die miskruier en die maan
Carié Maas
Protea
SKU: 9781485312574
Kort voor LitNet my gevra het om die miskruier en die maan, Carié Maas se tweede roman (na Koljander, wat in 2012 debuutwenner was van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd en benoem was vir die Jan Rabie-Rapport-prys) te resenseer, het ek ’n ander wenner, The goldfinch van Donna Tartt (Pulitzer-pryswenner vir fiksie, 2014), begin lees.
Dit het so effe van ’n dilemma by my geskep, want wanneer ek eers begin met ’n boek, sit ek dit nie maklik neer nie. Ek besluit dus om my vroegoggend-leessessie Carié s’n te maak en die aandsessie Donna s’n. Kort voor lank het ek egter albei leessessies aan die miskruier en die maan gewy.
Hierdie boek is nie ’n maklike boek nie. Ook is dit nie ’n moeilike boek nie. Dis wel ’n boek wat jou laat dink. Wat dit ’n puik boek maak. Dis slim geskryf, want die storie is eintlik heel eenvoudig, maar die feit dat Carié slimgestruktureerde beeldspraak en metaforiese beskrywings gebruik, laat die hele storie soos ’n raaisel lees. Die leser moet dinge gereeld self ontsyfer, maar dis nou nie dat dit in kodetaal geskryf is nie. Dis letterkundig uiters goed gekonstrueer.
........
Dis slim geskryf, want die storie is eintlik heel eenvoudig, maar die feit dat Carié slimgestruktureerde beeldspraak en metaforiese beskrywings gebruik, laat die hele storie soos ’n raaisel lees. Die leser moet dinge gereeld self ontsyfer, maar dis nou nie dat dit in kodetaal geskryf is nie. Dis letterkundig uiters goed gekonstrueer.
..........
Kortom, die storie gaan oor ’n argitek, Karel Nel, wat by ’n dubbele kruispad staan. Dinge lol met sy vrou, Laura, en sy baas, Gideon. En dinge lol dalk tussen dié twee ook. Karel word afgedank en besluit om die tyd te gebruik om sy voorsate se register te gaan probeer vasstel. Dus ontstaan daar nou ’n dubbele storielyn, wat die leser moet laat kophou. Tog is die relevansie tussen die twee lyne daar en kom hulle ten slotte by dieselfde plek uit.
Die skrywer se landskapbeskrywings en die rede daarvoor ter wille van die storie is ook iets om na uit te sien. So byvoorbeeld loop Karel en Laura in ’n stadium in die botaniese tuin. Die spanning en onsekerheid tussen hulle is duidelik. Tog is die suggestie van ’n naderbeweeg tussen hulle daar. Jy as leser kry moed vir iets soos ’n versoening tussen hulle. Gideon skep ook moed (“Sy gees begin sweef”). Dis wanneer Laura hom oor iets uitvra. Dan looi Carié jou in die volgende paragraaf: “’n Hadida skree haar dood. Die goed laat hulle nie afskrik nie, al kom elke hond in Johannesburg hier bene rek om weg te kom van hulle heiningpatrollie.”
Die hadida onderbreek nie net vir hulle nie, maar irriteer jou as leser eintlik meer. Jy wil weet of Gideon en Laura se herstel vorder, nou neuk ’n kras geskreeu die spul deurmekaar. Verder is die tweede deel van die sin ook raak beeldspraak. Heiningpatrollie ...
........
Die storie loop wye draaie en dis asof sy self die hele reis onderneem het.
.........
Twee verdere dinge om net ook te noem. Eerstens het Carié haar huiswerk gedoen. Die storie loop wye draaie en dis asof sy self die hele reis onderneem het. (O ja, die boek is beslis ook ’n reisboek.) Haar verwysings na vreemde en uitheemse elemente is breedvoerig, maar sonder om beterweterig voor te doen. Tweedens, ek het baie gehou van die gebruik van Engels en selfs ’n bietjie Duits (hoofsaaklik in dialoog) waar van toepassing. Dit is ongetwyfeld ’n Afrikaanse boek, maar die passasies in die ander tale maak dit baie realisties (eerder as om dialoog in Afrikaans te skryf met ’n stertjie van “... sê Thembi in Engels”). Thembi is ’n swart kollega by die argiteksfirma en haar dialoog word goed opgemix tussen Engels en Afrikaans. Al wat nie vir my gewerk het nie, is dat sy haar e-posse en WhatsApps ook gemengd geskryf het. Ek dink die skryfwerk net in Engels sou meer realisties gewees het. Net ’n opinie.
Waar kom die miskruier en die maan in die storie in? Maan het Miskruier belowe sy sal met hom trou as hy al die vuil op aarde opgeruim kry. En daarom beur hy so dapper voort. Dis nou die leser se eie kop wat moet bepaal wie is Miskruier en wie is Maan in hierdie storie. Dalk ooglopend en voor die hand liggend – maar is dit? Dan is daar nog Reinaert (die Vos of net ’n pop?) wat kort-kort as ’n interteks sy verskyning maak. Baie oplossings van die storie lê daarin.
.........
Vele lesers gaan vele gevolgtrekkings maak. Wat tog wel op goeie skryfwerk dui. Vir my kom alles baie goed bymekaar in die heel laaste paragraaf.
..........
Tussen Karel, Laura, Gideon en net nog ’n klein handjievol karakters is daar baie wat gebeur. Daar is baie suggestie. Baie stof tot nadenke en baie besluite wat jy as leser moet neem. Vele lesers gaan vele gevolgtrekkings maak. Wat tog wel op goeie skryfwerk dui. Vir my kom alles baie goed bymekaar in die heel laaste paragraaf. Wat die miskruier en die maan ’n puik boek maak.