Oor hoe en wanneer taal ontstaan het, is daar al baie boeke geskryf. En ook oor hoe oud spesifieke tale is. Op ’n vraag oor byvoorbeeld hoe oud Afrikaans is, maan Prins (1938:16) dat ’n taal nie “soos ’n lewende wese op ’n bepaalde dag en uur gebore (word) nie”. Om hierdie rede “kan die ontstaansdatum slegs as ’n breë tydstrook gesien en enkel by benadering bepaal word. Ons kan hoogstens ’n ontstaanperiode aangee.” Dit is ’n terrein wat oor die jare baie aandag in taalkundige studie gekry het. Dit is ook nie vreemd nie. Mense wil gewoon weet waar hulle vandaan kom, en dit geld ook vir die tale wat mense praat. Ook in ander vakgebiede kom hierdie soort vrae ter sprake. In die antropologie en argeologie wil die mens byvoorbeeld weet in watter omstandighede ons voorouers gelewe het. Deur watter fases het ons gegaan om te kom waar ons vandag is? Op grond van grondige navorsing oor ’n lang tyd is dit moontlik om antwoorde op sommige van hierdie herkomsvrae te gee. Presiese antwoorde is helaas nie altyd moontlik nie.
Dit geld ook taal. As taalkundiges (of as belangstellendes in aspekte van taal) wil ons weet hoe dit gebeur het dat wat ons vandag “taal” noem, gevorm is en ontwikkel het. In watter mate is die teorie oor die “toring van Babel” waar? Het die mense aan die begin (werklik) net één taal gepraat? Indien wel, wat sou daardie taal gewees het? Wanneer is die eerste taal gepraat, en deur wie is dit gepraat? Waar is daardie tale gepraat? Hoe en wanneer is daar begin om tale van mekaar te onderskei? Watter kriteria is gebruik om tale van mekaar te onderskei? Wat het daartoe gelei dat tale ontwikkel het tot die duidelik onderskeibare tale van vandag? Hoeveel tale is daar vandag en hoeveel sprekers het hierdie tale? Hoekom gaan tale soms tot niet? Afgesien hiervan is daar nog baie ander vrae om te vra.
Comrie e.a. (2010:10) sê dat dit nie altyd moontlik is om antwoorde op hierdie soort vrae te kry nie. Dit kan selfs gebeur dat geen antwoord óóit kom oor die ontwikkeling van tale nie, want “no linguists were around to observe human origins”. Niks keer ons egter om aan te hou probeer nie. Dit lê in ons menslike aard om meer te wil weet.
Whitman (1819–1892; http://www.bartleby.com/229/5009.html) se beskrywing van wat taal is, is hier gepas as vertrekpunt:
Language, be it remember’d, is not an abstract construction of the learn’d, or of dictionary-makers, but it is something arising out of the work, needs, ties, joys, affections, tastes, of long generations of humanity, and has its bases broad and low, close to the ground. Its final decisions are made by the masses, people nearest the concrete, having most to do with actual land and sea. It impermeates all, the Past as well as the Present, and is the greatest triumph of human intellect.
View’d freely, the English language is the accretion and growth of every dialect, race, and range of time, and it is both the free and compacted composition of all. From this point of view, it stands for Languag in the largest sense, and is really the greatest of studies. It involves so much; is indeed a sort of universal; absorber, combiner and conquerer.
Hier word probeer om die deur op hierdie stuk deurleefde geskiedenis op ‘n skrefie oop te maak sodat gesien kan word dat taal nie sommer net ontstaan het nie. Nee, lank voordat daar rekords was van taal en die gebruik van taal (in watter vorm ook al), was daar alreeds mense wat met mekaar probeer kommunikeer het. Volgens Janson (2003:1–10; 2011) kan daar met sekerheid gesê word dat taal vir minstens 5 000 jaar al bestaan, omdat daar toe al aanduidings gekry is van geskrewe taal. Janson (2003:1–4) verwys na die Bybelboek Genesis, waarin aangedui word hoe Adam name aan sake gegee het. Selfs die feit dat God gesê het: “Laat daar lig wees” is vir sommige ondersoekers ’n aanduiding dat taal reeds van die begin af daar was.
