Die leuen waardeur ons die waarheid praat

  • 6

Een van die verrassende maniere om ’n benadeelde bestaan te hê, is om presies dit te kry wat jy dink jy nodig het. Daardie vae gevoel van verlatenheid ná ’n verjaarsdagpartytjie. Die ligte onder- of oorreaksie ná die gee of die ontvang van ’n toegedraaide geskenk. Daardie stilmakende donkerheid wat volg op ’n voltrekte romantiese soeke. Die professionele stilstand ná jou groot bevordering.

Onbeskryfbare, onuitgesproke onvergenoegdheid vervang die motiverende energie van onsekerheid en vrees, en word – aanstootlik – bevredigde ambisie.

In die tweede helfte van die 1990’s het ek my meestersverhandeling voltooi en graad gevang met die resultaat wat ek gehoop het om te behaal. Ek het ’n behoorlike, volwasse betrekking gekry, na die hoofstad verhuis, en my eie ordentlike woonplek gekry, waar ek op my eie kon bly. Ek het dasse en baadjies gedra, en deftige skoene. Ek het ’n dagpak en ’n aandpak gekoop. Ek het twee katjies gekry. Ek het elke drie weke my hare laat sny. Ek het ’n selfoon aangeskaf. Ek het ’n elektriese grassnyer gekoop. Mondspoelmiddel het bekostigbaar geword. Dit was nie meer vir my nodig om op die onderste rakke van supermarkte te soek na no name brand-kruideniersware nie.

Daardie wonderlike tekens van volwasse wees, daardie klein lekkernye, daardie materiële bevestiging van jou bestaan.

By die werk is ek aangemoedig om met persoonlike finansiële adviseurs te vergader: mans met sakrekenaars, perfekte tande, en gerusstellende glimlagte. Ek het met hulle gesels by enorme gepoleerde eikehouttafels in vertrekke met hoë plafonne, waar die lugversorging koel gesis het. Hulle het vir my die geheimenisse van saamgestelde rente verduidelik, asof dit opwindende, aantreklike kodes in ’n Dan Brown-riller was. Alles was getooi in ’n atmosfeer van geheime, baie ernstige begeerlikheid. Ek het ’n Portefeulje gehad. O ja, ek was nou aan die binnekant.

Op die sosiale front het ek ’n algemene gevoel gehad van in ’n ouderdomsgroep wees wat mekaar kortlys en toetsbestuur vir kopulasie, saambly, die huwelik, ouerskap, en huisverbande. Dit het alles plaasgevind in nuwerwetse nisinstellings soos cigar bars en eetplekke wat gespesialiseer het vir kosmopolitaanse klandisie. Ons het spritzers en gin gedrink, en ingevoerde bier. My eweknieë het met eksotiese kase by disse en met spesialisplante in hul avant-garde tuine geëksperimenteer. Hulle het na Toastmasters gegaan en die voordele van huishoudelike waterfilters bespreek. Die akademiese variante onder hulle het die woorde “narratief” en “unpack” dikwels gebruik. Die godsdienstiges het sosiaal gekalibreerde, progressiewe selgroepe gevorm.

Ek is nie hooghartig nie; ek was nie bo dit verhewe nie – ek wou dit ook hê – en ek het probeer om in te pas. Die romantiese voorskrif het my nie geïnteresseer nie; ek was tevrede om die enkeling te wees, die gesofistikeerde, maar selfspottende vyfde wiel by etes. Ek is dikwels ontplooi in die rol van die veiligheidsgas – die een op wie daar staatgemaak kon word om die gesprek aan die gang te hou, te kalibreer, gefokus op ons gesamentlike doel en ambisie: Inpas en Verbruik. Dit het my nie gepla nie. Ek het dit goed gedoen.

En tog.

By die werk het ek ’n beeld van en reputasie vir ernstige, stille bekwaamheid en ’n meelewende sin vir humor gekweek. Ek was hoflik en ontvanklik vir hoflikheid. Mense het van my gehou, en ek het daarvan gehou om van gehou te word – en hoekom dan nie?

