Die mooiste geluid in die wêreld

  • 4

Foto van padda: Pixabay.com

Singende paddas word amptelik erken as die mooiste geluid in die wêreld. Die geluid van paddas wat in ’n moeras sing, neem my oombliklik terug na Kasanka in Zambië. Daar het ek seker die wonderlikste, rykste opname van wemelende lewe ooit ervaar. Nog nooit het ek ’n paddakoor beleef soos daar nie. Die gevoel van die natuur wat ten volle leef, vol passie en opwinding, met paddas “singing in the rain”, was oorverdowend.

Net soos met voëls is daar die vraag: Hoekom sing paddas? Wie doen die singery, waaroor gaan die singery, wie luister, wat beteken die liedjies wat hulle sing en dan ook, wanneer sing hulle? Dit laat my dink aan die liedjie van die padda wat wil gaan opsit met sy nooi in die vlei (mejuffrou Muis), ahum ... maar ’n opsitkers teen ’n sent per uur is toe net te duur, ahum, ahum, ahum. Die meeste paddas wag nie vir ’n vuurvlieg nie en is gladde kalante, veral wanneer dit kom by hofmaking tydens broeityd. As hulle “romantiese” geluide begin maak, is dit nie te lank voor die wyfies aangetrokke word tot die mannetjies en die vlei ewe skielik met ’n nuwe voorraad babapaddas sit nie.

’n Padda sing om een rede: want hy wil “pangelang”. Dit is hoe eenvoudig dit is. Hy wil sy gene oordra na die volgende geslag. Gewoonlik is dit die mannetjie wat die roepwerk doen tydens broeityd, en dink julleself die chaos in wanneer almal by dieselfde vlei opdaag. Natuurlik moet die lyne warm gebel word om die dames te laat weet hulle het gearriveer, vandaar genoem ’n kakofonie van klank. Dit gebeur nie by alle paddaspesies nie, maar by sommiges gee die dames partykeer ’n antwoord. Seker maar wanneer sy die perfekte metgesel ontmoet vir ’n romantiese aandjie uit.

Die liedjies wat hulle sing, is in die daaglikse paddabestaan bekend as advertensie-oproepe om vroue na die toonvensters te lok. Die hoë "piep, piep"-oproep sal byvoorbeeld deur ’n jongman geuiter word wie se stem nog aan die breek is en wat nog nie geleer het om skuim te piepie nie. By ’n ander spesie kan dit wees dat daai spesifieke klank uitgebasuin word om die wyfie in die mannetjie se rigting te laat hop of dalk haar borsslaghale op die proef te stel. Sekere oproepe is beslis spesiespesifiek sodat daar nie dalk ’n Babelse verwarring kan ontstaan nie. By ’n ander kan ’n “tril-oproep” ’n sein wees aan ’n mededinger dat hy besig is om sy spasie binne te dring. Net soos in ons samelewing is dit duidelik dat sommige van die dames hou van luidrugtige mans en ander weer van metgeselle wat meer besadig is. Party mans praat vinnig en ander stadiger soos dit hulle status betaam, maar een ding staan soos ’n paal bo water: Hulle boodskap moet uit en dit is dat hulle op soek is na net ’n bietjie liefde.

Lente is mos die tyd vir romanse en dan is dit heel gepas dat vreugdevure hoog brand tydens die seisoen van liefde. Nog te meer wanneer ’n reënbuitjie of twee die grondreuke laat opslaan en almal buitentoe beur om die oomblik te benut. Dit is dan wanneer daar ’n vreemde, aangename harmonie van fluite, tjirpe, ratels en klapgeluide ontstaan. Ons noem dit in die volksmond ’n paddakoor. Dit is ook tydens die vreugdevolle tye dat jy paddas sal sien afsit na ’n broeipoel toe – dis nou te sê as daar oral so iets is. Party word deur die reën geprikkel om onder uit hul oorwintering-“sandgraf” te kom vir ’n bietjie liefde onder die maanlig. Wat nie baie vreemd is nie, is dat die meeste van die “liefdesverklarings” in die nag gebeur, so ons het iets gemeen met paddas.

As dit ’n vlei was, sou die mannetjies hulself soos 'n koor op die verhoog rondom die broeiplek rangskik het vir ’n lekker saamsing. Tegnies gesproke word die liedjies en oproepe gegenereer deur lug uit hul longe wat hul stembande in die larinks vibreer. Die gevolglike klanke word versterk in opblaasbare sakkies in die mond en keel wat soos luidsprekers funksioneer, en natuurlik moet hulle mond en neus mos toebly vir lug om die sakkies te vul. Nogal ’n heel interessante stukkie nuuswaardigheid, maar eintlik is hulle letterlik besig om hulle longe uit te sing. Daar moet natuurlik ’n voorsanger ook wees, en dié eer gaan aan die een wat die hardste van almal kan sing. Hy gee die intreenote en die ander val dan in met blye galme. Sodra die voorsanger stilbly is die res ook stil en sal ook enige ander geluid wat harder as die voorsanger s’n is, onmiddellik die “big cohoro” en die res van die koor vir ’n oomblik verstom laat stilbly. Terwyl die koor aan ’t oefen is, verskyn daar gereeld ’n dame uit die gehoor uit om vir haar ’n metgesel vir die aand te kom opeis en gewoonlik is dit die een wat langer of harder as sy mededingers sing.

