
Foto: Canva.com
Die mure maak sin
Binne die vier mure van my huis
hoor stoele as die son spikkels lag ínskater
voel banke as nag nikssêwoorde úitblaker.
Veilig, maak ek my hier tuis.
Bokant die vaste fondasie van my huis
ruik vensters eerste die somerreënstorm
proe pilare die wegwyserwoorde wat vorm.
Verlig, weet ek die’s mý huis.
Here, my wêreldwoonbuurt is wreed –
maak doof my ore vir brandnetelwoorde
maak stom my tong vir snedige snylyne.
Strek vandag weer wyd uit U waterdigvlerke
sodat ek veilig en vreesloos en vasberade
my veilige vesting tyd’lik, selfs ewig kan verlaat.


Kommentaar
Ongelooflike verwoord!!
Puik!