Ek het by ’n buitelandse ambassade gewerk, en my baas was ’n eksentrieke man genaamd David, die adjunkambassadeur. Ek het persverklarings geskryf, toesprake voorberei, en daardie gedeeltes van diplomatieke kabels nagegaan wat nie bo my sekuriteitsklaring was nie. David het my weeklikse politieke en ekonomiese verslae in ’n lustelose, aangename monotoon voorgelees, terwyl ek oorkant hom by sy lessenaar gesit het; op sy skouer het hy die rubberhoender Hector gesit en streel. David was ’n spelerige, eienaardige man wat almal by die ambassade met hul titel en van aangespreek het; jy het geweet jy is in die moeilikheid wanneer hy jou by jou voornaam aangespreek het. Soms, gedurende middagete, kon ’n mens hom in die voorste roostuin sien, op die bankie onder die plataan, besig om Graham Greene-romans of ou Modesty Blaise-strokiesprente te lees. Almal was bang vir hom en ’n bietjie verlief op hom.

Die ambassade se sekuriteitsvoorskrifte het ingesluit dat ek nie enige werk by die huis kon doen nie: Geen dokumente of elektroniese stoorapparate mag van die ambassadeperseel af geneem word nie, en alle plaaslike personeel moes teen 16:06 elke dag die ambassade verlaat (met ’n halfuur vir middagete, het dit ’n werkweek van 35 uur en 45 minute geword; dít was wat die reëls toegelaat het). Ná werk kon ek by die kafee stop vir melk en net voor 17:00 by die huis wees. Ek kon die katte voer, aandete maak en eet, en voor 19:00 in my nagklere wees met ’n boek of ’n gehuurde fliek. Ek het selde uitgegaan en ek het nooit vroeg gaan slaap nie, dus het ek dikwels ’n aand van baie ure tot my beskikking my gehad. Laataand het ek dikwels in welgestelde voorstede gaan draf. Onopwindend, voorspelbaar, gemaklik, privaat – dít is wat ek my hele lewe lank begeer het. Oplaas was ek veilig.

En tog.

Ennui – weltschmerz – het vroeg in 1999 aangemeld. Ek was op ’n internasionale vlug op pad terug na Suid-Afrika ná ’n paar weke se opleiding by die hoofkwartier. Nog voor ek dit self in woorde kon uitdruk, het ek begin om ’n lys te oorweeg van moontlike graadstudies wat ek deeltyds kon volg gedurende my lang alleenaande ná werk. Dalk was ek eensaam, maar ek het dit aan vriende beskryf as ’n gebrek aan sinvolheid. Ek wou iets meer betekenisvol met my lewe doen of ontdek.

Kliniese sielkunde was een opsie, en ’n kennis het voorgestel dat ek ’n kursus by LifeLine doen, en dit oorweeg om as vrywilliger na-ure telefoonsielkundige te speel. Ek het navraag gedoen, en ondanks voorbehoude oor LifeLine wat slegs een soort berading aanbied, het ek dit probeer. Ek het by twee groepe van ongeveer agt mense elk aangesluit wat elke Donderdagaand vir veertien weke in ’n kerksaal vergader het. Ons het oefeninge oor wedersydse vertroue gedoen, persoonlikheidscollages saamgestel, besin en gedeel, geheime uitgeruil en gevoelens verwoord, en telefoongesprekscenario’s geoefen. En aan die einde van die opleiding het ons hande vasgehou in ’n groot sirkel, terwyl ons na Mariah Carey se “Hero” geluister het.

Die berading was nie wat ek wou doen nie, maar dit het my laat besef watter groeiende gevaar Vigs in die land was. Teen 1999 het die MIV-verwante oproepe begin inkom by LifeLine, en by die ambassade was die ontwikkelingskantoor besig om goed gefinansierde Vigs-weeskinders-projekte uit te rol. My verveling het verbeter, al het dit nie verdwyn nie, en daarom het ek aangebied om ’n paar basiese ondersoeke te doen onder die baie Vigs-weeshuise wat om befondsing aansoek gedoen het.

