[Waarskuwing: Ek en ’n skrywersvriend het onlangs besluit in hierdie tyd het almal vrye lisensie om ietwat "soppy" te wees. Bloot omdat iets selfs nou al geyk en generies klink, beteken nie dit dra nie waarde nie.]
Treffende beeld #1: ’n Polisiebeampte aan diens wat met ’n skelm uitbundigheid dans.
Dié aangesig word beleef tydens ’n gewag in een van die Kaapstad-stadion se rye vir die geleentheid om ’n worsrol aan te skaf. Die polisiebeampte, in volledige uniform, staan ’n ent weg, met sy rug na my gekeer. Die Bala Brothers is aan’t sing op die groot verhoog: “O Siyeza, O Siyeza, sizofika webaba noma …”
En hy dans, bewapen en in blou geklee, hoewel hy waarskynlik hoop dis ongesiens.
Maar wag, terug na die begin …
Die geleentheid is die amptelike viering in Kaapstad van Nelson Mandela se lewe, ses dae ná sy dood op Donderdag 5 Desember, 2013. Ons daag omstreeks 17:00 op by die stadion, en onmiddellik is dit duidelik niemand is hier om ’n sportwedstryd of ’n popster-vertoning te beleef nie. Vlae, uitrustings, hoede, koerantplakkate in die hande … as ’n mens ’n raaiskoot sou moes waag het tussen dertig- en veertigduisend mense vir die geleentheid opgeruk. Die vreemde teenstryd- en teenspoelgevoel wat wieg tussen rou en viering is nie uniek aan hierdie geleentheid nie en is al telkemale beskryf soos dit elders in die land verskyn het, so laat ons aanbeweeg na die geleentheid.

Net wanneer ons sitplekke vind by vriende in die stadion se Rooi Blok, verskyn Christo Wiese op die verhoog (of minstens, ons raai dit is hy). Hy probeer iets unieks oordra terwyl sommige lede van die skare, wat die stadion reeds teen hierdie tyd betreklik vol sit, ’n Meksikaanse golf probeer aanwakker. Beide pogings misluk.
Wanneer Francois Pienaar oomblikke later bykans ongesiens op die verhoog verskyn, begin hy sy toespraak: “In nineteen sixty-seven …”
Die skare kyk gelyk op en herken hom op die groot skerm. Sy sinsnede word deur ’n lang gejuig onderbreek. Wanneer hy praatkans kry, wys hy (seker voorspelbaar, maar tog treffend) uit hoe sport die vermoë het om die wêreld te verander, hoe Madiba as oud-bokser ’n passie vir sport gehad het en hoe hy sport se potensiaal in die herbou van die land kon raaksien.
“Madiba urged … to keep the Springbok emblem. We became one team, playing for one country. The nation celebrated like never before, in the spirit of ubuntu.” Onder groot applous.
Hy brei verder uit deur die bekendste versreëls uit WE Henley se gedig “Invictus”, ’n gunsteling van Madiba, vir hierdie geleentheid te verbuig: “Madiba mastered his fate. We as a nation must be the captain of his soul.” Nie onmiddellik ontsyferbaar nie, maar ’n effe verwarde applous klink tog op.
Pienaar verlaat die verhoog. Die musiek wat in hierdie stadium tussendeur aangebied word, wyl herhalende fotobeelde van Mandela op die groot skerms vertoon word, is onmerkwaardig genoeg dat ’n deel van die skare hulle daarmee bemoei om byna in ’n lap-of-honour-wyse teen die grense van die bedekte grasgedeelte om te beweeg en die sittendes goedig op te sweep.
Treffende beeld #2: ’n Klein wit dogtertjie op (vermoedelik) haar pa se skouers, midde-in die toyi-toyi, wat op haar eie manier meedoen aan die dans. (Jammer, maar by ’n geleentheid soos hierdie merk ’n mens noodwendig etniese skakerings op, in ag genome hoe anders dit kon uitdraai.)
Marius Fransman lewer ’n toespraak. Dit word met dawerende apatie begroet.
Die skare, in hierdie stadium aangewese op hul eie vermaak en stimulasie, poog weer Meksikaanse golwe. Dit begin goed werk. Báie goed. ’n Energie is asof vanuit nêrens tasbaar in die stadion. Wanneer ’n sangeres wie se naam ek ongelukkig nie kan kry nie, lostrek met ’n ou Brenda Fassie-treffer, is die skare grotendeels op hul voete. Sy verlaat die verhoog kort daarna en die kollektiewe geroep van “We want more!” druis deur die stadion. Helaas is hierdie egter ’n programgedrewe geleentheid.
Die polities-relevante oomblik waaroor talle gespekuleer het, breek aan: Helen Zille verskyn op die verhoog om haar toespraak te lewer. En ja, daar is ’n veraf-uitjouery wat plaasvind – dit is immers ’n viering van dié ANC-ikoon hierdie en, wel, enigeen wat bekend is met Wes-Kaapse politiek sou ’n mate van vyandigheid uit ’n luidrugtige kontingent kon voorspel, veral in ag genome die vorige dag se uitjouery van Zuma in Johannesburg. Zille mors egter g’n tyd nie en bars los in ’n ou struggle-lied, wat ’n saamsingery luider as enige geboe noop. Wanneer sy die lied afsluit met ’n “Viva, Madiba, viva,” is daar, sover ek kan hoor, nie veel stemme wat die tradisionele antwoord van “viva” vervang met ’n “boo” nie. Kapenaars is soms cool.
Ná Zille is dit Botlhale Boikanyo, die jong (ongeveer elf, volgens Google) slam-digter wat 2012 se SA’s Got Talent gewen het, se beurt. Dit is verstommend – soveel so dat ’n vriendin langs my die trane nie kan keer nie. Op ’n meer oortuigende, geanimeerde (luister u, meneer Zuma?) wyse as enige politikus tot dusver voer sy ’n werklik roerende huldeblyk uit. In ag genome Madiba se liefde vir kinders is dit des te meer raak. Sy verdien die enorme applous wat volg op haar gedig ten volle, en ook die talle trane wat ek rondom my opmerk.
Treffende beeld #3: Botlhale Boikanyo met die regtervuis van mag-aan-die-mense in die lug.
Annie Lennox van Eurythmics-faam is volgende. Geklee in ’n langmou, swart hemp met die woorde “HIV Positive” daarop verskyn sy en begin ritmies op ’n trom slaan, vergesel deur ’n bongo-tromspeler. Later sou ek hoor hoe talle mense die vertoning teleurgesteld bespreek. Lennox het ’n ritmiese dog all-over-the-place tirade oor HIV/vigs gelewer wat, om eerlik te wees, uiters neerhalend voorgekom het. Om oor en oor te kletsrym: “She knows her status, she’s been tested, she knows her status, she’s been tested,” is uiteraard ’n belangrike boodskap, maar effe uit plek uit by hierdie geleentheid, veral in die wyse waarop dit aangebied is asof die skare ’n spul laerskoolkinders is. Ag, andere sal moontlik verskil, maar dié enkele “liedjie” voor sy weer van die verhoog af is, is nie juis iets wat grootse herinneringe skep nie.
Trevor Manuel verskyn onder groot toejuiging op die verhoog om sy toespraak te lewer. Soos seker talle ander mense in hierdie stadium wonder ek hoe dinge sou wees as alles … “reg” was vir hom om mettertyd president te kon word. Dit is ongelukkig ’n leë spekulasie.
Treffende beeld #4: Johnny Clegg se naam word geroep en almal verloor inhibisies.

