Die mites en die werklikheid oor die ouderdom van die aarde

  • 14

Ek het hier teen die einde van Oktober iewers, ’n klip in die bos gegooi met ’n bydrae oor die Bybelse ouderdom van die aarde. Daarin het ek aangedui hoe teoloë en sommige Gelowiges die ouderdom van die aarde probeer bereken deur die Bybel te gebruik. Die reaksie was  interessant en ek som kortliks enkeles op voor ek by die werklikheid kom. (Ala — Richard Dawkins-styl met sy Magic of Reality — Dankie, Thomas vir die aanbeveling destyds)

  • Kobus de Klerk redeneer dat die inligting in die Bybel te vaag en onvolledig is en beweer dat daar ’n verskil tussen die duur en aard van die eerste vier skeppingsdae en die daaropvolgende twee was. Die eerste vier dae se lengte is volgens hom onbekend en derhalwe is sodanige berekenings wat uit die Bybel gemaak word, nie moontlik nie. Hy bevraagteken ook die kwessie van jaarlengtes wat in die Bybel gebruik word. Hy beskuldig my voorts dat ek nietighede aangryp in ’n poging om Gelowiges te verdeel. Dit is terloops sommer ’n kwaadwillige aantyging.

Hy het nie ’n mening gegee oor die ouderdom van die aarde nie maar dit kom vir my voor asof hy dit nie eens is met die sg jongaarde-aanhangers en die 47% Amerikaanse Gelowiges wat glo dat die aarde tussen 6 000 en 10 000 jaar oud is nie. 

Louis Rudolph ondersteun weer die ± 6 000 jr sogenaamde Bybelse ouderdom en verskil van Kobus oor sy vertolking van die term ‘dag’ in die Bybel. Hy maak voorts daarop aanspraak dat dinosourusse wel saam met die mense op die aarde geleef het. Ek verstaan ongelukkig nie sy uitleg oor die sigbaarheid van die sterre wat verder as 6 000 ligjaar van die son af is, indien die sterre dan na die aarde geskep sou wees nie.

Nou wat is die werklike feite?

Wetenskaplikes is dit eensgesind oor die ouderdom van die aarde wat op ± 4.6 miljard jaar gestel word en wat o a  gebaseer is op noukeurige eksperimente met rotsmonsters wat teen ’n konstante koers van die oorspronklike elemente tot dogter-elemente verval.

Aanvanklik was die lengte van ’n dag op die aarde aansienlik korter as wat tans die geval is (23 uur en 56 minute en 4 sekondes). Die aarde se rotasiespoed het oor miljoene jare beduidend afgeneem, hoofsaaklik as gevolg van die maan aangedrewe effek van getye op die oseane van die aarde. Bewyse in fossiele van korale wat tydens hulle leeftyd ‘groeimerke’ nalaat tydens getye — iets soortgelyk aan boomringe — en ontledings van rekords van sons- en maansverduisterings, bevestig ook dat die daglengte 3 tot 4 miljard jaar gelede maar tussen 12 tot 16 uur was. 

In die tweede helfte van die twintigste eeu is die daglengte vir die eerste keer met behulp van uiters akkurate atoomhorlosies gemeet wat aangedui het dat dit tans met 0.0017  sekondes per eeu toeneem. Dit beteken 17 sekondes elke tien duisend eeue of dan elke 1 miljoen jaar. As die aarde dus 4 600 miljoen jaar oud is en die daglengte konstant met 17 sekondes elke miljoen jaar toegeneem het a g v die afname in rotasiespoed, dan moes die lengte van die dag oor dié tydperk toegeneem met (4 600 x 17) sekondes. Dit is meer as 21 uur.  Dit is egter m i  hoogs onwaarskynlik omdat die lengte van ’n dag dan aanvanklik minder as 4 ure sou moes wees. Die afleiding is dus dat die afname in rotasiespoed nie konstant is nie en dat die rotasie aanvanklik dalk maar teen 1 sekonde of daarrond elke miljoen jaar afgeneem het teenoor die 17 sekondes tans.

