
Foto: Canva
Die maan kom saam
Akili sluk swaar. Daar sit iets in sy keel vas. Dit voel soos ’n klip, grof en seer. Hy sluk en sluk, maar dit wil nie weggaan nie. Hy neem ’n teug uit sy waterbottel. Die water proe warm en suur. Dit glip slymerig in sy keel af, laat hom hoes, maar die ding bly knoop in sy keel.
Hy sit langs sy pa in die boot. Dit is baie kleiner as wat hy gedink het. In sy drome was dit ’n groot skip met seile wat boggelrug ry in die wind. En hy en sy pa het in die buik gebly in ’n kamer so groot dat ’n mens daarin kon dans, presies nes die storieboek wat sy ma vir hom gekoop het.
In sy verbeelding het hy voor ’n venster gesit wat ver oor die poeierblou see kyk. Twee bedjies het melkwit teen die muur gestaan met fyn geweefde muskietnette wat heen en weer daaroor wieg. En op ’n tafel wat swaar dra aan dadels en neute, het bekers vol koel bessiesap hom nader gewink.
Maar niks is soos sy drome nie. Hier sit hy en sy pa op die dek vasgedruk tussen klomp mense, en almal reis na die nuwe land. Daar’s hopeloos te veel van hulle. Dit is ’n gestamp en gestoot en oor en weer geskreeuery. Die vrou langs hom steek haar elmboog in sy sy en die baba op haar rug begin gil, skerp soos ’n seemeeu. Hy woel nader aan sy pa, maar sy pa voel groot en vreemd en die bang draai styf om sy maag.
Akili kyk af na sy pa se hande. Dis plat en breed en modderbruin soos die riete wat by hul huis langs die rivier groei. Hy kyk op na sy pa se gesig. Diep kepe staan daaroor gekerf en sy mond is ’n kwaai, dun lyn. Sy pa bly vreemd vir hom, te vreemd, en die vrees brand vlymskerp in sy binneste.
Hy wil huis toe gaan. Terug na sy ma toe, sy boetie, Floribert, en al sy maatjies. Na die rivier en hul koeimisvloer-hut vol bekende reuke. Hy mis die laataandvure wat hom soos ’n wiegeliedjie sus, sy ma se krummelpap wat mens se tong laat krul van lekkerkry. En sy hart trek met ’n punt van verlange.
Dit het alles op ’n vreemde oggend in sy dorpie begin. Die vroeg oggendlig het nog skaam agter die koppies weggekruip, toe hy onverwags wakker word. Iets was anders as gewoonlik. Toe hoor hy dit. ’n Dowwe gestamp wat al hoe nader kom. Floribert het nog vas geslaap en sy pa was reeds weg op die bote. Maar in die skemer kon hy sy ma blinkoog na hom sien loer.
Sy ma het hom aan die hand gegryp en saam is hulle buite toe. Hope mense het reeds rondgestaan. Ma’s, pa’s, kinders en babas. Almal verstom. Die gestamp was nou hard soos renostervoete. Hy kon stemme hoor roep, heen en weer. Liek lak liek lak. Uit die donker het ’n groep soldate verskyn. Trekkerswaar stewels en gewere soos houtpale op hul skouers. Vir die eerste keer in sy lewe het Akili die skrik noustrop binne hom voel trek.
Nader en nader het hulle gekom tot Akili hulle kon ruik, ’n brandgeur wat sy neus kielie. Hy moes sy neusgate toedruk om nie kliphard te nies nie. Die voorste soldate het nie links of regs gekyk nie. Hulle was groot en breed soos blouwildebeeste. Verby die dorpenaars het hulle gemarsjeer asof niemand bestaan nie.
En toe wou Akili se oë amper uit hul kaste spring, want in die agterste twee rye was daar net klein soldate. Nie veel groter as hy nie. Hulle was in roesbruin uniforms nes die ander, met gewere wat hulle verswelg. Oral om hom het die mense gefluister. “Hauw, dis dan kinders.”
Die kindersoldate het reg voor hulle uitgestaar, behalwe vir een wat sy kop draai en skielik reguit na Akili kyk. Akili het verstar bly staan, want die kindsoldaat se oë het hom herinner aan ’n dooie rob s’n wat hy eendag op die strand sien lê het. Hy het styf aan sy ma se hand vasgeklou, tot die soldaat na ’n ewigheid uiteindelik weer vorentoe gekyk het.
Eers toe die laaste soldaat in die verte verdwyn het, het die grootmense om hom begin kwetter en raas. Hy het sy ma vasgegryp, al wou hy nie soos ’n baba voor sy maatjies lyk nie. Maar hy hoef hom nie te bekommer nie. Selfs Yannis, die grootbek-waaghals, het aan sy pa vasgeklou. Sy ma het Akili styf vasgehou al die pad tot in hul huisie, maar steeds kon hy nie ophou bewe nie. Dis toe hy geweet het niks sou weer dieselfde wees nie.
