Die meisie op die bus en ander liefdesverhale
Doc Immelman
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485304296
Die bundel is ’n samestelling van Doc Immelman se verhale wat in die jare 1955 tot 1965 in tydskrifte soos die destydse Die Huisgenoot en Sarie Marais gepubliseer is. Almal met die liefde as tema – al 13 van hulle.
Een van die stories se naam is: “Stroop is liefde”. Teen die tyd dat ek die storie aanpak, kom ek tot die gevolgtrekking dat die titel eintlik “Liefde is stroop” behoort te wees. Dit voel of ek die soet, sentimentele stroperigheid van my vel kan afskraap. Alles is net te goed om waar te wees: Elke mens is perfek, elke plaas het vet beeste en ’n oorvloed troppe wild, elke vrou maer en beeldskoon, met lang golwende hare, en elkeen se soene sag op die man se mond. Die mans is sterk en viriele helde wat jou mond laat water, veral as jy al so oud is soos die stories wat tydens jou geboortejaar en selfs daarvóór gepubliseer is.
Op bl 230 lees ek: “As eggenoot is hy volmaak. Hy is bedagsaam, hoflik en opreg. Hy besit die gawe om Corrie soos die mooiste vrou op aarde te laat voel en hulle huwelikslewe is vol, bloeiend en mooi. Hy kan volmaak dans, vreemde kossoorte voorberei, gesels oor enige onderwerp onder die son en sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy blink uit in verskillende sportsoorte. En hy is ryk …”
En nog meer:
“O, Robert, jy is te goed vir my!”
“Ek is nie … Jy is ’n lieflike meisie en ’n goeie vrou. Ek het jou lief.”
“Dankie, my skat.”
“Dankie vir jou. Het ek jou vertel dat jou hare baie aantreklik lyk?”
Op watter planeet bly hierdie mense? wonder ek terwyl ek lees. Ek ken baie mense, maar sulkes het ek nog nooit ontmoet nie. Ek vang my dat ek wag vir die onvoorspelbare oomblik om homself te kom aanmeld. Iets moet skeefloop. Niks kan so volmaak bly vir ewig nie, vertel my siniese brein. Genadiglik gaan die crisis eventualis (my eie uitdrukking), soos die gifbeker, ook nie by die volmaakte paartjie verby nie. Robert raak dronk! Vir die eerste keer in sy lewe toe hy saam met ’n studentevriend kuier. Hulle vergryp hulle aan die voggies, strompel stadsaal toe en daar ten aanskoue van die publiek speel hulle bok-bok, soos kinders wat die lewe geniet. Dankie tog, sug ek van verligting. Ek kry sommer weer geloof in die mensdom.
Later lees ek róndom die soete liefde en let op die uitdrukkings van daardie tyd. Die jare voor selfone, internet en Harry Potter. Die jare toe hierdie soort liefde dalk ’n werklikheid was. O ja, en toe almal, lyk dit my, gerook het. En Namibië Suidwes was. “Hy plak die horing van die telefoon neer.” “Hoeveel gellings petrol moet ek ingooi?” “Iemand wil maaster Robert spreek.”
Die stories se temas het te doen met verbode liefde, soos wanneer twee aartsvyande se kinders op mekaar verlief raak. Misverstande, soos wanneer ’n hardwerkende boer dink die meisie van sy hart is verlief op ’n gespierde, bruingebrande pierewaaier wat eerder tennis speel as werk. En tweede kanse, soos wanneer ’n man se beste vriend sterf en hy in sy vriend se jagstewels moet pas om die weduwee se liefde te wen.
“Die meisie op die bus” is my gunstelingstorie. Hier het die liefde nie uitgewerk nie: die meisie het die held laat gaan, trou met tweede beste, skei, en toe die noodlot haar en die held weer bymekaar uitbring, is hy bankrot en sy het ’n gevreesde siekte. Hier eindig die storie op ’n effens desperate noot. (Wat sê dit van my?)
Dit is wel ’n lieflike verhaal.
’n Boek het die vermoë om my spanningsvlakke die hoogtes in te jaag. Ek doen maklik die onvergeeflike en spoedlees die laaste bladsy net om die knop op my maag te laat skiet gee. Daarna kan ek ontspan en elke woord met aandag inneem.
Met Die meisie op die bus en ander liefdesverhale was dit nie nodig nie. Die meeste hoofstukke het ’n gelukkige einde. Al is daar ook teleurstelling en wroeging en sukkel mense wat vir mekaar bedoel is om by mekaar uit te kom, kan jy ontspan in die wete: all will be well.
Vir my is dit die sjarme van die boek.
Ja, die stories is dramaties en sentimenteel en amper onwaarskynlik. Min mense se realiteit lyk so, glo ek. Maar juis daarom bied die boek lekker ontvlugting. Vir die onrustige tye waarin ons nou leef, is dit net die oplossing om jou brein te laat ontspan en van die wrede werklikheid te vergeet. Veral na ’n besige dag en ’n spanningsvolle tyd.
Ek het my kom kry dat ek nie wou ophou lees nie.
Soms het ’n mens nodig om nie te dink nie, geheel en al af te skakel en jou oor te gee aan die liefde. Toeka se tye se liefde.