Die ompad terug deur Helena Hugo, ’n lesersindruk

  • 0

...
In Die ompad terug keer Janine, nou 22 jaar oud, terug, en dié keer verruil sy weer die Weskus om te gaan nes skrop in Roodepoort saam met haar tante Jessie Scheepers.
...

Titel: Die ompad terug
Skrywer: Helena Hugo
ISBN: 9780796322753
Uitgewer: Lux Verbi

Die ompad terug is die finale volume van ’n trilogie deur Helena Hugo, waarvan die eerste twee volumes Papierblomme (2019) en Onthou my (2020) was. In Papierblomme word Janine voorgestel aan die leser as die weeskind wat deur haar grootouers op ’n klein dorpie langs die Suid-Afrikaanse Weskus grootword. Sy word kultureel as ’n Christen groot, maar vir haar is godsdiens net maar ’n goeie roetine. Sy het geen werklike verhouding met haar God nie, en haar familie se gereformeerde godsdiens dra ook nie juis veel by tot ’n vurige geloofslewe wat die skrywer as ideaal vir Janine stel nie. Janine se pad kruis dan met dié van Greg Walker, ’n Engelse onderwyser by haar skool. Sy word swanger met Greg se kind en dit loop uit op ’n huwelik, waarna sy saam met Greg na Londen in Engeland verhuis. In Londen is die lewe baie swaar in die klein wooneenheid waar die gesin woon. Janine word weer swanger en die huwelik begin skeefloop. Sy maak egter vriende in die Baptistekerk, en bekeer haar tot die Baptiste-geloof. In Onthou my het Janine gevlug uit Londen, terug na haar geliefde Weskus, maar toe begin haar stryd om van Greg te skei. Sy besef ook dat sy weer swanger is, en dit veroorsaak spanning tussen haar en haar ou skoolliefde, Bennie Kowalski, met wie sy die drade probeer optel. Haar ouma en oupa kom dan tot sterwe en Greg daag uiteindelik ietwat voorspelbaar op vanuit Engeland, nadat hy haar erfporsie vermors het. Greg laat ’n spoor van leuens en verwoesting agter hom, maar sy skandes haal om uiteindelik in.

In Die ompad terug keer Janine, nou 22 jaar oud, terug, en dié keer verruil sy weer die Weskus om te gaan nes skrop in Roodepoort saam met haar tante Jessie Scheepers. Waar die eerste volume van die drie boeke ’n redelik sterk storielyn gehad het, wat in die tweede boek reeds ’n bietjie byt verloor het, het ek die finale boek maar ietwat tandeloos gevind. Die storie kombineer elemente soos Janine se pogings om haar drie dogters groot te kry, die frustrasies en vreugdes van ouerskap, haar stryd om van Greg te skei, die langafstandverhouding met Bennie Kowalski oor die telefoon, en die finansiële uitdagings van die lewe van ’n enkelouer, met Jessie wat as die enigste broodwinner die pot aan die kook hou. Hierdie is van die meer interessante elemente in wat andersins maar ’n saai vertelling is.

Om die storie in te kleur verskyn daar ’n nuwe karakter op die toneel in die vorm van ene Werner Hougaard, die eienaar van die meenthuis wat Jessie en Janine in Roodepoort huur. Hougaard is ’n absolute lae lak van ’n karakter. Daar is nie eens ’n krieseltjie nuanse aan hom te bespeur nie. Niks nie. Hy is ’n gewetenlose rokjagter met slegs een doel voor oë, en dit is om vir Janine in te palm op sy lang lys van vroumense wat hy al verower het. Daar is baie stereotipes wat in Werner se karakter na vore kom. Hy is ’n suksesvolle sakeman. Die geld loop by sy ore uit. En hy is verveeld met die lewe. Aantreklike vroue is vir hom ’n lekker uitdaging wat sy lewe ’n bietjie meer interessant maak, en die dag toe Jessie en Janine se geyser breek, het hy ’n voet in die deur van hulle lewens gekry.

Werner oorval vir Janine met blomme en geskenke. Sy voel gevlei, maar Jessie is natuurlik al baie lewenswys en sien van meet af aan regdeur Werner. Werner maak gebruik van die meenthuis se vervalle tuin om ’n skuif te maak. Janine gee toe aan sy uitnodiging vir ’n besoek aan ’n kwekery, wat uitloop op ’n ete. In haar gemoed is Janine nou verdeeld tussen drie mans: Greg, die pa van haar drie dogters; Bennie Kowalski, wat haar skoolliefde is en wat die hoop koester op Janine se terugkeer na die Weskus; en dan Werner Hougaard, die stinkryk sakeman vir wie geld geen probleem in die lewe is nie, maar wat getroud is. Soos die verhaal voortsleep, word Werner egter al meer en meer ’n irritasie vir Janine. Die storie, hoewel oorwegend saai, bou nogal op tot ’n soort klimaks, waar Werner vir Janine nooi na ’n vertoning van Andrew Lloyd Webber se Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat by die Montecasino-teater. Die drama wat daar afspeel, help darem tot ’n mate om die storie so ’n bietjie interessant te maak. Om die storie uiteindelik volkome te ontknoop, word nog ’n klomp karakters onverwags tot die storie toegevoeg, wat as’t ware soos ridders op wit perde verskyn en die hele storie ’n gelukkige einde gee.

Die ompad terug het my ongelukkig so ’n bietjie ambivalent gelaat. Helena Hugo is ’n meesterlike skrywer en storieverteller, maar waar Papierblomme sterk begin en Onthou my ’n gangbare opvolg was, verloor die trilogie ongelukkig vir my so ’n bietjie stoom met Die ompad terug, waarvan selfs die titel vir my iets van die voorspelbare einde weergee. Gelukkig sal nie almal met my saamstem nie. Elkeen is op ’n eie opinie geregtig en ek het weinig twyfel dat vele van Hugo se aanhangers en ander lesers die boek sal verslind en met my sal verskil, veral ook omdat dit geskryf is binne die bepaalde parameters van die karakters se godsdienstige oortuiginge. Die boek sal dus ook waarskynlik met daardie soort leser resoneer. Dat die boek ’n verhaal van hoop is, daarmee gaan ek egter akkoord, en die alledaagse aard van die gebeure in die verhaal bevat wel ook ’n sekere mate van oortuigingskrag, maar die storielyn is saai en die karakters is gans te ongenuanseerd en gestereotipeerd na my smaak.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top