Ollie se storie het my aandag gehou en my laat dink. Ek het geglimlag en weer gewonder oor mansmense wat so vreemd is. Die einde het ek nie sien kom nie. En ja, dis waar ons deesdae is.
An entertaining read! I hope to reach 70+ and still create.
Captured so well! Dankie, Ollie Ek dog hierdie rebellie gaan eindig met 'n zip en 'n casualty-besoek! Seuns! Ons is in verskillende onderbroekfases, maar die kleinkinders en die "kaal bassies" wat ons rond jaag na badtyd is net die beste.