Die olifant en die by

  • 0

Terwyl Thomas tuur oor die mengelmoes aktiwiteite by die perdewedren, besef hy twee dinge: eerstens – Maria gaan nooit na hom terugkeer nie; tweedens – olifante hoort nie werklik hier nie.

Hy sug. Wat het geword van die dae toe hy nog al hakklappend kon huppel deur stowwerige strate, onbewus van sy broeiende obsessie met olifante?

Vir ewig vervloë. Verdoem is hy tot die verdomde versgefok van pagidermiese proporsies:

O, beslurpte beminde,
o, vir flora te vinde,
vir my word jy selde skamer,
mag ek jou nader
in jou tuiste, die sitkamer?

Die gepleegde kwatryne en koeplette se kwaliteit was en is immer irrelevant ... irrolifant? Sien, selfs in lukrake woorde kraak die dik huid selfaankondigend deur. Oral en in alle rigtings – die onnoembare waarheid, die versteekte verklarings wat die olifant verberg, huiwerend om verlossing te trompetter – dié taal verstaan mense tog nie.

Hy sug weer, skud sy kop en vou die koerant oop wat al ure in sy hande sluimer. Hoofberigte help nie. Hier word die olifant se kwalik bedekte teenwoordigheid met ’n paralitiese glimlag verswyg, daar word die dier se bene met kettings onder hom uitgeslaan.

Dan, in ’n hoekie regs onder op ’n bladsy iewers tussen sake en sport, die opskrif: "Bye bied beskerming teen olifante."

Die inleiding: "In kinderverhale is dit die muis wat olifante die skrik op die lyf jaag, maar diep in Afrika  is dit bye wat dorpenaars teen dié oupote beskerm."

’n Opsomming van die berig: Die dorpenaars was moedeloos gesoek na ’n oplossing vir die probleem van olifante in die omtrek wat die landerye vertrap – slegs bestaansboerdery geskied in dié geweste. ’n Interessante verskynsel is opgemerk: weens die sensitiwiteit van hul slurpe en ore is olifante versigtig vir bye. Eintlik méér as versigtig: hulle vermy die swerms ten bykans alle koste. AA Milne was immers nooit genoop om "Winnie the elephant" te skep nie. (In Suid-Afrika, dink hy, is dié moontlike benaming op ’n heel ander vlak van toepassing ...)

’n Blink plan word toe beraam: verskeie byekorwe is geplaas op die heinings wat die landerye omring. Siedaar – die olifante bly toe weg van die landerye.

Die bladsye beef tussen Thomas se vingers. Bye. Byekorwe. Heuning, die teengif. Swerms. Iets steek in die by wat die aanduiding is. Waarom het meneer Marais nooit die siel van die by ondersoek nie? Dit sou tog gehelp het ... Maar bestaan daar parallelle met die mier wat hy dalk kon impliseer? ’n Koningin wat bedien word ... Nee, dit is nie die element van deurslag nie. ’n Magdom dienaars wat hulle soos gedwee skoenmakers by hul enkele lees hou? Ook nie ... Inteendeel, allermins.

Lucidum intervalum – dit is die verkenners. Die boodskapperbye wat núwe hulpbronne vind en met dringende danspassies die ligging daarvan aan hul swermgenote oordra.

Thomas spring op. Die straal van gewaarwording belig sy gesig lugtig-vlugtig, dan, met vastrapplek gevonde, rustig-verlig, tog geesdriftig.

Is volmaakte artikulasie, perfek uitgevoerde passies nodig? Is die ritme aanvanklik essensieel? Nee – eerder die drang as die vind van ’n vesting is die aansteeklikheid wat verkondig moet word.

Hy spring oor die heining en huppel hakklappend doelgerig oor die groen gras. Die feit dat ’n wedren aan die gang is, het hom ontgaan. Een vir een storm die vasberade perde oor sy gevalle liggaam, wat haas leweloos lê ná die dade van die diere.

Hy slaak ’n oorwonne, verminkte sug.

"Merrie, merrie, merrie," fluister-sing hy in sy laaste, sukkelende asemteue, "gently down the stream."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top