Die bepaling van die jaarlengte, gebaseer op die tropiese jaar, is daarenteen eintlik baie eenvoudig want die wisseling van seisoene is ’n goeie en dodelike aanduiding. Dit was dus geen probleem nie — selfs nie toe Genesis die lig gesien het nie. Metusalag het maar eenvoudig elke winter nog ’n jaar bygetel.

Om die jaarlengte egter akkuraat te bepaal word daar van sterre as verwysingspunte gebruik gemaak. Ons weet weet dat Orion en Canis Major vroegaand in die winter in die Noordelike Halfrond opkom en die helder ster Sirius in die konstellasie Canis Major se eerste verskyning in die aandhemel, was gewoonlik die aanduiding dat nog ’n jaar verstryk het.

Die jaarlengte van die vroegste kalenders, het die jaar op 360 dae vasgepen en dit is waarskynlik die rede waarom ons vandag nog opgeskeep sit met ’n sirkel wat in ’n 360° opgedeel is. Die Mayas se kalender, wat ook op die posisie van die sterre gebaseer was, was nog akkurater.

Die lengte van die jaar is aanvanklik tydens die bewind van Julius Caesar aangepas tot 365 dae wat dan ook bekend gestaan het as die Juliaanse kalender. Dit het egter met verloop van tyd geblyk dat daar ’n fout moet wees omdat die seisoene besig was om aan te skuif. Die gevolg was die Gregoriaanse kalender van 365 dae met toevoegings vir skrikkeldae volgens bepaalde reëls wat voorsiening maak vir ’n tropiese jaar van 365 dae 5 uur 49 min 16 sek (365.2425) dae.

Groete

Panda

  • 14

Kommentaar

  • Panda skryf:

    "Dit is egter m i  hoogs onwaarskynlik omdat die lengte van ’n dag dan aanvanklik minder as 4 ure sou moes wees. Die afleiding is dus dat die afname in rotasiespoed nie konstant is nie en dat die rotasie aanvanklik dalk maar teen 1 sekonde of daarrond elke miljoen jaar afgeneem het teenoor die 17 sekondes tans."

    - Panda: Ek dink dit is andersom. Die afname in die aarde se rotasiespoed is a.g.v. van die maan se gety-effek. Terselfdertyd is die maan besig om geleidelik weg van die aarde te beweeg, en die getye raak laer. My raaiskoot is dus dat die aarde se rotasie aanvaklik heelwat vinniger afgeneem het as wat vandag die geval is. 

  • Louis Rudolph

    Geagte Panda

    Ek verwys na jou "teorie" hierbo. Eerstens beweer jy  dat uit "noukeurige" eksperimente met rotse die ouderdom bepaal kan word - wat ’n leuen. Elke metode wat tans gebruik word is vals. Hoe weet jy hoeveel wat die moedermaterie in die rots was toe jy begin het. Jy maak vandag ’n meting van die lood in die rots en dan raai jy die ouderdom van die rots. Jy neem aan dat omdat dit vandag die tempo is, dit altyd so was. Ek daag jou om ’n rots na universiteitte te vat en ek waarborg jou, jou klip sal honderde ouderdomme kry.

    Of dit Argon of radio datering of watter metode ook is. 

    Die rots bepaal die ouderdom van fossielle en die fossielle bepaal die ouderdom van die rots waarin gevind - baie logies nie waar nie.

    Met jou somme oor dag lengtes gaan ek nie stry nie, maar my vraag is hoe weet julle dit? Julle kyk na hoe dit vandag werk en maak julle somme daarvolgens. Julle is so slim dat julle 4.6 miljard jaar se somme kan bereken. Raaisels.

