Dis nou weer winter en koud, en ek dink weer daaraan ...
Dit moes in 1965 of daar rond gewees het en in dit was beslis in Juliemaand, wanneer die Karoo op sy koudste is. Ek was nog bloedjonk, nog nie twintig nie.
Ek gooi duim van Pretoria af na Oos-Londen. Geld het ek nie en ook nie bagasie nie, net die klere wat ek aanhet. Dis 'n langbroek, hemp en skoolbaadjie. In Bloemfontein laai mense my af en sê nog ek kan daar vir hulle wag, hulle gaan net kuier dan ry hulle verder. Maar ek is haastig, ek wil vinnig vorder. 'n Ou oom en tannie hou stil. Hulle gaan eintlik Port Elizabeth toe, maar ek besluit om in te klim, ek sal dan van Cradock af oor Tarkastad na Queenstown duimgooi.
Die oom ry stadig. Hulle luister radio, op 'n stadium luister hulle na die Durban-July. Dis al laatmiddag toe hulle my naby Cradock aflaai waar die pad na Tarkastad afdraai. Ek kry gou weer daar 'n geleentheid, maar net tot in Tarka. Dit begin al donker word toe ons daar aankom en ek besef ek sal 'n plan moet maak, dit raak koud.
Agter 'n paar besighede sit 'n middeljarige swart man by 'n konka vuur. Daar is ook 'n aantal jonges. Toe ek hom vra of ek ook die nag daar kan sit, vra hy my watter skool se baadjie ek aanhet. Toe ek sê "Hoërskool Grens" is dit asof hy skielik onvriendelik raak en hy weier dat ek daar bly, hy jaag my summier weg. Miskien was daar destyds moeilikheid met die regering, ek weet nie, ek was maar onkundig.
Nou moet ek maar loop, ek hoop as ek aanhou loop sal ek warm bly. Dis donker en daar ry nie karre daarlangs nie. Ek is al uit die dorp uit. Ek loop onder sterlig en kan nie die grondpad en veld goed sien nie. Daar word aan die pad gewerk, op 'n plek is daar 'n verlegging. Dit is nou al bitter koud en ek besef ek is in die moeilikheid. Op 'n stadium kom ek op 'n paar donkies af, maar dit sal ook nie help om op een van hulle te probeer ry nie.
Dan kom daar 'n kar vinnig nader, sy helder ligte skyn op my, die pad en veld. Hulle hou stil en laai my gelukkig op. Dis 'n jong man en sy vrou, hulle was by 'n troue op Cradock. Hy bly op Queenstown, maar was net 'n jaar of twee tevore nog op skool in Oos-Londen, Selborne as ek reg onthou. Hy het my Grens skoolbaadjie erken, hulle het soms teen ons rugby gespeel.
Die nag slaap ek toe by hulle, die volgende oggend gee die bediende my 'n lekker ontbyt en ek is vort. Ek het hom nie weer gesien nie, hulle was toe al werk toe.
As hulle my nie daardie nag opgelaai het nie, was ek dood van verkluiming in die koue Karoonag.
Dit was 'n lewensles, mens moet behoorlik voorsiening maak vir alles voor jy die lang pad vat.
Groete,
Tiens


Kommentaar
Tiens dit laat my aan 'n broer van my dink. Hy het destyds met 'n lugmaguniform geryloop en was trots op die feit dat hy vinnig en kosteloos groot afstande kon aflê, totdat hy een aand by Hopetown afgelaai is. Later het hy ten einde raad na albei kante toe 'gehike' maar geluk was die nag nie aan sy kant nie!
Dis ook nie van gister af dat mense op hierdie wyse in die moeilikheid beland nie. Het gelees van mense wat goedere met ossewaens vervoer het en in die Swartbergpas moes oornag. Dit is doodsake vir mense met net somersklere aan as hulle nie hout vir vuurmaak beskikbaar het nie. Die oplossing vandag is plastieksakke. Het nie berg geklim as daar nie twee groot plastieksakke tot elkeen se beskikking was nie. Met 'n gat in die een sak se boom oor jou kop getrek, word die tweede een soos 'n broek aangetrek en albei om jou middel toegevou. Die ergste sneeustorm kan dan sonder probleme oorleef word.
Pragtig! Mens is nooit voorbereid vir lang pad van die lewe nie. Daar is 'n Karoonag in ons almal se bestaan ... Klim in en hou jou optelkind van die verlede vas ... Want die nag is donker en koud, maar einde nog nie in sig nie.