Iets kielie sy wang. ’n Traan, twee trane. Hy vee dit vies weg. Hy wil nie huil voor sy pa op die boot nie. Hy’t sy ma ’n paar weke terug belowe hy sal dapper wees toe sy hom by die rivier kom roep het.
“Akili,” het sy gesê met haar asem wat soos soetwarm klei om sy neus vou. “Akili, my kind, ek het groot nuus vir jou.”
Hy kon nie wag om te hoor nie, maar sy ma het vir eers ophou praat. Sy’t haar kop weggedraai, ver weg gekyk en lank gestaar na die tabaklande wat se blarepluk haar hande soos growwe sout maak. Toe sy weer na hom kyk, was haar oë vol doudruppels, en Akili kon weer die benoudheid aan hom voel vat, want sy ma huil bittermin.
Uiteindelik het sy weer gepraat, bietjies-bietjies soos gebreekte glas: “Omdat jy die oudste is, my kind, gaan jy saam met jou pa weg. Baie ver weg.”
En net daar het sy maag begin rondomtalie, want hy was nog nooit van die huis af weg nie, nie eers buite sy dorpie nie.
Die woorde het uit sy mond getuimel: “Maar hoekom, Mamma? Hoekom moet ons weggaan? Kom jy saam, Mamma? En Floribert? Wat van hom?”
Sy ma het hom teen haar vasgedruk, so styf dat hy haar hartklop kon hoor, en toe het sy hom vertel.
“Pappa en jy gaan na ’n voorspoedige land. ’n Land waar die koeie so baie melk maak dat die mense daarin bad. Waar strome van heuning teen die bome se bas afloop en in die see vloei.”
Akili het haar aangegaap. Hy het nog nooit van só ’n plek gehoor nie.
Hy moes gaan, het sy ma gesê, omdat die beste skole daar is. In sy dorpie word daar steeds onder die baobabboom skoolgehou, want daar is net genoeg hout om huise te bou, krom en skewe gehuggies soos miskruierhope wat maklik kan omval. Die skole in die verre land is van stene gemaak, het sy ma vertel, stewig en sterk en veilig met groot kamers waardeur die wind sing, sodat kinders nooit te warm kry om te leer nie.
Hy kon nie wag vir die avontuur nie, want sy ma het dit so lekker soos suikermielies laat klink. Maar nou is hy nie meer seker nie. Hy mis sy ma te veel en hy weet nie so mooi van sy pa nie. In sy ou land was daar nooit tyd om sy pa te leer ken nie, want hy was ’n diepsee-visserman.
Die kinders in sy dorpie se pa’s werk almal op die bote. Soggens lank voor hanekraai stoot hulle al hul visserbote oor die hoë deinings van die branders en vaar na die middel van die see waar die sappigste visse woon. Saans wanneer Akili en Floribert reeds slaap, kom hul pa eers huis toe. Selfs naweke moes hy visvang. Die enigste teken van hom is die vorige dag se vissermansklere in die wasbalie.
Akili dink nog oor sy pa wat altyd na die see ruik, toe die boot woes op die water begin skommel. Dit wieg heen en weer dat die skuim so staan en die naarheid gryp-gryp aan sy maag.
“Pappa, is dit ’n seemonster wat so maak?” vra hy.
Sy pa neem Akili se hand in syne en antwoord in sy rustige rommelstem: “Nee, seun. Jy hoef nie bang te wees nie. Dis net die ou seekoning wat sy basnote oefen. Dit sal nou verby wees.” En daar, in ’n toweroomblik, word die see weer kalm.
“Sjoe,” sê Akili en kyk verwonderend na sy pa. Selfs die seekoning gehoorsaam sy pa.
“Eet, my kind. Dit sal jou beter laat voel,” sê sy pa en gee vir hom ’n stukkie van sy ma se potbrood.
Op daai oomblik begin die hongerwurm aan Akili se maag knaag en hy vat sommer ’n yslike hap. En dan wip hy soos hy skrik, want uit die bloute val daar ’n vis reg voor sy voete. Dit spartel en skud soos ’n mal haas op die bodem van die boot.
“Hiert jy!” skreeu die vrou langs hom met oë groter as kaskarwiele en sy spring handeviervoet op haar sitplek. Akili en sy pa kyk na mekaar. Sy pa se mondhoeke begin bewe en die laggoggas kerjakker in sy oë.
“O aarde, seun, dis nou ’n ding en ’n half,” sê hy en net daar bars hulle albei uit van die lag.
Die vrou kyk vies na hulle, maar nou skater hulle eers, en voor sy haarself kan help, lag sy saam. Hulle lag tot hul asem op is en hul ribbes pyn, lank en lekker, tot trane slakspore oor hulle wange maak. Lagtrane, nie hartseertrane nie.
