Donker Jonker is die digtersgedaante van ’n Suid-Afrikaanse skrywer met 5 gepubliseerde boeke, 140 tydskrifartikels en meer as 300 rubriekuitgawes op sy letterkerfstok.
Hy was voorheen ’n aktiewe buitelugmens en avonturier, totdat Hashimoto’s, ’n outo-immuunsiekte, hom in lang periodes van kragteloosheid en depressie gedompel het. Dit het hom na digkuns gelei en sy werk reflekteer dan ook dikwels fasette van sy donker reise met die Swart Hond en verlies.
Hoewel hy verkies om privaat te lewe, vind sy gedigte verdere dimensie in optredes waar hy sy werk voor gehore uitspeel, in wat hy noem “aktiewe woordkuns”. Lg. sluit drie suksesvolle teaterproduksies in, met die bekroonde Mark Graham Wilson as regisseur. Hy waag ook sy hand aan skilder, beeldhou en installasiekuns wanneer die muse aanmeld, en is betrokke by etlike kreatiewe projekte in die skilderagtige Riebeekvallei waar hy woonagtig is.
Volg sy gedigte op sy Facebook-blad, “Donker Jonker”.