Die man wat die wêreld leer hande was het

  • 5

Ignaz Semmelweis (foto: Wikipedia)

In hierdie dae, waar die dodelike koronavirus die belangrikheid van handewas opnuut onder almal se aandag gebring het, is dit gepas om hulde te bring aan die man wat die wêreld laat besef het hoe belangrik hierdie alledaagse gewoonte is.

Die man wat ons leer hande was het, is Ignaz Semmelweis. Hy was ’n Hongaarse dokter wat, soos baie ander mense, ’n profeet was wat nie in sy eie land geëer is nie. Dit is die verhaal van ’n man wie se idees baie meer lewens sou kon spaar as daar vroeër na hom geluister is. Daar is egter die spot met hom gedryf.

Dit was die jaar 1846 en die begin van ’n era wat bekend geword het as die goue era van geneeskundige wetenskaplikes. Daar is al hoe meer van dokters verwag om wetenskaplike opleiding te hê en weg te doen met bygelowe.

Dokters soos Ignaz Semmelweis het nie meer geglo siektes is een of ander wanbalans wat veroorsaak word deur bose geeste in die lug of sulke goed nie. Hulle het die mens se anatomie bestudeer, outopsies gedoen en al hoe meer begin belangstel in die data wat op dié manier versamel word.

Een van die goed wat die jong Semmelweis opgeval het, was die groot aantal sterftes onder vroue in kraamsale. Die vroue is dood as gevolg van oënskynlike hoë koors, wat as childbed fever bekendgestaan het, nadat hulle geboorte geskenk het.

Hy het twee afsonderlike sale se pasiënte bestudeer en gesien daar is ’n radikale verskil in die aantal sterftes in die twee sale. Die een saal se personeel was uitsluitlik manlike dokters en mediese studente, terwyl die ander saal se personeel uitsluitlik uit vroedvroue bestaan het. In die saal met die dokters en mediese studente was die sterftesyfer geweldig hoog, terwyl daar weinig sterftes in die saal met die vroedvroue was.

In die saal met die vroedvroue het die vroue geboorte geskenk terwyl hulle op hulle sy lê en in die saal waar die dokters gewerk het, moes die vroue op hul rug geboorte skenk. Hy het die vroue daar ook op hul sy laat draai om geboorte te skenk, maar daar was geen verskil in die sterftesyfer nie.

Daarna het hy agtergekom elke keer as iemand in die saal as gevolg van die koors sterf, daar ’n priester deur die kliniek verby die vroue se beddens loop met ’n klokkie in sy hand wat lui. Aanvanklik het hy gedink dit maak die vroue so beangs dat hulle ’n koors ontwikkel, siek word daarvan en doodgaan weens die koors.

Hy het die priester oorreed om die klok te laat vaar en sy roete te verander, maar dit het ook geen effek op die aantal sterftes gehad nie. Teen dié tyd was die jong Semmelweis reeds erg gefrustreerd en het hy vir ’n vakansie Venesië toe gegaan om sy kop skoon te kry.

Met sy terugkeer moes hy die slegte tyding aanhoor dat een van sy kollegas wat ’n patoloog was ook siek geword het van die koors en dood is as gevolg daarvan.

Hy het sy vriend se simptome ondersoek en besef hy is aan dieselfde komplikasies dood as die vroue in die kraamsaal. Hierdie leidraad het hom laat besef daar moet ’n skakel wees tussen die dood van sy patoloog-vriend en die vroue op wie daar outopsies gedoen is. Vir die meeste ander mense was daar niks vreemd aan die manier waarop die patoloog dood is nie. Dit het dikwels gebeur dat patoloë weens sulke komplikasies sterf. Dit het egter ’n klokkie by Semmelweis gelui. Die koors waaraan die vroue dood is, het nie net by die vroue voorgekom nie. Ander mense in die hospitaal kon ook daarvan siek word.

Dit het egter nie sy oorspronklike vraag beantwoord nie. Waarom het meer vroue as gevolg daarvan in die saal met die dokters gesterf as in die een met die vroedvroue sonder dokters?

Die groot verskil tussen die twee sale was slegs dat daar in die saal vol dokters outopsies gedoen is op die vroue wat sterf, terwyl daar in die vroedvroue se saal geen outopsies gedoen is nie.

Sy vriend, die patoloog, se dood was vir hom die sleutel om die raaisel mee op te los. Semmelweis se vriend het sy vinger geprik terwyl hy besig was met ’n outopsie op een van die vroue wat as gevolg van die koors dood is.

Semmelweis se hipotese was dat daar stukkies van die kadawers waarop outopsies gedoen is, op die dokters se hande beland het. Wanneer hulle ná die outopsies die vroue in die saal help kraam het sonder om hulle hande te was, moes daar van hierdie deeltjies in die vroue se liggame beland het wat hulle siek gemaak en laat sterf het.

