Die kondensmelkinsident

  • 6

“Die kondensmelkinsident” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Die kondensmelkinsident

As sy ook maar eerder vroeër huis toe gegaan het daardie middag op die plaas, dink Chrisna met die pak gekoopte organiese sampioene in haar hand. Sy wil vanaand vir haar en Dieter ’n ryk sampioensous maak oor hulle varknek-steaks – met room en varsgemaalde swartpeper. Hier in Hamburg kry mens net netjiese steaks en ander vleissnitte sonder die vetrandjies waarvoor sy so lief is. Die Duitsers is maar neusoptrekkerig oor watter deel van die vark of bees hulle gaarmaak en eet. Wanneer laas het hulle twee braaivleis geëet, dink sy opstandig. In Namibië eet veral die vleisboere steeds sommer drie keer ’n dag vleis, onthou sy – heerlike lewer en niertjies vir ontbyt, skaaptjops of wors of stowevleis vir middagete en saans is dit biltong en droëwors of soutvleis. Haar mond water sommer wanneer sy terugdink aan die etes op hul beesplaas in Namibië. Maar sy moes haar vleistande trek toe sy met Dieter trou en hulle in Duitsland kom bly het.

Terwyl sy die sampioene in skywe sny en braai, wonder sy wat haar ma gemaak het met die ryk oes groot wit paddastoele wat teen die rooibruin miershope op hul plaas buite Otjiwarongo gegroei het. Hulle Duitse buurvrou het die paddastoele opgesny of gemaal en dan gevries, maar sy kan nie onthou of haar ma ook het nie. Die buurvrou kon ook heerlike brotchens maak, bros buite en dan was die broodjies lekker geurig aan die binnekant. Hulle gesin het gereeld by die Hobohm-bure gaan eet, nie braaivleis soos wat die Duitse gesin nou weer by die Bothas gekry het nie, maar regte aansitetes. Voor ete het hulle sulke wit borde gekry met dikmelk in wat afgekoel het in die yskas, en ’n strooisel suiker bo-oor. Kwark, het hulle dit genoem, en sy het dit nog net in Namibië gehad. Die bure was formeel maar geliefd – Herr en Frau Hobohm. Die twee het haar ouers ook nie op hul name genoem soos hul Afrikaanse vriende nie, nee, haar ouers was Herr und Frau Botha. Die Duitse buurman het sulke lelike bruin sandale gedra, met sokkies. En sy herroep weer sy welluidende stem – “kleine maus” het hy Chrisna genoem, omdat sy so stil was.

Terwyl sy dophou dat die geurige sampioene nie te lank braai nie, dink sy weer aan daardie noodlottige middag terug. Sy en haar Damara-speelmaats Liesbet en Anna het onder ’n groot mopanieboom klippie-klippie gespeel. Sy het uitgestel om terug huis toe te gaan, want haar ma het byna heeltyd net op haar bed gelê, of met haar en haar broers geraas as hulle net bietjie uitbundig was. Sy het gehoop hulle drie speelmaats kon dalk na die groot wit paddastoele gaan soek wat bietjie verder van die plaashuis gegroei het na die reën. “Kom ons gaan soek daai wit paddastoele,” het sy gesê en opgestaan. “Aikôna,” het die wederstrewige Anna gesê. “Jy het ’n groot huis wat nie heeldag warm is nie. Ons bly in die stroois en het net dakke van sink. Ons gaan nou huis toe en dan buite speel en die kos maak tot onse ma van julle huis af kom.”

“Ag, nou loop dan,” het sy teleurgesteld gesê, en toe “t’kaise t’koere” om te wys sy kan tog in Damara groet. Sy het gedrentel met die voetpaadjie langs, gaan soek na paddastoele, maar niks gekry nie. Toe het sy ’n paar veldblomme gepluk om haar ma vriendeliker te laat voel. Sy het ook ’n groot, mooi mopanieblaar afgepluk vir haar ma. Die mopanieblare het soos skoenlappers vir haar gelyk, met ewe groot groen vlerke en ’n baie dun lyfie in die middel. Daar was nie baie skoenlappers op hul plaas buite Otjiwarongo nie, en water is gebruik vir die vee en die groentetuin. Haar ma het met haar dun kamerjas op die bed gelê met die waaier aan en het sonder ’n woord net na die bedkassie beduie, waar Chrisna die veldblomme en die blaar neergesit het. “Te fyn besnaard vir die plaaslewe,” het haar oupa altyd van haar ma gesê. Dis oor haar ma van Kaapstad af kom en terugverlang na die stadslewe, het haar arme pa aan haar en haar broers probeer verduidelik hoekom sy byna nooit gelag het of vrolik was nie. “Al het sy haar klavier en boeke op die plaas, is dit nie genoeg nie,” het hy bedremmeld gesê.

