na Ingrid Jonker
die myner is nie dood nie.
die myner lig sy kapmes teen die siek kaptein
wat kapitalisme skreeu skreeu die stank van gebrek
aan 'n rand in die plakkerskamp afgesper van die heer se genade.
die myner lig sy knopkierie teen sy baas
in die opmars van die werkersklas
wat fokkol het om te verloor en daarom ongeregtigheid skreeu
skreeu die vrank reuk van vars bloed en stof
in die voetpaaie van 'n finale vernedering.
die myner is nie dood nie
nóg by Lonmin nóg by Marikana
nóg by Impala nóg by Noordwes
nóg by die koppie langs die platinummyn
waar hy bewegingloos op die aarde lê met polieskoeëls deur sy brein,
die aarde wat hy nooit ooit weer vir 'n Meester sal myn.
die myner is nie die skaduwee van polisiemanne
gewapen met traanrook en waterkanonne nie
die myner is die onbemande skag in die President se gehaaste retoriek
die myner beur deur die rotsboorgate in die harte van die nagelate
die myner wat net nou en dan wou leef in die Rustenburgse son is oral
die myner wat 'n mens geword het staak moedswillig onwettig
die myner wat die land geword het storm deur die ganse Al
sonder verlof.


Kommentaar
Onmin op Lonmin geskilder Om te lewe is om te weet van woorde kleure en gebeure. Partykeer verdroog woorde soos tjammas afgesny in die woestyn en laat lê; gebeure lewe dan in kleure. Die vloei van stomende rooi vanuit die wit en oker klowe af, af, af verby die groen groei van doringbome links tot by die veertien bloed bevlekte stewels in ’n ry netjies in die driehoek groot en gesond tot by die muis klein skaduwee ingebrand in die wit sink toilet regs. Agter, die pers lug bloei al jare rooi. Agter die sewe skieters grys-blou dalk nie die vrugbaarheid van water - maar dit kan nuwe groter lewe baar. Driehoek se punt lê in die toilet waarheen die rooi met skurende voete stroom - ontmensliking is ’n moderne ontspanning in hoë definisie soos televisie. ( Frank Wright Kopiereg voorbehou)
Wat het geword van die nuwe Suid-Afrika waar ons almal 'n kans sou hê op beter dinge en 'n beter lewe? Ja, ons weet almal van die haat en die woede waarmee die grootste gros Afrikaners grootgeword het - en 'n hele spul daarvan IS wit; maar ons het dan so oorweldigend gestem vir beter!!!! Hoe gebeur dit dan dat beter net vir die nuwe bevooregte agtergeblewendes waar geword het - en dat die wat sg. nooit gehad het nie, nou nog minder het?
Onthou julle die kinderrympie "Jakkals en Gansie"? Wel, daardie gansie was baie slimmer as die van vandag. Vanaf 1994 bly hulle langs die etenstafel inskuif en word net al hoe hongerder!!!!!!!!!!