Diep in ’n township wes van Pretoria was daar ’n groot weeshuis in wat eens ’n sendinghospitaal was. Dit is bestuur deur ’n priester – vader Gary – wat bygestaan is deur sowat tien gemeenskapsvrywilligers en een of twee verpleegsters. Dit was diep winter toe ek in ’n ambassademotor by die township ingery het om die weeshuis te gaan besigtig. Winters in Gauteng is skerp en die lug is dun en koud; gewone koue is werklik baie koud in ’n township. Vader Gary het my op ’n toer van die grondvloer geneem. Hy was trots op die uitleg van die kombuis, eetkamer en speelkamers; die waskamer en stoorfasiliteite was agter die hoofgebou, met die buitepasiëntsorgkamers langsaan. Buite was daar ’n groot roostuin, en Gary het vir my verduidelik dat hulle een roosbos plant vir elke kind wat sterf. Dit was vir my beide ontroerend en verstommend, gegewe die groot oppervlakte wat die tuin beslaan het.

Die weeshuis het ’n paar honderd kinders gehuisves wie se ouderdomme gewissel het van babas tot sowat sewe jaar. Gary het verduidelik dat MIV-positiewe kinders nie werklik langer as dit oorleef nie. Wie betaal vir alles? het ek gevra, en die priester het met ’n lag geantwoord dat hy hoop ek sou – of eerder, dat my werkgewer sou. Ek het geknik sonder om beloftes te maak. Buitelandse ambassades, ’n paar private filantropiese instellings en een of twee groot maatskappye het gehelp om die rekeninge te betaal. Die kerk het vir vader Gary betaal, het ek vermoed.

Die priester wou weet of ek die hospice op die derde verdieping wil sien. Ek het ingestem sonder om regtig daaroor na te dink. Toe ons die trappe op loop het ’n samevloeiing van reuke my getref: ontsmettingsmiddel en urine, nie veel anders as wat ’n mens in die meer basiese openbare hospitale in die land sou kon vind nie. Daar was ’n lang gang met kamers, en in elke kamer was daar tussen ses en tien bedjies, afhangend van die grootte van die kind. Hierdie was die sterwende kinders – dié wat binnekort hul roos onder in die tuin sou ontvang. Ek het myself gestaal, en besluit om die kamers as eenhede van praktiese, edele sorg te sien. Die emosionele truuk was om nie hierdie kinders as individue te sien nie.

Maar toe sien ek haar. Ek het bewus geword van iemand wat my dophou. In ’n bedjie, soos al die ander, het daar ’n klein kaal kind op ’n wit laken gelê. Massiewe, opgehewe buik, uitgeteer. Enorme swart oë. Ten spyte van haar vinnige asemhaling, swetend met die moeite van oorlewing, en weens ’n duidelike gebrek aan suurstof, was sy die kalmste persoon in die kamer, en sy het haar oë op my gefokus. Sy het omtrent nege maande oud gelyk.

“Dit is ...” sê Gary terwyl hy ’n medieseverslagkaart optel om haar besonderhede te na te gaan. “Dit is Baby J. Sy is twee jaar oud.” Hy het gesien hoe ek reageer, en verduidelik dat die virus fisieke ontwikkeling belemmer, veral in kombinasie met erge wanvoeding. Die priester was onsentimenteel. “Ons noem haar Johanna,” het hy gesê, “maar wie weet wat haar regte naam is. Sy’s ’n weeskind, so niemand kom om haar te besoek nie. Sy’t nou nie meer lank oor nie. Sy het ongelooflike longskade; gate in haar longe waardeur jy met ’n trok kan ry.” Baby J het my starend aangekyk, haar borsie wat op en af beweeg, op en af, blink van die sweet, onnatuurlik kalm. “Sy’t nie meer lank oor nie,” het Gary weer gesê. “Jy kan haar aanraak as jy wil.” Ek het gesê nee dankie. Ons het die kamer verlaat.

Twee dae later. Ek het die weeshuis gebel en gevra om met vader Gary te praat. “O hallo,” het hy gesê, “Het jy besluit of ons befondsbaar is?”

“Jammer, nee,” het ek gesê. “Dit sal deur die komitee gedoen word, ná insette van die provinsiale regering. Ek het eintlik gewonder hoe gaan dit met Johanna – met Baby J?”

“Sy’s dood, jammer om te sê,” het Gary gesê. “Het haar roos vanoggend gekry.”

Ek het ’n paar sekondes stilgebly.