    Ons daarenteen ken die Persoon wat self daar was toe Hy die heelal geskep het. Die Bybel is die enigste boek waar die inpireerder dit ook aan homself toedig. "Skepper van hemel en aarde". Dit is vir my genoeg

    Ek wil net vra waar kom die rotstekeninge vandaan van dinosourusse? Die mense wat dit geteken het op rots moes tog die diere gesien het.

    In Christus groete

    Louis

  • Dankie Panda vir handige feite wat elke persoon behoort te weet en wat maklik verstaanbaar is sonder die nodigheid van spirituele intelligensie.

    Tog so anders as die skrywes daar uit Kabouterland.

    Thomas

  • Brianvds: 
    Jou vermoede is waarskynlik reg, want al wat bewys is, is dat die rotasiespoed van die aarde afneem (wat tot gevolg het dat die dae langer word) en dat dit spoed waarteen dit gebeur tans 0.0017 sekondes per eeu is.
    Ek gee toe dat daar logika in jou argument steek dat die proses besig is om te verlangsaam i.p.v. te versnel, omdat die maan besig is om weg van die aarde te beweeg. Ons sal maar moet wag tot die volgende resultate oor ’n eeu of so bekend gemaak word.
    Terloops– wat ek nagelaat het om te noem, is dat die lengte van ’n dag natuurlik ook die aantal dae in ’n jaar beïnvloed omdat die rotasiespoed van die aarde geen invloed op die omwentelingstyd van die aarde om die son het nie. In ’n ingewikkelde berekening is deur Thwaites en Awbrey bereken dat daar met ’n 14 uur lange dag, 21.4 ekstra dae in ’n jaar was.
    Die verskynsel van die maan wat weg van die aarde beweeg het natuurlik interessante implikasies. Moontlik kan ons eendag ’n paar gedagtes daaroor wissel.
    Groete
    Panda

  • Beste Louis,
    Dis nie dat ek jou woord oor die bestaan van rotstekeninge van dinosourusse in twyfel  trek nie maar dit sal tog gaaf wees as jy vir ons ’n foto kan plaas of ’n skakel kan voorsien waar ons dit kan besigtig. Ek – en ek glo talle ander – is vrek nuuskierig man! Wat is die moontlikheid dat dit dalk vervalsings is of dat daar dalk intelligente dinnosourusse was wat  die tekening kon maak?
    Groete
    Panda

  • Louis

    Jy vra bewyse vir alles wat Panda voorstel maar bied geen bewyse vir jou voorstel nie?

    Verduidelik tog asseblief.

    Thomas

  • Beste Louis,
    Jy skryf in jou kommentaar:
     “Ek verwys na jou 'teorie' hierbo. Eerstens beweer jy  dat uit 'noukeurige' eksperimente met rotse die ouderdom bepaal kan word - wat ’n leuen.”
    Eerstens is dit natuurlik nie my teorie nie – daarvoor is ek te vlak – en dit is ook nie ’n leuen nie. Ek sal met die hulp van Richard Dawkins probeer  verduidelik:
    ’n Radioaktiewe isotoop is ’n soort atoom wat met verloop van tyd verander in ander ’n ander soort atoom: Bv. uranium-238 verander met verloop van tyd in lood-206. Omdat die tyd wat dit neem vir dié verandering om plaas te vind, bekend is, kan daar aan die isotoop as ’n radioaktiewe-horlosie gedink word. Radioaktiewe-horlosies kan vergelyk word met ’n waterhorlosie of ’n kers-horlosie wat deur mense gebruik is voor pendulum horlosies uitgevind is. ’n Tenk water met ’n gaatjie in sy boom sal teen ’n bepaalde tempo leegloop. Indien die tenk teen sonop volgemaak is, kan jy bepaal hoeveel van die dag verstryk het deur die vlak van die oorblywende water te meet. Dieselfde met ’n kers-horlosie. Die kers brand teen ’n bepaalde tempo en deur die gedeelte van die kers wat nog oor is te meet kan bepaal word hoeveel tyd verstryk het.
    Wetenskaplikes  weet dat in die geval van uraan-238, dit 4,5 miljard jaar neem vir die helfte van die uranium-238 om te verval/verander tot lood-206. Dit word genoem die halfleeftyd van uraan-238. Deur dus te meet hoeveel lood-206 daar in ’n rots is in vergelyking met uraan-238, kan jy bepaal hoe lank gelede dit was waar daar geen lood-206 in die rots was nie, maar slegs uraan-238. Hoe lank gelede dus, sedert die atoomhorlosie ‘gezero’ was!
    En wanneer word die ‘atoomhorlosie’ gezero? Dit gebeur slegs met vulkaniese rots wat altyd gezero word wanneer die lawa stol. Dit werk nie met sedimentêre rots nie wat dus ongelukkig nie so ’n zero oomblik het nie. 
    Ek kan verder uitbrei oor die bepaling van die ouderdom van fossiele wat net in sedimentêre rotse voorkom, maar dit is nie nou hier ter sprake nie omdat dit gaan oor die ouderdom van die aarde. 
    Uraan-238 is nie die enigste isotoop wat as ’n horlosie gebruik kan word nie. Daar is talle ander met ’n wye verspreiding van halfleeftye. Die koolstof-14 isotoop se halfleeftyd is maar 5 730 jaar wat dit nuttig maak vir Argeoloë. Baie van die verskillende radioaktiewe horlosies het halfleeftye wat oorvleuel en wat dit dus moontlik maak om hulle teenoor mekaar te toets. En dié horlosies stem altyd ooreen ?
    Groete
    Panda

