Die media het ons almal by die anti-Trump beweging ingesleep

  • 14

Rohan Magerman (foto: Facebook)

Laasweek vind ek uit dat Amerika toe regtig die land van geleenthede is; enige een kan president word, selfs al weet jy meer van die glanslewe as politiek. Om nie eens te praat van ‘n migrant van ‘n obskure hoekie van die aarde wat 'n groot sprong van die voorblaaie van Vanity Fair en GQ tot die heilige gange van die Wit Huis gemaak het. Maar selfs vir iemand van die Cape Flats (lees: die uwe), wat nie die verskil tussen Republicans en ‘n skoolkonsert ken nie, behoort dit nie ‘n openbaring te wees nie. Ek meen, nie eens ons eie pressie het matriek gehaal nie.

Eintlik het ek laasweek nogal baie uitgevind oor die agter-die-skerms-dinamika van politiek, danksy ‘n 300-bladsy-skindertydskrif (geredigeer deur Thuli Madonsela) wat handel oor die bromanse tussen die Eskom-baas en 'n Indiër-sakeman, omkopery, en ‘n sjebien in ‘n eksklusiewe woonbuurt. Steeds gee ek nie voor dat ek alles van politiek af weet nie. Maar na ek in ‘n neutedop oor die State of Capture Report gelees het, lyk die teorie dat Rusland ‘n invloed gehad het op Donald Trump se oorwinning, glad nie so absurd nie.

Die bietjie kennis wat ek het van die Amerikaanse politieke situasie het ek gekry uit opskrifte, status updates en memes op sosiale media. Met ander woorde, ek het net geweet dat die voormalige eienaar van Miss USA en ‘n voormalige presidentsvrou die afgelope jaar kompeteer om die volgende bewoner van ‘n neoklassieke herehuis in Washington DC te wees. En dat miljoene Amerikaners tans besig is om deur die vyf fases van rou te gaan.

Trump, 'n omstrede besigheidsmagnaat wat eens op 'n tyd Hollywood-sterre in die pad gesteek het op Celebrity Apprentice, het in laasjaar 'n weddenskap met sy vriende aangegaan dat hy die volgende presidentsverkiesing met meer as 270 stemme kan wen. Of so blyk dit. Hillary Clinton, daarenteen, was al besig met haar verkiesingsveldtog vandat sy op kleuterskool was. Die wedloop om tot die top-posisie in Amerika se regering verkies te word, was besaai met skandale, omstredenhede en verleenthede soortgelyk aan al die kere wanneer Jacob Zuma in die publiek verskyn het.

Vroeg in sy veldtog het die media alreeds konsensus bereik dat Trump nie 'n kans staan nie. Elke keer wanneer ek aanlyn gegaan het, het ek 'n hoofopskrif van die wêreld se voorste nuusorganisasies gesien wat insinueer dat Trump se veldtog van die begin af 'n groot grap was. En ons almal het dit vir soetkoek opgeët. Ten spyte van die feit dat Trump belowe het om die Amerikaanse Droom tot sy volle glorie te herstel, het die media hom tot egotistiese politieke terroris verklaar. As deel van die minderheidsgroep is ook van my verwag om Trump te haat omdat hy glo Muslims, gays en onwettige Meksikane gaan dwing om van Trump Tower af te spring as hy tot president verkies sou word. Sou ek net een goeie woord oor Trump skryf op Facebook, het 'n hele paar van my aanlyn vriende my summier geblok.

Trump se oorwinning was die teenoorgestelde van wat almal verwag het. Volgens die hoofstroommedia en die Nigeriese profeet TB Joshua sou die konfettikanonne op 8 November op Clinton en haar Ralph Lauren-pakkie oopbars. Selfs Clinton was oortuig dat sy die een sou wees wat daardie trefreël uit Independence Day – "We will be united by our common interests" – sou aanhaal as aliens eendag sou dreig om die aarde aan te val.

Maar daar neem Donald Trump die eerste tree as nuwe president op die verhoog met die vier perderidders van die apokalips (Jared Kushner, Donald Junior, Eric, en Ivanka Trump) agterna. En elders – in New York se Javits Center om presies te wees – ontdek Clinton-ondersteuners toe dat die spreekwoordelike glasplafon van Amerikaanse politiek eintlik van splintervaste materiaal gemaak is. Vir die wêreld het dit gevoel asof Oordeelsdag uiteindelik hier is. Vir Suid-Afrikaners was dit 'n déjà-vu oomblik, een wat ou 2009-wonde kom oopgekrap het.

