Die man in die gat

  • 0

“Die man in die gat” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Die man in die gat

Daar bly ’n man in ’n gat langs die besige lughawepad. Die dak van sy huis is ’n sementblad tussen ’n paar bloekombome. Hy leef ingegrawe daar onder. In een van die bome is ’n holte waarin hy sit as dit reën. Elke middag as ek en my hond gaan stap oor die netjies gesnyde gholfbaan, sien ek van ver af al die rook van sy vuurtjie langs die hoë elektriese heining tussen ons.

Die man pla my, net soos ’n harige mot wat in die nag teen die plafon vasvlieg en sy harigheid aan my kom afsmeer. Ek kan hom nie vergeet nie. As ek in die nag in my bed lê onder my warm deken weet ek hy kry koud, want dit het vanmiddag baie hard gereën. Ek het gesien hy hang sy vuil kombers oor die padteken om dit desperaat te probeer droog kry in die laaste lig van die son.

Die man bly al maande daar. Elke middag wens ek hy is nie meer daar nie, maar dan sien ek hom loop. Hy tel ywerig blare op om die vuur te stook, want daar is nie meer hout langs die pad nie. Sy klere fladder in die wind. Hy is ’n skaduwee sonder ’n gesig.

Ek wonder oor hom. Wat eet hy as hy daardie vuur so stook, het hy ooit ’n pot of ’n beker. Waar kom hy vandaan? En hoekom het sy mense hom nie al kom soek nie? Dis al so lank. Hoekom het hulle van hom vergeet?

Hy pla ander mense ook. Die polisie het al die gat aan die brand kom steek met die hoop dat hy nie sal terugkom nie. Dit het nie gewerk nie. Drie dae later was die rook van sy vuurtjie terug. Ek kon my indink hoe swart verbrand alles was wat hy oorgehad het.

Ek begin planne bedink om hom te help. In die middag stap ek naby die draad verby en probeer kyk wat hy doen. Hy staan net daar, gooi blare op die rokende vuur. Ek soek na die veiligheidskamera op die heining. Daar is slegs ’n lig, die kamera is verder weg, nader aan die hoek. Dis nie reg langs sy slaapplek nie en ek weet verlig die sekuriteit gaan nie sien as ek hom probeer help nie. Ek bly staan, maar hy kyk nie eers vir my nie, stook net sy vuurtjie.

Ek pak ’n boks met ’n pot, ’n beker, eetgerei, brood, blikkies kos, ’n oopmaker en ’n paar stukke hout. Ek ry stadig verby sy plek langs die draad. Daar is ’n reling langs die pad wat maak dat ek nie daar kan stop nie. Ek ry verby die reling, spring uit en sit die boks en die hout langs die pad neer. Daar is geen teken van hom nie. Ek kyk later die middag, toe ek met my hond gaan stap, of hy nie met daardie pot iets kook op sy vuur nie, maar ek kan niks herken nie. Dalk het ’n ander desperate verbyloper dit opgetel en saamgedra.

Die winter kruip stadig onder my baadjie in en ek voel die koue aan die serp wat ek stywer om my nek wikkel. Hoe koud kry hy nie as ek so knus in my bed lê nie. Die koue moet in sy beendere indring. Hoe oorleef hy elke nag? Ek dink aan ’n kombers en ’n baadjie vir hom. Het hy ooit sokkies of skoene? Watter nommer sou hy dra? Dan besef ek, swaarkry het nie ’n nommer nie. Dit is net ’n heining wat ons skei, maar daar is ’n uitgestrekte afstand tussen ons al loop ek elke middag neffens hom verby.

Hy staan die volgende middag roerloos teen een van die bome. Ek lig my hand in ’n groet gebaar, maar hy sien my nie. Miskien wil hy my nie sien nie. Kan hy my net nie aankyk nie, want ek het alles wat hy nie het nie? Veiligheid, warm klere, kos, hout en ’n pragtige rooibruin hond. My wêreld en syne is te ver uitmekaar.

Daardie nag waai daar ’n yskoue wind. Die man hou my uit die slaap. Ek gaan soek in my kaste. Die volgende middag ry ek en my seun stadig verby sy plek daar langs die pad. Ons gooi twee sakke deur die venster. Daarin is ’n groen kombers, ’n baadjie, kouse en nog warm klere.

Ek kyk elke middag of ek nie die groen kombers om sy vuil lyf sien nie, maar hy bly net verswart en verflenterd. Soekend.

