Die lekkerste perske is 'n vy: De smalle weg na die poort van die poësie

  • 0

Die lekkerste perske is ’n vy
Anne-Ghrett Erasmus
Uitgewer:
Benedic Boeke
ISBN: 9780981440859
Prys: R115.00

Kyk, laat ons nou nie doekies omdraai nie. Met ’n titel en omslag soos dié weet mens hier kom pêre. En perdedrolle is nie vye nie. Alhoewel ’n vy blykbaar wel ’n perske kan wees.

Dit het my ’n hele ruk geneem om uit te pluis wat presies die titel veronderstel is om te beteken. Maar nadat ek agtergekom dat die oënskynlike nuutskepping is’n op die omslag eintlik twee afsonderlike woorde is, het dinge stadig duideliker begin word.

Dit gaan natuurlik hier oor die idee dat ’n gedig homself skryf, oor die vreugde van die skeppingsproses, die jouissance in die teks wanneer die blote plesier van die lees van die teks oorgaan in die orgasmiese ekstase van betekenis wanneer die leser as subjek opgeneem word in die maak van die teks self. (Sien Roland Barthes, The Pleasure of the Text, 1973.)

Of nie?

Waarskynlik nie.

En dis ’n belangrike punt: Die lekkerste perske is ’n vy probeer duidelik nie om ernstige “pohesie” te wees nie. Hier is nie sprake van veelvlakkige motiefuitbouing, deurgekomponeerde eenheid of akademiaanse diepgang nie.

Waarmee ons hier te doen het, is die tipe gedigte wat besonder goed byval vind by ’n flouerige leeskring of ouerleidingsbyeenkoms. Ek kan my byvoorbeeld indink hoe die slotstrofe van “Lente” ’n gemoedelike sug of twee en ’n knop in die keel in ’n warm kerksaal kan teweegbring:

Lente lê vlak in Wellington vanaand.
Ek trek my blou irisrok aan,
staan onder die strepiesmaan,
en asem diep, diep, diep
in.

Maar om hierdie bundel gedigte slegs te lees as sommerso mooiskryfverse sou die digter ’n oneer aandoen. Geen digter publiseer ’n bundel sonder die bedoeling om “ernstig” deur die literêre gemeenskap gelees te word nie. En in heelwat van die gedigte is daar oomblikke waar die digter op die voorstoep van die donker huis van hardebaard poësie huiwer, voordat sy omdraai en eerder in die gesellige sonnetjie gaan sit.

In “Eethuis by die hawe” (bl 24) word daar byvoorbeeld ’n spanning geskep wat smeek vir ‘n poëtiese oomblik wat jou soos ’n klap met ’n nat snoek deur die gesig tref:

Op die balkon eet ons platters
oesters, kaviaar en sushi
met slukkies sjampanje.

Onder op die kaai
sing kindertjies happy birthday
om ’n boks tjips.
[…]

Maar dan, sonder ’n sweempie ironie, die slotstrofe:

Wat het geword
van vissies en brode
en sewe maal sewe
en manna uit die hemel?

Dis op sulke oomblikke dat ’n mens onwillekeurig “huh?” of “ag nee man” in die kantlyn skribbel. Daar is ’n polities-sosiale naïwiteit wat vlak onder die reëls lê in die landskapgedigte in afdeling II en skynbaar sosiaal-kritiese gedigte van afdeling IV, terwyl dit by tye voorkom of die religieuse gedigte van afdeling III en vriendskapgedigte van afdeling V doelbewus met clichés aanmekaar gesit is. Uiteraard pla iets soos ’n foutiewe aanhaling van Breyten Breytenbach in ’n gedig wat juis oor die invloed van die “ou meesters” gaan ook (“Osmose”, bl 3).

As ’n geheel is die bundel wel uiters toeganklik, en dit lees vlot. Dat die digter die vermoë het om sekuur, gemaklik en duidelik te sê wat sy wil sê, kan nie betwyfel word nie – in teenstelling met talle onervare digters wat iets het om te sê, maar nie oor die taalvermoë beskik om dit akkuraat te sê nie.

In die beste gedigte, soos “Kaalvoet”, “Skilder”, “Kanker”, “Pielieman”, “Loop” en “Dood”, word die taal beheer om in die eenvoud daarvan ’n gevoel van opregtheid te skep wat treffend is. Dit laat ’n mens wonder hoe ’n volgende bundel onder deegliker redigering daar sou kon uitsien.

Beelde soos “Veraf draal Prys die Heer soos uitgerekte kougom” (“’n Oggend”, bl 15), of “jaar na jaar meer lyne in fynskrif op mekaar se voorkoppe kan lees” (“In die somer van twintig agt, nege, tien”, bl 29) suggereer immers dat hierdie bundel dalk soveel meer sou kon gewees het as daar harder na die smaller poëtiese paadjies gesoek is.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top