Die aanname is wel dat daar voor hierdie tyd ook reeds tale bestaan het, maar oor die presiese aard en die ontstaan daarvan is daar nie sekerheid nie. Daar is nie direkte bewyse daarvan nie, maar ander gegewens en die resultate van ander ondersoeke, soos van argeoloë, dui daarop. So toon argeologiese bewysmateriaal aan dat daar al vir bykans 40 000 jaar tale met grammatikas en woordeskatte, ooreenstemmend aan vandag se tale, bestaan. Gewoon die apparaat (werksgereedskap) wat vroeër ingespan is om take verrig te kry en die kulturele gebruike wat al bewys kan word, is aanduidings dat tale dan al sou bestaan het, want as mense dit al kon skep, kon hulle sekerlik ook via die een of ander vorm van taal gekommunikeer het.
McWhorter (2003:9) voer selfs aan dat die feite tot ons beskikking daarop dui dat die eerste menslike taal al ruweg 150 000 jaar gelede in Oos-Afrika gebruik is en dat tale daarvandaan verder versprei het na Asië, Europa, Australië, Amerika, ens. In hierdie proses het tale verskille ontwikkel en ander het weer nader aan mekaar begin staan. McWhorter (2003:10) sê dat die storie van hoe uit een taal (reeds ‘n aanname!) meer as 6 000 tale ontwikkel het, ‘n boeiende verhaal is. Bevindings van ‘n velerlei aard (uit die geskiedenis van die mens, geografie, argeologie, sosiologie, ens) word betrek om antwoorde te help gee. Daar is dus nie net één verhaal van hoe taal ontwikkel het nie, maar verskeie invalshoeke daarop. Dediu en Levinson (2013) dui byvoorbeeld aan dat dit selfs moontlik is dat die Neandertalmense ongeveer een miljoen jaar gelede wel al ’n vorm van spraak gehad het en dat dit die aanvangsdatum van taal sou kon wees.
Oor alle vrae oor taal het ons dus nog lank nie antwoorde nie. Van Oostendorp (2013c) meen dat ons ons hier bevind “op het terrein van speculatie waar het misschien wel altijd onmogelijk zal zijn met harde bewijzen te komen”. Dit keer die mens egter nie om aan te hou soek na die ontwykende antwoorde op vrae nie. Taal is naamlik deel van die ontwikkeling van die mensdom en ‘n besinning oor taal as deel van hierdie geskiedenis, is daarom logies.
Die aandui van benaderings oor taal is ook nie so eenvoudig nie. Hierdie kant van die verhaal het soveel maniere van aanpak dat dit moeilik is om een deurlopende draad te kry wat almal tevrede sal stel. Kenners verskil voortdurend van mekaar oor vertrekpunte, metodes, die uitkomste van ondersoeke, ens. en pas ook hulle sienings aan soos meer feite en insigte aan die lig kom. Wat ons vandag as belangrike sake beskou, kan oor 200 jaar van nou af van minder belang wees omdat ons nuwe inligting gekry het of moontlik selfs meer insig ontwikkel het in die problematiek van die mens.
Ons kennis neem daarom toe soos ons navorsing doen oor alles wat verband hou met die mens. Ons kry ook nie noodwendig altyd antwoorde op die vrae wat ons stel nie. Dit verhinder ons egter nie om aan te hou om te soek nie. Dit is in die aard van die mens om meer te wil weet van sy herkoms. In die soektog na byvoorbeeld wanneer die eerste uiting gemaak is, het baie mense al baie tyd afgestaan oor baie jare, maar nog steeds is die resultate “not impressive” (aldus Janson 2003:3). Dus: nie sinvolle antwoorde nie, maar ons hou steeds aan met ondersoeke daaroor.
