As daar ’n god is en hy is almagtig, sal sy wil seëvier oor die mens se wil. Dit kan nie wees dat die mens se wil sterker is as die almagtige god se wil nie. Iemand wat dit beweer is onlogies en godslasterlik, want dit impliseer dat die mens se wil seëvier oor sy god. As iemand bv ’n moord wil pleeg is dit strydig met sy god se wil, soos opgeteken in die tien gebooie. As die persoon nogtans die moord pleeg, het die mens se wil geseëvier oor sy god se wil.
Só eenvoudig is dit, maar iemand wat ly aan spirituele intelligensie sal dit natuurlik nie verstaan nie.
Natuurlik, as daar dan níe ’n god is nie, kom die mens se wil ter sprake, waar hy moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy besluite.
Heiden


Kommentaar
Hello Heiden
Ek hou van jou uitbeelding van die mens se wil wat triomfeer teenoor God se wil. Dit is egter presies wat God toelaat om te gebeur sodat hy die hel-toe-stuur van die oorgrote meerderheid van mense wat ooit geleef het op aarde kan regverdig ... of dis ten minste wat Christene ons probeer oortuig van. In 'n gewone sin dink alle mense, gelowiges en ongelowiges, dat hulle 'n vry wil het. Ek besluit/kies tussen twee of meer opsies en tree dan op of nie, en nooit voel dit dat ek nie beheer het oor my wil nie. Niks voel meer natuurlik as hierdie uitoefening van die wil nie. Die probleem wat ek het met die hele idee van 'n vry wil is dat dit gewoonlik beskryf word as iets wat "optree" in isolasie. Daar is soveel wat 'n invloed kan hê op my wil, soos my opvoeding, my omgewing, my kultuur, my gesondheid, my persoonlikhed, ens. Al klaar is my wil nie so vry as wat ek dalk sou wou hê nie.
In die tyd van Newton het die idee onstaan dat die heelal 'n klokwerk is. Dat, sou dit moontlik wees om al die inligting in die heelal beskikbaar te hê op 'n gegewe oomblik, dit moontlik sal wees om die toekoms/verlede presies te "voorspel". 'n Geheel en al gedetermineerde heelal waar my vry wil slegs 'n illusie is. Dit blyk egter, volgens kwantum fisika (waarvan ek bitter min weet of verstaan), dat 'n gedetermineerde heelal onmoontlik is. Dat daar indeterminasie en chaos is op die kwantum vlak waar Einstein se god dobbelstene rol. Wat dit alles beteken weet ek nie, maar wat redelik duidelik is, is dat daar geen rol te speel is vir vry wil nie.
Soos gelowiges, het ongelowiges ook geen vry wil nie, alhoewel ons hier uitkom vanaf verskillende rigtings. Ons ervaring van die wêreld en ons kennis van hierdie wêreld is beperk sodat ons nooit die "gedetermineerde" toekoms kan weet nie, en ons leef volgens ons "vry wil", vir praktiese redes (het ons 'n keuse?) meer as enige iets anders. Dis die prys wat organismes wat die tipe brein wat ons geevolueer het betaal. Die brein wat ons laat onderskei tussen goed en kwaad, 'n idee, soos elders genoem deur Thomas, wat sekerlik die pad saam met die evolusie van die brein gevolg het.
Ek stem dus nie heeltemal saam met jou en Angus dat ons sonder God 'n streng gesproke vry wil het nie, maar stem heeltemal saam dat die vry wil idee van Christene op sy beste geen sin maak nie, en op sy swakste die skuld van God af probeer neem vir kwaad in die wêreld.
Chris
Beste Heiden,
Sonder om nog water op die infernale en fanatiese Spirituele Intelligente meul te spat deur onnodig gedagte te wissel rakende die werf se ware gelowiges en hul oordrewe drogma, deel ek tog graag die volgende logika met jou:
Die mens is in totaal gebonde en beperk tot die modder waaruit ons gemanipuleer is - eweneens ons vrye wil beperk tot die taal en begrip waarin dit geformuleer word.
Ware gelowiges se bedrog om ons Skepper te begrens met hul waterige breintjies is gewoon absurd.
Stel jou die waansin voor; "ateïstiese agnost", "vierkantige sirkels"..., "bepaalbare onbepaalbare"... en dan die heel grooste - "spirituele intelligensie"...
Hart en verstand is uiterstes van mekaar!
Ja, ons is vry om die avontuur van ons denke te beleef. Elke generasie skuif die grens daarvan in 'n rigting maar om die een of ander onverstaanbare rede haal dit ons weer uit 'n ander rigting in.
Die venster waardeur ons kyk blyk onveranderd klein en nog altyd so - daarom is ons hart die enigste troos in ons bestaan.
Namaste!
Cornelius