’n Lyf onthou vra die leser se eie oordeel

  • 0

Titel: ’n Lyf onthou
Skrywer:
Riette Rust
Uitgewer:
Protea Boekhuis
ISBN:
9781869195489

Klik hier om ’n Lyf onthou te koop by Kalahari.com.

Op die voorblad van dié bundel kortverhale is ’n weerlose, nakende jong vrouelyf wat die aandag trek. Die 17 kortverhale handel oor die lyflike, hoofsaaklik uit ’n vroulike oogpunt en met die fokus op vroulike hoofkarakters. Daar is egter ook verhale wat uit ’n manlike perspektief vertel word. Die meeste verhale het seks in verskeie gedaantes as tema. Ons kry te doen met sadomasochisme, seksuele teistering en molestering, buite-egtelike verhoudings, die liefde, siekte en afwykings, asook verwerping. Ongure en ontstellende verskynsels word openhartig aangespreek.

Rust is ’n gesoute joernalis, en dit blyk uit haar skryfwerk.

Van die verhale is duidelik geskryf uit die oogpunt van ’n jong, aantreklike vrou wat voel dat sy seksueel misken of verwaarloos word. Dat haar behoefte aan emosionele en liggaamlike koestering, vertroosting en waardering nie bevredig word nie. Die verbrokkeling van ’n huwelik op verskillende vlakke word naas die opwinding van owerspelige of verbode liefde beskryf. Uiteenlopende verhale is daarop gemik om die leser aan alle aspekte en ramifikasies van die lyflike en psigiese ervaring van seks voor te stel.

In ’n onderhoud vir Sarie het Rust aan Phyllis Green gesê: “Sowat 80 tot 90 persent van Afrikaanse vroue wat by seksterapeute aanklop, worstel met seksuele inhibisies. Só sê hulle vir my. Baie huwelike sneuwel so. Dit het tyd geword om Calvinisme by die deur uit te skop.”

Laat ons eerlik wees, die tema van seksuele variasies gaan lesers lok, veral dié wat getitilleer wil word.

Die bundel word geadverteer as grensverskuiwend en gewaagd in ’n positiewe sin. Uiteindelik, word deur sommiges beweer, is daar ’n eerlike en eksplisiete Afrikaanse boek wat seksuele temas suksesvol aanspreek. Tog is daar verskeie Afrikaanse skrywers wat dit reeds goed reggekry het. Hier dink ek byvoorbeeld aan Kerneels Breytenbach, Marita van der Vyver en André P Brink.

Die mate van erotiek wissel in die verhale. Sommige is ligter, ander is donkernag. Die student in “Onwaarskynlike gerubyn help ’n ander een uit haar ellende lig. Dit is in teenstelling met die ontstellende, afskuwekkende “Blou dogtertjie (vir Marlene van Niekerk)” wat handel oor die seksuele mishandeling van ’n kind, die siek verrotting van die pa wat die misdaad gepleeg het, en die skade wat dit in twee susters se lewens aangerig het.

Die magsverhoudings wat vroue met hul eggenotes en vaders het, waarin die vrou onderwerp word, blyk uit “Spoor”, waar die man toelaat dat ’n ander man sy vrou teister, en “Blou dogtertjie” waar die pa die kind intimideer deur haar te dreig met die kinderhuis as sy sou vertel wat hy snags aan haar doen.

Rust skryf van die verhale uit die oogpunt van joernaliste wat stories moet najaag al verg dit wat ook al van hulle (“Persblou”, “Alles vir ’n storie”, “As good as it’s going to get”).

Carien is ’n karakter wat herhaal word. In “Vanielje” onderwerp sy haar aan sadomasochistiese seks met ’n vreemdeling omdat haar huwelik saai en onbevredigend geword het. Wat die man aan haar doen, word eksplisiet beskryf. Ons sien weer vir Carien in “Kersfees in Florence” en “Eer jou vader”. Sy beleef masochisme, tree self sadisties op en dra swaar aan die vernederings wat ’n alkoholis-pa haar aangedoen het.

Die manlike figure in hierdie verhale wissel van eggenote wat hul vroue afskeep en verwaarloos, pa’s wat hul kinders psigies en fisies mishandel, en verbitterde eksmans, tot ’n gay boerseun wat probleme met sy pa het en ’n dominee (“God se wil”) wat sy gestremde dogtertjie probeer beskerm.

Mense sal hul eie probleme in die variëteit van dié bundel raaklees. Dit het reeds uiteenlopende resensies van literatore en resensente gekry, wat van ophemeling tot verdoeming wissel.

Skrywer en dosent Harry Kalmer het in sy snydende resensie (Boeke24, 2012-6-13) gesê: “Rust en Protea hoop dalk dat bronstige, ongesofistikeerde lesers met wellustigheid in die hart agter die seks gaan aanlees. Maar ek vermoed dat veral hulle teleurgesteld gaan wees. Die boek is nie Stoute boudjies nie.”

Inderdaad. Rust het nie bedoel om blote pornografie aan te bied nie. Sy wou nie bloot oppervlakkig prikkelend wees nie. Sy wou ’n dieper betekenis aan haar verhale gee.

Dosent en resensent Louise Viljoen het in haar resensie (Boeke24, 2012-6-13) gesê: “Die publisiteit rondom Riette Rust se kortverhaalbundel ’n Lyf onthou lê veral klem op die avontuurlustigheid waarmee sy skryf oor seks ... ’n Mens sou egter die skrywer ’n onreg aandoen as jy slegs fokus op die bundel se ondersoek na die lyf as seksuele instrument.”

Skrywer en resensent Kerneels Breytenbach was positief oor die bundel.

Skrywer, resensent en dosent Joan Hambidge sê weer: “As jy jou lippe aflek vir ’n Anaïs Nin of Erica Jong, gaan jy teleurgesteld wees. Behalwe met die verhaal ‘Vanielje’ waar ’n sadomasochis­tiese verhouding beskryf word.” Vir Hambidge het die bundel ’n gebrek aan die “skaamteloosheid” wat erotiese literatuur suksesvol maak.

Die literator Marius Crous sê oor die bundel: “Soos die titel van hierdie versameling kortverhale reeds suggereer, gaan die leser hier te doen kry met verhale oor die liggaam en belewenisse van die liggaam. En die leser word inderdaad nie teleurgestel met die aanbod nie. Dit is geile verhale oor die liggaam, die erotiek en die sluimerende wellus. Goeie verhale. Goedgeskrewe en onderhoudend.”

Dit is nodig om kennis te neem van hoe die bundel reeds deur verskillende meningvormers aanvaar en beoordeel is. Maar die leser moet uiteindelik self oordeel of hy/sy dit bevredigend, meesleurend, afkeurenswaardig, of pretensieus vind.

Dié onverskrokke bundel gaan, as gevolg van die oorlog van meningsverskille, uitstekend verkoop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top