In die loop van die ontwikkeling van die mensdom het daar so byvoorbeeld ‘n verskeidenheid skryfstelsels tot stand gekom wat die mens weer in staat gestel het om beter te kommunikeer via die vaslegging van skrif. Ook hieroor is daar al baie navorsing gedoen en baie indrukwekkende boeke geskryf. Ten spyte hiervan is daar nog steeds gapings in ons kennis hieroor. Ons hou egter aan om te soek. Daar is steeds onsekerheid oor presies wanneer skrif sou ontstaan het. Sommige mense sê dit is 5 000 jaar gelede, ander weer dat dit langer terug is. In 2001 is in Beeld (22 Maart 2001) berig dat die 5 000ste herdenking van die ontstaan van skrif in Irak gevier is. Hiervolgens word dit teruggevoer na die antieke stad Uruk, 260 km suidwes van Bagdad, toe in die Sumeriese samelewing kleitablette met spykerskrif gebruik is. Ander wetenskaplikes voer weer aan dat hiërogliewe in Egipte die oudste vorm van skrif was, so tussen 3 300 en 3 200 vC. Dit is net om weer te illustreer dat presiese antwoorde op vrae nie altyd gevind word nie.
Taal het gevolglik ‘n lang geskiedenis, van die verre, verre verlede tot waar ons vandag is en waar ons oor 100 of 200 jaar kan wees. Taal het met ander woorde duidelik ‘n verlede (waar dit vandaan kom), ‘n hede (waar dit nou is) en ‘n toekoms (waarheen dit op pad is). Tale kom en gaan soos mense kom en gaan. Ander tale word groter en sterker. Ander kwyn weer stilletjies weg. Op ‘n dag is die laaste spreker van ‘n taal dood en dan is daardie taal ook heel waarskynlik tot niet. Dit is gevolglik so dat die geskiedenis van taal nou verweef is met die geskiedenis van die ontwikkeling van die mens, want wat met mense gebeur (individueel en as groep), het beslis te maak met die tale wat hulle praat. As ‘n groep mense verdwyn of by ‘n ander groep geassimileer word (om watter rede ook al), sal die taal van die betrokke groep onvermydelik ook geraak word en heel moontlik mettertyd verdwyn.
Oor die eeue het mense (= die sprekers van tale) probeer om taal te bestudeer ten einde meer insig in die mens en sy unieke manier van kommunikasie (gesproke en geskrewe taal) te kry. Reeds die bespreking hiervan illustreer die pogings van die mens om beter ingelig te word oor die middel waarmee tussen mense gekommunikeer word. Ons gebruik naamlik taal (klanke, woorde en strukture) om ons te uit te druk oor ons daaglikse omgaan met mense (ons verhoudinge); die uitdruk van ons behoeftes, drome en wense; die waarneming van sake om ons; die gee van opdragte, ens. Ons wêreld om ons bestaan in en deur taal, in die besonder dan in ons moedertaal, maar ook deur ons kennis van ander tale.
Geneem uit hoofstuk 1 van die boek Die storie van Afrikaans: van Europa tot Afrika deur WAM Carstens en EH Raidt (2014).
Bronnelys
Comrie, B. (ed.). 2010 (2nd ed.). The World’s Major Languages. Londen: Routledge.
Dediu, D. & S.C. Levinson 2013. On the antiquity of language: the reinterpretation of Neandertal linguistic capacities and its consequences. Frontiers in Psychology 4 (397): 1-17. www.frontiersin.org
Janson, T. 2003. Speak. A short history of linguistics. Oxford: Oxford University Press.
Janson, T. 2011. The History of Languages. An introduction. Oxford: Oxford University Press.
Prins, P. 1938. Hoe oud is Afrikaans? Die Huisgenoot, 26 Aug. 1938, bl. 16.
McWhorter, J.H. 2003. The power of Babel. New York: Random House/Perennial.
Van Oostendorp, M. 2013. Anders dan tot nu toe werd aangenomen. http://nederl.blogspot.nl Bydrae van 13 Julie 2013.
Whitman, W. (1819-1892. Slang in America. http://www.bartleby.com/229/5009.html/)
Lees ook Willem Fransman se bydrae oor Moedertaaldag.
Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.