Die nuwe oppervlakkigheid en trourokke: 'n requiem
2006

  • 0

In swart of wit getooi,
in 'n stoet of in konvooi,
wonder elkeen hoe lank alles nog sal duur.
En leef holderstebolder,
want die kis wag op die solder.
Die lewe is ’n skadu teen die muur.

- Koos du Plessis

Soms sukkel ek om my gedagtes agtermekaar te kry. Ek wou eintlik twee argumente maak.

Die een is dat ’n mens die “nuwe oppervlakkigheid” deels kan verklaar as die gevolg van die feit dat die sprekers van Afrikaans in Suid-Afrika al hoe minder word. Die taalgemeenskap kwyn as gevolg van die feit dat baie sprekers van die taal emigreer, maar ook omdat die helfte van die sprekers van die taal van kulturele produksie in die taal vervreem is en kies om eerder Engels te word. Siende dat die Afrikaanse media deur een maatskappy gemonopoliseer word, is daar min plek vir diversiteit en eksperimentering. Sulke uitspattighede maak nie geld nie.

Die ander is dat die Afrikaanse kulturele elite hul eie minderwaardigheidsgevoel projekteer as snobisme. Hierdie snobisme word gerig teen werkersklas- en landelike sprekers van Afrikaans. Hulle word gereeld beskryf as “vlak”, “common”, “frikkies”, ens. Om hierdie mense af te kraak laat die elite verhewe voel en gee hulle ’n manier om te verstaan hoekom teater, digkuns, goeie musiek, ens in Afrikaans besig is om tot ’n einde te kom. In hul lamentasies oor die dood van die taal kan hulle iemand blameer.

Ek wou hierdie twee argumente met voorbeelde illustreer om die ekonomiese onderbou van kulturele produksie te belig – dat dit in die finale instansie gaan oor ’n tekort aan skaalbesparings (“economies of scale”). Ons is dus nie anders as ander taalgemeenskappe nie. Ons is net min en word al hoe minder. Sonder staatsondersteuning is daar nie genoeg mense om “nismarkte” en “elitistiese produksies” te regverdig nie. Wie wil nou in die neoliberale era praat oor kruissubsidiëring? Die aandeelhouers sal nie daarvan hou nie.

Maar nou is ek nie meer so seker nie. Dit het alles te doen met te veel Jack Daniels en ’n laataandgesprek in die Steak & Ale langs die treinspoor in Lyttelton. ’n Aantal digters het van hulle verse voorgelees en ek moes sing. Die aand was ’n reusesukses, hoofsaaklik as gevolg van die digters. Ek het met Ronel Nel gesels oor ’n rubriek wat ek in Rapport geskryf het. Ek het min of meer die bogenoemde twee argumente gemaak. Ek het ook beweer dat die Afrikaanse musiekmark deur ’n treinspoor in twee verdeel word – die bodorp, wat na Koos du Plessis luister en wyn drink, en die onderdorp, wat na Bles Bridges luister en brandewyn drink. Die probleem is met die bodorp, omdat hulle nie besef dat die meeste vernuwing in populêre musiek gewoonlik uit die werkersklas kom nie.

Nee, sê sy, dit het niks met klas te doen nie. Sy ken professore, dokters, rekenmeesters wat na Nicholis Louw luister. Hulle weet nie wie is Gert Vlok Nel nie. Hulle wil nie gekonfronteer word met waar ons vandaan kom nie. Hulle wil musiek luister waarop hulle lekker kan dans en kan vergeet van al hulle probleme. Dit gaan oor om te kan vergeet, sê sy. Dis soos die Duitsers na die Holocaust. Udo Jürgens, Heintje, en supervlak televisieshows soos Muzikladen en James Last het gehelp dat hulle om hemelsnaam tog net nie onthou wat hulle nog tien jaar gelede gepleeg het nie. Of ’n terugverlange na iets voor die onskuld vernietig is. Lustig ist das Zigeunerleben ...

