'Verras deur die man op die donkie.' Wat 'n treffende titel vir 'n boek! Eintlik is die titel: Surprised by the man on the donkey en is geskryf deur dr Denise Ackermann, waarvoor sy 'n letterkundige prys gaan ontvang.
Sal miskien nog haar boek lees maar wil oor die man op die donkie skryf. Die man wat net minder as 2 000 jaar gelede, in sy oomblik van glorie, Jerusalem op 'n geleende donkie binnegery het. Oor sy nederigheid is daar geen twyfel nie. Het 'n artikel gelees van iemand wat argumenteer dat hierdie man die belangrikste mens is wat ooit die aarde bewandel het. As jy dit betwyfel dink daaraan dat ons jaartal by sy geboorte begin en dat as 'n paar eeue teruggegaan word die oorgrote meerderheid boeke oor hom geskryf is. 'n Man wat gedurende sy kort lewe in agterlike Palestina, daagliks die stof aan sy voete gevoel het en sonder 'n huis die hitte en koue beleef het. Sy geskiedenis word gekenmerk deur ironie.
Nederigheid alleen kan seker nie soveel bereik nie? Sy verkondiging van liefde teenoor almal staan sentraal. Dis waar die ironie begin want duisende is in sy naam doodgemaak. Mettertyd het mense moeg geword vir al die verhale rondom hom of miskien is dit moderne reklame wat ons oorweldig het deur ons gedurig te vertel wat ons moet drink, eet, mee ry en koop? Nogtans aanvaar talle mense steeds sy woorde dat jy nie weer sal dors kry nie as jy hom volg. Sy boodskap is nog nuus in Afrika, Suid-Amerika en Asië. Dis net die “beskaafde wêreld” wat moeg is daarvoor en met die materiële volstaan. En dan kom 'n Afrikaanse dominee in Nederland, André Jansen, met die berig dat die kerk in Europa se toekoms blink lyk – dat die kleinkinders van die verlore seun en dogter weer die boodskap hoor en moeg is vir die leegheid (http://www.netwerk24.com/stemme/2015-06-01-andr-jansen-kerk-se-toekoms-lyk-drom-blink).
George Bekker


Kommentaar
Ek het self nie boek gelees nie, maar baie oor die man wat op die donkie gery het. Hy moes, bo alles, ook nog 'n sirkusakrobaat gewees het, want hy het Jerusalem op 'n donkie en op die vul van die donkie binne gery.
Dit is treffend, George. Dankie.
Ekself het ook nie die boek gelees nie, maar wel baie oor die man wat op die donkie gery het. Ek het ook baie gewonder oor hoe Hy Jerusalem ingery of waar Hy vertoef het. Maar nadat Hy my gevul het met Sy ewige liefde het al my vrae verdwyn.
Wow - wat 'n ontmoeting! Skielik het dit nie meer saak gemaak of Hy gery het op 'n vul, 'n donkie of in 'n Porchse nie. Want ek het die man persoonlik leer ken en liefkry.