Die merinoboer en die koster van Campbell

  • 3

Foto: Canva.com

Die Noordkaap is nat. Olifantshoek is nat. Daniëlskuil is nat. Campbell was laas so nat toe die mofskaapboer, Groot Gert Aggenbach, sy tokkelokseun op Stellenbosch se kweekskool opgekommandeer het om in die dorp se sinkdakkerk te kom bid vir die reën wat die droë aarde weer nat kon kry. Klein Gert was, volgens sy pa se oordeel, teen dié tyd teologies goed genoeg geskoold vir die taak en was boonop van kleintyd af geseën met ’n soort geestelike heldersiendheid wat gespruit het uit die feit dat hy met die helm gebore is. Hy kon spoke sien en met wolke praat. Hy was so te sê in die wieg gelê vir die “job”.

En so was dit. Klein Gert was nog by die oorgang vanaf die boetedoeningsfase na die verootmoedigingsfase van sy reëngebed, toe begin die blitse kraak en die donder slaan. En nog voor hy kon sê “Amen”, toe val die eerste groot druppels op die kerk se sinkdak.

Reën op ’n sinkdak is die mooiste musiek wat mens in hierdie deel van die wêreld kan hoor. Die reën laat ’n kerkdak sing. Al die sinkdakhuise op Campbell sing saam. Die skool se dak sing saam. Die boerekorporasie se dak sing saam. En elke plaashuis in die omgewing se sinkdak sing saam.

In die kerk trek die orrelis sommer met Händel se watermusiek los. Die kerkklok begin sommer op sy eie lui. Die gemeente hef uitbundige “hallelujas” aan en die kerkkoor laat waai met die Halleluja-koor van dieselfde Händel.

Die dak dreun. Die orrel dreun. En toe begin die water in die spruit wat by die kerk verbyloop óók dreun.

Groot Gert Aggenbach kyk deur die konsistorie se venter na die tuimelende detritus in die onstuimige spruit. Eers klein diertjies en ontwortelde boomstamme. Toe groter klonte dryfgoed. Toe skoolbanke en bibloteekrakke. Toe die spartelende karkas van die ou donkie wat die dorp se nagwa getrek het. Met nagwa en al.

Groot Gert raak teen die tyd bekommerd en toe ’n troppie mofhammels verby sleur en mens kon hoor hoe hulle horings teen mekaar stamp in die onbeteuelde onderwaterse gefrommel, raak Gert net plein beangs.

Hy tree vir Klein Gert net daar en dan aan. “Kyk Gert,” laat hy weet, “jy klim nou dadelik weer op die preekstoel, En dan sê jy vir die Here ons is baie dankbaar vir die reën. Ons is baie dankbaar dat dit al die veld weer vrolik gaan maak. Dat al die voëltjies weer kan sing, elke sprinkaan spring en elke koggelmander kan kom om fees te vier. Laat Hom weet ons is almal aan sy kant. Sy wil moet geskied. Maar laat Hom ’n ander ding ook weet. Groot Gert Aggenbach boer met mofskape. Hy boer nie met bleddie ganse nie!”

Groot Gert het nou wel geweet aan wie se kant hy was toe die Here se gemengde seëninge hom so bietjie onkant gevang het met daardie groot reën. Maar dit kan nie sondermeer van al die mense van Campbell gesê word nie.

Net ’n week na die oorstromings hou die dorpsraad van Griekwastad ’n gemaskerde bal ter stywing van die einste Campbell-kerk se toringfonds. Stormskade.

Een van die Houman-jongens van Dons, ’n plaas in die Campbell-distrik, huur ’n duiwelskostuum op Kimberley, tooi homself in hierdie gewaad (horings, pylstert, grynsende mombakkies, puntbaard, drietandvurk … die hele tutti). Net voor hy by sy voertuig kan uitkom om pad te vat na Griekwastad se bal toe, sak daar so ’n na-tros buitjie van die vorige week se reën uit en hy moet skuiling soek sodat sy kostuum nie natreën nie. Soos die duiwel dit wou hê, vind hy skuiling op die bedekte portaal van die sinkdakkerk wat ons teen die tyd almal ken, en wag vir die vlagie om oor te waai.

Binne in die kerk was die koster besig om dinge reg te kry vir die nagmaal wat die volgende dag sou plaasvind. Hy was amper klaar met sy besigheid. Al die agterdeure van die kerk was geslot en gegrendel. Die soetwyn geskink in die glasies. Die beker gevul met soetes vir die wat die kelk bo die glasie verkies. Die “God is Liefde”-fluweeltjie mooi voor die preekstoel gehang en die bybel in sy mik op die kateder. Hy was reg om huis toe te gaan.

Alles was agter gesluit, so hy moes by die kerk se voordeur uit, maar toe hy deur die ruitjie langs die deur uitkyk op die portaal, wat sal hy sien? ’n Duiwel in volle gewaad op die stoep. Met ’n gryns op sy bakkies en ’n drietandvurk in sy hande! Wat nou gemaak? Huis toe moes hy. Sy vrou Hes skel dat sy ore tuit as hy laat van die kerk af kom. Sy verdink hom al lankal van ’n “dingetjie” wat hy het met daardie “toonbankteef” wat rokmaterial by ou Rosen se winkel verkoop. Of dat hy die tyd byster raak as hy te veel slukke vat uit ’n los bottel nagmaal-soetes.

’n Diep verknorsing. Die duiwel op die kerkstoep en die “deep blue sea” by die huis. So buig of bars, duiwel of te not. By die kerkdeur moet hy uit.

Hy skep moed as hy dink aan hoe Voltaire hom op sy sterfbed verset het teen ’n priester se aanbeveling dat hy sy laaste asem moes gebruik om die duiwel af te sweer. “Nou is nie die tyd om nuwe vyande te maak nie.”

Die koster neem sy besluit. Hy gaan by die voordeur uit. Kyk die duiwel in sy oë en seê vir hom: “Meneer, ek wil net vir jou sê. Ek werk nou wel in die kerk en ek weet jy en die Here sit nie om dieselfde vuur nie. Maar alles inaggenome was ek nog altyd aan jou kant.”

Hell has no fury like a woman scorned and Pascals Wager is tog maar ná alles net ’n “wager”.

Al is jy ook maar net ’n merinoboer of ’n koster op Campbell.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Marietjie Oosthuizen

    Lekker storie! Nou-ja, hoekom moet jy vir die duiwel bang wees as jy niks verkeerds gedoen het nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top