  • Ek het altyd gewonder waarom kreasioniste so graag wil hê dat dinosourusse tot in historiese tye oorleef het, en waarom hulle dink so iets sou vir evolusioniste 'n probleem wees. (Die teenoorgestelde is waar: paleontoloë sou in absolute ekstase wees). Nou sien ek op hierdie bladsy waarom: 

    http://www.bible.ca/tracks/dino-human-coexistence-implications.htm

    Hulle dink skynbaar dit sal evolusie verkeerd bewys, maar hulle idee is gebaseer op 'n volslae misverstaan van wat die evolusionêre wetenskaplikes sê wat op daardie bladsy aangehaal word. Dit illustreer weer eens dat hulle eenvoudig nie die teorie wat hulle so aanval verstaan nie.

    Dit is moontlik dat dinosourusse tot in historiese tye oorleef het. Die selekant het immers. Ek dink dit is onwaarskynlik. Ek vermoed daardie rotstekeninge van dinosourusse is vervalsings, of gevalle van oppervlakkige ooreenkoms, maar ek het nie die tyd om nou al die verwysings te probeer nagaan nie, Dalk het daardie kunstenaars regtig dinosourusse gesien (mens wonder waarom hulle die goed nie daar en dan ook geëet het nie, in welke geval hulle rommelhope deurtrek sou wees van dinosourusbeendere, net soos hulle deurtrek is met beendere van al die ander diere wat deel van hul dieet was). 

    In ieder geval, die blote gedagte aan lewende dinosourusse binne historiese tye maak my skoon opgewonde. Dit sou, net soos die selekant, 'n hele paar van ons idees heeltemal omvergooi. Wat dit nie sal doen nie is om evolusie aan te tas. Dit is nie 'n voorspelling van evolusieteorie, of van gesamentlike afstamming, dat dinosourusse nie tot in historiese tye kon oorleef nie.

  • Aha, soos ek gedink het: daardie rotstekeninge met dinosourusse is waarskynlik vervalsings (en sommige is straks tekeninge van fossiele wat algemeen in die omgewing voorkom):

    http://en.wikipedia.org/wiki/Ica_stones

    Hier is ’n klomp foto's van hulle:

    http://www.omniology.com/IcaPeruBurialStones3.jpg

    En hier is ’n hele reeks artikels oor die kwessie, beide vir en teen: 

    http://pseudoarchaeology.org/b03-ross.html

    Blykbaar is dit nie net kreasioniste wat na hierdie strooihalm gryp nie: die tekeninge bewys sommer ook dat ons deur antieke ruimtevaarders besoek is, en dat alle volke se mites letterlik waar is. Voorwaar jammer daar is nie ’n Nobelprys in argeologie nie...

