Die lewe tussen pikkewyne
Jasper van Zyl
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624046813
Prys: R130.00
Klik hier en koop Die lewe tussen pikkewyne nou van Kalahari.net!
Die jong hoërskoolseun Jasper van Zyl het in 2004 gedebuteer met gedigte in Nuwe stemme 3 wat deur Antjie Krog en Alfred Schaffer saamgestel is. In 2011 verskyn sy digbundel Die lewe tussen pikkewyne met sy mooi bandontwerp en word daar reeds gesuggereer dat die spreker in hierdie gedigte op die een of ander wyse gaan uitstaan te midde van “die pikkewyne”, die groep in hul beklemmende pakke en knoophemde en dasse. Die titel kom uit die gedig “dit is nes jy daar sê, ja” (20) en in ’n onderhoud met Louis Esterhuizen op Versindaba verduidelik Van Zyl die titel soos volg:
Die titel verwys na ’n lewensbestaan in absurditeit, eenvormigheid en navolging. Dit, glo ek, is die sentrale tema in die bundel: die absurditeit van die alledaagse. Ek het redelik min insae gehad wat betref die omslag, maar ek dink dit slaan die spyker op die kop! Dit vang vir my die buitestaanbestaan mooi vas.
Aspekte wat my opgeval het tydens die lees van sy debuut is die volgende: daar is ’n sterk preokkupasie met waarneming (amper nes die persona in Loftus Marais se werk wat nader aan die venster staan om beter te kan sien); daar is die konflik by die spreker oor lewe in die klein dorpie; daar is etlike verse waarin die geliefde aangespreek word (as “my dier”, “my engel”, “my roos”); soms is die gedigte bedrieglik eenvoudig (byvoorbeeld “tot die uiterste”, 35), en soms net sentimenteel; en daar kom heelwat uitstekende beelde – veral surrealistiese beelde – in die gedigte voor. Hiermee saam is daar ook ’n filmiese inslag, soos in die gedig “wieg” (14), waarin daar staan: “dis tóé dat die mense begin verdwyn.” Etlike gedigte begin ook op so ’n byna verteltrant. Ook tree die gedigte by tye in gesprek met ander digters se werk, soos in die geval van “otters in koolslaai” (28), en die invloed van Raka skemer deur in die beskrywing van Atilla die Hun wat “in die modder/ van sy begeerte [rol]”.
Die samesyn, dikwels om ’n gemeenskaplike maal, kom ook in van die gedigte voor en skep die indruk dat wanneer die spreker hom te midde van sy familie of by sy vriend bevind, daar nie sprake van “pikkewyne” om hom is nie. Dit is die mense vir wie hy omgee. Vergelyk in dié verband byvoorbeeld die gedig “slag” (19): dit vertel wat elkeen se taak is en die rol wat vleis (klink amper na Eben Venter se vleiseters hierdie) in hul lewens speel. In die slotreël word selfs verwys na “die diertjies” wat in die boom hang waaronder die kinders speel. Vergelyk ook die gedig “les” (26), waar almal om ’n vis vergader. Selfs al beskryf die digtende persona homself as iemand wat ’n buitestaanbestaan voer, is daar heelwat verse waarin daar tog uitgereik word na ander, onder meer die familie of vriendinne wat by die naam aangespreek word.
’n Gedig soos “emma” (24) illustreer vir die leser waartoe Van Zyl in staat is, maar ongelukkig ondermyn hy homself met die verwysing na “’n serebrale ervaring”. Ook “haar hande na die lou reën” (25) is ’n baie geslaagde gedig.
Dat Jasper van Zyl goed kan dig, blyk uit die gebruik van ’n beeld soos die winterryp wat na blink geskenkpapier lyk (32), of die maan wat lyk soos “koue melkkos” (35). Ook in “die wilde tuinekspedisie” (33) word vernuftig vertel van ’n ekspedisie wat uitloop op `n wegvlug van die lewe af.
Understatement en indirekte segging, soos in “as elani hoonenberg kom kuier” (40), lei ook tot beter verse, veral soos in die reël wat verwys na die hang van die pa se “van goghs voor die vensters”.
Ek het meer verwag van Jasper van Zyl se digbundel en ek dink heelwat van die gedigte sou gebaat het by ’n herskrywing of twee voordat dit gepubliseer is. Ek kry die indruk dat die slot nog onaf is of dat die digter te maklik ’n abstrakte woord of konsep invoeg, wat selfs na mooiskryf kan klink (byvoorbeeld die gebruik van eklekties, dekadent, kasueel ens op bl 44).
Wat egter opval, is sy aweregse blik op die pikkewyne om hom, alhoewel ek dink hy kon nog meer daarvan gemaak het – ek hoop in ’n tweede bundel sal dit nog sterker na vore tree. Nes Gilbert Gibson is Jasper van Zyl ook in die medisyne bedrywig, so ek sal graag wil sien waarmee hy volgende vorendag kom.