Na ’n week met vakansie toe ek met die hond gaan stap, sien ek van ver af daar is twee mense tussen die bome. Sou daar nou nog iemand by hom ingetrek het? Ek stop langs die draad. Dit is ’n stuk vuil lap wat met ’n tou hoog aan ’n tak vasgemaak is. Die lap het ’n kop. ’n Pop met swart wol hare en ’n breë glimlag. Agterop die lap staan in vet letters. “Ma Boss.” Is dit omdat hy na sy ma verlang of sy manier om te wys hy gee nie op nie.

As ek in die middag nie die rook van sy vuurtjie sien nie, begin ek my bekommer oor waar hy is. Het hy dalk by ander huislose mense gaan kuier? Het hy ooit vuurhoutjies om sy vuur mee aan te steek? Dink net as dit jou laaste vuurhoutjie vir die dag is en die wind waai dit dood. Of nog erger, sê nou hy is dood? Dalk is hy dood? Sou dit nie vir hom beter gewees het om een dag net voor ’n vragmotor in te hardloop nie? Dan sou sy lyding verby wees. Die polisie sal seker darem die lyk kom oplaai en in die staat se lykshuis stoor. Ek weet vir seker dat niemand hom ooit sal kom soek nie.

Een middag gaan staan ek by die draad met ’n appel in my hand. Ek sien hy is daar en ek skreeu om gehoor te word bo die lawaai van die snelweg. Hy draai om. Staan net en kyk vir my. Ek wink dat hy moet nader kom. Hy gee ’n paar tree nader en bly staan. Daar is geen uitdrukking op sy gesig nie. Hy staan net en kyk vir my. Ek druk die appel deur die twee drade sonder dat ek geskok word. Dit val ’n ent verder. Hy kom haal dit nie. Ek gooi ook ’n paar takke oor die draad. Hy staan stil vir my en kyk. Hy praat nie. Dalk is hy stom.

Later toe ek terugstap, gaan kyk ek. Hy het dit opgetel.

Ek begin elke middag voor ek uitstap by die agterdeur dink wat ek vir hom kan saamvat. Partykeer is dit oorskietkos, styf toegedraai om dit makliker deur die elektriese heining te druk. Ander kere is dit ’n lemoen. Ek dink myself in hoe soet die sap van ’n lemoen sal proe as dit jou enigste kos en vog vir die dag is. Waar drink hy water? Lek hy soos ’n dier dorstig uit ’n poeletjie na die reën?

Ek gooi nou altyd takke en bas oor die draad. Hoekom sien niemand anders op die gholfbaan wat gaan stap of gholf speel hom raak nie? Hy lig sy kop as hy my sien, maar hy kom nooit nader om te groet nie. Kyk net vir my. Hy kan dit nie waag om op my te reken nie.

Hoekom is daar mense wat so weggegooi is in ons land? En so baie van hulle. Ek betaal mos belasting wat vir hulle moet sorg. Dit is ’n sisteem wat al hierdie mense faal en gruwelik in die steek laat. Maar dit verander niks nie, want ek sien hom elke koue middag sy vuur stook teen die vrees om nie môreoggend wakker te word nie.

Hoe lank sal hy kan uithou en wat laat hom elke dag aanhou? Wat maak dat ons so styf vasklou aan die lewe? Miskien as hy daar sit by die rook van die vuurtjie, onthou hy die groen heuwels van sy kleintyd saam met sy mense. Verlang hy na hulle. Hoe het hy so verdwaal dat hy langs ’n snelweg in ’n stormwatergat bly?

Ek sien so baie van hulle elke dag. By robotte en kruisings. Die smeking in hulle oë. Vir kos, vir geld, vir iets. Al wat ek kan doen, is om hulle in die oë te kyk, te groet en dalk ’n appel of ’n botteltjie water deur ’n skrefie van my venster aan te gee.

As ek in Pretoria inry verby die Fonteinesirkel sien ek stukkies van hulle bestaan, onder brûe. Bondels wat lê en slaap, plastiekbakke en swartsakke orals. Stokke met stukke plastiek bo-oor om die reën uit te hou. Saamgebondel vir hitte. Vir party is dit ’n deurgang na ’n beter lewe, vir ander, soos die man in die gat, is dit dalk vir altyd. Hoe het ons tot hier gekom?

As ek langs die snelweë van my land ry, sien ek die verflenterdes in hulle voddes vuil, swart klere met ’n sak oor die een skouer en ’n kombers oor die ander. Al wat jy besit. En een dag is jy oud. Dan wonder ek altyd wat jou laat aanhou loop. Dalk is dit hoop. Daardie onverklaarbare ding met vlerke wat hoër as ons swaarkry kan vlieg. Bo-oor die boomtoppe tot in die blou onmeetlikheid in.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top