Ek besef dat ek heeltemal uit voeling is. My rubriek sê meer oor my eie stereotipiese perspektiewe as wat dit van insig getuig. Ek dink ook aan briewewisseling wat ek lank gelede met Marietjie Luyt op SêNet gehad het oor die sogenaamde Zoid-generasie. Ons het oor Milan Kundera se The book of laughter and forgetting gepraat. Op ’n stadium beland Tamina, ’n karakter in die boek, op ’n eiland vol kinders. Die kinders luister die heeltyd na rockmusiek. Tamina ken nie die liedjies nie en die kinders verkrag haar. Ons lees in die boek:

Schönberg is dead, Ellington is dead, but the guitar is eternal. Stereotyped harmonies, hackneyed melodies, and the beat that gets stronger as it gets duller – that is what’s left of music, the eternity of music. Everyone can come together on the basis of those simple combinations of notes. They are life itself proclaiming its jubilant “Here I am!” No sense of communication is more resonant, more unanimous, than the simple sense of communion with life. It can bring Arab and Jew together, Czech and Russian. Bodies pulsing to a common beat, drunk with the consciousness they exist. No work of Beethoven’s has ever elicited greater collective passion than the constant repetitive throb of the guitar ... The history of music is mortal, but the idiocy of the guitar is eternal. Music in our time has returned to its primordial state, the state after the last issue has been raised and the last theme contemplated – a state that follows history. 1

Rockmusiek maak dat mense kan vergeet, omdat dit slegs oor die ritme gaan. Dis musiek sonder denke. Maar in die kort geskiedenis van Afrikaanse rockmusiek gaan dit beslis nie oor vergeet nie. Johannes Kerkorrel se “Donker donker land”, Koos Kombuis se “Swart September”, en Anton Goosen se “Atlantis” herinner ons aan ons verlede. Dit forseer ons om te onthou.

Dis dalk waarmee mense nou nie meer gekonfronteer wil word nie. Hulle wil ophou hoor van apartheid. Hulle wil ophou hoor van misdaad. Hulle wil van niks meer weet nie. Hulle wil net wees. Die “nuwe oppervlakkigheid” in Afrikaanse musiek gaan dalk minder oor die klein mark en die einde van die taal – dit gaan dalk eerder oor mense wat nou tog net van alles wil vergeet. Hulle wil die geskiedenis tot ’n einde bring. Daar in die bosveld langs ’n vuur. Moenie hier in my ore kom wroeg nie. Ek is gatvol daarvoor. Gee my liefde. Gee my ons mooi land. Gee my die ritme wat my van alles laat vergeet.

Maar as dit dan is waaroor dit gaan, vind ek dit selfs meer ontstellend as die “ekonomiese” argumente wat ek wou maak. Dit beteken ook dat dit die einde van Afrikaanse musiek is.

Ek kyk na Fokofpolisiekar se video van “Dis hemel op die platteland” op MK89. Dis uitstekend. Dis gebou uit ou familiefilms met rukkerige beelde van mense in die tuin, by die braai, in die weermag, op die rugbyveld, onder kerktorings en op die strand. Wat my vanmiddag tref, is die skote van troues. Hoekom vind ek vroue in wit trourokke so ongelooflik hartseer? Maak dit my diep dat dit my so hartseer maak? Vind vlak mense dat vroue in wit trourokke hulle opbeur?

dertig die dag toe hy laaste uit die kerk kom.
vaag in die wete en volop in vermoedens soos confetti.
hoekom so? vra sy vrou, hoekom so donkerder in jou oë.
is my rok dan nie wit nie? en sy lag die vraag die mense in.
mens kan nooit van mense werklik weet nie.
wát weet nie? of hulle groei-of-nut-het-of-goed-is nie?
nee nee nie dit nie, nie noodwendig dít nie.
2

As Afrikaans dan as taal van kulturele produksie gaan uitsterf, is dit ten minste belangrik om dit ’n mooi begrafnis te gee.

 

1. Milan Kundera, The book of laughter and forgetting, Penguin, 1983 (pp 180-181).

2. Gert Vlok Nel, Om te lewe is onnatuurlik, Tafelberg, 1993 (p 36).

 

<< Terug na Oppervlakkigheid-miniseminaar <<

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top