Die leë skooltas 

  • 0

Foto: Canva

Die leë skooltas 

sy’t net winkel toe geloop vir ’n brood;
dit was nog lig, die son het nog gebrand.
maar die pad het haar ingesluk,
sy’t nooit weer by die hekkie om gekom nie.
nou sit haar klein skooltas op die kas,
die boeke nog netjies oorgetrek met plastiek,
maar sy’s weg, skoene en al.

die polisie sê hulle soek, hulle ry met die bakkies,
maar die honde verloor die spoor by die grootpad.
die foto van haar gesiggie plak teen die lamppale,
die reën maak die papier nat en die ink loop uit
tot haar oë op die foto begin huil.

wat maak julle met ons kinders in hierdie land?
in watter donker gate loop steek julle hulle weg?
’n ma sit vanaand met ’n oop skoot
en wieg die lug omdat haar vashou weggesteel is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top