Vir mense klink paddas se luidrugtige sang soos ’n slaapveroorsakende melodie, maar vir die paddas is dit die tyd waar ’n jonge heer die kans het om sy “vet”-gene deur die wyfie aan die nageslag oor te dra. Wat verstommend is, is dat die wyfie die lied van 'n mannetjie van haar eie unieke soort onfeilbaar kan uitken tussen die singende paddas in ’n amfibiekoor. Haar metgesel vir die aand sal haar dan van agter in ’n liefdevolle omhelsing genaamd ampleksus vasdruk en dan sy spermselletjies baie versigtig op die eiertjies wat sy uitskei, neersit. Uit die eiers ontwikkel daar paddavissies wat soos klein vissies in die water swem, aangedryf deur hul sterte en wat deur kiewe asemhaal. Met tyd ontwikkel die paddavissies ledemate, longe en kake, en ongeveer 90 dae later is hul sterte weg en met ’n stewige ruggraat en ’n gladde vel vol kliere kom hulle as volwaardige paddas uit die water.

En dan sing hulle.

Hier in die sandveld van die Weskus kan daar partykeer ’n boggherop ook kom. Met reën aan die skaars kant moet padda se kind regstaan die oomblik wat die barometriese druk verander en daar duidelikheid kom dat dit gaan reën en moet hulle begin sing. Omdat paddas wyd en syd versprei is, moet die ouens ekstra hard roep en sing om hul stemme te laat hoor, want hier is water die coolste ding denkbaar. Jy moet jou “eiers” so gou moontlik in die water kry. Ek dink dat Weskus-paddas se liedere soos opgeblase profiele op ’n dating website is, want hulle moet adverteer. “Hier is ek! Ek is groot! My gene is uitstekend!” As 'n wyfie hierdie oproep van haar spesie hoor, sal sy in daardie rigting spring en dis hier waar die boggherop kan kom. Met dié dat die mannetjie 'n wyfie voor hom aanvoel en hy haar 'n lang ampleksusdrukkie van agter af gee om sy pakkie gene te probeer oordra, kan die wyfie besef dat sy deur die verkeerde padda omhels word. Sy sal 'n oproep skree wat sê: “Oeps! Verkeerde padda. Laat my gaan!” Dit het ook al gebeur dat ’n jong mannetjie deur 'n ander mannetjie omhels word en dan los daai padda gewoonlik ’n vreeslike “Los my!”-knoop-oproep.

Trek ’n slag jou waterstewels aan, vat ’n flitslig en gaan vir ’n wandeling in ’n poel of dammetjie. Dit verg baie geduld, en as jy stil genoeg is, val die eer jou dalk te beurt. Op ’n reënerige aand is jou kanse dalk groter en sien jy die paddas rondhop agter insekte of ander paddas aan. Daar is een reël en dis stilte, en jy moet lig trap, want die geringste steuring gaan hul deuntjie stop. Op die verhoog staan daar in hoofletters: “Stilte op die stel.” Dit gaan egter gelukkig nie te lank neem voor hulle weer begin klets nie, want ’n parra is gemaak vir liefde ...

Dis die lekkerte van paddas. Ons sal die grootste deel van ons lewens teen 100 kilometer per uur voortsnel op die hoofweë van ons alledaagse bestaan en nie ’n koekieng kloe hê van wat om ons aangaan nie. Die lente bied ons die kans om na die natuur te luister – om die toevallige sinkronisering van die paddasimfonieë aan te hoor en te kan onderskei tussen “kies my” en “los my”. Dit is wat alles te vinde is op die dun, wemelende grens van ons as mens se strewe na die oorlewing van ons siel. Is dit toeval of werklikheid? As ons nie meer die paddas se sang, die mooiste geluid in die wêreld, kan hoor nie, is ons dood. So asseblief paddas, sing voort.

  • 4

Kommentaar

  • Puik, Jacques, Heerlik gelees en in my geestesoor geluister na jou paddakoor.

    Jy skilder mos met woorde net soos jou Ma met haar verfkwasse gedoen het. Beide prente verskaf ware genot. Baie Dankie ou Vriend!!

  • Avatar
    Adele Le Roux

    Wat 'n wonderlike verbeeldingsvlug! Hierdie vat my terug na Laurika Rauch wat sing: 'Daar's musiek orals om ons heen en al wat ons moet doen is om te luister... somtyds die ore spits...'

  • Avatar
    Maryna Viljoen

    Ja-nee Jacques, jy kan toor met die pen. Doe so voort. Ek het my ook ingeleef en in die voorste gestoeltes gesit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top