En toe reën dit visse. Silwerskubbes vlieg van alle kante oor die rand van die boot. Mense koes en roep luidkeels. Ander gryp houers en maak dit vol van vis.
“Springers,” sê sy pa. “Hulle spring altyd na sonsondergang in die bote.”
En weer eens is sy pa reg. Die son se kaalkop het al weggesak agter die see en die donker trek lang vingers oor die horison, donker genoeg vir springers. Sy pa gooi sy jas om Akili se skouers en tel hom op sy skoot. Dit is warm en snoesig en Akili kriewel dieper in. Hy gee nie eers om dat hy te oud is om op sy pa se skoot te sit nie.
“Pappa,” vra Akili. “Waarheen gaan ons presies?”
“Seun, ons is op pad na ’n land aan die suidste punt van Afrika.”
“Maar, Pappa, sal ons daar mag bly?”
“Natuurlik, my kind. Ons gaan by jou Oom Toet, ma se ouer broer, bly. Hy is ’n visserman op ’n klein dorpie by die see nes ons dorpie. En ek gaan saam met hom visvang.”
“Maar wie gaan na my kyk as jy op die boot is, Pappa?”
“Tannie Gweda sal na jou kyk, Akili. En jy sal vyf niggies en nefies hê om mee te speel. Hulle kan nie wag om jou te ontmoet nie. En in die week sal jy by die skool wees.”
Akili se maag wil net weer begin brand van die bang, toe sê sy pa: “Akili, kyk” en punt sy vinger die lug in. “Wat sien jy?”
Akili kyk en kyk, maar hy sien nie veel nie.
“Seun, wat sien jy?” vra sy pa weer.
“Die donker,” raai Akili, maar hy glo nie dis wat sy pa wil hoor nie.
“Ummm, ja,” sê sy pa, “maar wat is die helderste, grootste ding in die hemelruim vanaand?”
“Die sterre,” sê Akili, maar sy pa skud sy kop.
Hy sit sy hande soos olifantore op Akili se wange. Hy draai Akili se kop eers dié kant toe, dan daai kant toe. En uiteindelik sien Akili dit raak. Dit groei en groei totdat hy dit glad nie meer kan miskyk nie.
“Dis die maan, die volmaan!” roep Akili, en sy pa lyk baie tevrede. Hy is glad nie so kwaai as wat Akili gedink het nie.
Toe vra sy pa: “Wat is om die maan, seun?”
Akili kyk weer en weer, maar hy sien niks nie. Hy skud sy kop, bang dat sy pa sal kwaad raak, omdat hy nie die antwoord weet nie.
Maar sy pa glimlag net en sê: “Sien jy die glans, Akili? Die glans om die maan?”
Akili kyk en dan sien hy dit. Reg rondom die maan is ’n helder skynsel.
“Weet jy wat dit is, seun?” vra sy pa, maar Akili bly tjoepstil. Hy’s nie seker wat sy pa nou wil hoor nie.
“As jy mooi kyk, baie mooi kyk, sal jy sien daardie glans om die maan is eintlik ’n duisend ragfyn toue. Wanneer kinders hulle ma, pa, boeties of sussies agterlaat om iewers heen te reis, dan maak die maan ’n tou wat almal aan mekaar vasbind. Sien, Akili, die maan gaan saam met ons op reis. Dis hoekom hy oor ons boot hang. Hy wil seker maak dat ons almal mekaar weer sal vind.”
“Regtig, Pappa?” vra Akili, sy gesig vol van die maan se glorie. “Werk dit altyd?”
“Altyd, Akili. Daar is ’n tou wat reguit na ons hut gaan. Dit is saggies aan Mamma se arm gebind, so sag dat sy nie eers daarvan weet nie. En daar is ’n tou wat aan ons vasgemaak is, wat ons volg tot waar ons gaan. Wanneer die tyd reg is en ma en Floribert kom vind ons in die land van melk en heuning, dan sal die maan se silwer tou hulle reguit na ons toe lei. Verstaan jy, Akili?”
En Akili verstaan te goed. Met sy eie oë kan hy die glinstering van die draadjies raaksien, duisende van hulle. Eintlik miljoene. En een wat reguit na hul boot loop.“Seun,” sê sy pa. “Wil jy ’n storie hoor?” maar Akili hoor niks meer nie. Met sy kop styf teen sy pa se arm gesak, slaap hy vas soos ’n leeuwelpie wat weet hy hoef vir niks bang te wees nie. Sy pa vou sy arms knus om Akili se skouers, hou hom styf vas nes sy ma, en hul boot vaar aan en aan, al hoe nader aan hul nuwe land, vaar en vaar sag, swewend in die blink baan van die maan op die see.


Kommentaar
Wat 'n pragtige, boeiende skrywe. Dit spreek 'n ontstellende realiteit, wat ons dikwels in die media van verneem, met deernis aan. Akili se reis onder die beskermende maan ontroer. Welgedaan.