
Foto: Canva.com
die oë van ’n boer
vierwiel snorre op ’n tweespoorpad
kollektief gekamoefleer in wit Toyota-bakkies
hou rante, hekke en truspieëltjies dop
in die dorre leuenveld van bemaskering
waar bekommernis wei
oë van ’n boer
wat deur kruishare loer
want daagliks val die vyfspoedskilde vas
in ’n ondeurtrekbare moeras
van plaagadministrasie
van watter kant sal die jakkals kom
watter departement se parasiet
watter aasvoël op parool
in watter kamp
by watter deur
vanaand
die oë van ’n boer
in rooi grond gewortel
in die blou van onse hemel vertak
is van dor kommermodder deurkraak
wat wil jy nog van ons vra, Suid-Afrika
op die lang pad na behoort
hoeveel gate moet gegrawe word
hoeveel asemoffers gebring
voor die spilpunt een kleur water spuit
hoeveel hektaar met beendere beplant
voor almal in dieselfde windry staan
in hierdie haatbesaaide land
Kommentaar
Goeie gedig, Donker Jonker. Jy vergeet egter dat droogte sleg is en te veel reën ook sleg is vir boer.