“O.”

Ek het voortgegaan. “Ek is nie ’n Katoliek nie, Vader, maar ek moet iets bely.”

“O ja?” het hy gesê. Hy het effens verveeld geklink, onverras.

“Ek voel so vreeslik skuldig,” het ek gesê, “dat ek nie in staat was om haar aan te raak nie, dat ek dit nie kon doen nie, nou die dag.”

“O dít. Moenie bekommerd wees nie, ou seun,” het hy gesê. “Min mense kan dit hanteer onder die omstandighede.” Dit het geklink of hy wou klaarmaak en die oproep beëindig.

“Ja,” het ek gesê. “Maar ek kon dit gedoen het, en ek het nie. En sy het niemand gehad nie. Ek was ’n lafaard.”

“Wat’s jou naam weer?” het die priester gevra.

Ek het my naam herhaal.

“Wel, Pieter,” het hy gesê. “Miskien was die doel van jou besoek nie dat jy haar sou aanraak nie, maar eerder dat sy jou sou aanraak.”

En dit was dit. Daardie enkele sin. Betekenis. ’n Lewensdoel. Dit was die oomblik in my lewe toe ek geweet het – ek het dit beslis geweet – wat my professionele fokus sou wees. Op een of ander manier sou ek van daardie dag af altyd werk met daardie kwessies – armoede en siekte – wat daardie klein dogtertjie doodgemaak het.

’n Paar maande daarna het ek begin met my doktorale navorsing oor die politieke bepalende faktore en reaksies op Vigs in Suid-Afrika, en ek doen dit steeds, dekades later.

Ek wens ek kon hier stop. Ek wil nie verder praat nie, maar as ek dit nie doen nie, sal hierdie deel van die waarheid sonder integriteit wees. So hier is dit.

Twee maande of so later nooi my baas my in die verbode deel van die ambassade in. Daar is ’n deur met ’n tikkode wat plaaslike personeel nie ken nie; ons gaan nooit daar in nie. Ek stap by ’n vertrek in en daar sit die hoof van die hulp-en-ontwikkeling-afdeling. En langs haar sit die ambassadeur, wat ’n baie simpatieke man is, al is hy ’n politieke aanstelling en meestal afwesig. My baas sit langs hom en hulle al drie kyk na my. David – my baas – sê my voornaam, en ek weet nou dis ernstig.

“Pieter, wat ons nou gaan vra … is redelik delikaat. Jy hoef dit nie te doen as jy nie kans sien nie.”

“Goed. Ek verstaan,” het ek gesê. Natuurlik het ek niks verstaan nie.

David het voortgegaan. “Daar is gerugte oor die bedrywighede van die goeie priester daar in die township. Ons wil hê dat jy – as ’n Suid-Afrikaner – moet ondersoek instel. Net ligweg. Doen ’n bietjie navraag. Gaan gesels met mense wat voorheen saam met hom gewerk het. Daardie soort ding.”

Ek sal nie hier voortgaan met ’n geïdealiseerde weergawe van die intrige nie. Ek het ondersoek ingestel. Ek het binne ’n maand terugrapporteer aan my baas.

Ek het uitgevind dat vader Gary ’n slegte man was. Hy het betalings ontvang om farmaseutiese maatskappye toe te laat om gevaarlike eksperimentele dwelms op die mense in sy sorg te toets. Op hierdie manier het hy ’n groot spul vuil geld gemaak. En hy het diegene geïntimideer wat gedreig het om hom te ontbloot.

Die ambassade het daardie projek nooit befonds nie. Ons het elegant onttrek en steriel gebly, en eerder ander projekte finansieel ondersteun.

Ek het ’n hele paar lesse geleer. Ek het geleer dat nie alle engele goed is nie; engele en demone is immers sibbe. Ek het geleer dat tragedie en armoede groot nywerhede en enorme rykdom kan voortbring. Ek het geleer dat die gekke marxiste wel iets raaksien, dat persoonlike materiële veiligheid en pretensieuse klasambisies niemand help nie, dat hulle eintlik die rykes afstomp en van die armes steel.

Op die ouderdom van 25 was ek pretensieus, besig om die blink klein belonings van my beroep na te jaag. Dit het ’n sterwende kind gekos om my te red en my aandag weer te fokus op wat regtig belangrik is.

