Die kwessie van vergiffenis en gevolg

  • 2

Sondaar 2 skrywe oor homoseksualisme en vergiffenis en maak ’n subtiele (of dalk nie so subtiel nie?) pleidooi ten gunste van homoseksualisme en sinspeel daarop dat die homoseksualis net een maal vergiffenis vra en dan is sy pad oop om dit verder te beoefen, omdat, soos hy dit stel, God hom nie vergewe net omdat hy eenkeer ’n homoseksuele daad gepleeg het en om vergiffenis vra nie, maar dat jy homoseksueel is. Dus, die noodwendige insinuasie is dat God nie net die eerste daad by versoek vergewe nie, maar sommer die dan ook die spreekwoordelike stempel van goedkeuring op die hele sondige proses plaas, wat dan beteken dat die homoseksueel maar sy homoseksualisme voortaan vryelik kan beoefen ...

En Cornelius antwoord daarop - Sela.

As dit is wat Sondaar 2 te kenne wil gee, is dit natuurlik ’n gruwelike dwaling. Dit is ook duidelik dat Sondaar 2 nie teregwysing duld nie. Hy sê daaroor dat geloof kwansuis nie gaan oor streng reëls wat nagekom moet word nie, wat gedoen mag word en wat nie en hy beskou teregwysing en berisping as ’n aanduiding dat dit liefdeloos, is. Dit is natuurlik growwe lastering, want die HERE Jesus het baie mense, ook sy dissipels was nie uitgesonder nie, tereggewys en berispe – so wil Sondaar 2 te kenne gee dat die HERE Jesus Christus sonder die liefde is? Dit is uiters lasterlik.

Nou, hierdie teregwysing waarmee ek nou hier besig is en die teregwysing wat Dolf alreeds in sy kommentaar aldaar gelewer het, sal dan seker deur die Sondaars van die ou wêreld in die kategorie van liefdeloosheid geplaas wil word, want dit versteur hulle gemaksone in hul geliefkoosde “pet sins”.

Die eerste manifestasie daarvan, kom oudergewoonte van Cornelius. Ek sien Cornelius se redelose aanval teen Dolf, wie in alle wysheid en insig, die saak korrek aan Sondaar 2 stel, en dan besef ’n mens wat bereid is om die HERE se Heilige Naam so te misbruik soos Cornelius voor bekend is, baie beslis nie tot beter instaat is, nie.

Maar daar is bepaald ’n rede daarvoor dat die Corneliusse van die wêreld só optree en dit gaan juis oor die onderwerp onder bespreking – die gevolge van vergiffenis.

Dat Cornelius, soos hy al gaandeweg verword het, sal beweer of insinueer dat die Heilige Gees van God enigiets te make sou hê met die feit dat ’n persoon homoseksualisme sal bedrywe, wat ’n sonde is, kan mens net verwag iemand met die siekste van siek siele. Hy beweer teenoor Dolf  “…jou duiwelsbesetene aandrang op ’n vleeslike kondisionering in jul soort ware Christengeloof wyl jy die Heilige Gees se werking in elkeen van onse hart in ’n persoonlike verhouding met God verloën”. Die implikasie van wat hy sê is weersinwekkend, and lasterlik in die ergste onvergeeflike aard, daarvan. Hy skel Dolf juis omdat Dolf die Woord korrek uiteensit en uitlê – en dít doen Dolf deur die werking van die Heilige Gees in hom – en Cornelius noem dit “duiwelbesete aandrang”?! Cornelius doen presies soos die fariseërs met die HERE gedoen het – en let op die ernstige waarskuwing van die HERE (Markus 3:28-30).

Dan is daar ook Cornelius se insiglose, siedende aanval met teatrale en inkoherente byvoeglike naamwoorde en al, wat Dolf toegevoeg word omdat hy kwansuis homoseksualisme sou ‘uitsonder ‘- maar Cornelius is so sielsverwronge dat hy nie eens die basiese insig het om te kan besef dat Dolf juis met homoseksualisme deel in antwoord op ’n brief waar die kwessie van homoseksualisme juis deur die skrywer daarvan, Sondaar 2, uitgesonder word, nie.

Natuurlik word hierdie siedende manifestasie deur Cornelius afgesluit soos die gebruik by hom is - met ’n versoek tot vergiffenis. Hieroor meer hieronder.
Dan die somtotaal van Cornelius se manifestering in alle gevalle - hy bring die negatiwiteit tot die gesprek toe, terwyl ander deelnemers op hul manier ’n gesprek laat probeer vlot. Hy is sonder uitsondering, die afbrekende invloed omdat hy net ander kan aanval, maar bykans nooit die issues aanspreek en enige sinvolle bydrae tot die gespreksonderwerp kan toevoeg, nie.

So, wanneer ons by Cornelius se gemors verby beweeg, dit eenkant toe gevee het, kom ons by die issues uit. En tog is dit juis Cornelius se optrede en manifestasie wat vir ons baie dinge oor die gespreksonderwerp demonstreer.

Die kwessie is dat daar juis in die Genade van Christus vergiffenis vir sonde is (behalwe vir lastering teen die Heilige Gees), uit die Genade van SY verlossingswerk op Golgota en SY opstanding agterna, MAAR daardie vergiffenis is nie onvoorwaardelik, soos die dwaalleer van sommige dit wil voorhou nie. Die genade van vergiffenis gaan onlosmaaklik gepaard met die Goddelike verwagting dat daar van die sonde afgesien sal word, soos ook duidelik blyk uit juis uit die Woord waar die HERE met die owerspelige vrou, deel – sien weer Johannes 8:11.