  • Chris Dippenaar

    Hello Louis

    Ek haal die volgende aan uit die derde skakel ('How accurate are Carbon-14 and other radioactive dating methods?') wat jy hierbo verskaf: "Outside the range of recorded history, calibration of the C-14 "clock is not possible"

    Dendrokronologie ('dendrochronology', ek is nie heeltemal seker van die Afrikaanse term nie) is ’n metode wat in sekere dele van die wêreld gebruik kan word om die absolute ouderdom van hout te bepaal wat gebaseer is op die jaar-ringe van bome. Hierdie metode is veral toegepas in Duitsland en Noord-Amerika, waar sekere bome baie oud word en waar ’n kronologie opgebou is van sekere houtsoorte wat so ver terug gaan as 8000 jaar. Dit is waar dat hierdie metode beperk is tot streke waar spesifieke boomsoorte voorkom. As dit die einde van die storie was sou dit nog steeds ’n waardevolle metode gewees het vir argeoloë wat werk in hierdie streke, maar die veel meer belangrike bydrae van dendrokronologie is dat dit gebruik word om C-14 datums wêreldwyd mee te kalibreer tot 8000 jaar terug. Dit neem in ag dat die hoeveelheid C-14 in die atmosfeer nie konstant was deur tyd nie. Hierdie kombinasie van dendrokronologie en C-14 datering is baie akkuraat en kan onafhanklik getoets word wanneer dinge in beweeg in die historiese tydperk.

    Ons kyk dus na ’n metode van datering van organiese materiaal wat baie akkuraat is vir die laaste 8000 jaar en dan minder vir ouer materiaal. Dit is vir my baie vreemd dat daar nie ’n enkele verwysing is na dendrokronologie as metode om C-14 datering mee te kalibreer is in die artikel nie. Dit is hartseer as ’n geloof wat homself roem op eerlikheid gebruik maak van halwe waarhede om gelowiges om die bos te probeer lei. Jou enigste beskerming teen oneerlikheid is kennis en kritiese denke. Sover ek weet word dit ook nie verbied deur die Bybel nie.

    Antwoord die volgende vraag vir jouself: Veronderstel argeoloë grawe ’n houtbordjie op waarop staan: "Die koning van die Jode" (Mark 15:26), en dit sou moontlik wees om met C-14 datering te bepaal dat dit dateer uit die jaar 30. Hoeveel Christene gaan hierdie artikel en datum verwerp as belaglik omdat C-14 datering kastig nie betroubaar is nie?

    Chris

  • Louis,
    Dankie vir jou moeite met die skakels wat jy verskaf het. Ek het gaan kyk, maar wat is daar nou nog by te voeg na Brianvds en Chris se kommentare hierbo? —  behalwe dat jy maar wye draaie om oa hierdie kreasionistiese webwerwe moet loop, veral as jy nie geseënd is met ’n onsinverklikker nie.
    Panda 

