Die kwesbares

  • 4

Agtien jaar gelede word my dogter, Anneke, opgeneem in die Rooi Kruis-hospitaal in Rondebosch, Kaapstad. Sy is nie enig of uniek nie. Die feit dat haar negejarige lyfie elke paar sekondes deur ’n epileptiese toeval heen en weer geruk word, is van neutrale belang in ’n omgewing waar ’n ambulans of helikopter elke uur ’n siek kind aflaai. Van orals kom die kinders aan: Suid-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat en orals in Afrika. Klein lyfies met groot-naam-siektes. Vigs, tering, meningitis, diabetes, epilepsie.

Wanneer Anneke uitgeput teen haar pa se bors slaap, patrolleer ek die sale. Dis kínders wat so swaar kry, hyg ek. Kinders wat in baie gevalle sonder ouers daar aankom. Ouers wat nie kan bekostig om uit Botswana, Khayelitsha of Upington pad te gee nie.

“Die ouers het nie die geld om hier te kom rondsit nie,” troos ’n suster my omdat die alleenheid van die kinders vir my te swaar is om te aanskou.

“Gaan hulle hier dood?”

“Ja, baie van hulle,” sê sy.

“Alleen?”

“Nee, hier is ’n maatskaplike werker wat ons laat kom as ons sien ’n kind is sterwend.”

“Wat doen sy?”

“Sy klim by die kind in die cot of bed. Sy laat g’n kind alleen doodgaan nie.”

Dit is al waaraan ek die heelweek dink terwyl ek luister na die families wat getuig oor die 141 psigiatriese pasiënte wat in die “sorg” van verskeie nieregeringsorganisasies gesterf het: húlle het alleen doodgegaan.

’n Mens wat nie kan dink nie, is kwesbaar. Iemand wat nie sy eie keuses kan maak nie, vir homself veg of besluite bevraagteken nie, is uitgelewer aan die sterker een. Dit geld vir alle groepe in die samelewing, maar soveel te meer vir mense wat as sogenaamde psigiatriese pasiënte geklassifiseer word. Die definisie is kort en kragtig: die persoon se vermoë om te dink is aangetas.

Natuurlik is dit ook op ’n kontinuum. Van beperkte denke tot ’n algehele onvermoë. Ek sal my verstout om te sê die meeste van die pasiënte wat gesterf het, het ’n algehele onvermoë gehad om vir hulself te dink of hulleself te verdedig.

Ongeveer vyf jaar gelede besluit ons dit is dalk tyd dat Anneke in ’n tehuis vir gestremdes geplaas word. Dit is ’n moeilike besluit, maar ons neem ons voor om op geen plek ja te sê tensy ons heeltemal seker is sy sal daar gelukkig wees nie. Ons ry van die een na die ander tehuis, maar nêrens kan ons verseker word dat sy as verstandelik gestremde sal kan aanpas nie. Vir fisiek gestremde mense is daar heelwat meer voorsiening.

Die plekke wat wel vir haar kans sien, sien óns nie voor kans nie.

“Hulle sal haar met medisyne onderdruk en op ’n bed laat lê,” sê my man met ’n verbete trek om die mond.

Ek bel ’n tehuis in Cullinan.

“Mevrou, ek sal nie my kind hierheen bring as ek jy is nie,” sê ’n personeellid saggies in die gehoorbuis. Die einste tehuis is nou onder verdenking nadat van die Life Esidimeni-pasiënte ook daar gesterf het. Die familie is nooit laat weet nie.

Uiteindelik besluit ons om ons kind tuis te versorg met die hulp van mense wat omgee. Maar nie almal is in die posisie om dit te doen nie. Families wat veg om oorlewing, is swaar genoeg gelaai sonder die ekstra aanspraak wat gemaak word deur iemand met spesiale behoeftes. Sulke tye hoop jy die een wat jou arm langer maak, gee om. Want as jy omgee, gee jy water en kos en pille. Dit is die elementêre verwagting, meer is ’n bonus.

Dit blyk die pasiënte is dood aan ontwatering en verhongering, en ander het nie hul medikasie gekry nie, wat weens ’n gebrek aan fondse nie aangekoop kon word nie. Wanneer ’n epileptiese pasiënt nie sy medikasie kry nie, kan hy in status-epilepsie gaan. Die een aanval is uit die ander en die persoon se liggaam hou aan ruk met tussenposes van drie sekondes. Dit kan vir ure aanhou, met die dood as onvermydelike gevolg. Vir my is dit ondenkbaar dat personeel net daarna kon staan en kyk.

’n Familielid getuig in die verhoor wat tans gehou word dat sy die polisie se hulp moes inroep nadat sy gehoor het haar broer is al vier dae tevore oorlede en sy geen samewerking van die tehuis met die naam Precious Angels kon kry nie. Uiteindelik het sy haar broer en die ander lyke opgespoor in ’n stoor; kaal het hulle opmekaar gelê. Op ’n hoop gegooi.

Ek weet nie wie verkwalik moet word nie. Ek weet nie eens of iemand uitgesonder moet word nie, want is dit wat in hierdie onwettige nieregeringstehuise gebeur het, nie net ’n simptoom van die samelewing nie? Mense gee net eenvoudig nie om nie.

Ek loop in my gang op en af en tel: een, twee, drie, vier, vyf, ses, sewe, agt, nege, tien, elf, twaalf, dertien, veertien, vyftien, sestien, sewentien, agtien, negentien, twintig, ... honderd sewe en dertig, honderd agt en dertig, honderd nege en dertig, honderd en veertig, honderd een en veertig mense dood. Van die kwesbaarstes onder die kwesbares. En niemand was daar om by hulle in die bed te klim en te sê: “Ek laat g’n kind alleen doodgaan nie.”

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Laetitia Swanepoel

    Ek moet sê, iets het lanklaas so by my gespook soos die dood van hierdie hulpelose mense. Iemand, iewers het tog die besluit geneem om hulle in hierdie totaal onvoldoende tehuise te plaas. Moet dit ongestraf bly?

  • Avatar
    Christine De Vries

    Skryf sommer deurmekaar van kwaadheid: ALMAL ... dit maak nie saak wie jy is, of watter siekte jy het nie, verdien om met waardigheid behandel te word, of met waardigheid te sterf.

  • Ek voel hier kom 'n nuwe boek ... met die naam Die kwesbares. Ek het die ander twee boeke ook gelees. Ken Rooikruis-hospitaal goed. Het my st 2 jaar in daai hospitaal geskryf. Daai tyd was daar nog hospitaalskole.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top