Die laksman se dogter deur Gerda Taljaard: ’n resensie

  • 3

Die laksman se dogter
Gerda Taljaard

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903666

Sekerlik is hoogspring een van die meer aanskoulike items op die atletiekbaan. Toe Dick Fosbury sy revolusionêre tegniek in 1968 ten toon gestel het, was die wêreld stomverbaas. Die grondbeginsel van Fosbury se tegniek was die C-aanloop waarvolgens hy middelpuntvliedende krag gegenereer het. Hierdie krag het hy gebruik om horisontale momentum (spoed) om te skakel na vertikale momentum (hoogte) terwyl hy tegelykertyd twee rotasies uitvoer: om sy vertikale as sodat sy rug na die dwarslat gedraai word en horisontaal met ’n gekromde rug om sy swaartepunt onder die lat deur te laat skuif. ’n Kragtoer, inderdaad.

Presies daardie moment van verstomming oor tegniese vernuf is wat ek ervaar het toe ek Gerda Taljaard se Die laksman se dogter (2017, Penguin) klaar gelees het.

Binne die bestek van enkele publikasies het Taljaard haar as ’n bedrewe en beduidende stem in die Afrikaanse letterkunde gevestig. Na haar debuutbundel kortverhale (Maansiek, 2002, Protea Boekhuis) het twee romans gevolg, te wete ’n Engel in die hoenderhok (2009, Tafelberg) en Kelder (2012, Tafelberg). Beide romans is gunstig deur die kritici ontvang. Ruda Landman laat haar byvoorbeeld soos volg uit oor ’n Engel in die hoenderhok: “Gerda Taljaard skryf met amper te veel insig en vaardigheid vir ’n debuutroman. Die toonaard van haar dialoog is perfek, en so met elke karakter wat in sy/haar eie stem werklik word op die bladsye. ’n Engel in die hoenderhok vra om in een sitting gelees te word. Dit ontroer en dit ontstel” (Rapport Boeke, 2009).

Hierdie uitspraak is eweneens van toepassing op Die laksman se dogter.

Die middelpuntvliedende krag waarvan Taljaard haar bedien is die slagveld van verhoudings tussen ouers en hul kinders, veral tussen moeders en dogters: dade wat in liefde gepleeg word, maar ontstellende gevolge het; skuldgevoelens weens eie tekortkominge gepaardgaande met boetedoening en vergifnis. Spyt en wrokkigheid. Trouens, die hele arsenaal van menslike emosies te midde van ’n verwikkelde en intieme leefruimte word in hierdie teks gevind.

Die verteller is Rosaria, die jongste dogter van dr Walter Kriel, tronkdokter by Pretoria-Sentraal tydens die apartheidsjare wat onder andere doodsertifikate moes uitreik na iemand gehang is. Hy en Rosaria deel ’n belangstelling in voëls – vandaar die treffende omslag – en een middag, terwyl hulle in die agtererf van hul huis besig is om ’n janfiskaal dop te hou, bieg hy teenoor haar dat hy inderdaad ’n tipe laksman is, want soms is dit ook sy taak om aan die tereggesteldes ’n “genadeskoot” toe te dien wanneer hulle die galg wel oorleef het.

Soos feitlik al die morele kwessies in hierdie boek word ook dié gegewe veelkantig hanteer. “Jy weet daar’s ’n lelike skroef los wanneer ’n samelewing die doodstraf afskaf, maar aborsie wettig,” sê hy op ’n stadium aan Rosaria. “Watter daad is meer barbaars, vra ek jou – om ongebore kinders dood te maak of ’n moordenaar te laat lewe?” (193) Dit is dan juis hierdie teenstellende kyk na morele kwessies wat stukrag aan die roman verleen, want niemand is nét skuldig of nét onskuldig nie: almal is tegelyk  aandadig én vry te spreek. Soos opgestopte voëls wat in glaskaste bewaar word met hul sang wat op musiekbande vasgelê is.

Afgesien van doodstraf en aborsie word ook nog genadedood, dwelmverslawing, owerspel, selfdood en die individu se privaatheid en regte te midde van mediavraatsug betrek.

Terneerdrukkend is hierdie teks egter nooit nie. Ontstellend ja, maar die skrywer hanteer haar gegewe met soveel geskakeerde insig en empatie jeens haar karakters dat dit die leser inderdaad ontroer. Daardeur word veerkrag verleen aan die vertelling en word die leser uitgedaag om bepaalde stereotiepe opvattings in heroorweging te neem.

Die vertikale as waarom die teks sentreer, is egter die verhouding tussen Rosaria en haar vervreemde dogter, Annalisa, wat nie net ’n dwelmverslaafde is nie, maar ook ’n digter en ’n kultusfiguur in die Afrikaanse musiekbedryf. Annalisa sterf onder raaiselagtige omstandighede en Rosaria probeer uitpluis wat gebeur het, maar ook wat aanleiding gegee het tot die tragiese verloop van hul verwikkelde verhouding. Ook Rosaria se verhouding met háár ma en Annalisa se verhouding met haar eie dogter, Marcella, die buite-egtelike kleindogter van wie Rosaria onbewus was, word met hierdie tapisserie van menslike verhoudings verweef: almal skuldig aan wandade en op soek na boetedoening en vergifnis. Daarvolgens het die titel nie net betrekking op Rosaria nie, maar ook op Annalisa en Marcella, want al drie moeders het die dood van iets of iemand tot gevolg en is daarom sowel “laksmanne” as dogters.

Die horisontale rotasie van hierdie verhaal is inderdaad die innemende Marcella, wat ná haar ma se dood in die sorg van haar ouma geplaas word. As toonbeeld van onskuld en geïmpliseerde hoop versinnebeeld sy dit wat goed en ongeskonde is: ’n tweede kans wat onverwags aan Rosaria gegun word om foute van die verlede reg te stel.

As motto tot hierdie teks gebruik die skrywer ’n aanhaling uit Ian McEwan se roman The Cement Garden: “At the back of my mind I had a sense of sitting about waiting for some terrible event, and then I would remember that it had already happenend.” Hierdie gegewe loop soos ’n goue draad regdeur die roman, want toe Rosaria 13 was, het ’n reuse-plataanboom hul huis te pletter geval en haar hele lewe deur het sy gewroeg met hierdie gevoel van ’n komende katastrofe: dit wat skuiling en lewe bied, maar plotseling ook kan vernietig en skaad. Soos die boom, ook die huis. Asook die vergifnis en kwytskelding wat jy te wagte is, maar onwetend reeds ontvang het.

Die wyse waarop die skrywer daarin slaag om die middelpuntvliedende krag van haar verhaalgegewe tot ’n uiters sinvolle en bevredigende slot te voer, is werklik indrukwekkend. Hierdie roman is inderdaad ’n sierlike sprong van tegniese vernuf wat nog lank in my gemoed bly naklink – soos die musiek van opgestopte voëls in glaskaste wat op kassette vasgelê is. Reeds het daar vanjaar al talle uitsonderlike werke verskyn, en op dié podium staan Die laksman se dogter breëbors saam en tussen hulle.

Foto van Gerda Taljaard: Joanne Olivier

  • 3

Kommentaar

  • Michele Meyer

    Baie geluk, Gerda! Wat 'n gloeiende resensie, ek sien baie uit daarna om hierdie voortreflike werk van jou te lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top