Die Mabel Malherbe-leeskring is 80: Leeskring in die tyd van korona

  • 2

Fotobron: Canva

Monica Hammes skryf:

Die Mabel Malherbe-leeskring in Pretoria is vanjaar 80 jaar oud. As deel van die viering is ons besig om die geskiedenis van ons leeskring op te skryf. Ons is gelukkig dat die meeste van ons dokumente by NALN bewaar word en ons kon onlangs daarin gaan snuffel.

Dis ’n interessante verhaal van ongeveer 500 vroue en 800 boeke wat in wisselwerking was. Ek het reeds twee groot databasisse saamgestel van die lede en die boeke wat bespreek is en tans weef ons die drade tussen die twee.

Ek het gedink om ’n paar van die stories aan LitNet te stuur en begin met hierdie een: "Leeskring in die tyd van korona."


Daar is die gesegde dat lees aansteeklik is en dat baie mense die "toestand" in hulle kinderdae opdoen. Baie van ons kan getuig van die pa, ma, ouma, juffrou wat ons aan hierdie eerste liefde gehelp het deur vir ons stories te vertel, te lees en boeke te koop en ons met ’n kosbare erfenis gelaat het.

Hieraan dink ek terwyl ek my besig hou met die geskiedenis van die Mabel Malherbe Leeskring wat vanjaar 80 jaar oud is. Dis die verhaal van ongeveer 500 vroue wat groot invloed uitgeoefen het op die leesgewoontes van baie mense. Ek is veral jaloers op drie van ons lede wie se moeders ook lede was.

Nine van der Merwe (foto: verskaf)

Nine van der Merwe was ’n stigterslid in 1940. Sy moes bepaald aanklank gevind het by die doel van die nuwe leesunie nl "om belangstelling vir en kennis van die Afrikaanse en Hollandse letterkundes te bevorder". Haar indrukwekkende naam, Nine Hironyma Fortunata Reitz (Van der Merwe), vertel ’n hele verhaal. Sy was die dogter van dr Hjalmar Reitz en dus ’n kleindogter van pres FW Reitz met wie sy in Latyn gekorrespondeer het tydens haar studiejare aan die Universiteit Kaapstad. Sy was dan ook die eerste vrou wat die BA LLB-graad daar voltooi het. Haar moeder, Elzine, was ’n nooi Mulder van Delft.

"Nadat my Ma gekwalifiseer het, het sy as tikster teen ₤12 per maand in haar pa se prokureursfirma gewerk," vertel haar dogter, Elzine Smuts. "Na haar troue met my pa, ook ‘n prokureur, het sy tuis gebly en vyf kinders grootgemaak. Toe my pa in 1959 skielik oorlede is, het my ma in vennootskap gegaan met Antonie Gildenhuys, die latere regter. Sy moes toe inderhaas die akte-eksamen skryf en het tweede in Transvaal gekom".

Nine was van 1940 af dekades lank lid van die leeskring en was ook die voorsitter in 1950/1951. Elzine onthou dat sy soms besig was om voor te berei vir ’n leeskringpraatjie en dat hulle haar dus nie moes steur nie. Onder andere bespreek sy in November 1955 Adder klawen, ’n Nederlandse vertaling van Le noeud de vipères van Francois Mauriac se 1923-roman. Sy het ook Reader’s Digest-stories vertaal en op die radio voorgelees. Dié stories is in Kort en goed gepubliseer.

Sy was ’n energieke rolbalspeler en betrokke by blinde spelers. Ander liefhebberye was weef en spin en kook. "Toe sy gaan trou het, kon sy skaars ’n eier kook," vertel Elzine. Sy skryf toe by UP in vir die vak Kookkuns-Voedingsleer onder leiding van die befaamde en gevreesde Jess Davidtsz. Hulle het bevriend geraak en Nine ’n voorslag kok.

Elzine het na haar aftrede in 2009 by Mabel Malherbe aangesluit. Haar laaste bespreking was in Mei 2015 van Arnon Grunberg se Tirza.

Katrien Sonnekus (foto: verskaf)

Katrien Sonnekus (geb Erasmus) en haar man, Stoffel, was van die Afrikaners wat binne een geslag die agterstand uitgewis het waarmee die Boereoorlog en die depressie ons gelaat het. In 1944 vestig hulle hul in Pretoria en in 1947 koop die versiende Stoffel ’n huis in Brooklyn – wat hy volgens hulle dogter, Alma Olivier, nie regtig kon bekostig nie – sodat die drie kinders naby goeie skole kon wees en uit die huis uit kon universiteit toe gaan. "So beland twee ongesofistikeerde en akademies swakgeskoolde maar talentvolle mense in Pretoria se universiteits- en welgestelde sakegemeenskap. Hulle staan hulle plek vol in die sakewêreld en verenigingslewe. MC Sonnekus bou as bestuurder verskeie meubelbesighede van die grond af op. Hy dien in kerk- en bestuursrade (oa van Afrikaanse Hoër Meisieskool) en sing (sonder enige musiekopleiding) met sy mooi basstem in kerk- en operakore. Katrien maak naam as ’n puik blommerangskikster en dien jare lank in die bestuur van die Transvaalse Blommerangskikking-Beoordelaarsunie terwyl sy op ‘n stadium op die kantlyn ook nog ’n privaat hotel bestuur om finansies aan te vul," vertel Alma.