Wat die meeste Amerikaners, en alle Suid-Afrikaners wat nou oortuig is dat hul drome om eendag au pair­-werk in die VSA te gaan doen daarmee heen is, nie besef nie, is dat Trump nie naastenby so rassisties is soos wat die media ons laat glo het nie. Sure, hy kan somtyds 'n arrogante son-of-a-bitch wees, maar niemand sal stop om te dink dat Trump al dekades voor Obama se adminsirasie vir gelykheid geveg het nie. In 1997 het Trump die gemeenskap van Palm Beach gedagvaar vir hulle rassistiese beginsels teenoor Jode en swartes wat verband gehou het met eiendom wat hy in die gebied gekoop het. En in 'n 2000-onderhoud het Trump genoem dat hy sy land se Handves van Menseregte sal wysig om 'n verbod te plaas op diskriminasie teen seksuele oriëntasie.

Die Amerikaanse politieke situasie het eintlik niks met my uit te waai nie, maar as 'n persoon van kleur wat enige vorm van diskriminasie ten sterkste afkeur, voel ek dat Trump nog altyd 'n beter kandidaat was as Clinton. Barack Obama het klaar bewys dat tokenism nie die antwoord op Amerika se rassespanninge is nie. Onthou hoedat die wêreld positief gereageer het op Obama se aanstelling as president en graad 5’s inspirerende opstelle moes skryf oor wat Amerika se eerste swart president vir menseregte sal beteken? Turns out Obama se langtermyndoel was om soveel moontlik mense te kry om vir bekostigbare gesondheidsorg te registreer, terwyl honderde swart mans elke jaar in die land vermoor word.

Ek stem saam met die Nigeriese romanskrywer Chimamanda Ngozi Adichie dat die enigste manier waarop ons Trump se vermoeëns as president kan beoordeel, is om te kyk na sy veldtog, wat ek glo meer meriete had as dié van Clinton.

Minderwaardigheidsgroepe het nie vir Trump gestem omdat hulle dreigoproepe van die Ku Klux Klan ontvang het nie, maar omdat Trump hulle oortuig het dat hy veel meer vir swartes, gays, vroue, ens kan doen as Clinton en Obama. Punt.

  • 14

Kommentaar

  • conrad steenkamp

    Rohan, dis juis weens Trump se veldtog dat mens 'n oordeel oor hom kan fel, met of sonder die media.

  • Rohan, baie "kenners" kan baat by jou houding om nie voor te gee dat jy weet wat jy nie eintlik weet nie. Nogtans oorspronklik en meer prikkelend as die meerderheid stukke wat ek oor hierdie onderwerp gelees het.

  • Rohan, ek is nie ingetrek deur media nie. Die media verloor nou alles wat hulle gehad het - hulle het nie meer onderrigkrag nie, hulle word nie meer geglo nie ens. Wat my verstom is dat mens nou ontsettend baie navorsings- en ondersoekmetodes het. Dan's daar wikileaks. O my hemel. Wikileaks was baie baie om te lees maar ek het dit gedoen en my morsdood geskrik. Ek het altwee die kandidate krities nagevors en Ms Hillary het my bang gemaak. Sy en Bill het verskriklike dinge langs die pad gedoen. Gehoor van Danney Williams? Die outjie lyk ook soos Leonardo di Caprio. Sulke soort goed. The New Clinton Chronicles was soos 'n Halloween-movie - nie geweet mense kan in so 'n kabaal wees nie.

  • Een van die interessantste en mees objektiewe perspektiewe wat ek nog gelees het. So anders as die heersende media-histerie.

  • Baie nugter artrikel. Tragies dat die Suid-Afrikaanse burgery hulle ook deur die plaaslike media laat mesmeraais het met anti-Trump valshede. Plaaslik het die media reeds begin om hul lesers voortydig met pro Cyril Ramaphosa propaganda te dwangvoer. Hulle maak weer dieselfde fout. Verstommend!

    • Koos jy is 100% reg. Die probleem is by al die ouetehuise en waar mens in 'n hospitaal wag word CNN op mens afgedwing. Hulle het 'n deal met al die semi-marxistiese landjies. Ek kon nie glo dat Tim du Plessis met Dawie praat een oggend en hy sê wragtag, by Trump se konvensie was alles chaos en Hillary se konvensie het glad verloop. Toe dink ek waarvan praat hierdie man? Gaan hy ooit na die ALT MEDIA toe waar mens bewyse kry saam met jou nuus? Ek het elke woord uit Trump se mond gehoor, die goed en die sleg. Wonder hoe sou party van hierdie politici gevaar het met 'n oop mikrofoon-slagyster tussen 'n paar mans! Ek was al by bachelorettes en vroue kan werklik erger wees as mans. Koeke in die vorm van ... toemaar. 'n Mens wil net weer 'n slag 'n joernalis sien wat sy eie navorsing goed gaan doen het en dit oordra. Ongelukkig wanneer Ma kom kuier moet ons die TV-nuus aansit. Hulle weet die ou mense glo nog die regering het 'n goedheid van gees teenoor die regte egte kiesers. OMG - gaan kyk 'n bietjie alles oor PIZZAGATE en word baie baie bang!