  • Domeritus Danie Malan

    Die groot struikelblok in hierdie jarelange debat is dat ons nog net ten dele begryp soos in 'n dowwe blinkgevryfde koperplaat (1 Kor 13: 12) . Verder werk die kreasionis met geloof in die onsienlike drie-maal heilige God terwyl die natuurwetenskaplike slegs met feite werk en enige vorm van geloof nie waardig genoeg ag nie. Dit is reeds onteenseglik bewys dat daar wel iets soos 'n wêreldvloed was soos bevestig deur die Noagverhaal in die Bybel.(Gen 6,7).Die Bybelskrywer (Moses?) probeer nie die ouderdom van die aarde bewys nie, maar sê slegs dat God in die begin (wanneer dit ook al was) die Skepper van Hemel en aarde was en dat Hy nog steeds betrokke is by sy Skepping (teïsme vs deïsme wat wel beweer dat God geskep het, maar Hom toe onttrek het daaraan soos bv 'n horlosiemaker wat "vere voel" vir die horlosie wat hy gemaak het). Dankie aan die debatvoerders hierbo wat nuwe perspektiewe gegee het aan die sg "noukeurige" toetse wat uitgevoer is as gevolg waarvan sekere "bewyse" vir die aarde se ouderdom vasgestel kon word as miljoene jare gelede. Die jongste syfer waarvan ek pas (in 2018) gehoor het, is 13,700 miljoen jaar gelede! Die enigste jaartal waarvan die Bybelgetroue gelowige seker kan wees is ongeveer 1,500vC toe die Here God vir Abraham geroep het! Om te stry en baklei oor die ouderdom van die aarde en mekaar te verketter en/of allerlei lelike benamings te gee, is myns insiens futiel! NIEMAND was daar toe God die aarde uit NIKS geskep het nie – dis 'n geloofsuitspraak ogv die Bybel as gesaghebbende Woord van God. Buitendien is Hy die enigste wat UIT NIKS iets kan skep. Ons aan wie die verantwoordelikheid toevertrou is om die aarde te bewoon en te bewerk kan slegs vanuit die geskape werklikheid iet MAAK of saamflans. Ik hebt gesegd!

  • Die “aarde” was nie altyd die “aarde” waarop ons tans woon nie. Dit het nie oornag
    tot stand gekom nie, al wil dit uit die skeppings verhale anders blyk. Dit is baie duidelik dat ons planeet baie lank onbewoonbaar was en onderhewig aan hewige bombardamente uit die buitenste ruimte.
    Dit is ook duidelike uit die geskiedenis van die: https://geology.com/articles/vredefort-dome.shtml“
    Die Oerknal-teorie maat dit ook duidelike dat alle “energie” in die heelal saamgepers was in “n enkel “dot” wat uiteindelik “ontplof” het. Uit die Bybel is dit duidelik dat hierdie ontploffing nie “n spontane ontploffing was nie, maar dat daar “n OORSAAK agter die ontploffing was, nl Jesus Christus.
    Kolossense 1 vers 16 maak dit duidelik:
    “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. "
    Was daar lig: Science uncovers the origin of the first light in the Universe
    “Let there be light” isn’t just biblical. It’s science.
    https://medium.com/starts-with-a-bang/science-uncovers-the-origin-of-the-first-light-in-the-universe-8a985cb5f02b
    Die groot geheim is dus om te weet dat elke mens wat Jesus Christus as sy Verlosser aanvaar, gelowig word binne die raamwerk van die heersende wetenskap van sy tyd.
    In Joshua 10 lees “n mens die volgende :
    "12 Dié dag toe die Here die Amoriete in die mag van die Israeliete gegee het, het Josua die Here om hulp gevra. Ten aanhore van Israel het hy gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, staan stil in Ajalonlaagte!”
    13 Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna “n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie.
    14 So “n dag was daar nie voorheen of daarna nie, toe die Here vir “n mens geluister het! Die Here het vir Israel die oorlog gevoer."
    Ons weet vandag dat die son nie opkom of ondergaan nie. Tog praat ons steeds in ons “verligte tyd” van “n son wat opkom en ondergaan. Ons weet ook dat dag en nag veroorsaak word deur die rotasie van die aarde. Die aarde se rotasie is van wes na oos. Daarom lyk dit of die son op die oostelike horison “opkom” en “ondergaan” in die weste.
    Dit is dus moontlik dat daar “n gebeurtenis was wat die aarde se rotasie “n fraksie vertraag het en so “n langer dag tot gevolg gehad het. So “n gebeurtenis sou die son en maan laat stilstaan het. Ek weet egter nie van so “n gebeurtenis nie. Dit maak die gebeure egter nie onwaar nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top