Jan Smuts het reeds lank gelede gesê in Suid-Afrika gebeur die beste en die slegste nooit nie.
Ek neem aan hy het bedoel ons beweeg altyd in die middel van die pad tussen die beste en die slegste – die goeie sal nooit die beste word nie, en die slegte sal nooit die slegste word nie.
Mangaung het gekom en gegaan en soos verwag het pres Jacob Zuma sy opponente – die sogenaamde “koalisie van die gewondes” – die loef afgesteek.
Die “slegste” verwagtinge oor Mangaung het nooit gerealiseer nie. Die debat oor die nasionalisering van myne is geskrap en sodoende is beleggers se vertroue in die land herstel.
Ook is ’n reeks “sakevriendelike” resolusies rakende die ekonomie deurgevoer. Trevor Manuel se nasionale ontwikkelingsplan is teen alle verwagtinge deur die kongres bekragtig.
Die “beste” verwagting – dat Motlanthe vir Zuma as ANC-leier moet oorneem – het nie gerealiseer nie. Motlanthe moet homself blameer, want hy het gesloer om sy beskikbaarheid vroegtydig bekend te maak. Hy het ’n duur prys daarvoor betaal.
Wat tussen nou en die algemene verkiesing volgende jaar gaan gebeur, is belangrik. Die ANC se Mangaung-resolusies oor “organisatoriese vernuwing” bewys die organisasie is bekommerd oor sy morele verval en vrot beeld. Daar is ’n diepe besef dat die ANC hom van binne moet vernuwe. In die openbare domein is die algemene siening dat die ANC sedert Polokwane van die kop af na onder verrot.
Juis daarom is dit logies dat vernuwing van bo moet begin.
Zuma, wat deur skandes en skades agtervolg word, is blykbaar die groot sondaar wat eerste moet val as vernuwe van bo moet begin.
Gerugte doen al die ronde dat Zuma ’n jaar na die 2014-verkiesing gaan uittree en so vir Cyril Ramaphosa die weg gaan baan om president van die land te word.
Gesondheidsprobleme gaan glo aangevoer word as rede vir sy vroeë uittrede. Ramaphosa sal dan in 2017 ook president van die ANC word. Dit sal die ANC in ’n veel sterker posisie plaas om die 2019-verkiesing te wen.
Wat egter opgeval het rondom die blydskap van Ramaphosa se verkiesing as ANC-adjunkpresident, veral by sommige wit mense, is hoe min hulle weet van die party se organisatoriese binnewerkinge. Sê wat julle wil van die ANC, maar dit is steeds die mees demokratiese organisasie wat verkiesing van sy leiers betref.
Daar is ook ’n sterk kultuur van kollektiewe besluitneming binne die ANC. Selfs Zuma moes in 2008 teen sy sin inval in by die nasionale uitvoerende komitee se meerderheidsbesluit om oudpresident Thabo Mbeki te herroep.
Afrikaanse koerante se gejubel oor “Ramaphosa weet van boer” gaan van ’n korte duur wees. Hy is nie ’n eiland nie en is deel van die ANC se kollektiewe leierskorps. Dus, as veral boere dink dat hul landboubelange eksklusief deur Ramaphosa bevorder gaan word net omdat hy ook “boer”, dan maak hulle ’n fout.
Onthou, Zuma is nog steeds president van die ANC, en ook van die land.
Die “slegste” en die “beste” ontwyk ons vir eers.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
"Daar is ook ’n sterk kultuur van kollektiewe besluitneming binne die ANC". Hierdie stelling word blykbaar positief bedoel, en dis seker waar dat die ander uiterste 'n diktatorskap is. Tans word kollektiewe besluitneming myns insiens egter hoofsaaklik gebruik as 'n manier om persone in uitvoerende posisies te onthef van enige verantwoordelikheid vir enigiets wat hulle doen.
Wil graag weet hoe bekom ek lidmaatskap by Agang.