’n Lewe – ’n loopbaan – is ’n eenvoudige geskiedenis van beginne en eindes; nie die groot geskiedenis van die heelal nie, maar die klein geskiedenis van ’n individu se daaglikse verloop, mislukkings, en fiksies. Die lewe is ’n reeks beginne en eindes, van besluite wat geneem is en van die nagevolge van daardie besluite. ’n Enkele gebeurtenis kan deur ’n hele lewe weerklink.

Na my ervaring by die ambassade het die stille, diepgaande betekenis van Johanna se onsigbare verhaal – van my onvermoë om haar aan te raak en haar vermoë om mý aan te raak – feitlik my hele professionele lewensloop bepaal. As jy na my CV kyk, sal jy sien dat die oorweldigende meerderheid van my publikasies, my navorsingsprojekte en my loopbaankeuses die impak van daardie ontmoeting in Mei 1999 in die Atteridgeville-township weerspieël.

Die politiek van gesondheid – plaaslik, nasionaal, internasionaal en multilateraal – het my fokus geword. Ek kan aan min ander onderwerpe dink, aan min ander kwessies, wat politieke realiteite so dramaties weerspieël. Die politiek van gesondheid is ’n spieël van die samelewing; dit bepaal op ’n tasbare, onmiddellike wyse Wie leef, Wie sterf, Wie betaal, Wie besluit, Wie ly, Wie lei, en Wie baat. En daarom het my intellektuele en professionele navorsing gefokus op ’n reeks globale gesondheidsuitdagings: In my CV sal jy ’n inkrementele narratief bespeur – oor vigsweeskinders, vigs en menslike sekuriteit, die sekuritisering van gesondheid, die impak van gesondheid op staatskwesbaarheid, vigsontkenning en -beleidmaking, die sosiale/politieke bepalende faktore van gesondheid, die politiek van buitelandse ontwikkelingshulp, gesondheid en multilaterale politiek, en – die mees onlangse – verwaarlooste gesondheidskwessies – die gesondheidspolitiek van queerheid, die politiek van menstruasie, die politieke konstruk van geestesgesondheid.

Ek het, oor die afgelope byna 30 jaar, voortdurend in en uit die akademie beweeg, in en uit Suid-Afrika; ek het vir die Verenigde Nasies gewerk, vir nieregeringsorganisasies en vir buitelandse universiteite, alles met ’n fokus op gesondheid. In die proses het ek fassinerende dinge geleer.

Hier is ’n paar van hulle:

  • In ’n groot toekomsstudiesprojek gedurende my tyd by UNAIDS, waar ons span in Londen gebaseer was by die energiereus Royal Dutch Shell se hoofkwartier, het ek geleer dat my pro-VN- en antioliemaatskappyposisies heeltemal oorvereenvoudigend en misplaas was. Ek het die morele wankelrigheid, korrupsie en rassisme van die VN teenoor die integriteit van Shell se toekomsscenarionavorsingsafdeling ontdek. Dít het ek dit glad nie verwag nie.
  • Ek was geskok deur die eiewaan van “glam aid” gedurende my tyd by die Aids Foundation of South Africa. ’n Baie bekende Amerikaanse talkshow host het ’n span na ons kantore in Durban gestuur om vir haar besoek voor te berei. Team Celebrity het ons ingelig dat op die dag van die celeb se aankoms hulle wou hê dat die kinders in die plaaslike township verslete, vuil klere moet aan hê, en nie hul beste klere nie, soos ons beplan het – sodat die celeb goed kan lyk terwyl sy voor die kameras haar vyf minute met die jong ongewaste kinders opoffer. Ek was verheug oor die moed van die Aids Foundation se bestuurder, wat vir die celeb en haar span gesê het om in hul moer te vlieg.
  • Ek het van naderby die mag van geld, van befondsing, aanskou, van hoe dit die sogenaamde wetenskaplike uitkomste en bevindings van die projekte wat befonds word, bepaal.
  • Ek het kans gekry om spioen-spioen te speel. Ek het in die ergste dae van Thabo Mbeki se vigsontkenning ’n geheime ontmoeting gehad met iemand baie senior in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se afdeling vir mediese dienste. Ons het in ’n restaurant in Centurion ontmoet. Die gespanne burokraat het my vyf minute gegee om die geheime nasionale vigsstatistieke vir SANDF-personeel neer te skryf terwyl hy agter ’n koerant en met ’n sonbril aan by ’n tafel nie te ver van my nie gesit het.
  • Ek het lesse geleer oor die waarde van in en uit die akademie beweeg, oor die verband tussen navorsing en onderrig.
  • En – miskien die belangrikste: Ek het lesse geleer oor die mag van stories vertel, oor die neerskryf van wat met gewone mense gebeur, die uitgeslotenes, die onbelangrikes, soos wat ek nou doen.

