Die Kommandokorps se inisiasie tot manlikheid

  • 1

Dis wárm in die koshuisvierkant. Ons staan al so aangetree vir ’n uur. Die doopkaptein is weer besig om vir Tiaan te “dril”. Tiaan spring op en af terwyl die doopkaptein skree: “Op! Af! Op! Af!”

Ek kan voel hoe Werner hier langs my net so hard soos ek probeer om nie te giggel nie. Na ons diensplig is ons gewoond aan ure se parade staan met moegoes wat op ons bulder. ’n Straaltjie sweet loop teen my gesig af en ek wikkel my tone, strek my bobene, raak gemakliker op rus.

Ek weet Werner is net so verbaas soos ek oor hoe beangs die ander jong mans lyk. Dis net Manfred van Mitchell’s Plain en James van Durban wat so verveeld soos ons lyk, al skree die doopkaptein die meeste op hulle. Ek wonder oor die vreemde mag wat die kaptein oor die res het.

Die onlangse fokus op die kaskenades van die Kommandokorps het my as wit Afrikanerman ook laat wonder oor manlikheid in ons volk. Die Kommandokorps se verskyning in die nuus het gesorg vir die teen nou al bekende gesprek oor rassisme en geweld. Maar daar is ’n kardinale gesprek wat tot op hede nog nie gevoer is nie: die manier waarop die begrip manlikheid deur hierdie groep gebruik word.

In ’n kort videogreep oor die kamp, op die internet geplaas deur die Mail & Guardian, sê een van die tienerseuns voordat hy die kamp bywoon: “Ek wil ’n ware man word.” Manlikheid raak later ’n duidelike tema in die video. Die seuns noem hoe lief Kommandokorps se leier, kommandant Frans Jooste, hulle het, hoe hy vir hulle sorg, en dat hy hulle “groot oupa” is. Tydens een van die fisiese oefensessies huil ’n seun dat hy baie sukkel en dit nie verder kan doen nie, maar hy wil nie sy pa teleurstel nie. Hy kan nie aanhou nie, maar sê weer: “Ek wil nie my pa teleurstel nie.”

Die vorming van manlikheid is vervleg met die kulturele en fisieke ervaring van die kamp vir die seuns. Die jong seuns praat aan die begin oor hoe positief hulle voel oor die nuwe Suid-Afrika. Jooste vertel dan trots hoe hy hulle kan “draai” om te sien hoe nodig rassisme is. Teen die einde van die nege-dae-kamp vertel die seuns hoe hulle nou verstaan dat rassisme die regte benadering is, en hoe gevaarlik swart mense is.

Dis hierdie verandering in die seuns se sienswyse waarop waarnemers tot dusver hulle verontwaardiging gefokus het. Groepe soos die Kommandokorps, die Volksraad Verkiesing Kommissie en die AWB word dikwels afgemaak as irrelevante en selfs komiese figure. Maar tussen twee uiterstes van moontlike menseregtevergrype aan die een kant en potsierlike patriarge aan die ander lê ’n ander dinamiek verskuil: Afrikaner-manlikheid tree hier as ’n Trojaanse perd op vir rassisme en geweld.

Die kulturele oortuigings van die Kommandokorps word oorgedra aan die seuns, op die ryp teelaarde van hulle behoefte om “ware manlikheid” te bereik. Terselfdertyd word die oordrag gedryf deur die behoefte van hulle pa’s en ooms om hulle eie manlikheid te bevestig en te handhaaf. Hierdie proses kan gesien word as ’n soort inisiasie.

Met hul nuwe wêreldsiening van vervlegte rassisme en geweld word die seuns gevolglik verwelkom as nuut-geïnisieerde “ware mans” in hulle gemeenskap.

Ek is ’n wit Afrikaanse man, en ek beskou myself as ’n Afrikaner. Toe ek die Kommandokorps-video die eerste keer gekyk het, was ek de hel in en het ek verwag dat ek myself alweer as Afrikaanse man gaan moet verdedig onder my diverse vriendegroep. Ek was ook verbaas oor hoe diep dit my geraak het, want ek leef en werk in ’n konteks wat ver verwyder is van die Kommandokorpswêreld.

Tog kon ek nie my jare lange bekendheid met die milieu van die kamp ontken nie. As wit Afrikaanse man, gebore voor 1994, herken ek die gesegdes en retoriek van “ware manwees”. Ek is tydens kadetkampe en veldskole en in klaskamers gereeld blootgestel daaraan, met min of geen ruimte vir ander vorme van manlikheid nie. In standerd sewe het van die seuns pouses trots naweekstories vol bravade gedeel: “My pa het Saterdag ’n swarte op die plaas gevang en hom goed uitgesort.” Een van my broers is as ’n “moffie” uitgekryt omdat hy besluit het om op skool kuns in plaas van houtwerk te neem. Hierdie ervarings, wat ek vermy om aan te dink, het die Kommandokorps-video weer opgeroep.

In Suid-Afrika lei skadelike “manlikheid” daagliks tot reusevlakke van geweld, gepleeg deur mans. Die komplekse eenheid van vrees en manlikheid word onder meer onderhou deur ’n stilte oor die probleem. Geweld teen vroue word al vir jare bespreek en bekamp deur vroue-gedrewe organisasies, maar dit is slegs een kant van die muntstuk. Die stem van Afrikanermans is tot op hede relatief stil.

Toe ek weer eens hoor van die ver-regses in die nuus, en toe ek die video kyk, was dit vir my vir die eerste keer duidelik. As Afrikanerman het ek ’n rol om te speel. Die eerste stap wat ek kan doen is om te erken dat ek nog steeds die voorregte en mag van rassisme en ongelykheid geniet. Dis moeilik, want die ervarings van ongelykheid en bevoorregting vorm ’n belangrike deel van my geskiedenis. Dit beïnvloed my huidige wêreldsiening as wit Afrikaner in Suid-Afrika, en die gevolg is by tye een van verlamming en onvermoë.

Om hand in eie boesem te steek is onvermydelik, of ek gaan myself onwelkom in my Vaderland maak. Die Kommandokorps-garde wys na moeilike vrae oor Afrikaner-manlikheid. Met die huidige aandag in die pers op die gatkant van Afrikaner-manlikheid is dit hoog tyd dat Afrikanermans wakker skrik en by die gesprek aansluit.

 

Wessel van den Berg bestuur die Vaderskap-veldtog by Sonke Gender Justice Network.

 

  • 1

Kommentaar

  • Hennie Dreyer

    Dit is nie jou Rasbewustheid, wat van jou ń man maak nie, dit is jou karakter. Karakter, Ingerenheid en Nederigheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top