Ons het vermoed Johnny Clegg sou een van die laastes op die vertoningslys wees, maar onverwags word hy as die volgende vertoning verkondig nog voor dit eens donker is. Is daar ’n persoon in die stadion wat dit nié luid en met arms in die lug goedkeur nie? Indien wel, het ek hom of haar beslis nie gesien nie.
Clegg betree die verhoog saam met, wil dit voorkom, al die kore wat by vandag se geleentheid betrek is. “Before I start,” roep hy in ’n kenmerkende swart T-hemp, “I’d like to do some traditional poems.” Die Zoeloe-gedigte wat hy lewer, wakker ’n bykans oordadige euforie onder talle gehoorlede aan. Mettertyd trek hy en die kore wel los met “Asimbonanga” en, meer as in enige oomblik vroeër of later die dag, is daar ’n besliste kollektiewe traan bo ’n kollektiewe, huiwerige, dog onontkenbare uitbundigheid.
Fokkit, nou het ek die video hierbo gekyk met die skryf van die storie en nou, 02:19 die oggend ná die Kaapstadse vieringsdiens, besef ek … sien asseblief die oomblik waar Madiba ingedans kom net voor die drie-minuut-merk. Hou ook in gedagte hoe graag hy spontaan met ménse omgegaan en dikwels ’n veer vir protokol gevoel het in hierdie opsig. Maak uself bewus van hoe hy ná Clegg se vertoning in die video die mikrofoon ontvang en stel: “Well … it is music, and it is dancing, that makes me at peace with the world, and at peace with myself”. Dink u in u hoor u dieselfde lied tussen tienduisende andere wat óók akuut besef daardie gebaardansie sal nie weer gesien word nie. ’n Mens wag so half daarop, maar dit gebeur nie, en dit sal nie.
Freshlyground was ook daar en Ladysmith Black Mambazo ook en dit was lekker en so. Ek’s nou te terneergedruk om uit te brei.
Treffende beeld #5:

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

