Hulle vertel net die halwe waarheid en skets die prentjie so donker as moontlik. Apartheid was verkeerd, maar dit was nie ’n slegte stelsel wat mense opsetlik gewelddadig onderdruk en niks vir hulle gedoen het nie. Nee, daar is honderde en dalk duisende skole vir swartes opgerig, tersiêre instellings, honderde duisende huisies is gebou – kyk bv na Mdantsane en die ouer townships by Port Elizabeth. In elke dorp en stad is daar huise gebou. Net in Port Elizabeth is twee hospitale gebou: Livingstone en Dorah Nginza.
My mense is nie slegte mense nie – hulle is lief vir hul medemens en lieftallig, liefdadig en het deur die jare baie vir mense van alle rasse gedoen.
Die bedoeling met apartheid was om vir elke bevolkingsgroep alles te gee wat hy nodig het, in sy eie gebiede. Natuurlik was daar die hindernis van tekort aan geld, soos elke regering nog ondervind het wat reuse agterstande moes inhaal. Die ANC-regering sukkel ook daarmee, hoewel hulle groot gewag maak van elke huisie wat hulle bou, asof hulle die mas opkom. Die feit is dat die agterstand eerder groei as krimp, weens die groot natuurlike bevolkingsgroei en instroming uit buurlande. Die ou Nasionale Party het met dieselfde probleme geworstel: ’n enorme natuurlike aanwas en instroming vanuit die tuislande en die platteland. Die mense het juis stede toe gestroom omdat hulle gesien het hier word huise en hospitale gebou, hulle kinders sal dalk in die stede kan skoolgaan, en so meer. Die NP se pogings om die toestroming om te keer het op niks uitgeloop nie en hom geweldige kritiek op die hals gehaal – die paswette was uiters ongewild.
Ongelukkig was daar ook die gewraakte woorde van doktor Verwoerd, wat daarop neergekom het dat swartes nie moes dink hulle sal opgelei word om die wittes se werk oor te neem nie. Maar as mens die redes daarvoor begryp, kan dit dalk sagter beoordeel word. Dit was juis omdat daar groepe wittes was wat gevoel het die regering "doen te veel vir die swartes" en hulle het gevrees dat hul werk en toekoms in die gedrang kan kom. Verwoerd moes hulle gerusstel, want elke regering moet let daarop dat hy nie steun verloor en splinterpartye ontstaan nie – soos inderdaad later gebeur het.
Groete,
Varkspek

