Die mense langsaan deur Elsa Hamersma: ’n resensie

  • 0

 Die mense langsaan
Elsa Hamersma
Uitgewer: LAPA
ISBN 9780799383508

Die boek volg die verhale van twee vroue, Christine en Zebith, albei onderwyseresse, en by dieselfde skool. Omstandighede maak dat Zebith met ’n gebroke hart van werk verander en in ’n veiligheidskompleks intrek, waar dit gou blyk dat jy nie seker kan wees van jou veiligheid as die duiwel klaar in jou buurt ingetrek het nie.

Christine wil van haar man van bykans 30 jaar, Frikkie, ontslae raak. Byna drie dekades se emosionele aftakeling eis sy tol en moord maak vir haar meer sin as egskeiding, omdat die huis in sy naam geregistreer is en hy boonop baie geld op die Lotto wen en dit nie met haar wil deel nie. Haar pogings om hom tot ’n hartaanval te dryf, misluk liederlik en die aftakeling bereik nuwe dieptes.

Uitkoms kom tog in ’n mindere mate toe ’n geskeide man met ’n volwasse dogter langs hulle intrek en Christine weer vlinders op haar maag voel en begin dagdroom oor hoe anders haar lewe kan wees – sonder Frikkie natuurlik.

Wanneer Frikkie op ’n onverklaarbare wyse by die trap in hul huis afval, is die speurders agterdogtig oor haar betrokkenheid, maar ’n nuwe lewe wink vir Christine, nou ’n ryk weduwee. Sy trou baie gou en trek ook na die veiligheidskompleks waar Zebith woon.

Zebith is egter net ’n skaduwee van wie sy was en Christine kom gou agter daar is meer agter die tragiese gebeure wat hulle in hul nuwe huis – Zebith se buurhuis – afgespeel het. Zebith se posttraumatiese stres en skuldwroeging oor die gebeure wil haar verteer. Boonop is die liefde van haar lewe en haar laaste kans op ’n gesin ’n jaar of wat vantevore na Nieu-Seeland sonder haar en die eensaamheid kry haar onder.

Sogenaamde domestic noir is nou ’n onderwerp onder die loep met boeke en films soos The girl on the train en die televisiereeks Big little lies, wat toon dat emosionele mishandeling se tekens dalk nie so sigbaar soos fisieke mishandeling is nie, maar dat dit dikwels selfs dieper sny.

Die mense langsaan is die eerste boek in die domestic noir-genre wat ek in Afrikaans lees. In die meeste ander Afrikaanse boeke wat ek al gelees het, was daar elemente van hierdie tipe emosionele mishandeling, maar dit het nog nooit ’n amptelike naam gehad nie. Die boek is relevant en wys dat Afrikaanse skrywers ’n boek in die konteks van die Suid-Afrikaanse samelewing kan plaas sonder om enigsins die leesgenot in te boet of prekerig voor te kom.

Die skrywer is ervare, met talle liefdesromans en tydskrifverhale op haar kerfstok. Haar ontginning van karakters is effektief en boeiend en jy kan regtig nie die boek neersit nie. Ek hou van die ontknoping en die onverwagse kinkel net voor jy die laaste hoofstuk aanpak.

Die enigste kritiek wat ek het, is die toevalligheid van die rol wat een huis se inwoners in drie gesinne se lewens speel. Dit is asof die grootsheid van die onthulling te vinnig afgemaak word en die toeval net te veel is. Die boek sou nie minder indrukwekkend gewees het as daardie toeval beter aangepak was of ’n beter uiteinde gehad het nie.

Die tema van huishoudelike aftakeling is een wat nog baie ontgin kan word, veral in ’n konserwatiewer samelewing waar die leerstellinge van die kerk en die skool mense baie kan inperk. Ek hoop die skrywer pak weer die genre aan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top