Die lang man sonder skaduwee deur Antoinette Pienaar: ’n resensie

  • 1

Die lang man sonder skaduwee – Die Karoo se grondpad na genesing
Antoinette Pienaar
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415209431

Antoinette Pienaar het bekendheid verwerf deur haar gesprekke op RSG met die legendariese medisyneman oom Johannes Willemse oor die Karookruie en hul genesende krag. In haar vorige boek, Kruidjie roer my, gebruik sy saam met oom Johannes die helende kragte van kruie om mense se lywe en siele te dokter.

Dit is interresant dat hierdie boek verskyn tydens die hernude belangstelling van die mediese wetenskap in allerlei komplementêre en alternatiewe geneeskundige praktyke met bewese effektiwiteit. Daar is ook onder die gesondheidsbewuste publiek groot belangstelling in die sogenaamde natuurlike middels vir die heling van allerlei kwinte en kwale. Dit geld veral vir die behandeling van die toenemende aantal chroniese en degeneratiewe siektes te wyte aan ’n ongesonde lewenstyl. Die medisyne wat ontwikkel is vir die behandeling van siektes soos hartsiektes, diabetes, osteoporose, artritis en kanker, het dikwels ongewenste newe-effekte en is soms baie duur.

Alhoewel daar bevind is dat sommige kruie wel medisinale effekte het, is die meeste kruie nie farmakologies aktief nie, en op hul beste slegs ’n troosmiddel of plasebo. Hierdie geloof in die genesende krag van kruie gee aanleiding tot positiewe gesindheid jeens jou algehele gesondheid – liggaam, siel en gees. Dokters ontken nie die waarde van die motivering en geloof in die voorgestelde behandeling nie. Die dokter se oorredingskrag tesame met die pasiënt se vertroue in die hanteringswyse het dikwels die grootste invloed op die pasiënte se pad na gesondheid. In plaas daarvan om net die simptome van siektes te onderdruk met potensiële nadelige medisyne, is dit beter om genesing te stimuleer deur die pasiënt se samewerking te verkry om die liggaam se eiesoortige genesingspotensiaal te ondersteun. Die liggaam sal homself genees mits die omstandighede optimaal is vir genesing.

Suid-Afrika se geskiedenis is deurspek met anekdotes en boererate in gemeenskappe wat in isolasie gewoon het in die afgeleë platteland soos die Groot Karoo. Die Griekwa-mense is geen uitsondering nie, en hulle moes noodgedwonge staat maak op rate wat oor geslagte heen oorgedra is vir die behandeling van algemene siektes soos verkoues, oorpyn en verstuite enkels sonder voorskrifmedisyne.

Almal het in die outyd bloekombome om hulle huise geplant, en weens die medisinale werking van die boom het die bloekom ook ’n rol van medisyneboom gespeel. Vir hoesmedisyne het hulle byvoorbeeld ’n handvol bloekomblare en vier takkies wildeals gekook en met twee eetlepels heuning en een teelepel jamaikagemmer gemeng en twee teelepels borsdruppels bygesit. ’n Teelepel daarvan word gedrink wanneer ’n hoesbui jou oorval. Die waarde daarvan om met bloekomolie in kookwater in ’n enemmelskottel met ’n handdoek oor die kop te stoom, kan nie geringgeskat word nie. Hierdie rate is net so goed, indien nie beter nie, as die moderne hoesonderdrukkers wat beskikbaar is.

Dikwels het die oumense proefondervindelik maar onwetend gebruike gehad wat vandag bewese gesondheidswaarde het, soos om op ’n nugter maag een teelepel koeksoda in ’n glas koue water te drink. Hulle het geglo dat siektes gedy in ’n mens se liggaam as jou suurvlakke hoog is en die koeksoda maak die liggaam alkalies. Dit is verstommend dat hierdie geloof vandag as waar bewys is; die Westerse dieet wat hoog is in diereproteïne, is suurvormend, en die liggaam moet die sure uitskei. In die proses verloor die mens kalsium wat die niere gebruik om die sure in die urien uit te skei. Dit kan aanleiding gee tot osteoporose. Kankerselle gedy ook in ’n suuromgewing. ’n Dieet ryk aan groente en vrugte is alkalies, en daar is oorvloedige bewyse dat die vegetariese dieet baie gesondheidsvoordele het.

Die ou raat om ’n verstuite enkel met ’n asynlap te verbind, is ook nie sonder meriete nie. Die bietjie alkohol in die asyn is analgeties en verlig die pynlike swelling van die beseerde ligamente. Die aanwending van die skerpruikende Wintergreen-salf op beseerde spiere verrig wondere, al is dit net die medisinale reuk en massering wat die meeste van die werk doen.

Pienaar bespreek al hierdie rate en nog vele ander wat nie sonder genesende waarde is nie.

Sy ondersoek ook die genesende krag wat in die ou stories, raaisels en rympies van die Griekwa-mense skuil, want dikwels het ’n fiskieke probleem ’n emosionele oorsaak en is dit stories wat die hart kan genees. Sy beskryf ook hoe die Griekwas glo dat die gevoel van dankbaarheid jou gesondheid positief beïnvloed. Die algemene praktisyn is maar alte bewus van die rol wat psigosomatiese siektes speel in die siekte- en genesingsproses. Dikwels is die siekte slegs in die verbeelding, gegrond op onrealistiese vrese. In haar gesprekke met oom Johannes lig sy die sluier oor die Griekwas se geloof om die mens te help om die fisieke en die emosionele in die liggaam te balanseer sodat die genesing van die gees en liggaam hand aan hand kan gebeur.

Miskien is die waarde van hierdie boek meer geleë in die optekening van die inheemse kennis in ’n kleurryke variant van Afrikaans eie aan die Griekwa-tradisie. Hierdie vertellings verwoord die unieke lewensinsig van die Karoomense, en is ’n waardevolle toevoeging tot die kultuurerfenis wat in ons taal oorgedra word. Net soos Kruidjie roer my sal ook hierdie boek sy plek as klassieke werk in Afrikaans inneem. Haar 17 jaar lange verbintenis as vakleerling van oom Johannes het ’n stempel afgedruk op hierdie dramaturg en sangeres, en stel haar in staat om met deernis en begrip hierdie waardevolle inheemse kennis as volksbesit op te teken. Hierdie boek is nie ’n mediese gids nie, maar beklemtoon dat ware heling kan plaasvind slegs as die gees daarmee saam gedokter word.

Hoe tragies sal dit nie wees indien Afrikaans in ons land gemarginaliseer sal word nie. Die bydrae van die Karoomense tot die ontwikkeling van Afrikaans as ons almal se kultuurerfenis moet na waarde geskat word.

Ons salueer Antoinette vir haar bydrae tot die bewaring van die Griekwa-tradisie in hul keurige eiesoortige Afrikaans.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top