Hierdie kwalifikasie van die HERE se vergiffenis - gaan heen en moenie meer sondig nie – is inderdaad ’n kwalifikasie aan die Genadegeskenk van die gepaardgaande vergiffenis. Dus, die vergiffenis gaan dus gepaard met die opdrag, die Goddelike verwagting - moenie meer sondig nie. Hieroor waarsku die HERE baie ernstig, soos uit Johannes 5:14 duidelik blyk, want die gevolge daarvan om die vergiffenis te ontvang maar die Goddelike verwagting van toegewydheid wat daarmee gepaard gaan, te verwerp, het baie ernstige gevolge, welke die HERE in besonderhede uitdruklik verduidelik met verwysing na die proses in Lukas 11:23-28.

Die vergiffenis van die HERE maak die sielshuis skoon - blink uitgevee - maar as die reinheid wat deur die Goddelike vergiffenis bewerkstellig word, nie opgevolg word met die opregte begeerte uit die wedergeboorte (Johannes 1:12-13) en verbintenis tot die aflegging van daardie sonde in en deur die Krag van die Woord, die HERE, nie, sal daardie leemte weer gevul word met ergernis en kwaad wat veelvuldig erger is as die vorige.

Dus, vergiffenis sit nie die stempel van goedkeuring op sondige gedrag en opset, nie, maar skep die Goddelike verwagting dat die sondaar opreg daarvan sal afsien.
Ek dit is wat mense soos Cornelius en sy Sondaar-kohorte nie meer wil verstaan, nie, omdat hulle nie meer kan verstaan, nie, omdat hulle, weens misbruik van die Genade van vergiffenis sonder die begeerte en verbintenis om die sonde waarvoor vergiffenis ontvang is, af te lê, aan hulle eie sondige en aaklige begeertes oorgegee is, soos die Woord baie uitdruklik verduidelik in Romeine 1:24.

Dus, die mens wat in sy sonde volhard met die idee dat hy homself net van tyd tot tyd gou met ’n vergiffenis kan ‘skoon was’ om weer en weer te kan aangaan, maak ’n dodelike oordeelsfout. So ’n persoon word dan mettertyd nie meer vergewe nie, maar word tot die teendeel, aan sy sondigheid oorgegee en raak dan al vêrder en vêrder van God verwyder, totdat God sy ‘gebede’ nie meer wil aanhoor/ verhoor, nie - daaroor waarsku die Woord báie ernstig (Klaagliedere 3:42-45).

En ’n sprekende voorbeeld daarvan is juis Cornelius, wat omtrent elke keer sy siedende aanvalle op ware gelowiges afsluit met ’n versoek tot vergiffenis, net om die volgende keer weer erger aan te gaan as die vorige keer. Die lastering en misbruik van die Heiligheid van God en SY Naam, gaan eksponensieel van erger na nog erger by Cornelius. Iemand soos ek, wat nou al vir jare sien hoe hy manifesteer en die vergiffenis van die HERE keer op keer onopreg afvra, net om weer erger as die vorige keer te kere te gaan, sien hoe hy gaandeweg verword het tot iemand wat omtrent nie meer ’n enkele keer kan skrywe sonder om sy inherente hatigheid en sy leuenagtigheid te laat manifesteer, nie, en hoe hy nou al openlik en skromeloos die Persoon en Naam van die HERE probeer onteer om dit aan sy eie gruwels te probeer koppel. Hy is só erg, dat hy selfs die onvergeeflike lastering pleeg deur die Heilige Gees te probeer misbruik teen ware gelowiges wat die Woord getrou en opreg bring, so asof húlle vyande van die Heilige Gees sou wees! Mens sien dit veral in sy talle gereelde, spontane, ongevraagde en onvanpaste siedende hatige en nydige manifestasies teenoor ware gelowiges wie ’n ware verbintenis met God en SY Woord en Heilige Gees, het – en daardie botsing is juis weens die botsing van die krioelende afvallige geeste wat in Cornelius is met die Heilige Gees van God Wie in die ware gelowiges is (1 Korinthiërs 6:19).

En so is Cornelius, in sy spirituele nuttelose toestand, weer vir ons nuttig as die voorbeeld van spirituele verwording en ’n demonstrasie van hoe die realiteit van die Woord se waarskuwings, in die afvallige mens manifesteer. Hy is inderdaad ook nie alleen in die demonstrasie, nie, en hy bevind hom, wat dit aanbetref, by sy agnostiese sielsgenote.

Laat mens nie ligte werk probeer maak van vergiffenis, nie. Vergiffenis is voorwaar Genade en mag nie misbruik word, nie. Vergiffenis bring daarmee saam die Goddelike verwagting dat die vergewe mens, die skoon sielshuis, die skoon geleentheid, sal gebruik om die ruimte daarvan te vul, met ’n opregte hunkering na ’n heilige lewe saam met die Drie-enige God -

”23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy My Woord bewaar, en My Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” - Johannes 14.

Dít is die Liefde. Ware Liefde kweek gehoorsaamheid, nie wederstrewigheid, nie.

Kobus de Klerk

  • 2

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Kobus... mag Jesus Christus onse HERE jou verlos van jou duistere intellektualisme en ingewikkelde spirituele drogma... mag Jesus Christus onse HERE self die eenvoud van vergifnis in jou hart bewerk...  jou amigo in Adam... Cornelius.

  • Kobus de Klerk

    Jy weet werklik nie waarvan jy praat nie, Cornelius, en ook nie waarvan ek praat, nie. Dit is so jammerlik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top