Chrisna soek na haar broers, kry hulle nie in die huis nie en besluit om vir hulle drie kondensmelk te kook, want dan gaan hulle lekker met teelepels die karamel eet wanneer dit koud geword het. Sy het al gesien hoe haar tannie dit maak. Sy stook die houtstoof, want Paulina is klaar huis toe, en sit drie blikkies kondensmelk in ’n kastrol water. Nou gaan soek sy weer haar broers om te vertel van die karamel, maar kry net vir Rintie en Boela wat heeltyd hul sterte waai wanneer sy saam met hulle agter ’n bal aanhardloop. Soms is sy voor hulle by die bal wat sy ver gooi in die grondpad en soms in die mopaniebos in. Hulle tonge hang uit, maar die een of die ander kry die bal weer en bring dit terug, sodat sy dit weer en weer kan gooi.

Dit is Rintie wat pas die bal gevang het toe sy ’n harde slag in die huis hoor en hoe verskriklik haar ma skree. Sy hardloop en kry haar ma in die kombuis, maar herken haar byna nie, want dit lyk of daar klei op haar gesig en nek en arms gesmeer is – en die vreeslike skreëry maak haar bang. Op die stoof is daar ’n stink rook en twee blikkies lê oopgeskeur naby haar ma se voete. Sy hardloop uit en roep so hard sy kan na iemand – enigeen om te kom help. Die blikkies het drooggekook en toe ontplof, en dis haar skuld, besef sy met ’n sinkende gevoel.

Toe haar pa eindelik kom nadat haar broer gehardloop het om hom en Frans te soek waar hulle voorbrande gaan maak het sodat ’n vuur nie van een kamp na ’n ander spring nie, lê haar ma net in ’n hopie en kerm. Chrisna het die drooggekookte kastrol met ’n stomp hout op die vloer laat val en die derde blikkie het kokend en sissend uitgerol. Haar pa probeer Chrisna nie verwytend aankyk nie en jaag met haar ma dorp toe na ongevalle. Later kom hy verslae en alleen terug terwyl sy met ’n bewende lip en rooigehuilde oë snik dat sy jammer is. Hulle het toe nog nie geweet dat haar ma met haar verwronge gesig en nek wat sy nie soos haar arms kon bedek nie, nooit sou terugkom nie, en later selfs haar klavier na die dorpshuis in Otjiwarongo laat kom het. Net die dokter en haar gesin is toegelaat om haar te sien en Liesbet, wat ook haar huishulp geword het.

Haar pa is later getroud met ’n mollige vrou met sagte bruin oë, vir wie hulle Tannie gesê het. Chrisna en die jongste broer het gaan studeer en haar oudste broer het op die plaas gebly en saam met haar pa geboer. Hy het die kudde opgebou en al vroeg begin om van die rooibruin Afrikanerbeeste te skou op die groot landbouskou by Omatjenne. Hy het selfs vir Abraham gewys hoe om die mooi weglêhorings en die hoewe van die skoubeeste met Brasso skoon en blink te vryf. Toe hy later met ’n vrolike buurdogter trou, is daar ’n groot fees gehou, maar hulle ma het nie gekom nie. Sy was nie by een van hulle drie kinders se troues nie, al is sy genooi en deur Chrisna gesmeek om haar en haar Duitse verloofde Dieter se troue by te woon.

Hier in Hamburg met sy stadskultuur en formele Duitse inwoners verlang sy hartstogtelik terug Namibië toe, en na haar pa en haar ma toe sy nog nie ’n kluisenaar in Otjiwarongo geword het nie. Dieter se ouers en gesin bly egter hier, en sy het Duitse musiekkinders wat by haar klavierlesse neem. Maar sy mis Afrikaans, sy mis Afrikaanse humor en boeke en bowenal die son en plaaslewe en haar mense met ’n gevoel van hartseer. Haar hart pyn soms van verlange. Sy bly ’n vreemdeling, selfs na twee jaar hier. Voordat haar immer-geduldige man huis toe kom, dek sy gou tafel vir hulle twee. Sy wil gou ’n stukkie Afrikaans lees, en trek ’n bekende boek uit die boekrakkie. Wanneer sy Raaiselkind oopslaan, dink sy weer dat dit een van haar ma se boeke was, maar dat sy dit nie laat kom het vir haar Otjiwarongo-huis nie. Al haar Engelse boeke is wel aangery soontoe, maar Chrisna het haar Afrikaanse boeke Hamburg toe getrek. Haar en Dieter se kinders gaan Afrikaans leer praat en lees, het sy haar voorgeneem. Daar val ’n vergeelde, geperste mopanieblaar uit die boek en dit fladder grond toe soos ’n vlinder met twee groot vlerke aan ’n dun, byna deurskynende stingel. En sag, soos ’n mot se vlerk, kom die gedagte en besef dat haar ma tog die noodlottige middag haar vredeoffer-mopanieblaar raakgesien en dalk selfs gekoester het. Sy moes dit in die boek gesit het wat voor haar bed op die bedkassie gelê het as ’n boekmerk voordat sy gaan kyk het in die kombuis wat so rook. Sy het seker met haar gesig vooroor gebuk om die kastrol se deksel oop te maak om te kyk, toe die blikkies ontplof.