Albert Camus het gesê: “Fiksie is die leuen waardeur ons die waarheid praat.”

Ek het baie oor hierdie teenstrydigheid – en die epistemologie wat dit onderlê – geleer gedurende my tyd by UNAIDS. Ons doel was om Shell se toekomsmetodologie (scenariobeplanning) te gebruik om strategies te dink oor die impak van vigs in Afrika. Die projek was goed befonds – ons kon dit behoorlik doen, en sou drie jaar neem om die scenario’s te ontwikkel en dan uit te rol. Scenario’s is fiksie, maar ’n fassinerende fiksie wat deur intelligensieagentskappe, die private sektor, weermagte en regerings gebruik word om onder die elite ’n gedeelde visie van die toekoms te skep, die verbeelding van besluitnemers los te maak, en beheer te neem van die toekoms. Powerful stuff. En scenariobeplanning is ook baie suksesvol gebruik gedurende Suid-Afrika se politieke oorgang, en daarná.

Scenario’s is stories – klein fiksies – wat gebruik word om moontlike toekomste te verken.

In sy roman Ignorance stel Milan Kundera ’n vraag wat onderliggend is aan alle scenarioprojekte:

[H]ow can a person with no knowledge of the future understand the meaning of the present? If we do not know what future the present is leading us toward, how can we say whether this present is good or bad, whether it deserves our concurrence, or our suspicion, or our hatred?

Leiers moet die skadu wat die toekoms oor huidige besluite en beleidsvorming werp, in ag neem. As hulle behoorlik en deeglik gebou word, kan scenario’s besluitnemers in staat stel om met merkwaardige akkuraatheid insig te ontwikkel in wat dalk kan gebeur indien sekere besluite geneem word. Hierdie metodologie kan help dat onsekerhede ophou om verlammend te wees; dit kan keer dat vrees vir die onbekende besluitneming lamlê. Trouens, scenariometodologieë bied ’n geleentheid dat onsekerhede en subjektiwiteit omarm en vreesloos ondersoek kan word.

Deur dit te doen, bied hierdie metodologie ’n interdissiplinêre lig in die tonnelvisie wat inherent is aan die epistemiese en ontologiese slaggate wat deur ons verskillende denkrigtings vooropgestel word. In plaas van agterdog en vrees teenoor onsekerheid en risiko, bevry scenariodenke ’n interdissiplinêre kollektief deur klaarblyklike onversoenbare beskouings saam te voeg. Dit stel ons in staat om verby bloot kontrafeitelike analise te beweeg. Dit help ons om meer kreatief om te gaan met studierigtings en epistemologieë wat kwantitatief werk, om die grense van modellering en projeksies wat op slegs een spesifieke wêreldbeskouing gebaseer is, te oorskry.

Nog voor die teenbehavioristiese beweging in die sosiale wetenskappe was daar al ’n soeke na ware “intersubjektiwiteit” – daardie ontwykende metateoretiese aspirasie wat ’n meer volledige objektiwiteit (wil) beskryf deur ’n meer ideale samevloeiing van toepaslike subjektiwiteite. Scenariometodologie bied een so ’n weg na ’n meer akkurate kwalitatiewe oorweging van die werklikheid, van wat moontlik is, van wat ons kan weet, en hoe ons ons eie werklikheidsbeskouings by ’n veranderende omgewing moet aanpas. Scenario’s se unieke aandrang op radikale transdissiplinêre analise, gekombineer met hul horisontaal geïntegreerde perspektief (in plaas van ’n selfisolerende, onderwerpspesifieke vertikale fokus) kan die klip wees wat die spieëls breek wat net ons eie voorspelbare sienings oor die werklikheid weerspieël en herhaal en herhaal.