En in 1948 word Katrien ’n leesunielid en bly dit tot in die sestigerjare. Dit was die dae toe Chrissie Naudé voorsitter was en ’n mens leesunie toe gekom het met hoed en handskoene. "My ma moes, in die nadraai van die Boereoorlog, op dertienjarige ouderdom skool verlaat en gaan werk om die gesin te help onderhou" vertel Alma. "Behalwe ’n driemaandekursus in tik en snelskrif het sy geen verdere opleiding gehad nie. Maar sy was slim en het die leeskringbesprekings baie geniet."

Alma is sedert 2017 by Mabel Malherbe. In Junie 2018 het sy We need new names van NoViolet Bulawayo bespreek.

Karien Louw is van twee kante leeskring toe gelok: deur haar moeder en skoonmoeder.

Rina Barrie (foto: verskaf)

Rina Barrie (geb De Villiers) is gebore en getoë in die Paarl en het aan die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad studeer met Afrikaans en Engels as hoofvakke.

Karien vertel: "Haar groot belangstellings was in kuns, letterkunde en geskiedenis. Sy het ook graag tuingemaak en moes heelwat onthaal, wat sy baie geniet het en altyd baie stylvol gedoen het. Sy het baie gelees – meesal "goeie" letterkunde en boeke oor geskiedenis en kuns, maar elke nou en dan, vir regtige ontspanning, was dit ’n Engelse speurverhaal. In die Afrikaanse letterkunde was sy veral lief vir die poësie en ek het nog talle digbundels uit haar versameling. Iewers in die sestigerjare skryf sy dat sy in daardie tyd heelwat meer Afrikaans begin lees het, waarskynlik met die vernuwing wat toe plaasgevind het."

Rina was ’n lid van die leeskring van 1955 tot 1964. Sy het altyd met groot sorg voorberei en het gereeld skrywers oor wie se werk sy moes praat, asook die Letterkunde-museum, gekontak vir inligting. In November 1963 bespreek sy Con de Villiers se kontreisketse Overbergse eergister, Donkiespad en Snel dan jare. In antwoord op haar navraag skryf dr Con dat hy wel vir mevrou Kenne Malherbe geken het toe hy vir ses jaar in Pretoria gewoon het. Hieroor sê Karien: "Bid jou aan, Mabel Malherbe was in haar tyd burgemeester van Pretoria en ’n parlementslid, maar in 1963 verwys iemand steeds na haar as Mev Kenne Malherbe!"

 

Dorothy (Dot) Louw (foto: verskaf)

Dorothy (Dot) Louw (geb Murray) het op Mosselbaai en Stellenbosch grootgeword en aan die Universiteit Stellenbosch haar BA en 'n onderwysdiploma verwerf. Na haar troue het sy na die noorde verhuis. Dot het vir ongeveer twintig jaar skoolgehou by die Laerskool Pretoria-Oos. Sy was ’n geliefde juffrou wat ook besondere bydraes gelewer het met die operettes wat onder haar leiding opgevoer is en die talle wenners van kunswedstryde wat sy afgerig het.

Dot het in 1950 by die leeskring aangesluit en het graag niefiksie gelees. Karien onthou een besondere geleentheid toe sy ’n praatjie met skyfievertoning aangebied het oor die tyd wat sy en haar man, Andries, in 1961 in Kenia deurgebring het. Hulle moes help om die Van Riebeeck (Afrikaanse) Skool by Thompson's Falls finaal te ontbind na die Mau Mau-aanvalle en om die gemeenskap by te staan.

Karien se mees onlangse bespreking was op 10 Mei 2018, van Kazuo Ishiguro se Remains of the day.

 

 

 

 

https://www.litnet.co.za/tirza-deur-arnon-grunberg

https://en.wikipedia.org/wiki/We_Need_New_Names

https://en.wikipedia.org/wiki/The_Remains_of_the_Day

  • 2

Kommentaar

  • My ma was die tweede vrou wat die BA.LLB graad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het. Die eerste ene was my Oupa Hjalmar Reitz se suster - nou haar naam vergeet, maar sy het my Ma omtrent gekapittel oor ons opvoeding!

  • Avatar
    MARNA DE KLERK

    Dit is lofwaardig dat die leeskring wat in die Tweeede Wêreld Oorlog gestig is, nog deur al die jare floreer. Ek het 1970 by die leeskring aangesluit en destyds moes 'n mens deur 'n bestaande lid voorgestel word en deur twee lede gesekondeer word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top