Hy het tot die gevolgtrekking gekom die siekte kan deur middel van die dokters se hande aan die vroue wat geboorte skenk oorgedra word. Semmelweis het nog niks van kieme geweet nie, maar het besluit dokters moet hulle hande met ’n chloor-oplossing was om ontslae te raak van die stukkies kadawer nadat hulle outopsies gedoen het. Die rede waarom hy chloor gekies het was waarskynlik omdat hy gedink het dit is die beste manier om ontslae te raak van die reuk wat die stukkies kadawer op die dokters se hande gelaat het. Chloor is egter ook een van die beste ontsmettingsmiddels. Die sterftesyfer onder vroue in die kraamsaal het dramaties gedaal van ongeveer tien persent tot tussen een en twee persent nadat die dokters begin het om hulle hande daarmee te was.

Semmelweis se hipotese dat alles van handewas afgehang het, is egter as ekstreem beskou en grootliks geïgnoreer. As hulle hierdie hipotese van hom destyds aanvaar het, kon dit baie meer vroue se lewens gered het.

Sy kollegas het nie sy opgewondenheid gedeel nie. In die eerste plek was hulle ontsteld omdat sy hipotese die indruk geskep het dat hulle verantwoordelik was vir die vroue se dood. Tweedens was hy ook nie baie taktvol nie. Hy het diegene wat van hom verskil het glo in die openbaar verkleineer en so van verskeie invloedryke mense vyande gemaak.

Uiteindelik het die dokters weggedoen met sy voorstel om hulle hande met die chlooroplossing te was en Semmelweis het sy werk verloor. Hy het probeer om dokters elders in Europa te oorreed om hulle hande met die chlooroplossing te was, maar niemand wou na hom luister nie.

Soos wat die jare aangestap het, het Semmelweis al hoe meer ontnugter geraak en ook vreemd begin optree. Daar word bespiegel dat hy ’n geestesongesteldheid ontwikkel het wat moontlik deur sifilis of selfs Alzheimer se siekte veroorsaak is. In 1865 is hy op 47-jarige ouderdom in ’n gestig opgeneem, waar hy twee weke later dood is.

Die tragiese slot van die verhaal is dat Semmelweis waarskynlik dood is nadat hy deur van die wagte aangerand is en een van sy wonde septies geword het – basies dieselfde siekte waaraan hy sy lewe wou wy om te voorkom dat die vroue as gevolg van sogenaamde childbed fever sterf.

Jare na sy dood het sy teorie om hande te was eers wye aanvaarding gekry toe Louis Pasteur die sogenaamde kiemteorie bevestig het en iemand soos Joseph Lister higiëniese metodes met groot sukses aangewend het om lewens te spaar.

  • 5

Kommentaar

  • Baie dankie Jean Oosthuizen dat jy Semmelweis se uitvinding weer aan die wêreld bekendgestel het. Baie mense verstaan seker nou beter waarom handewas in hierdie tye so lewensbelangrik is.

  • Christine Barkhuizen-Le Roux

    Jean, dít is nou 'n stuk sinvolle inligting in hierdie tyd! Baie dankie daarvoor. Ek hoop baie mense lees dit en verstaan die belang hiervan!

  • Johan Coetzee

    ...maar my liewe land. Ek is verstom oor hierdie handewas stories wat nou die rondte doen. Vir my was dit nog altyd deel van die lewe. Sal een van julle ooit voorheen van die winkel af gekom het en nie eerste en dadelik julle hande deeglik gewas het nie? Of aan relings en handvatsels gevat het? Ek glo darem nie. Om roltrappe loshande te ry is mos waaragtig nie so moeilik nie. Dis mos soos Ignaz al vir ons in 1846 en daarna my Ma vir my geleer het. Of nie ons skoene uittrek wanneer ons in ons eie en ander mense se huise instap nie?
    Maar hierdie is 'n goeie en tydige artikel. So lyk dit vir my.

  • Chris Marnewick SC

    Ek het jare gelede 'n boek oor Semmelweis gelees. Toe ek onlangs vir twee mediese dokters van hom vertel blyk dit dat hulle nooit by hulle mediese school (Kaapstad) van hom geleer het nie. Die geskiedenis van elke wetenskap is belangrik. Dit leer tog waarom dinge werk soos dit doen.

    Tweedens het ek later ook gelees dat 'n Amerikaner krediet moet kry vir die noodsaklikheid van hande was maar ek hou by Semmelweis. 'n Profeet word selde in sy eie land ge-eer.

  • Grannis Avenue

    There are traces of running water having been used in India long before people ever washed their hands in Europe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top