Die suksesvolle toepassing van scenario’s – of dit lei tot die bou van inkrementele/normatiewe, deduktiewe, of induktiewe scenario’s – is gebaseer op ’n diepe nuuskierigheid oor en verdraagsaamheid teenoor die onbekende; oor dit wat onseker maar betekenisvol is. Scenario’s leer ons om onder die blote joernalistieke oppervlak van dinge te kyk, onder die gebeure van ons daaglikse bestaan, en om meer egte insae te verkry in die dieper strukture wat die patrone van ons bestaan deurlopend bepaal. Hierdie metodologie bied ’n unieke perspektief op die sosiokulturele, tegnologiese en polities-ekonomiese aandrywers van verandering – en dit is eers wanneer ons hierdie onsekerhede sonder vrees omarm dat die ware patrone duidelik begin raak.

Kortom, dan: Scenariometodologieë en sogenaamde toekomsstudies word gebruik om vernuwende denke oor die toekoms na vore te bring – nie ’n toekoms wat op een enkele stel aannames oor die hede gebaseer is nie (want dit is bloot voorspelling), maar eerder ’n stel verskillende toekomste gebaseer op verskillende aannames oor die hede sowel as die verskillende roetes wat ons na alternatiewe toekomste kan neem.

Sodanige kwalitatiewe analise word dan met kwantitatiewe metodologieë gekombineer; die verskillende stelle aannames word gemodelleer deur ekonome, demograwe, aktuarisse en andere wat misterieuse dinge met syfers kan doen. Die nis van scenario’s is dat hulle aan ons onthul wat kán gebeur, eerder as wat ons wil hê die toekoms moet wees – scenario’s help ons om die ondenkbare te dink, en om dienooreenkomstig te beplan. Scenario’s impliseer keuse – en dus hoop.

Nie te sleg vir ’n metodologie wat op fiksie gebaseer is nie, of hoe?

Natuurlik het fiksie nog altyd die wêreld van die politiek weerspieël – ook globale politiek.

John le Carré, William Shakespeare, Margaret Atwood en vele, vele ander het nog altyd fiksie gebruik om ons bewus te maak van, en te vermaak oor, die dinamika van mag – interpersoonlik, plaaslik, internasionaal.

Voorbeelde is volop:

  • Spelteorie in The hunt for red October.
  • Realisme in enige Robert Ludlum.
  • Strategiese studies in The lord of the rings.
  • Konstruktivisme in The game of thrones.
  • Gender in Atwood.

Ten spyte van my eie deelname aan verskeie scenarioprojekte oor die afgelope twee dekades, en die neerskryf daarvan as deel van my navorsingsportefeulje, was dit maar ’n paar jaar gelede dat ek begin dink het oor die gebruik van fiksie in my eie pedagogie. In 2017 het die bestuursafrigter in die rektor se kantoor my aangemoedig om iets minder ortodoks te doen en my eie kreatiwiteit te ontwikkel. Sy het beweer dat dit groter vreugde in my lewe sou inbring.

En sy was reg. Lang storie kort: Ek het ’n paar romans geskryf. En ja, my lewe is inderdaad meer vreugdevol.

En toe het ek ’n jaar of wat gelede begin kyk na die moontlikheid om fiksie in my eie onderrig van internasionale betrekkinge te gebruik. Nie deur slegs rakelings in die klas na romans of flieks te verwys nie, maar deur my eie studente se kreatiwiteit te ontwikkel om globale magsdinamika te identifiseer, te beskryf en te verstaan.

En toe, ’n skamele drie maande gelede, publiseer Oxford University Press hul splinternuwe 500+ bladsy lange Handbook of international studies pedagogies. Vir die eerste keer word hele hoofstukke gewy aan die kunste en kreatiwiteit om studente te help om met nuwe maniere van doen in internasionale betrekkinge vorendag te kom en te internaliseer. Uit my eie ervaring in die regte wêreld weet ek watter waarde sodanige kreatiwiteit kan bydra tot beleidmakers, diplomate, spioene, ontleders, politici, joernaliste en akademici se begrip van die wêreld.