  • Rohan, jy het duidelik nie jou huiswerk gedoen nie. Ek het eers gedink sommige van jou opmerkings is tong-in-die-kies of aspris aanvegbare stellings sodat jy 'n paragraaf verder dinge in perspektief kan plaas, maar tot my teleurstelling ontdek dat jou ligsinnige gekweel werklik op onkkunde berus. Ek het raad vir jou: lees elke dag die New York Times, Washington Post, Los Angeles Times (hulle is almal aanlyn beskikbaar), die New Yorker (vir 'n skeut humor en briljante taalgebruik ... jy het duidelik 'n goeie aanvoeling vir taal, want ek hou van jou skryfstyl) en eers dan kyk jy gereeld wat by Trump se mond uitroggel. Hy's oneties en narsisisties en kan nie juis lateraal dink nie, in kort, onlogiese, populistiese antwoorde die sukkelaars opsweep met onbedoelde, onpraktiese, onhaalbare beloftes. Vir hom gaan dit net oor persoonlike mag. En nou stel hy links en regs ander biljoenêrs aan (wat, soos hy, ryk geword deur ander mense uit te buit) in sleutel-kabinetsposte. Sy insig in kennis van wêreldpolitiek is gevaarlik. Hy's spreekwoordelik die bul in die porseleinwinkel. Amerikaanse kiesers gaan dit binne enkele jare ontdek, maar dan gaan Amerika sy leidende rol in wêreldpolitiek verloor het en die chaos in Europa en die Midde-Ooste sal verder gevorder het, die magbalans tussen oos en wes verder versteur wees en Afrika verder uit die bus geval het. Trump het net een passie: hyself.

    • Louis, jy beweer dat Rohan nie sy "huiswerk" gedoen het nie. Nie juis 'n insiggewende opmerking, gegewe die feit dat die outeur dit in soveel woorde toegee nie. Jou daaropvolgende "raad" oor die bronne wat hy moet raadpleeg sou nie juis bydra tot die inhoud nie, aangesien dit juis hierdie bronne is wat dinge so verkeerd gehad het. Hieruit blyk dit 1) dat jy nie die stuk ordentlik gelees het nie, en 2) dat jy ook nie verstaan waaroor dit gaan nie.

      • Stem volkome saam. As mens nou by die waarheid uitkom is daar ongelooflike bronne. Is daar nog iemand hier wat CNN en al sy boeties kyk? Het iemand al gaan luister na Molineux, Paul Joseph Watson, Mark Dice, Cernovich, Milo Yiannopoulos, Ben Shapiro (so-so ...) so bietjie van Infowars se onderhoude met Larry Nichols en Roger Stone gekyk? O en Breitbart en ZeroHedge en Drudge? Gaan kyk na The NEW Clinton Chronicles. Daai man het sover als reg voor uitgesê. New York Times ... oops nee.

      • Louis Heyneman

        Pyrrho, omdat jy onder 'n skuilnaam skryf, gaan ek my nie steur aan jou beledigende teregwysings nie. Ek, Louis Heyneman, is geensins skaam om my kommentaar onder my eie naam te publiseer nie. Ek het 'n bewese rekord as joernalis oor veertig jaar en hoef nie my standpunt oor Rohan se amateuragtige stellings te verdedig nie. 'n Deeglikse analise van die artikel sal die gebreke duidelik uitlig.

    • Taalgebruik is alles vir jou maar die duiwel in die detail pla jou min. Ek ondersoek ALMAL voordat ek enige media luister of lees. Volg die geld en kom by verskrikking uit. Ek is verstom oor die komplimente wat jy daardie mense gee. Het jy geweet Julian Assange is nou al 33 dae weg? Die Times gaan dit nooit vir jou sê nie. Maar dit is die man van die JAAR of EEU of EEUE - hy is moontlik bygekom deur dieselfde mense wat daai passé koerante en media borg.

  • Ek hou van hoe jy dit stel. Ek dink Trump het nie die politieke retoriek-taal nie, en ek hoop hy word ook nie polities korrek nie. Retoriek sonder substansie laat jou versuip sonder dat jy dit besef. Retoriek is watertrap terwyl jy desperaat na 'n spaan soek. En ek is glad nie 'n ondersteuner van die Reps nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top