Chrisna maak die boek oop waar die buitelyne van die skoenlapperblaar afgeëts is, sit haar neus tussen die bladsye en trek die reuk van hul mopanies – hul plaas, haar heimat, haar hartsplek – diep in haar neusgate in. Meteens kan sy nie wag dat Dieter tuis kom sodat sy hom van die mopanieblaar kan vertel nie. Dalk kan sy haar musiekleerlinge vir net ’n paar dae vakansie gee en kan Dieter ook verlof neem vir die twee vlugte Windhoek toe. Dan kan hulle ’n motor huur en met die nuwe mooi hoofweg vanaf die lughawe buite Windhoek oor Okahandja Otjiwarongo toe ry. Hul paspoorte is nog geldig en hy kan aanlyn voortgaan met sy werk as ’n global trade analyst, soos wat landbou-ekonome bekend is in die elektroniese sfeer van werk. Haar ma se gesondheid gaan agteruit, en dalk kan sy haar ma se toegeeflikheid en vergifnis teenoor haar afpleit deur die mopanieblaar vir haar te gaan wys, na die twintig jaar wat verloop het sedert die insident. Hulle moet praat oor daardie dag!

’n Week later lui sy en Dieter die klokkie by haar ma se huis in Otjiwarongo. Dis Liesbet wat oopmaak, die ene wye lag en baie wit tande, en wat vir Chrisna om die hals val. Sy praat bietjie Damara tussen die Afrikaans deur, maar enigeen kan verstaan hoe bly sy is om hulle te sien. Chrisna vat die boek en stap na die sitkamer toe waar die gordyne toegetrek is, maar ’n leeslamp se sagte lig op haar ma val waar sy in ’n gemakstoel vir hulle wag. Sy draai haar gesig weg, soos dit haar gewoonte geword het na die insident, wanneer hulle haar ’n drukkie gee. Maar wanneer sy met hulle praat, draai sy altyd die gesigkant met haar goeie oog na hulle toe om hulle te kan sien. Terwyl Dieter hul tasse kamer toe neem onder Liesbet se gekwetter, wys Chrisna haar ma die boek en die kosbare mopanieblaar wat sy in Hamburg weer teruggesit het by die bladsy waar haar ma dit as boekmerk wou gebruik. Haar ma glimlag met haar skeefgetrekte glimlag en vroetel met die sakdoek wat sy altyd by haar moet hou.

“Gaan kyk op die boekrak in my kamer, daar staan The story of San Michele, en bring dit vir my?” sê- vra haar ma. Chrisna gaan haal die hardebandboek met die goue embleem voorop uit die groot boekrak en gee dit vir haar ma. Sy sit die sakdoekie neer en maak die boek oop waar daar ’n paar verdorde veldblomme gepers is, geel en dun soos die mopanieblaar. Sy draai haar volle gesig na Chrisna toe met die goeie en die glasoog en kyk haar aan. Sag sê sy: “Ek het jou veldblomme in hierdie boek gesit omdat ek lief was vir jou en jou mooi hart. My ongelukkigheid het julle almal so geaffekteer, maar ek kon nie uit die sirkel van depressie en selfbejammering ontsnap nie. Ek het die lewe vir jou en jou pa en broers moeilik gemaak, al wou ek nie. Jou geskenkies het uit jou hart gekom, maar ek het nie die krag gehad om dit vir jou te sê nie. Ek het nadat jy uitgegaan het, opgestaan om te gaan kyk wat die rook was wat uit die kombuis gekom het, maar eers het ek jou mopanieblaar in die boek voor my bed gesit, en die veldblomme het ek in my geliefkoosde boek gaan sit.” Haar ma kyk af na haar sakdoek en dan weer op na Chrisna. “Ek moes nie die kastrol se deksel oopgemaak het of my gesig so naby aan die stoof gebring het nie. En ek wou nog altyd vir jou sê, my kind, dat jy jonk was en dat die ongeluk nooit jou skuld was nie. Uiteindelik het ek vrede gemaak met waar ek nou is en hoe ek lyk – maar dit was ’n ver en lang pad wat ek moes kom tot hier.”

Wanneer sy haar ma betraand omhels, voel Chrisna lig soos die vergeelde blomme wat uit die boek val en afdwarrel grond toe.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 6

Kommentaar

  • Mareli Walker

    Die omgewing waarin dit afspeel en die emosies is baie goed vasgevang in die beperkte aantal woorde.
    Welgedaan!

  • Sonia Valentine

    Die hunkering tussen ma en dogter word emosioneel sterk uitgebeeld in die vergiffenisepisode van die slot.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top