Indien ek Trump 2.0 oorleef, sal ek net meer as ’n dekade oor hê in hierdie beroep. Dit is my groot ambisie om vreugdevol voort te gaan om die stories wat saak maak te vertel, en om vernuwende maniere te verken om dit te doen – ook saam met my studente. Hoekom? Want stories het die vermoë om lewe te gee aan die wêreld, om ontleding te verhef bó die bla-bla van sogenaamde neutraliteit (wat in elk geval ten beste selfwaan en op sy ergste ’n leuen is). Die kreatiewe gebruik van stories in pedagogie kan ’n radikale empatie kweek wat wetenskaplike ontleding aanvul eerder as om dit te ondermyn. Wanneer jy hierdie skrywe van my klaar gelees het, sal jy vir ’n dag of twee ’n vae geïntellektualiseerde herinnering hê van wat ek gesê het oor toekomsmetodologieë en ontologie en epistemologie en intersubjektiwiteit. Maar jy sal, vermoed ek, ’n baie meer blywende en diepgaande gevoel behou oor wat ek jou vertel het aangaande klein Johanna, en die lesse wat ek van haar geleer het, van hoe sy my destyds aangeraak het en steeds aanraak.

En dít is die krag van stories, van verhale oor normale lewens.

Dit is my opregte hoop dat hierdie nuwe manier van my navorsing, en veral my onderrig, sal help om daardie drie essensiële take van enigeen wat “professor” genoem mag word, te verrig:

  • Een: Om die wêreld te bestudeer en te leer ken, en om geskok te wees daaroor.
  • Twee: Om hoop te vestig, agentskap te ontwikkel onder ons studente om hierdie wêreld ten goede te verander.
  • Drie: Om dit alles te doen – vreugdevol, soveel moontlik – deur die kweek van kreatiewe, kritiese denke.

*

Hierdie teks is ’n vertaling deur Pieter Fourie self van sy intreerede soos op 12 November 2024 gelewer.

  • 6

Kommentaar

  • Hendrik Nolte

    Kosbare leesstof vol moedgewende ligpunte vir 'n donker toekoms in die lewenspad van baie dom en afhanklike mense op 'n skynbaar sinnelose pad. Groot ideale word verwesenlik deur fiktiewe drome soos hier uitgespel.

  • Wat 'n puik artikel wat my aanraak. Hoe dikwels het ons 'n Johanna-oomblik wat net verby gaan...
    Hartverskeurend is dat, soos Vader Gary, ons as mense soms goeie dinge doen aan die een kant en die ander kant piknagdonker dinge doen. Engele en duiwels sibbe sowaar!

  • Elke maand koop ek trollies vol proviand, skoonmaakmiddels en lekkernye by die naaste groot handelaar. Die motorwag help my om die trollie te stoot, die ware in my motor te laai, my veilig uit die parkeer area te lei, glimlaggend groetewense vir 'n lekker dag toe te wens en ek gee hom sy verdiende R5, R10 en selfs in 'n oomblik van vrygewigheid tot R50. Hoe durf ek? Het ek in sy oë gekyk? Het ek sy klere gesien? Het ek besef dat hy honger genoeg is om hierdie werk te doen… ek in my gekoesterde lewe?

  • Wat 'n uitstekende artikel! Ironies ook dat dit Vader Gary is wat gesê het: “Miskien was die doel van jou besoek nie dat jy haar sou aanraak nie, maar eerder dat sy jou sou aanraak.”

  • Monica Hammes

    Pieter, ek kan nou nie eens meer onthou of mens veels geluk sê by 'n intreerede nie, maar volstaan dan met baie dankie vir die prikkelende storie vol pitkos waaroor mens lank en lekker kan gesels met die regte mense.

    Ek is veral verras deur jou ervaring en gebruik van scenario’s. Moet weer daaroor dink en lees. Hoewel, tans moet ek my liewer net oorgee aan lekker lees. Op die oomblik luister ek na Richard Flanagan se eie voorlesing van sy Question 7 wat bevestig wat jy oor fiksie sê.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top